Skip to main content

Josef-hulle vlug van Betlehem na Egipte

MATTEUS 2:13-15

13 Nadat hulle teruggekeer het, verskyn daar ’n engel van die Here in ’n droom aan Josef en sê: “Staan op en neem die Kind en sy moeder saam en vlug Egipte toe, en bly daar totdat ek jou sê. Want Herodes gaan probeer om die Kind dood te maak.”

14 Hy het toe opgestaan en die Kind en sy moeder in die nag geneem en na Egipte vertrek,

15 en hy het daar gebly tot die dood van Herodes. So is vervul wat deur die Here deur middel van die profeet gesê is: “Uit Egipte het Ek my Seun geroep.” (Hos. 11:1)

Teks en konteks

2:13-14 God tree steeds beslissend op met die groeiende bedreiging van Herodes en laat Josef met die Kind en sy moeder na Egipte vertrek. ‘n Engel verskyn ‘n tweede keer in ‘n droom aan Josef en beveel hom om na Egipte te vlug en daar te bly totdat die engel hom verdere instruksies gee.

Die detail en duidelikheid van die droom tref ‘n mens, sowel as die tydsberekening. Josef weet presies wat hy moet doen, wanneer hy dit moet doen, hoekom hy dit moet doen, selfs vir hoe lank hy dit moet doen.

Let op dat Jesus vóór sy ma genoem word, ’n aanduiding van die voorrang van dié Kind. Maar let ook op dat Josef onmiddellik reageer op die droom en reeds in die nag vertrek na Egipte, ‘n reis van by die 700 km.

2:15 Josef-hulle het in Egipte gebly tot Herodes se dood. Dit was in 4 v.C. Dié verblyf in Egipte word deur Matteus aan ‘n profesie van Hosea uit die 8ste eeu v.C. verbind. Hosea het verwys na die eerste uittog van Israel uit Egipte (Hos. 11:1). Matteus gebruik dit as ‘n tipologiese voorspelling dat Jesus op soortgelyke wyse uit Egipte deur God na die beloofde land geroep is.

Dit beteken natuurlik steeds dat hulle ‘n tyd van groot ontberings sou tegemoet gaan. Josef-hulle word vlugteling-immigrante. Maar, Josef kan die Here vertrou weens die detail en noukeurigheid van die instruksies. Dit is immers net betyds.

Betekenis en boodskap

Wat ons goed moet besef uit hierdie deel van die verhaal is dat dit beteken Jesus was ‘n vlugteling-immigrant vóór Hy in Nasaret gevestig is. Dit beteken ook dat Jesus en sy ouers, Maria en Josef, verstaan het wat dit beteken om ontwortel te wees. Dit moes vir sy ouers moeilik gewees het om in die vreemde werk te kry, ‘n huis te kry, kos op die tafel te sit, vir ‘n kind te sorg.

Jesus sou op sy beurt die magteloosheid ervaar het dat jy as kind min kan doen om jou lot te bepaal. Jy is uitgelewer aan wat die grootmense besluit. Onder andere oor jou.

Maar, juis hierdie feit, is vir ons van groot betekenis. Daar is eintlik niks wat Jesus nie deurgemaak het nie. Niks wat ons kan deurmaak waarvan Hy nie persoonlike praktiese kennis het nie. Sodat ons met Hom kan identifiseer. Want, Hy het met ons geïdentifiseer. Hy het beleef wat ons beleef. Hy het as jong kind al beleef hoe dit voel om niks te hê nie, boonop in ‘n vreemde land.

Daar is egter meer. Daar is ook niks waarvoor God nie planne het nie. Niks waarvoor Hy nie voorsiening gemaak het nie. Niks wat God kan uitvang, asof Hy nie alles weet nie.

Staan ‘n oomblik stil by dié gedagte. En die betekenis daarvan vir jou eie lewe. Want, dit is die God wat ons dien. Dit is die God wat ons aanbid. Daar is niks wat God kan uitvang nie.

Wanneer ‘n mens die leiding van die Here gehoorsaam, raak die pad wat Hy vir jou het, al hoe duideliker. Lei Hy jou al hoe meer. Raak die kleinste insig uit die interaksie van God en jou lewe, ‘n verdere stukkie lig op jou pad.

Dit is wat hier met Josef gebeur. Hy luister na die engel se boodskap in ‘n droom om Maria as sy vrou te neem. Hy luister na die opdrag van die owerheid om na Betlehem te gaan. God was immers daarin ook besig. Hy luister na die engel in ‘n droom wat hom na Egipte toe laat uitwyk, en sal net hierna wéér luister as hy na Israel toe moet terugkeer en uiteindelik aangesê word om in Nasaret te gaan woon.

Dit is hoe die Here ook met jou wil werk. Soos jy gehoorsaam sy leiding volg, gee Hy al hoe meer leiding. Kom jy op die plekke waar Hy jou wil hê. Dink terug oor die leiding van die Here in jou lewe. Hoe kom jou ervaring ooreen of verskil dit hiervan?

Die omgekeerde is ook waar. Wanneer ‘n mens die leiding van die Here nie gehoorsaam nie, lui raak om te leef in sy wil, óf lui raak in jou luister na sy wil, raak die stem van die Here stiller, of beter gestel, raak jou bewussyn van sy leiding minder, en raak jy onseker oor die pad wat jy moet volg, kan jy eintlik net jou eie kop volg en raak jy onbetrokke en selfs weerstandig in jou verhouding met God. Maak dit vir jou sin?


Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Matteus-leesplan


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Comments

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • sparklybc467b2e69 on Josef-hulle vlug van Betlehem na EgipteGoeie môre, baie dankie, ja dit maak sin, want dit is hoekom Dawid ñ man na GOD se hart was, hy was ook elke keer gehoorsaam aan GOD. Daar is egter iets wat my so diep geraak het, terwyl ek u opmerkings lees, JESUS die seun van GOD het geen rykdom of enige voortrekkery ontvang nie, HY was regtig so…
  • originalblizzard19aaa84c56 on Josef-hulle vlug van Betlehem na EgipteTans so gepas in my vrou en my se lewe. Moet noukeurig let op die detail van die Heer se leiding. Kan nie wag om die volgende stappe te volg nie. Dankie.
  • Philip Vermaak on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Wat my weer getref het is God se liefde vir alle mense en Dawid se nederige houding as hy tot God roep en hom met alles aan God "oorgee" En- wat ons het is aan ons deur God geskenk en wat ons is is slegs Genade Baie dankie
  • originalblizzard19aaa84c56 on Sterrekundiges besoek Jesus in die huis in Betlehem MATTEUS 2:1-12Prys die Here vir sy Heilige Woord en Gees.
  • sparklybc467b2e69 on ‘n Engel van die Here oortuig Josef dat Maria se Kind van die Heilige Gees is MATTEUS 1:18-25Dit is vir my opsig self so groot bewys van GOD se grootheid, Sy Heilige Gees wat Maria bevrug. Ek het altyd gedink dat Maria baie besonders was onder die vroue, maar as ñ mens lees van Josef en sy karakter, was hulle albei uitverkies as JESUS, GOD se seun.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Jesus se geslagsregister in Matteus verbind Hom aan Abraham, Dawid en die volk na die ballingskap MATTEUS 1:1-17Matteus. Amazing, om my te verwonder aan die Heilige Skrif. Dankie vir navorsing.
  • Chris van Wyk on Psalm 150Hi, jy sal steeds die Matteus bydraes kry as jy ingeteken is. Die skakel is daar vir nuwe mense. Die opmerkings moet eers goedgekeur word deur my, vandaar die verposing. Hoop jy het steeds Matteus gekry?
  • perfectly57edc75df4 on Psalm 150Naand Chris. Ek dink daar is iets met die website verkeerd. Psalms was op Bybelskool beskikbaar, maar vir Mattteus vra dit jou om weer in te teken op Bybelskool. Ek is op Bybelskool. Dan stuur die opmerkings ook nie elke keer nie. Die inskrywing vir Matteus vat jou na 'n snaakse vorm. Is dit reg so,…
  • Doreen Snyders on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Baie baie dankie vir die Psalms. Dit was só insiggewend en het baie gehelp om om die Skrif te bid. Nogmaals dankie. Ek sien baie uit na Matteus. Doreen Snyders
  • johannes buhrmann on Psalm 150Die God aan wie die Psalm digters hul lof en dankbaarheid betuig het , en teenoor wie hulle hul klagtes en swaarkry en onsekerhede kon bekendmaak is dieselfde God teenoor wie gelowiges hulle in die huidige tydsgewrig gewrig hul kan wend om geloof en lewensrigting te verkry Dankie
  • originalblizzard19aaa84c56 on Inleiding'n Mondvol oor Matteus. Sien uit na die reis. Dankie
  • Francois Du Toit on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Dit was n wonderlike reis deur die psalms, teen n pas wat genoeg tyd vir nadenke toegelaat het. En die diep nuanses vd Onse Vader laat deurskemer het. Baie dankie vd leiding en verklari gs.
  • Hannes. on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Middag Dr. Chris, Baie dankie vir ‘n insiggewende reis deur Psalms. Dit het beslis gehelp om my persoonlike gebedslewe te verbeter, en ek glo sterk dat elke gebed beslis my verhouding met die Here verdiep op ‘n manier waar ek tans baie meer pligsgetrou is teenoor my persoonlike stiltetyd en gesprekk…
  • Kobus on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Dit was vir my 'n wonderlike ervaring, ek kyk met 'n ander insig nou na die Psalms
  • Chris van Zyl on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Bid die Psalms het vir my baie beter insig verskaf, veral die kontektualisering en verklarings wat elke gedeelte belig het. Ek is so dankbaar dat ek kon deel in hierdie bid-gerigte ervaring. Menige dag het ek gevoel dat die Psalm van die dag spesiaal vir my bedoel was. Dankie Chris van Wyk vir hierd…