Skip to main content

Jesus word deur Johannes gedoop en met die Gees vervul by die Jordaan

Jesus woon op dié stadium nog in Nasaret. Hy sou egter hierna Kapernaum sy hoofkwartier maak (Matt. 4:13), sy “eie stad” (Matt. 9:1). Kapernaum was ‘n groter stad met ‘n hawe by die See van Galilea vanwaar Jesus baie gebiede kon bereik.

MATTEUS 3:13-17

13 Toe kom Jesus van Galilea af na Johannes by die Jordaan om deur hom gedoop te word.

14 Maar Johannes het Hom probeer keer en gesê: “Ek het nodig om deur U gedoop te word, en U kom na my toe?”

15 Maar Jesus het geantwoord en vir hom gesê: “Laat dit nou toe, want so is dit paslik vir ons om alles te doen wat God vereis.” Toe laat hy Hom toe.

16 Nadat Hy gedoop is, het Jesus dadelik opgekom uit die water; en kyk, die hemele is vir Hom geopen en Hy het die Gees van God sien neerdaal soos ’n duif en op Hom kom.

17 En kyk, daar was ’n stem uit die hemel wat sê: “Hý is my geliefde Seun in wie Ek ’n welbehae het.”

Teks en konteks

3:13 Matteus vertel ook die verhaal van Jesus wat van Galilea af gereis het na Johannes die Doper by die Jordaan en by hom aangedring het dat Johannes Hom doop.

3:14 Matteus is egter die enigste van die Evangelieskrywers wat vir ons van Johannes se huiwering vertel. Hy probeer Jesus keer om gedoop te word. Want Johannes was baie bewus van die voorbereidende aard van sy doop wat opgevolg móés word deur die doop met die Heilige Gees. Dit is wat hyself wou ervaar eerder as dat Jesus Hom met Johannes se doop vereenselwig en Hom daaraan onderwerp.

3:15 Jesus dring egter aan daarop om gedoop te word, omdat sy doop in die eerste plek in God se plan inpas. Hoe mooi sê Jesus dit nie: “want, so is dit paslik vir ons om alles te doen wat God vereis.” In die Grieks staan daar, direk vertaal: “want, só is dit gepas vir ons om alle geregtigheid te vervul.”

Die frase “alle geregtigheid” dui op die voorskrifte wat God voorskryf, wat mense in die regte verhouding met Hom bring, en die doop van Johannes was een daarvan. Dit is trouens hoe die vervulling van die Gees tot sy reg sal kom. Met bekering stuur God sy Gees in ons om ons te begelei in ‘n heilige lewe (Hand. 2:38-39).

Wat meer is, vanuit ‘n bedieningsoogpunt, is dit in die tweede plek net deur Jesus se persoonlike kontak met die bediening van sy voorloper, Johannes die Doper, dat Jesus se bediening ‘n uitvloeisel van Johannes s’n sou kon word. Só word God se wil, sy geregtigheid, vervul, van voorloper na Verlosser.

Dit is ook nie al nie, want daar is ook ‘n derde rede vir die doop van Jesus. Deurdat Jesus die doop van Johannes ondergaan, bevestig dit daarby Jesus se mensheid. En soos alle mense van sy tyd móés ook Hy gedoop word.

3:16-17 Nadat Jesus gedoop is, daal die Gees van God soos ’n duif op Hom neer en ’n stem uit die hemele bevestig Jesus se Seunskap: “Hý is my geliefde Seun in wie Ek ‘n welbehae het.” Jesus is dus nie net ‘n mens nie, Hy is ook God.

Al vier Evangelies praat van die Gees se neerdaling in die vorm van ’n duif wat waarskynlik verwys na die aanvanklike beweging van die Gees van God wat oor die waters gesweef het aan die begin van die skepping (Gen. 1:2) en deur sommige rabbi’s uitgelê is met die beeld van ’n duif (Hagner). Die duif bevestig ook Jesus se goddelikheid.

Hiermee word God se herskepping van alles wat bestaan dus beslissend ingelui. Deur Jesus, die Seun van die mens, die Seun van God.

Betekenis en boodskap

Daar is iets diep menslik aan die gesprek tussen Jesus en Johannes rondom die doop. Twee sleutelfigure in die plan van God vir die mens aan die gesels oor hoe hulle bedienings mekaar aanvul. Met Jesus wat juis in sy gehoorsaamheid aan die geregtigheid van God Hom identifiseer met die mens en die reg verdien om hierna verlossend op te tree.

Daar is egter ook iets diep goddelik aan die gesprek tussen God en Jesus rondom die doop. ‘n Mens sien Jesus as die gehoorsame Een, ook as die geliefde Een, die Seun van God in wie Hy ‘n welbehae het, en ook as die geseënde Een, op wie die Gees, die derde persoon van die Drie-eenheid neerdaal om sy bediening te legitimeer en te begelei.


Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Matteus-leesplan


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Comments

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar