Jesus gaan woon in Kapernaum en preek in Galilea dat die koninkryk van God naby gekom het
Die fokus is in die volgende gedeelte op Jesus se prediking in Galilea. Jesus se hoofboodskap in hierdie tyd is dat die koninkryk van God naby gekom het. Dit het ‘n dubbele uitwerking.
Aan die een kant roep Jesus mense tot bekering en geloof in Hom. Hy verkondig die goeie nuus van die koninkryk deur sy gesag oor siekte en besetenheid te demonstreer. Dit sluit talle omvattende genesings en die bevryding van demone in. En baie reageer op sy roepstem met bekering en geloof, onder andere sy twaalf apostels.
Dit is egter aan die ander kant ook duidelik dat baie mense nie die roepstem tot bekering en geloof aanvaar nie. Dit sien ‘n mens veral in die skerp teenstand in sy grootword dorp Nasaret. En toenemend sal ons dié gesindheid ook by die Joodse leiers raaksien wat uiteindelik tot Jesus se totale verwerping sal lei.
Met die verkiesing van die twaalf apostels, kry sy bediening daarteenoor egter verdere momentum wanneer Jesus wys hoe geloof in die gemeenskap van gelowiges, wanneer hulle sy Woord as die rigsnoer van hulle lewe neem, gestalte kry .
Jesus spandeer daarom ook baie tyd aan die onderrig van sy dissipels. Hy snoer hulle saam in die stryd vir geregtigheid – persoonlik en publiek – en spel in detail die lewe van geregtigheid en die vrug wat gelowiges dra, in Matteus se Bergrede en Lukas se Vlakterede, uit.
Die dorp Kapernaum is ook nou al hoe meer die basis vir Jesus se bediening.
MATTEUS 4:12-17
Matteus het sy Evangelie begin met Jesus se geslagsregister en geboorte (Matt. 1). Hy het dit opgevolg met ‘n paar peuterverhale gestruktureer rondom die vlug na Egipte en die terugkeer na Nasaret (Matt. 2). Daarna het Matteus oor Johannes die Doper se bediening uitgewy sowel as Jesus se doop (Matt. 3). Dit is opgevolg met die versoeking in die woestyn (Matt. 4:1-11).
Hier begin Jesus dus met sy openbare bediening.
12 Toe Jesus hoor dat Johannes oorgelewer is, het Hy na Galilea vertrek.
13 En Hy het Nasaret verlaat en gaan woon in Kapernaum by die see in die gebied van Sebulon en Naftali.
14 So is vervul wat deur Jesaja die profeet gesê is:
15 “Gebied van Sebulon
en gebied van Naftali,
op die pad na die see,
oorkant die Jordaan,
Galilea, land van die heidene –
16 die volk wat in duisternis woon,
het ’n groot lig gesien,
en vir dié wat in die land
en skaduwee van die dood woon,
het ’n lig opgekom.” (Jes. 8:23-9:1)
17 Van toe af het Jesus begin om te preek en te sê: “Kom tot inkeer, want die koninkryk van die hemele is naby.”
Teks en konteks
4:12 Matteus koppel Jesus se vertrek na Galilea ook aan die einde van Johannes die Doper se bediening, toe hy in die tronk gegooi is.
4:13 Jesus verlaat Nasaret – Matteus sal eers later oor sy (moontlike tweede) verwerping in Nasaret berig (Matt. 13:53-58) – en gaan woon in Kapernaum by die see van Galilea.
4:14-16 Matteus verbind die skuif van Nasaret na Kapernaum, die gebied van Sebulon en Naftali, aan ‘n profesie van Jesaja 8:23-9:1. Die skuif na Kapernaum is dus nie net ‘n praktiese skuif om naby die See van Galilea te wees nie, maar ook die vervulling van die eeueoue profesie van Jesaja oor die Messias.
Sebulon en Naftali se stamgebied was in die gebied van Galilea. Sebulon was die sesde kind van Lea. Sy het van Sebulon gesê: “God het my ’n mooi geskenk gegee; nou sal my man eindelik by my woon, want ek het vir hom ses seuns gebaar.” (Gen 30:20). Naftali was die seun van Ragel deur haar slavin Bilha (Gen 35:25).
Die twee stamme was in die Rigtertyd bekend vir hulle dapperheid in die gevegte teen die Kanaäniete onder leiding van Debora (Rigt 4-5). Hulle is egter saam met die res van die noordelike tien stamme weggevoer met die Assiriese ballingskap in 721 v.C. (2 Kon. 15:29). Dit het beteken dat daar ‘n gemengde bevolking oorgebly het, agtergeblewe Jode en inkommer heidene.
Die feit dat die Messias juis hier sy bediening begin het, was daarom van groot betekenis vir ‘n ontwrigte gebied. Jesus het nou lig gebring vir ‘n volk wat in duisternis woon. Vir hulle wat in die skaduwee van die dood (ballingskap) gewoon het, het ‘n lig (Jesus) nou opgekom.
4:17 Hiermee begin Jesus dus sy bediening in Galilea waarin Hy almal roep tot inkeer, want die koninkryk van die hemele is naby – ‘n geliefde beskrywing van Matteus. Die lig sal die houvas van die duisternis deurbreek. Deur bekering sal Jesus hulle lewens nuut en hoopvol maak.
Betekenis en boodskap
Daar is niemand wat te ver verlore is in die duisternis nie. Die lig van die Messias skyn tot in die diepste duisternis, selfs waar mense in die skaduwee van die dood lewe, en bring nuwe lewe. Sebulon en Naftali was al vir 8 eeue verlore, totdat die tyd vir die Messias aangebreek het, en hulle deur bekering weer ingelyf kon word in die geloofsgemeenskap wat Jesus kom skep het. Watter hoopvolle verhaal!
View all posts in this series
- Kom en volg Hom – ’n 23-week leesplan deur Matteus - August 27, 2026
- Inleiding - September 10, 2026
- Jesus se geslagsregister in Matteus verbind Hom aan Abraham, Dawid en die volk na die ballingskap MATTEUS 1:1-17 - September 11, 2026
- ‘n Engel van die Here oortuig Josef dat Maria se Kind van die Heilige Gees is MATTEUS 1:18-25 - September 12, 2026
- Sterrekundiges besoek Jesus in die huis in Betlehem MATTEUS 2:1-12 - September 13, 2026
- Josef-hulle vlug van Betlehem na Egipte - September 14, 2026
- Herodes die Grote pleeg kindermoord - September 15, 2026
- Die Engel van die Here praat in ‘n droom met Josef om terug te keer na Israel - September 16, 2026
- Josef word gewaarsku in ‘n droom om nie in Judea nie, maar in Galilea in Nasaret te gaan woon - September 17, 2026
- Johannes die Doper preek in die woestyn van Judea en kondig die doop van bekering aan - September 18, 2026
- Johannes die Doper waarsku die Fariseërs en Sadduseërs om die vrug van bekering te dra - September 19, 2026
- Jesus word deur Johannes gedoop en met die Gees vervul by die Jordaan - September 20, 2026
- Jesus word deur die Satan versoek in die woestyn van Judea - September 21, 2026
- Jesus gaan woon in Kapernaum en preek in Galilea dat die koninkryk van God naby gekom het - September 22, 2026
Discover more from Bybelskool
Subscribe to get the latest posts sent to your email.
Onlangse kommentaar