Skip to main content

Julle “ja” moet “ja” bly en julle “nee”, “nee”

MATTEUS 5:33-37

33 “Verder het julle gehoor dat vir die mense van ouds gesê is: ‘Jy mag nie ’n eed verbreek nie, en kom jou eed aan die Here na.’ (Lev. 19:12; Num. 30:2; Deut. 23:21)

34 Maar Ek sê vir julle om hoegenaamd nie ’n eed te neem nie; nie by die hemel nie, omdat dit die troon van God is,

35 nie by die aarde nie, omdat dit sy voetbankie is, nie by Jerusalem nie, omdat dit die stad van die groot koning is,

36 en jy moenie by jou kop ’n eed neem nie, omdat jy nie een haar wit of swart kan maak nie.

37 Julle ‘ja’ moet ‘ja’ bly en julle ‘nee’, ‘nee’; meer as dit is uit die bose.”

Teks en konteks

Die vierde teenstelling is met die negende gebod oor valse getuienis, in dié geval oor eedswering. Daarmee word ook die derde gebod in spel gebring, die verbod om God se Naam ydellik te gebruik, want eedswering het gewoonlik ook God se Naam in gedrang gebring.

5:33 Jesus raak ‘n verdere aspek van hulle morele lewe aan, hulle integriteit in alles wat hulle sê. Hy verwys na die wyse waarop die wet vir die mense van ouds beide hulle betroubaarheid teenoor ander (negende gebod) en teenoor God (derde gebod) voorgeskrywe het.

Jesus haal aan uit ‘n kombinasie van drie tekste in die wet:

  • Levitikus 19:12 – “En julle mag nie vals sweer by my Naam en so die Naam van jou God ontheilig nie. Ek is die Here.” Hoofstuk 19 van Levitikus is ‘n uitleg van die Tien Gebooie in preekvorm. Daar word die eedswering met die derde gebod verbind, om nie God se Naam in diskrediet te bring deur valse getuienis nie. Dit beteken die twee gebooie uit die twee tafels van die Tien Gebooie het met mekaar te make, die derde gebod oor God se Naam, sy reputasie, en die negende gebod oor ander se naam hulle reputasie. Ligsinnige of ydele gebruik van God se Naam bring sy Naam in diskrediet. Valse getuienis oor ander bring hulle name in diskrediet.
  • Numeri 30:2 – “As iemand aan die Here ’n gelofte doen of ’n eed sweer waardeur hy homself verbind om hom van iets te onthou, moet hy sy woord nie breek nie; hy moet handel volgens alles wat uit sy mond uitgaan.” Hier fokus Moses die aandag van die leiers op die betroubaarheid van elke lid van die volk se beloftes aan die Here, hetsy deur ’n gelofte te doen of ’n verpligting op te neem deur eedswering.  Jou woord is jou eer.  Dit is die basiese beginsel.  Jy moet doen wat jy beloof.  Jy mag nie jou eie woord verbreek nie, selfs al is dit onnadenkend gedoen. Jy moet jou aan alles hou wat jy beloof het.
  • Deuteronomium 23:21 – “As jy aan die Here jou God ’n gelofte doen, moet jy nie versuim om dit te betaal nie; want die Here jou God sal dit sekerlik van jou eis, en dit sal sonde in jou word.” Hier pas Moses die beginsel van respek vir die lewe en die grense wat God gestel het toe in terme van die vrywillige betaling van geloftes(Deut. 23:21-23). Jou woord moet jou eer wees.

5:34-36 Wat Jesus hierop sê, is dat eedswering wel ‘n geldige manier is om jou betroubaarheid te bevestig, soos mense van daardie tyd gereeld gedoen het, maar dat van sy volgelinge meer gevra word. Elke woord van hulle moet betroubaar wees. Hulle moet dus nie enige eed sweer nie:

  • nie by die hemel nie, want dit is die troon van God,
  • nie by die aarde nie, want dit is sy voetbankie (let op die verkleinwoordjie),
  • nie by Jerusalem nie, want dit is die stad van die groot koning,
  • nie by jou kop nie, want jy kan nie eers een haar wit of swart maak op jou eie nie.

D.w.s. nie by God nie, nie by ‘n gesagsinstansie soos die koning nie, en ook nie by jouself nie.

5:37 Julle “ja” moet “ja” bly en julle “nee”, “nee”. Dit is die standaard. En let op, dit moet so bly! Mense moet jou woorde kan vertrou. As jy sommige woorde eers moet kwalifiseer en verdedig met ‘n eed, kan die vermoede ontstaan dat ander dinge wat jy sê nie betroubaar is nie. ‘n “Ja” of “Nee” is dus genoegsaam.

Enigiets meer is eintlik van die bose. Die verwysing na die bose is waarskynlik na die invloed van die duiwel, omdat bose met ‘n lidwoord in die Grieks weergegee word, soos dit die geval is in die Ons Vader (Matt. 6:13) en in die gelykenisse van die Saaier (Matt. 13:19) en dié van die onkruid tussen die koring (Matt. 13:38). Die invloed van die bose word vermy deur eerlike en betroubare woorde.

Onthou die vraag van die ou slang: “Is dit so dat God gesê het … ?” in die tuin van Eden. Hy het God se woorde in twyfel getrek. Die omgekeerde is ook waar. Jou woorde moet só duidelik wees dat mense nie ‘n eed nodig het om jou te glo nie.

Boodskap en betekenis

Jou ja moet dus ja wees, en jou nee moet nee wees. Wat beteken dat ’n mens in alles met integriteit moet optree, nie net wanneer jy ’n eed gesweer het of ’n gelofte aan God gemaak het nie.

Psalm 24:4 het al gesê dat God nie net rein hande en harte verwag nie, maar ook rein lippe: “Hy wat rein van hande en suiwer van hart is, wat sy siel nie ophef tot nietigheid en nie vals sweer nie.”

Soos die Heidelbergse Kategismus vraag en antwoord 112 ons leer:

“Die negende gebod leer ons dat ons teen niemand valse getuienis mag aflê nie, niemand se woorde verdraai, nie ’n kwaadstoker of ’n lasteraar wees nie, niemand onverhoord en ligtelik help veroordeel nie. Alle vorme van lieg en bedrieg moet ons as die duiwel se eie werke vermy as ons nie die sware toorn van God oor ons wil bring nie. In regsake en in alle ander handelinge moet ons die waarheid liefhê en opreg wees in wat ons sê en bely. Ons naaste se eer en goeie naam moet ons na ons vermoë verdedig en bevorder.”

Oor geloftes

Geloftes het ‘n belangrike rol gespeel in die spiritualiteit van Israel. Ons lees daarvan by Jakob (Gen. 28:20-22), Jefta (Rigt. 11:30-31), Hanna (1 Sam. 1:11), Saul (1 Sam. 14:24), Dawid (Ps. 132:2), en Lemuel se ma (Spr. 31:2).  Ook Paulus het geloftes gemaak en selfs vir ander s’n betaal (Hand. 18:18; 21:23).

Indien ons hierdie manier van doen wil navolg, kan ons gerus die woorde van die Prediker in gedagte hou: “Moenie te gou praat nie, moenie oorhaastig ’n belofte aan God maak nie, want Hy is in die hemel en jy op die aarde.  Laat jou woorde daarom min wees.  2Baie doenigheid bring drome, baie praat lei tot onverstandige woorde.  3As jy aan God ’n gelofte gedoen het, moet jy nie versuim om dit te betaal nie. Hy hou nie van ligsinnige mense nie. Wat jy beloof het, moet jy betaal. 4Dit is beter dat jy nie belowe nie as dat jy belowe en nie betaal nie. 5Moenie dat jou mond jou laat sondig sodat jy vir ’n priester moet sê: ‘Ek het my vergis’ nie. Waarom sal jy God laat kwaad word oor wat jy gesê het en Hom jou handewerk laat vernietig? 6Daar is baie drome, baie wat tot niks kom nie, ook baie woorde. Maar dien jy vir God!” (Pred. 5:1-6).

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Matteus-leesplan


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Comments

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar