Skip to main content

Jesus verbreek nie die wet nie, maar vervul dit

Met die volgende paar perikope in die Bergrede – Matteus 5:17-48 – bevestig Jesus nie net die wet van Moses en die boodskap van die Profete – die OT – nie, maar laat die Skrifte ook op radikale wyse tot sy volle betekenis kom.

Sy basiese boodskap, soos opgesom aan die einde daarvan in vers 48, is ontsagwekkend. God verwag nie net dat sy mense die wet sal gehoorsaam nie. Natuurlik dit ook, en in sy volle betekenis soos Jesus dit hier uitlê.

God verwag meer. Hy verwag dat hulle soos Hy sal wees, volmaak. Trouens, Hy verwag dat sy mense nie net hulle naaste sal liefhê nie, maar van hulle vyande vriende sal maak.

In ses teenstellings spel Jesus die dieper betekenis van die wet uit (telkens aangedui met: “Julle het gehoor – vers 21, 27, 31, 33, 38, 43 … maar Ek sê vir julle” – vers 22, 28, 32, 34, 39, 44). Daarmee maak Hy duidelik dat sy vertolking nie die wet verbreek nie, maar juis vervul. Trouens, Hy verwag van gelowiges dat hulle geregtigheid meer sal wees as dié van die skrifkenners en Fariseërs.

Jesus illustreer sy vervulling van die wet aan die hand van die laaste vyf van die Tien Gebooie wat Hy hier in sy volle betekenis uitlê:

  1. die lering oor moord – Matt. 5:21-26 – kan met die sesde gebod verbind word;
  2. die lering oor begeertes – Matt. 5:27-30 – kan met die tiende gebod verbind word;
  3. die lering oor egskeiding – Matt. 5:31-32 – kan met die sewende gebod verbind word;
  4. die lering oor eedswering – Matt. 5:33-37 – kan met die negende gebod verbind word;
  5. die lering oor vergelding – Matt. 5:38-42 – kan met die agste gebod verbind word.

Hy sluit hierdie interpretasie af met die sesde teenstelling wat die gebod tot naasteliefde (Lev. 19:18) van toepassing maak ook op vyande – Matteus 5:43-48.

Geen wonder nie dat Paulus daarom ‘n soortgelyke verbintenis maak tussen die etiese kode van die nuwe lewe in Christus en die tweede tafel van die wet, só belangrik was hierdie lering van Jesus. Dit sien ons In Romeine 13:8-14 waar Paulus ook die laaste vyf van die gebooie van die tweede tafel van die wet gebruik as sy etiese kode vir gelowiges. Paulus vat sy uitleg van die wet daarna ook saam in die opdrag om die naaste lief te hê soos jouself (Lev. 19:18), soos wat Jesus dit hier doen (vgl. ook Matt. 19:19; 22:39).

MATTEUS 5:17-20

17 “Moenie dink dat Ek gekom het om die wet of die profete te verbreek nie. Ek het nie gekom om dit te verbreek nie, maar om dit te vervul.

18 Want waarlik, Ek sê vir julle: Totdat die hemel en die aarde verbygaan, sal beslis nie een jota of een letterstrepie van die wet verbygaan totdat alles gebeur het nie.

19 Wie ook al dan een van hierdie kleinste gebooie kragteloos maak en die mense so onderrig, sal die kleinste genoem word in die koninkryk van die hemele. Maar wie ook al dit doen en onderrig, hy sal groot genoem word in die koninkryk van die hemele.

20 Want Ek sê vir julle dat as julle geregtigheid nie oorvloedig is nie, meer as dié van die skrifgeleerdes en Fariseërs, sal julle beslis nie ingaan in die koninkryk van die hemele nie.”

Teks en konteks

5:17 Jesus is baie duidelik daaroor dat Hy nie gekom het om die boodskap van die OT te verbreek nie, maar dit te vervul.  Jesus gebruik hier die wet en die profete as aanduiding vir die hele OT (vgl. Matt. 7:12; 11:13; 22:40; Hand. 24:14; 28:23; Rom. 3:21 waar dieselfde frase gebruik word; Luk. 24:44 voeg ook die Psalms hierby).

Jesus het wel gekom om die mondelinge tradisie van die Fariseërs te verbreek, soos ons in die vroeëre gesprekke oor die Sabbat agtergekom het. Dit was omdat die Fariseërs juis die skriftelike tradisie van die wet en die profete met hulle eie mensgemaakte wette verbreek het.

Dit moet mense egter nie laat dink dat Jesus die Skrif wil verbreek nie. Inteendeel, Hy wil juis die Skrif tot sy reg laat kom in die volste sin van die woord.

Om dit helder te sê, gebruik Jesus twee Griekse woorde om sy boodskap oor te dra. Die Griekse woord vir verbreek (kataluō) beteken nie net om die wette te oortree nie, maar om daarmee weg te doen, om dit te vernietig. Dit is duidelik nie wat Jesus kom doen het nie. Hy het nie die boodskap van die OT kom vernietig nie, maar kom vervul.

Die Griekse woord vir vervul (plēroō), beteken om die boodskap van die wet en die profete hulle volle betekenis te laat kry deur dit te gehoorsaam. ‘n Mens kan ook vertaal: om die wet hulle “ware bedoeling of betekenis te laat kry.”

5:18 Jesus bevestig hiermee ondubbelsinnig die OT boodskap met ‘n goddelike eed: “Waarlik”! Nie eers die kleinste of mees onbelangrike deel van die wet sal in hierdie lewe verbygaan nie, sê Jesus. Terwyl die hemel en aarde daar is, en die einde nog nie gekom het nie, sal God se wet bly staan. Dit belowe Jesus.

Jota en tittel verwys hier na die kleinste letter in Hebreeus, die jota (י), en die kleinste letterstrepie in Hebreeus, die tittel, wat bv die onderskeid tussen die letter resj (ר) en dalet (ד) moontlik maak. Kyk of jy die verskil kan sien!

Die wet kan doodgewoon nie gebreek word nie, soos Jesus op ‘n ander plek sê (Joh. 10:35).

Wat die vervulling wel doen, is dat dit sekere dele van die wet, veral die seremoniële en burgerlike dele daarvan, onnodig maak.

Só skrywe Paulus aan die Kolossense: “Laat niemand julle dan oordeel in spys of in drank of met betrekking tot ’n fees of nuwemaan of Sabbat nie, wat ’n skaduwee is van die toekomstige dinge” (Kol. 2:16-17). Dit is waarom die Sabbat nie meer vandag gevier hoef te word nie, al is dit selfs deur die wet voorgeskryf.

So ook die Hebreërskrywer: “Want die wet, wat ’n skaduwee het van die toekomstige weldade, nie die beeld self van die dinge nie, kan nooit deur dieselfde offers wat jaar na jaar gedurig gebring word, die wat toetree, tot volmaaktheid lei nie” (Hebr. 10:1; vgl. 8:5). Dit is waarom die offerstelsel opgehou funksioneer het, al was dit ‘n integrale deel van die wet, want Jesus was die volmaakte offer. Die offerstelsel is dus nie meer nodig nie.

Die wet bly egter staan vir almal wat wetteloos lewe, soos Paulus op ‘n ander plek skrywe (1 Tim. 1:8-11). Dit beteken uiteraard nie dat ‘n mens deur die wet jou saligheid kan beërwe nie. Dit sou wetties wees. Dit beteken egter ook nie dat ‘n mens sonder die wet jou saligheid kan beërwe nie. Dit sou wetteloos wees.

Op talle plekke sal die Skrif inderdaad sê dat die wet op ons harte geskrywe word, sodat ons deur die Gees gelei kan word (Jer. 31:33; Hebr. 8:10; vgl. Rom. 8:1-17). Dit is die korrekte manier om oor die wet se funksie in gelowiges se lewe te dink.

5:19 In ‘n sinspeling op sy eie volmaakte nakom van die wet, spel Jesus dit duidelik uit dat ‘n mens selfs nie die kleinste gebod kragteloos moet maak nie, maar alles in detail moet nakom. Omdat Jesus die wet volmaak nagekom het, en ander só onderrig het, kan Hy die grootste wees in die koninkryk van die hemele.

5:20 Jesus verklaar dat sy dissipels se geregtigheid oorvloediger as dié van die skrifgeleerdes en Fariseërs moet wees, anders sal hulle die koninkryk van die hemele nie kan ingaan nie.

Hoe wonderlik om dan te besef dat ons nie op grond van ons eie geregtigheid in die hemel kan kom nie, maar juis deur die Een wat alles volmaak nagekom het, Jesus, ons volkome geregtigheid (Rom. 3:22).

Boodskap en betekenis

R. T. France som in sy kommentaar (Matthew) die boodskap van hierdie gedeelte só op:

‘17I have not come to set aside the Old Testament, but to bring the fulfilment to which it pointed. 18For no part of it can ever be set aside, but all must be fulfilled (as it is now being fulfilled in my ministry and teaching). 19So a Christian who repudiates any part of the Old Testament is an inferior Christian; the consistent Christian will be guided by the Old Testament, and will teach others accordingly. 20But a truly Christian attitude is not the legalism of the scribes and Pharisees, but a deeper commitment to do the will of God, as vv. 21ff. will illustrate.’

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Matteus-leesplan


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Comments

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar