Skip to main content

Elkeen wat skei, behalwe oor ontrou, maak dat die ander een egbreuk pleeg

MATTEUS 5:31-32

31 “Daar is ook gesê: ‘Wie ook al van sy vrou skei, moet haar ’n skeibrief gee.’ (Deut. 24:1)

32 Maar Ek sê vir julle dat elkeen wat van sy vrou skei behalwe oor ontrou, maak dat sy egbreuk pleeg, en wie ook al met ’n geskeide vrou trou, pleeg egbreuk.”

Teks en konteks

5:31 Die derde teenstelling is weereens met die sewende gebod oor egbreuk, hierdie keer toegepas op egskeiding. Jesus haal uit die laaste preek van Moses net voor die intog in Kanaän aan, en verwys na die toelating van Moses dat as ‘n mens tot skei kom, jy dit wettig moet doen deur ‘n skeibrief (Deut. 24:1). Dit was basies bedoel as wetlike beskerming van die vrou in die huwelik.

5:32 Jesus sal later meer uitbrei hieroor, veral oor die feit dat die skeibrief in elk geval net toelaatbaar was weens die Israeliete se harde harte, nie omdat God dit só van die begin af wou hê nie (Matt. 19:1-12). Daarom beperk Jesus hier die gee van ‘n skeibrief tot net een tipe geval, en dit is waar daar ontrou was. Die ontrouheid was per se alreeds egbreuk, daarom kan Jesus verstaan dat dit in só ‘n geval toegelaat kon word.

Hy waarsku egter teen enige ander egskeiding, want dit bevorder egbreuk, presies wat die sewende gebod wil vermy. Die geskeide vrou word deur egskeiding blootgestel aan moontlike verdere egbreuk, en wie ook al met ‘n geskeide vrou trou, pleeg op die koop toe ook egbreuk.

Jesus verwys hiermee na die afwysing van hertrou in die wet ter wille van die heiligheid van die geloofsgemeenskap (Deut. 24:1-4).

Vir ‘n bietjie meer agtergrond

Moses het egskeiding toegelaat in die geval dat ‘n man nie meer sy vrou liefhet: “omdat hy iets onbetaamliks aan haar gevind het”.   Die “onbetaamliks” (BDV het “onbehoorlik”) word nie uitgespel nie, maar die Hebreeuse woord ʿěrwāh word normaalweg met “naaktheid” vertaal, soos ons dit bv. by Gam en sy pa Noag aantref (Gen. 9:22; vgl. Deut. 23:14).  Die onbetaamlike of onbehoorlike gedrag dui dus waarskynlik op een of ander growwe seksuele oortreding.

Moses brei dan verder uit hierop en skryf voor dat die man nooit weer met dié vrou mag trou as sy intussen ‘n ander een se vrou geword het nie.  Dit sal sonde in die oë van die Here wees en die land verontreinig.  Hertrou was dus nie meer ‘n opsie as daar reeds ‘n ander troue plaasgevind het nie.

Dit is hieruit duidelik dat egskeiding ‘n toegewing was, nie ‘n gebod nie.  En dit is waarna Jesus hier in die Bergrede verwys.

Egskeiding was ‘n afskuwelike en gewelddadige gebeurtenis in die oë van die Here, verstaanbaar in enkele gevalle, maar steeds iets wat vermy kon word indien daar inkeer en versoening sou wees.  ‘n Tweede huwelik het dié versoening en hertrou onmoontlik gemaak, vandaar die sterk woorde daaroor.

Boodskap en betekenis

Jesus beveel ons hiermee dat ons rein en getrou moet bly vir en in die huwelik.  Hy beveel ons om alle seksuele losbandigheid buite die huwelik tussen een man en een vrou te kruisig, terwyl ons as ongetroudes en getroudes alle onrein gedagtes, woorde, begeertes en dade moet vermy.

Dit beteken dat ons tevrede moet wees met wat ons het. Dat ons sonder afguns teenoor ander moet leef, en sonder om God te verkwalik vir sy voorsiening.

Die Heidelbergse Kategismus vraag en antwoord 108-109 verduidelik dit so:

“Die sewende gebod leer ons dat alle onkuisheid deur God vervloek is, en dat ons dit daarom hartgrondig moet haat. Daarenteen moet ons kuis en ingetoë lewe sowel binne as buite die huwelik.  God verbied hiermee nie net egbreuk en sulke skandes nie.  Omdat beide ons liggaam en siel ’n tempel van die Heilige Gees is, wil God dat ons altwee rein en heilig bewaar. Daarom verbied Hy alle onkuise dade, gebare, woorde, gedagtes, luste en alles wat ’n mens daartoe kan verlei.”

Vir die dieperdelwers

Egskeiding en hertrou in die NT

Ons leef in ‘n tyd waar egskeiding nie meer die wenkbroue laat lig nie.  Die Bybel se lering hieroor is egter deurgaans dat God egskeiding haat, soos ons reeds by Maleagi kan sien (Mal. 2:16).

Dit is iets wat ons ter harte sal moet neem in ons geloofspraktyke en gemeentes. Dit is nie net die OT wat hieroor duidelik is nie; Jesus, Paulus en die Hebreërskrywer is kras in hulle afwysing van die geweld van egbreuk en egskeiding.  En hulle lering is gebaseer op die OT, eksplisiet Deuteronomium 24:1 en Genesis 1-2.

Jesus oor egskeiding

Jesus gebruik Deuteronomium 24 en Genesis 1-2 op drie plekke as agtergrond vir sy lering oor egskeiding. En Hy is onverbiddelik in sy eis aan dissipels van Hom om getrou te bly in die huwelik.

  1. In die Bergrede wys Jesus dat die eintlike bedoeling van Deuteronomium 24 nie was dat ‘n man sommer om enige rede van sy vrou mag geskei het nie, soos die Jode verkeerdelik in hulle uitleg daarvan geleer het. Nee, sê Jesus, die huwelik is bedoel om ‘n lewenslange verbintenis te wees, volgens Genesis 1-2, al kan ‘n mens, sê Hy, verstaan dat owerspel – (in Deut. 24:1 “iets onbetaamliks”) wat in wese reeds egbreuk was – ‘n egskeiding tot gevolg kan hê.
  2. In ‘n gesprek met die Fariseërs – wat Hom beledig het dat Hy van hulle verwag om God bó alles te dien – beklemtoon Jesus die altyd geldende krag van die wet: “Tog is dit makliker vir die hemel en die aarde om te vergaan as dat een lettertjie van die wet verval.” En Hy lê dié beginsel uit deur enige egskeiding, selfs ‘n huwelik met ‘n geskeide, as teen God se wil uit te lê: “Elkeen wat van sy vrou skei en met ’n ander een trou, pleeg egbreuk; en iemand wat met ’n geskeide vrou trou, pleeg ook egbreuk.” (Luk. 16:14-18).

Voorwaar sterk en onverbiddelike woorde!  Owerspel mag dus nie sommer sonder meer as verskoning vir egskeiding gebruik word nie, al erken Jesus dat dit ‘n huwelik onmoontlik sou kon maak.

  1. In ‘n verdere gesprek met die dissipels in Matteus 19 onderstreep Jesus die lewenslange verbintenis van ‘n man en ‘n vrou in die huwelik deur dit aan God se goeie skepping te verbind (Gen. 1-2). Die wet van egskeiding was nie bedoel om die huwelik te beskadig nie, maar was ‘n toegewing weens die hardheid van hulle harte (Deut. 24).  En Hy herhaal die onverbiddelike eis dat gelowiges getrou moet bly in die huwelik met dieselfde woorde as wat Lukas ook neergepen het (Mrk. 10:11-12).

Paulus oor egskeiding en hertrou

Paulus waarsku dat egbrekers wat nie tot bekering kom nie, geen deel sal hê aan die koninkryk van God nie.  Gelukkig is hy oortuig van die Korintiërs dat hulle reeds hulle sonde laat afwas het, deur Christus geheilig is, en vrygespreek is in die Naam van Jesus deur die kragtige werking van die Heilige Gees (1 Kor. 6:9-11).

Hy gaan verder om oor die huwelik te skrywe waarin hy helder daaroor is dat ‘n gelowige nie moet skei nie, behalwe waar ‘n ongelowige van ‘n gelowige wil skei.  Hertrou in laasgenoemde geval was ‘n moontlikheid, maar om dán ongetroud te bly eintlik nog beter (1 Kor. 7).

Die Hebreërskrywer oor ontug en egbreuk

Die Hebreërskrywer waarsku gelowiges dat ontug en egbreuk jou onder die oordeel van God laat kom: “Die huwelik moet deur almal eerbaar gehou word. Wees in die huwelikslewe getrou aan mekaar, want ontugtiges en egbrekers sal onder die oordeel van God kom.” (Hebr. 13:4).  Woorde wat ons doodgewoon ter harte moet neem en as kinders van die Here moet gehoorsaam.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Matteus-leesplan


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar