Skip to main content

Jesus genees twee blindes

Matteus het telkens “duplikate”, m.a.w. verhale wat min of meer dieselfde boodskap dra. Dit bevestig die waarheid wat hy daarmee verkondig nog meer. Hierdie verhaal is een van die gevalle. Ons lees van nog twee blindes (buite Jerigo – Matt. 20:29-34) wat genees word. Daar is heelwat ooreenstemming in die detail (twee blindes, Jesus word as die Seun van Dawid beskryf), maar ook beduidende verskille (in die huis vs. langs die pad; alleen by Jesus vs. as deel van ’n skare). Dit is egter duidelik verskillende verhale.

MATTEUS 9:27-31

27 Terwyl Jesus daarvandaan verder gegaan het, het twee blindes Hom gevolg wat uitgeroep het en sê: “Wees ons barmhartig, Seun van Dawid.”

28 Toe Hy in die huis ingaan, het die blindes na Hom toe gekom, en Jesus sê vir hulle: “Glo julle dat Ek dit kan doen?” Hulle sê vir Hom: “Ja, Here.”

29 Toe het Hy hulle oë aangeraak en gesê: “Laat dit vir julle gebeur volgens julle geloof.”

30 En hulle oë is geopen. En Jesus het ernstig met hulle gepraat en gesê: “Sorg dat niemand dit weet nie.”

31 Maar hulle het uitgegaan en die nuus oor Hom in daardie hele gebied versprei.

Teks en konteks

9:27 Jesus sit sy bediening ná die opwekking van die dogtertjie verder voort, waarskynlik nog in Kapernaum, met twee blindes wat Hom volg en hulle smeking vir barmhartigheid op sy Messiaanse titel, Seun van Dawid, begrond. Dit is ‘n uiterse belangrike deel van die identiteit van Jesus.

Dit is ‘n titel waarmee Matteus sy Evangelie begin (Matt. 1:1). Die blindes is ironies genoeg die eerste mense wat dit gebruik as beskrywing van Hom. Hierna sal die skares begin wonder oor die titel (Matt. 12:23), van die heidene sal dit as ‘n titel vir Hom begin gebruik (Matt. 15:22), en nóg twee blindes in Jerigo sal uiteindelik dieselfde van Hom bely as dié twee in Kapernaum (Matt. 20:30). Hy is inderdaad die Messias, die Seun van Dawid.

Die skare sal Hom uiteindelik in Jerusalem met dié titel ontvang (Matt. 21:9) wat egter tot verontwaardiging sal lei by die Joodse leiers (Matt. 21:15). Hulle erken wel dat die titel, Seun van Dawid, inderdaad op die Messias dui (Matt. 22:42). Omdat hulle dit egter nie van Jesus geglo het nie, was dit een van die redes waarom hulle Hom verraai, verwerp en gekruisig het.

9:28 Toe Jesus in die huis ingaan – waarskynlik in Kapernaum – het die blindes na binne gekom in die hoop dat Hy hulle sal genees. Die feit dat Jesus hulle eers geïgnoreer het, het hulle nie afgesit nie. Hulle slaag dus die eerste toets vir hulle geloof. Hulle hou vol om te vra. Jesus praat dan met hulle verder oor die inhoud van hulle geloof, of hulle inderdaad glo dat Hy hulle blindheid kan genees. Met hulle positiewe antwoord: “Ja, Here,” bevestig hulle nie net sy identiteit as die Messias, die Seun van Dawid, nie, maar ook sy status as die Here, die sigbare Jahwe van die OT.

9:29-31 Jesus raak dan hulle oë aan en genees hulle met die opmerking dat met hulle sal gebeur “volgens hulle geloof”. Hulle geloof is die noodsaaklike instrument wat die genesing teweeg bring – ‘n belangrike perspektief op geloof ook in ons eie beoefening daarvan.

Sy ernstige versoek dat hulle niemand hiervan moet sê nie, val op “dowe ore”, want hulle kon die nuus nie vir hulleself hou nie. Almal het begin kennis neem van die Messias en sy helende impak in mense se lewens.

Boodskap en betekenis

Die boodskap rondom geloof word al hoe helderder. Geloof het geen krag in homself nie. Die krag lê in die inhoud van die geloof, die Een in wie geglo word. Maar, sonder geloof kom God se helende krag nie tot sy volle werking nie.

Ons moet waak teen die idee dat ons geloof selfstandig tot genesing kan lei. God is nie ‘n munt-outomaat wat genesing gee vir almal wat glo nie. Maar, ons moet ook waak teen die teenoorgestelde idee dat ons geloof geen rol speel in genesing nie. Die beste manier om daaroor te dink, is dat God gee binne ‘n verhouding met Hom vir dié wat Hom vertrou. Soos vir hierdie twee blindes. In daardie geloofsverhouding moet ons groei.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Matteus-leesplan


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar