Skip to main content

Tag: Matteus-leesplan

Elkeen wat skei, behalwe oor ontrou, maak dat die ander een egbreuk pleeg

MATTEUS 5:31-32

31 “Daar is ook gesê: ‘Wie ook al van sy vrou skei, moet haar ’n skeibrief gee.’ (Deut. 24:1)

32 Maar Ek sê vir julle dat elkeen wat van sy vrou skei behalwe oor ontrou, maak dat sy egbreuk pleeg, en wie ook al met ’n geskeide vrou trou, pleeg egbreuk.”

Teks en konteks

5:31 Die derde teenstelling is weereens met die sewende gebod oor egbreuk, hierdie keer toegepas op egskeiding. Jesus haal uit die laaste preek van Moses net voor die intog in Kanaän aan, en verwys na die toelating van Moses dat as ‘n mens tot skei kom, jy dit wettig moet doen deur ‘n skeibrief (Deut. 24:1). Dit was basies bedoel as wetlike beskerming van die vrou in die huwelik.

5:32 Jesus sal later meer uitbrei hieroor, veral oor die feit dat die skeibrief in elk geval net toelaatbaar was weens die Israeliete se harde harte, nie omdat God dit só van die begin af wou hê nie (Matt. 19:1-12). Daarom beperk Jesus hier die gee van ‘n skeibrief tot net een tipe geval, en dit is waar daar ontrou was. Die ontrouheid was per se alreeds egbreuk, daarom kan Jesus verstaan dat dit in só ‘n geval toegelaat kon word.

Hy waarsku egter teen enige ander egskeiding, want dit bevorder egbreuk, presies wat die sewende gebod wil vermy. Die geskeide vrou word deur egskeiding blootgestel aan moontlike verdere egbreuk, en wie ook al met ‘n geskeide vrou trou, pleeg op die koop toe ook egbreuk.

Jesus verwys hiermee na die afwysing van hertrou in die wet ter wille van die heiligheid van die geloofsgemeenskap (Deut. 24:1-4).

Vir ‘n bietjie meer agtergrond

Moses het egskeiding toegelaat in die geval dat ‘n man nie meer sy vrou liefhet: “omdat hy iets onbetaamliks aan haar gevind het”.   Die “onbetaamliks” (BDV het “onbehoorlik”) word nie uitgespel nie, maar die Hebreeuse woord ʿěrwāh word normaalweg met “naaktheid” vertaal, soos ons dit bv. by Gam en sy pa Noag aantref (Gen. 9:22; vgl. Deut. 23:14).  Die onbetaamlike of onbehoorlike gedrag dui dus waarskynlik op een of ander growwe seksuele oortreding.

Moses brei dan verder uit hierop en skryf voor dat die man nooit weer met dié vrou mag trou as sy intussen ‘n ander een se vrou geword het nie.  Dit sal sonde in die oë van die Here wees en die land verontreinig.  Hertrou was dus nie meer ‘n opsie as daar reeds ‘n ander troue plaasgevind het nie.

Dit is hieruit duidelik dat egskeiding ‘n toegewing was, nie ‘n gebod nie.  En dit is waarna Jesus hier in die Bergrede verwys.

Egskeiding was ‘n afskuwelike en gewelddadige gebeurtenis in die oë van die Here, verstaanbaar in enkele gevalle, maar steeds iets wat vermy kon word indien daar inkeer en versoening sou wees.  ‘n Tweede huwelik het dié versoening en hertrou onmoontlik gemaak, vandaar die sterk woorde daaroor.

Boodskap en betekenis

Jesus beveel ons hiermee dat ons rein en getrou moet bly vir en in die huwelik.  Hy beveel ons om alle seksuele losbandigheid buite die huwelik tussen een man en een vrou te kruisig, terwyl ons as ongetroudes en getroudes alle onrein gedagtes, woorde, begeertes en dade moet vermy.

Dit beteken dat ons tevrede moet wees met wat ons het. Dat ons sonder afguns teenoor ander moet leef, en sonder om God te verkwalik vir sy voorsiening.

Die Heidelbergse Kategismus vraag en antwoord 108-109 verduidelik dit so:

“Die sewende gebod leer ons dat alle onkuisheid deur God vervloek is, en dat ons dit daarom hartgrondig moet haat. Daarenteen moet ons kuis en ingetoë lewe sowel binne as buite die huwelik.  God verbied hiermee nie net egbreuk en sulke skandes nie.  Omdat beide ons liggaam en siel ’n tempel van die Heilige Gees is, wil God dat ons altwee rein en heilig bewaar. Daarom verbied Hy alle onkuise dade, gebare, woorde, gedagtes, luste en alles wat ’n mens daartoe kan verlei.”

Vir die dieperdelwers

Egskeiding en hertrou in die NT

Ons leef in ‘n tyd waar egskeiding nie meer die wenkbroue laat lig nie.  Die Bybel se lering hieroor is egter deurgaans dat God egskeiding haat, soos ons reeds by Maleagi kan sien (Mal. 2:16).

Dit is iets wat ons ter harte sal moet neem in ons geloofspraktyke en gemeentes. Dit is nie net die OT wat hieroor duidelik is nie; Jesus, Paulus en die Hebreërskrywer is kras in hulle afwysing van die geweld van egbreuk en egskeiding.  En hulle lering is gebaseer op die OT, eksplisiet Deuteronomium 24:1 en Genesis 1-2.

Jesus oor egskeiding

Jesus gebruik Deuteronomium 24 en Genesis 1-2 op drie plekke as agtergrond vir sy lering oor egskeiding. En Hy is onverbiddelik in sy eis aan dissipels van Hom om getrou te bly in die huwelik.

  1. In die Bergrede wys Jesus dat die eintlike bedoeling van Deuteronomium 24 nie was dat ‘n man sommer om enige rede van sy vrou mag geskei het nie, soos die Jode verkeerdelik in hulle uitleg daarvan geleer het. Nee, sê Jesus, die huwelik is bedoel om ‘n lewenslange verbintenis te wees, volgens Genesis 1-2, al kan ‘n mens, sê Hy, verstaan dat owerspel – (in Deut. 24:1 “iets onbetaamliks”) wat in wese reeds egbreuk was – ‘n egskeiding tot gevolg kan hê.
  2. In ‘n gesprek met die Fariseërs – wat Hom beledig het dat Hy van hulle verwag om God bó alles te dien – beklemtoon Jesus die altyd geldende krag van die wet: “Tog is dit makliker vir die hemel en die aarde om te vergaan as dat een lettertjie van die wet verval.” En Hy lê dié beginsel uit deur enige egskeiding, selfs ‘n huwelik met ‘n geskeide, as teen God se wil uit te lê: “Elkeen wat van sy vrou skei en met ’n ander een trou, pleeg egbreuk; en iemand wat met ’n geskeide vrou trou, pleeg ook egbreuk.” (Luk. 16:14-18).

Voorwaar sterk en onverbiddelike woorde!  Owerspel mag dus nie sommer sonder meer as verskoning vir egskeiding gebruik word nie, al erken Jesus dat dit ‘n huwelik onmoontlik sou kon maak.

  1. In ‘n verdere gesprek met die dissipels in Matteus 19 onderstreep Jesus die lewenslange verbintenis van ‘n man en ‘n vrou in die huwelik deur dit aan God se goeie skepping te verbind (Gen. 1-2). Die wet van egskeiding was nie bedoel om die huwelik te beskadig nie, maar was ‘n toegewing weens die hardheid van hulle harte (Deut. 24).  En Hy herhaal die onverbiddelike eis dat gelowiges getrou moet bly in die huwelik met dieselfde woorde as wat Lukas ook neergepen het (Mrk. 10:11-12).

Paulus oor egskeiding en hertrou

Paulus waarsku dat egbrekers wat nie tot bekering kom nie, geen deel sal hê aan die koninkryk van God nie.  Gelukkig is hy oortuig van die Korintiërs dat hulle reeds hulle sonde laat afwas het, deur Christus geheilig is, en vrygespreek is in die Naam van Jesus deur die kragtige werking van die Heilige Gees (1 Kor. 6:9-11).

Hy gaan verder om oor die huwelik te skrywe waarin hy helder daaroor is dat ‘n gelowige nie moet skei nie, behalwe waar ‘n ongelowige van ‘n gelowige wil skei.  Hertrou in laasgenoemde geval was ‘n moontlikheid, maar om dán ongetroud te bly eintlik nog beter (1 Kor. 7).

Die Hebreërskrywer oor ontug en egbreuk

Die Hebreërskrywer waarsku gelowiges dat ontug en egbreuk jou onder die oordeel van God laat kom: “Die huwelik moet deur almal eerbaar gehou word. Wees in die huwelikslewe getrou aan mekaar, want ontugtiges en egbrekers sal onder die oordeel van God kom.” (Hebr. 13:4).  Woorde wat ons doodgewoon ter harte moet neem en as kinders van die Here moet gehoorsaam.

As jy kyk na ‘n vrou om haar te begeer, het jy reeds in jou hart egbreuk gepleeg

MATTEUS 5:27-30

27 “Julle het gehoor dat gesê is: ‘Jy mag nie egbreuk pleeg nie.’ (Eks. 20:14; Deut. 5:18)

28 Maar Ek sê vir julle dat elkeen wat na ’n vrou kyk en haar begeer alreeds in sy hart met haar egbreuk gepleeg het.

29 As jou regteroog jou laat sondig, ruk dit uit en gooi dit weg van jou af, want dit is vir jou beter dat een van jou ledemate verlore gaan en jou hele liggaam nie in die hel gegooi word nie.

30 En as jou regterhand jou laat sondig, kap dit af en gooi dit weg van jou af, want dit is beter vir jou dat een van jou ledemate verlore gaan en jou hele liggaam nie in die hel gegooi word nie.”

Teks en konteks

Jesus begin met ‘n verwysing na die sewende gebod in vers 27, maar hanteer, in vers 28-30, seksuele begeertes eintlik as ‘n voorbeeld van oortredings van die tiende gebod, vóór Hy in vers 31 vv. meer spesifiek by die sewende gebod uitkom.

5:27 Die tweede teenstelling is dus met die sewende gebod (Eks. 20:14; Deut. 5:18) oor egbreuk (moicheia – d.w.s. seks met ‘n vrou wat met iemand anders getroud is), maar hierna as ‘n voorbeeld uitgespel in terme van die tiende gebod oor begeertes.

5:28 Jesus brei hierdie gebod oor seks met ‘n ander man se vrou uit na die koestering van enige seksuele gedagtes oor enige vrou (gunaika), selfs ongetroudes. As jy kyk na ‘n vrou en haar begeer (epithumeō – “wellustig kyk” – vgl. 2 Pet. 2:14), het jy reeds in jou hart met haar egbreuk gepleeg. Die koestering van wellustige gedagte is dus alreeds ‘n oortreding van die wet.

5:29-30 Jesus gebruik twee radikale metafore om die dissipels aan te spoor om hierdie tipe “egbreuk van die hart” ten alle koste te vermy. As jou regteroog, wat jou juis van struikeling moes bewaar, jou egter laat sondig, ruk dit uit en gooi dit weg van jou af. Dieselfde geld jou regterhand wat moontlik op selfbevrediging dui.

Kap dit af en gooi dit weg “van jou af”. Dit is beter dat ‘n deel van jou vermink word as dat jou hele liggaam, d.w.s. jyself, verteer word in die helse vuur.

Die uitruk van die regteroog en die afkap van die regterhand  is hiperbolies bedoel, nie letterlik nie. Maar, die krasheid van die metafore dra op geen onseker wyse die erns van Jesus se bedoeling oor. Die koestering van wellus in jou gedagtes is alreeds die probleem, nie eers die fisiese daad nie. Kinders van die koninkryk hou selfs hulle gedagtes rein, nie net hulle gedrag nie!

Boodskap en betekenis

Jesus veroordeel uiteraard hiermee nie ons natuurlike belangstelling in die teenoorgestelde geslag of selfs ons gesonde seksuele behoeftes nie. Wat Hy hier veroordeel, is die ongewensde gedagtes en fantasieë wat ons koester oor ander. Dit is die koestering van die gedagtes wat reeds in wese sondig is, selfs voordat ons nog daarop met die daad reageer.

Slegte en sondige gedagtes kom immers uit die hart en maak ons van binne onrein, vóórdat ons nog van buite deur ons slegte gedrag onrein raak (Matt. 15:1-20; Mrk. 7:14-23).

Trouens, dié toepassing van die tiende gebod dui op enige verkeerde en sondige gedagte wat ons sou koester. Die Heidelbergse Kategismus vraag en antwoord 113 verduidelik dit so:

“Die tiende gebod vra van ons dat selfs die geringste begeerte of gedagte teen enige gebod van God nooit in ons hart mag opkom nie. Ons moet altyd en hartgrondig vyande van alle sonde wees en ’n begeerte tot alle geregtigheid hê.”

Maak vrede as iemand iets teen jou het: jy mag nie moord pleeg nie

MATTEUS 5:21-26

21 “Julle het gehoor dat daar vir die mense van ouds gesê is: ‘Jy mag nie moord pleeg nie (Eks 20:13; Deut 5:17), en wie ook al moord pleeg, sal voor die reg strafbaar wees.’

22 Maar Ek sê vir julle dat elkeen wat vir sy broer kwaad is, voor die reg strafbaar sal wees; en wie ook al vir sy broer sê: ‘Jou domkop,’ sal voor die Sanhedrin strafbaar wees; en wie ook al sê: ‘Jou dwaas,’ sal strafbaar wees in die hel met sy vuur.

23 As jy dan jou gawe by die altaar aanbied en jy daar onthou dat jou broer iets teen jou het,

24 los jou gawe daar voor die altaar en gaan maak eers vrede met jou broer, en kom dan en bied jou gawe aan.

25 Kom gou tot ’n vergelyk met jou aanklaer terwyl jy saam met hom op pad is, sodat jou aanklaer jou nie oorlewer aan die regter en die regter aan die hofbeampte en jy in die tronk gegooi word nie.

26 Amen, Ek sê vir jou, jy sal beslis nie daar uitkom totdat jy die laaste kodrantes (kleinste Romeinse muntstuk) betaal het nie.”

Teks en konteks

Na die inleiding oor die wet hanteer Jesus ses dele van die wet in die vorm van teenstellings: “julle het gehoor”… “maar Ek sê vir julle …”, om sy punt oor die geldigheid van die wet te onderstreep, maar ook die volle betekenis daarvan te openbaar. Vyf van die verwysings is na aanleiding van vyf van die gebooie op die tweede tafel van die Tien Gebooie. Die sesde en laaste een is na aanleiding van Levitikus 19:18.

5:21 Die eerste teenstelling is met die sesde gebod oor moord. Jesus haal hier aan uit die Tien Gebooie (Eks 20:13; Deut. 5:17) met ‘n uitbreiding uit die verdere lering oor die Tien Gebooie wat God aan Moses gegee het in die Boek van die Verbond: Genesis 21-24. Wie ook al moord pleeg – doelbewuste kriminaliteit is in die oog, nie siviele oortredings soos onopsetlike manslag nie – is strafbaar voor die reg (Eks. 21:12-14; vgl. dieselfde gebod aan Noag – Gen. 9:6 en ook Moses se reëlings vir asiel op pad na Kanaän – Num. 35:16–34).

5:22 Die wet bly uiteraard van krag, sê Jesus, maar die bedoeling van die wet is eintlik dat jy jou naaste geen kwaad sal aandoen nie (vgl. Paulus in Rom. 13:10). Dit wil sê, dit gaan nie net oor die letterlike uitleg van die wet nie, ook oor die geestelike betekenis daarvan.

Elkeen wat dus vir sy broer kwaad is, sal strafbaar wees. Let op dat dit gaan oor ‘n medegelowige. Die OAV voeg ook “sonder rede” by as verklaring van die “kwaad word”, ‘n lesing wat deur heelwat manuskripte ondersteun word.

Of die teks so gelees moet word, is nie seker nie, maar dit is waarskynlik wat hier bedoel word. Dit lei geleerdes af van die feit dat van Jesus op ‘n keer gesê word dat Hy kwaad was, maar tegelykertyd ook hartseer (Mrk. 3:5). Hy het ook die tempel gereinig sonder dat daar enigsins gesê word dat Hy kwaad was (Luk. 19:45-46; Mrk. 11:15-19; Matt. 21:12-17; Joh. 2:13-21). Dit gaan hier dus oor kwaad word sonder rede.

Dit word egter verder gekwalifiseer deur woorde wat ‘n negatiewe impak sal hê, of dit nou met rede of sonder rede gesê word. As jy vir jou broer sê: “jou domkop” (die Hebreeuse woord is raka wat ook met “nikswerd” of “idioot” vertaal kan word), help jy hom immers nie reg nie. Jy verkleineer hom.

Trouens, wie ook al vir ‘n broer “jou dwaas” toesnou, sal strafbaar wees, nie maar net voor die menslike regstelsel nie, maar voor die goddelike. En die straf sal in die hel met sy vuur wees.

Wat die Here in die oog het, is dat ons ons gedagtewêreld sal skoonmaak van woede, haat en wraakgedagtes wat ander onteer. Dit pas nie by kinders van die koninkryk nie. Al pleeg ons nou nie moord nie, maar wel “karakter”-moord deur ons woede en wraakgedagtes, bly ons skuldig aan die sesde gebod.

Ons moet sout wees in ons gedrag en lig in ons getuienis. Ons moet mense opbou en nie afkraak nie. Selfs wanneer ons kritiek moet uitspreek, soos Jesus later in die Bergrede sal aanvoer met die voorbeeld van die splinter in die broer se oog (Matt. 7:1-6), moet ons sorg dat ons nie die sesde gebod oortree nie. ‘n Radikale standpunt!

5:23-24 Die rede hiervoor is dat onversoendheid met jou broer jou versoening met God in gedrang bring. Maak dus die saak uit met jou broer, veral as dit hy is wat iets teen jou het, vóór jy met die Here verder in verhouding gaan, uitgedruk met die simboliek van ‘n offer op die altaar.

5:25 Jesus wil hê dat ons as vredemakers sal optree – gou tot ‘n vergelyk kom met ons aanklaers, selfs terwyl ons nog op pad is na ‘n regsproses – om die moontlike gevolge van ‘n negatiewe uitspraak te vermy.

5:26 Jesus voeg by dat die gevolge ernstig kan wees, selfs ekonomies vernietigend (die kodrantes was die kleinste Romeinse muntstuk), wat ‘n mens laat vermoed dat Hy eintlik ‘n ewige konnotasie aan sy raad hier heg. God se oordeel is nie halfhartig nie.

Boodskap en betekenis

Ons is geneig om die sesde gebod oor moord te ignoreer, omdat ons dink dat dit net slaan op ‘n kriminele daad. Jesus is egter só radikaal in sy toepassing van die sesde gebod dat daar amper niemand van ons is wat nie op een of ander manier skuldig is aan die oortreding van die sesde gebod nie.

Wie van ons was nie al kwaad vir iemand nie, soms ook sonder rede, of het nie al vir iemand gesê: “jou domkop”, of “jou idioot”, of “jou dwaas” nie?! En dit maak nie saak of jou oordeel in die kol is nie. Die punt is dat jy deur só ‘n stelling jouself verhef bó iemand anders en daarom skuldig bevind kan word aan “karakter”-moord.

Die punt is dat ek niemand mag onteer, haat, beledig of doodmaak nie, selfs nie my vyande nie, soos dit aan die einde van hierdie hoofstuk onderstreep sal word. Ons moet selfs ons vyande liefhê.

Natuurlik kan ‘n mens onderskei tussen kwaad en goed, tussen reg en verkeerd, en moet ons mekaar ook reghelp, soos Jesus dit later uitspel in Matteus 18. Ons kan ook in sekere omstandighede kritiek uitspreek, maar net as ons seker gemaak het dat dit nie skynheilig is nie (Matt. 7). Ons het egter nie die reg om iemand se menswees in die proses aan te rand nie.

Die Heidelbergse Kategismus vraag 105-107 verduidelik dit so:

“Die sesde gebod leer ons dat ons nie self en ook nie deur iemand anders ons naaste mag onteer, haat, beledig of doodmaak nie. Ons mag dit nie met ons gedagtes, woorde of gebare doen nie en nog minder met die daad. Ons moet alle wraaksug laat vaar. Ons mag ook onsself nie kwaad aandoen of moedswillig in gevaar begewe nie.  Deur doodmaak te verbied leer God ons dat Hy die wortel daarvan, soos afguns, haat, woede en wraaklus, verafsku. Dit alles is vir Hom heimlike moord.  Dit beteken nie dat ons die gebod gehoorsaam as ons maar net nie ons naaste doodmaak nie.  Terwyl God afguns, haat en woede verbied, gebied Hy dat ons ons naaste moet liefhê soos onsself. Ons moet teenoor hulle geduldig, vredeliewend, sagmoedig, barmhartig en vriendelik wees, alles wat hulle kan benadeel sover moontlik probeer voorkom en selfs aan ons vyande goed doen.”

Jesus verbreek nie die wet nie, maar vervul dit

Met die volgende paar perikope in die Bergrede – Matteus 5:17-48 – bevestig Jesus nie net die wet van Moses en die boodskap van die Profete – die OT – nie, maar laat die Skrifte ook op radikale wyse tot sy volle betekenis kom.

Sy basiese boodskap, soos opgesom aan die einde daarvan in vers 48, is ontsagwekkend. God verwag nie net dat sy mense die wet sal gehoorsaam nie. Natuurlik dit ook, en in sy volle betekenis soos Jesus dit hier uitlê.

God verwag meer. Hy verwag dat hulle soos Hy sal wees, volmaak. Trouens, Hy verwag dat sy mense nie net hulle naaste sal liefhê nie, maar van hulle vyande vriende sal maak.

In ses teenstellings spel Jesus die dieper betekenis van die wet uit (telkens aangedui met: “Julle het gehoor – vers 21, 27, 31, 33, 38, 43 … maar Ek sê vir julle” – vers 22, 28, 32, 34, 39, 44). Daarmee maak Hy duidelik dat sy vertolking nie die wet verbreek nie, maar juis vervul. Trouens, Hy verwag van gelowiges dat hulle geregtigheid meer sal wees as dié van die skrifkenners en Fariseërs.

Jesus illustreer sy vervulling van die wet aan die hand van die laaste vyf van die Tien Gebooie wat Hy hier in sy volle betekenis uitlê:

  1. die lering oor moord – Matt. 5:21-26 – kan met die sesde gebod verbind word;
  2. die lering oor begeertes – Matt. 5:27-30 – kan met die tiende gebod verbind word;
  3. die lering oor egskeiding – Matt. 5:31-32 – kan met die sewende gebod verbind word;
  4. die lering oor eedswering – Matt. 5:33-37 – kan met die negende gebod verbind word;
  5. die lering oor vergelding – Matt. 5:38-42 – kan met die agste gebod verbind word.

Hy sluit hierdie interpretasie af met die sesde teenstelling wat die gebod tot naasteliefde (Lev. 19:18) van toepassing maak ook op vyande – Matteus 5:43-48.

Geen wonder nie dat Paulus daarom ‘n soortgelyke verbintenis maak tussen die etiese kode van die nuwe lewe in Christus en die tweede tafel van die wet, só belangrik was hierdie lering van Jesus. Dit sien ons In Romeine 13:8-14 waar Paulus ook die laaste vyf van die gebooie van die tweede tafel van die wet gebruik as sy etiese kode vir gelowiges. Paulus vat sy uitleg van die wet daarna ook saam in die opdrag om die naaste lief te hê soos jouself (Lev. 19:18), soos wat Jesus dit hier doen (vgl. ook Matt. 19:19; 22:39).

Continue reading

Julle is die lig vir die wêreld

MATTEUS 5:14-16

14 Júlle is die lig vir die wêreld. ’n Stad wat op ’n berg lê, kan nie weggesteek word nie.

15 Hulle steek ook nie ’n lamp op en sit dit onder ’n maatemmer nie, maar op ’n lampstaander, en dit skyn vir almal in die huis.

16 Julle lig moet so skyn voor die mense dat hulle julle goeie dade kan sien en julle Vader in die hemel verheerlik.”

Continue reading

Onlangse kommentaar