Jesus leer sy dissipels dat Hy mag het oor die natuur
Al drie Sinoptiese Evangelies het die verhaal van Jesus wat saam met sy dissipels oor die See van Galilea na die ander kant toe vaar en in ‘n windstorm beland waarin Jesus sy mag oor die natuur demonstreer.
MATTEUS 8:23-27
23 Hy het toe in die skuit geklim en sy dissipels het Hom gevolg.
24 En skielik was daar ’n groot storm op die see sodat die skuit besig was om deur die golwe verswelg te word, maar Hy het geslaap.
25 En hulle het nadergegaan en Hom wakker gemaak en gesê: “Here, red ons, ons is besig om te vergaan.”
26 En Hy sê vir hulle: “Hoekom is julle bang, kleingelowiges?” Toe het Hy opgestaan en die winde en die see beveel om te bedaar, en daar het ’n groot kalmte gekom.
27 En die mense was verstom en het gesê: “Watter soort man is hierdie dat selfs die winde en see Hom gehoorsaam?”
Teks en konteks
8:23 Anders as in Lukas en Markus se weergawes is dit Jesus wat hier die voortou neem en in die skuit klim met die dissipels wat Hom volg. Dit volg op sy lering oor wat dissipelskap behels. Hier volg dus ‘n praktiese illustrasie aan die dissipels wat dit alles behels.
8:24 Die groot storm op die see kom skielik met die skuit wat dreig om deur die golwe verswelg te word. Jesus was egter nie bekommerd daaroor nie en het geslaap.
8:25 Die dissipels het na Jesus toe gegaan en gepleit dat Hy hulle moet red van die see. Let op dat hulle nie regtig verwytend is, soos in Markus se weergawe, nie, net bevrees.
8:26 Jesus verwyt hulle egter vir hulle kleingeloof. Dit is wat agter hulle vrees lê. Dat hulle Hom nie vertrou nie. As bewys daarvan dat hulle Hom kan vertrou, staan Jesus op en beveel die winde en die see om te bedaar. ‘n Groot kalmte het op die see neergedaal.
8:27 Let op dat dit die “mense” is wat verstom is oor Jesus se gesag. Hulle vraag na “watter soort man” Hy is, sal net hierna deur die demoonbesetenes beantwoord word. Hy is die Seun van God!
Boodskap en betekenis
Om Jesus te volg, stel uitdagende eise aan sy dissipels. Dit is nie net die mense waarheen hulle op pad is wat ‘n uitdaging is nie. Dit is ook die uitdagings op die pad daarheen. Hierdie vaart op die see dien dus twee doelwitte:
- Die dissipels word in die situasie getoets. Sal hulle Hom vertrou, selfs al lyk dit asof die stormwind en die see die oorhand kry? Sal hulle Hom vertrou, al lyk dit asof Hy slaap?
- Die dissipels word blootgestel aan die demonstrasie van Jesus se gesag en God se krag. Dit is immers net wanneer die golwe dreig om die skuit te verswelg wat die les van God se almag sal ingang vind. ‘n Kalm see kan nie vertroue bewerk in ‘n mens se lewe nie.
Jesus gee hiermee aan ons ‘n dubbele boodskap:
- Ons moet bereid wees om Jesus te volg maak nie saak wat die uitdagings op die pad is nie;
- Ons kan staatmaak op Jesus se ingrype wat kalmte sal bring. Die wind en die see gehoorsaam Hom, soos die demone net hierna ook sal doen.
Onlangse kommentaar