Skip to main content

Moenie skynheilig oordeel nie, sodat julle nie geoordeel word nie

In Matteus 7 fokus Jesus op die vrug van geregtigheid in die lewe van sy dissipels. Jesus spel ses elemente van só ‘n lewe uit vir sy dissipels wat ’n prentjie skets van die omvang van die vrug van geregtigheid wat Hy in die dissipels se lewe verwag. Ons lees die ses gedeeltes opeenvolgend, maar onthou dat dit ‘n eenheid vorm:

  1. Moenie skynheilig oordeel nie, sodat julle nie geoordeel word nie – Matt. 7:1-6
  2. Vra, dan sal vir julle gegee word – Matt. 7:7-12
  3. Gaan in deur die nou poort – Matt. 7:13-14
  4. Pas op vir die vals profete; hulle is wolwe in skaapsklere – Matt. 7:15-20
  5. Die een wat die wil van my Vader doen, sal ingaan in die koninkryk van die hemele – Matt. 7:21-23
  6. Die fondament van jou huis is stewig, as jy hierdie woorde van My hoor en dit doen – Matt. 7:24-29

MATTEUS 7:1-6

1 “Moenie oordeel nie, sodat julle nie geoordeel word nie,

2 want met die oordeel waarmee julle oordeel, sal julle geoordeel word, en met die maat waarmee julle meet, sal vir julle gemeet word.

3 En hoekom sien jy die splinter in jou broer se oog, maar die balk in jou oog merk jy nie op nie?

4 Of hoe sal jy vir jou broer sê: ‘Laat my toe om die splinter uit jou oog uit te haal,’ en daar is inderdaad ’n balk in jou oog?

5 Skynheilige, haal eers die balk uit jou oog uit, en dan sal jy goed sien om die splinter uit jou broer se oog uit te haal.

6 Moenie wat heilig is vir die honde gee nie, sodat hulle nie omdraai en julle verskeur nie, en moenie julle pêrels voor die varke gooi nie, sodat hulle dit nie onder hulle voete vertrap nie.”

Teks en konteks

7:1 Waar hoofstuk 6 begin het met die waarskuwing teen skynheiligheid, begin hoofstuk 7 met die waarskuwing teen oordeel of meer spesifiek “skynheilige” veroordeling soos dit in vers 5 uitgespel word.

7:2 Die probleem met veroordeling is dat dit dan ook die maatstaf raak waarmee jyself geoordeel word.

7:3-5 Jesus gebruik die metafoor van die splinter (dit kan ook met “stoffie” vertaal word, d.w.s. enigiets wat in jou oog waai) in jou medegelowige se oog wat jy eers goed kan raaksien (diablepō – onderskei), as die balk in jou eie oog verwyder is.  Dit beteken dat geregtigheid net gedien kan word – deur ’n billike oordeel of onderskeiding – as jy eers sorg dat geregtigheid in jou eie lewe die deurslag gee.  Dán kan jy beter aandag gee aan ander wat reggehelp moet word en dra geregtigheid die regte tipe vrug in jou lewe.

7:6 Natuurlik beteken dit nie dat ‘n mens nie mag of moet onderskei nie. Jesus leer die dissipels in dieselfde asem ook om te onderskei met wie hulle die heilige dinge sal deel. Trouens, net ‘n paar verse verder aan sal Hy spesifiek sê dat daar ook tussen profete onderskei moet word. Die vals profete sal aan die vrug van hulle lewens herken word (Matt. 7:15-20). Jesus verwag dus dat sy dissipels só vol van sy wil vir hulle lewe sal wees dat hulle regverdig kan oordeel.

Jesus sê met hierdie metafoor – dat ’n mens nie dit wat heilig is vir honde gee nie, of pêrels voor varke gooi nie – dat ’n mens gesonde oordeel aan die dag moet lê in die proses van die evangelie verkondiging, want honde en varke kan – by wyse van spreke – dit nie waardeer nie en op die koop toe, vir jou bykom, jou getuienis teen jou gebruik.

Boodskap en betekenis

Veroordeling (en gevolglik verdraagsaamheid) is seker een van die mees sensitiewe onderwerpe in ons samelewing vandag. Mense wil op geen manier aan enige maatstaf gemeet word nie. Die een motivering is dat die veroordeling baie keer skynheilig is. Daarteen waarsku Jesus ook met hierdie gedeelte. En ons moet dit ter harte neem. Jesus duld nie skynheiligheid nie. Ons mag ook nie.

Die ander motivering is egter dat mense self wil bepaal wat reg en verkeerd is. Dié idee dra nie Jesus se goedkeuring weg nie. Ons roeping is in sulke gevalle om die evangelie met onderskeiding te verkondig.

Die onderskeiding moet ook op twee maniere beoefen word.  Aan die een kant moet ons goeie oordeel aan die dag lê met valse profete en hulle vermy.  Aan die ander kant moet ons in situasies waar daar groot weerstand kom teen die evangelie en die vyandigheid daarteen toeneem, met die uiterste versigtigheid te werk gaan.  Soms is dit beter om liewer na ander werkterreine te beweeg, soos Jesus in Matteus 10:13-14  inderdaad ook sy dissipels aanraai.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Matteus-leesplan


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar