Josef word gewaarsku in ‘n droom om nie in Judea nie, maar in Galilea in Nasaret te gaan woon
MATTEUS 2:22-23
22 Maar toe hy hoor dat Argelaos koning van Judea is in die plek van sy vader, Herodes, was hy bang om daarheen te gaan. En nadat hy in ’n droom gewaarsku is, het hy vertrek na die gebied van Galilea.
23 En daar aangekom, het hy gaan woon in ’n dorp met die naam Nasaret. So is vervul wat deur die profete gesê is dat Hy ’n Nasarener genoem sal word.
Teks en konteks
2:22 Dit is uiters insiggewend om die groei by Josef waar te neem. Van droom tot droom.
Josef luister aanvanklik na die engel se boodskap in sy eerste droom om Maria as sy vrou te neem. Hy wou haar skei, in die geheim, omdat hy regverdig en barmhartig was. Hy wou die wet gehoorsaam, en hy wou haar nie verneder nie. En die Here sê: “Nee, nie só nie.” Trou met haar. Hier is iets aan die gang wat baie groter is as wat jy besef. Dit is my Kind wat jou kind gaan word.
Josef luister na die opdrag van die owerheid om na Betlehem te gaan. God was immers daarin ook besig. Ons moet nooit dink dat enigiets in die lewe buite God se wil en werke gebeur nie.
Josef luister na die engel in die tweede droom wat hom na Egipte toe laat uitwyk, asook met die derde droom as hy na Israel toe moet terugkeer. Hier word hy in ‘n vierde droom aangesê om in Nasaret te gaan woon. Maar, dit is iets wat hy eintlik al geweet het, want hy was bang om in Judea te gaan bly. Die droom het sy eie aanvoeling bevestig.
Dit is uiters interessant om die vier drome langs mekaar te sit en die groei wat daar kom by Josef raak te sien.
- In die eerste droom wil hy iets anders doen as wat die Here wil. Hy gehoorsaam die Here se wil.
- In die tweede droom is hy onbewus van wat aan die gang is, maar die Here red hom en sy gesin van die kindermoord.
- Vir die derde droom is hy besig om te wag vir instruksies, want die Here het gesê hy moet daarvoor wag.
- Met die vierde droom is hy ingestem op God se stem en kom self agter dat Judea nie ‘n veilige plek gaan wees vir hulle as gesin nie, en die Here bevestig dan in ‘n droom dat hulle eerder in Galilea, in Nasaret moet gaan bly. Op die koop toe ook nog ‘n vervulling van ‘n profesie.
Josef hoor dat Herodes Argelaos koning is van Judea, ‘n wrede koning nes sy pa, en ná hy in die droom gewaarsku is, gaan bly hy eerder in Galilea, waar Argelaos se ander broer, Antipas, koning was.
2:23 God lei hulle dus uit Egipte na ‘n veiliger plek in die land Israel, na die klein dorpie Nasaret. Die dorpie in Galilea is ná die dood van Herodes die Grote onafhanklik van Juda deur Herodes Antipas (Matt. 14:1-12), die halfbroer van Argelaos, geregeer. Een waarvan ons later meer sal verneem in die Evangelies, want Argelaos is weens wandade in 6 n.C. afgesit waarna Antipas ook Judea onder sy vlerk geneem het.
Nasaret was 128 km noord van Jerusalem – nog 10 dae se reis te voet. En daar het Jesus saam met sy pa-hulle gebly. Sy pa Josef was ‘n bouer, ‘n timmerman wat met hout en klip gebou het, en soms ook met metale.
Dié skuif word deur Matteus aan die vervulling van die woorde van die profete (meervoud – dui op die hele boodskap van die OT) verbind (Matt. 2:23). Dit is daarom ook die hoogtepunt van Matteus se tweede hoofstuk. En die toppunt daarvan is dat Matteus Jesus die Nasarener noem. Die lank verwagte Messias, dié een wat selfs Herodes se aandag gevang het, sê Matteus, is die Nasarener.
‘n Mens moet egter dié woord onderskei van die woord Nasireër, soos dit in die OT die geval was met Simson (vgl. Rigt. 13:5, 7; Num. 6; Jer. 7:29). Jesus het nie volgens die Nasireër-eed geleef nie. Hy het sy hare geskeer en wyn gedrink.
Wat Matteus hier doen met die woord Nasarener, is waarskynlik om iets oor Jesus te sê aan die hand van ‘n woordspeling tussen die dorpie se naam Nasaret en die Hebreeuse woord neser wat loot of takkie beteken.
In Jesaja 11:1 word die woord neser gebruik in ‘n Messiaanse betekenis: “’n Takkie sal uitspruit uit die stomp van Isai, ‘n loot uit sy wortels sal vrugte dra …” En daarby word gevoeg: “Die Gees van die Here sal op hom rus …”. In die NT word die vervulling hiervan direk op Jesus betrek (vgl. ook Jes. 53:2).
Die term “Nasarener” het hier dus waarskynlik die dubbele betekenis dat dit ironies op Nasaret sinspeel – ‘n plek waarvan niemand iets goed verwag het nie – en op ‘n dieper vlak sinspeel op die Messias, die takkie van Isai, dié Een op wie die Gees van die Here sal rus, wat verandering bring vanaf ’n plek waar niemand dit verwag nie, en wat die Verlosser van die wêreld is.
Nasaret was immers ’n onbenullige dorpie van skaars 480 inwoners, volgens historiese bronne, genestel in die heuwels van Galilea. Dit was skaars ses km van Seporis, ’n groeiende Hellenistiese stad, die hoofstad van Galilea. Dit is egter van dié plek wat die Messias kom – die Nasarener – sê Matteus.
Onder die radar, op ‘n plek waar niemand sou soek nie, vir die volgende amper dertig jaar… Wat ‘n voorsiening!
Dié uitspraak is dus die slotsom van die tweede hoofstuk van Matteus: Jesus van Nasaret is die langverwagte Messias van Bethlehem, die uitverkore herderleier van God. Wié sou dit kon verwag?!
Betekenis en boodskap
Dink na oor die groei wat ‘n mens by Josef waarneem in sy luister na God deur die drome wat Hy gee. Kan jy van dieselfde groei getuig, selfs al werk God heeltemal anders met jou?
Dink na oor die plek waar jy jouself op die oomblik bevind. Die gedeelte wil ons bemoedig om nooit die plek waar jy jou bevind, of waarheen die Here jou lei, te onderskat of lig te skat nie. Die belangrike is dat jy gehoorsaam is en God se leiding volg. Geen plek is onbenullig in God se oë nie. Dit kan ook jou veilige oase wees in diens van die doel wat God vir jou lewe het.
View all posts in this series
- Kom en volg Hom – ’n 23-week leesplan deur Matteus - August 27, 2026
- Inleiding - September 10, 2026
- Jesus se geslagsregister in Matteus verbind Hom aan Abraham, Dawid en die volk na die ballingskap MATTEUS 1:1-17 - September 11, 2026
- ‘n Engel van die Here oortuig Josef dat Maria se Kind van die Heilige Gees is MATTEUS 1:18-25 - September 12, 2026
- Sterrekundiges besoek Jesus in die huis in Betlehem MATTEUS 2:1-12 - September 13, 2026
- Josef-hulle vlug van Betlehem na Egipte - September 14, 2026
- Herodes die Grote pleeg kindermoord - September 15, 2026
- Die Engel van die Here praat in ‘n droom met Josef om terug te keer na Israel - September 16, 2026
- Josef word gewaarsku in ‘n droom om nie in Judea nie, maar in Galilea in Nasaret te gaan woon - September 17, 2026
- Johannes die Doper preek in die woestyn van Judea en kondig die doop van bekering aan - September 18, 2026
- Johannes die Doper waarsku die Fariseërs en Sadduseërs om die vrug van bekering te dra - September 19, 2026
- Jesus word deur Johannes gedoop en met die Gees vervul by die Jordaan - September 20, 2026
- Jesus word deur die Satan versoek in die woestyn van Judea - September 21, 2026
- Jesus gaan woon in Kapernaum en preek in Galilea dat die koninkryk van God naby gekom het - September 22, 2026
- Jesus roep sy dissipels as vissers van mense langs die See van Galilea - September 23, 2026
- Jesus verkondig die evangelie van die koninkryk en groot skares uit Galilea, Sirië, Dekapolis, Jerusalem, Judea en oorkant die Jordaan volg Hom - September 24, 2026
- Geseënd is dié wat weet hoe nodig hulle God het om hulle karakter te vorm - September 25, 2026
- Julle is die sout vir die aarde - September 26, 2026
- Julle is die lig vir die wêreld - September 27, 2026
- Jesus verbreek nie die wet nie, maar vervul dit - September 28, 2026
- Maak vrede as iemand iets teen jou het: jy mag nie moord pleeg nie - September 29, 2026
- As jy kyk na ‘n vrou om haar te begeer, het jy reeds in jou hart egbreuk gepleeg - September 30, 2026
- Elkeen wat skei, behalwe oor ontrou, maak dat die ander een egbreuk pleeg - October 1, 2026
- Julle “ja” moet “ja” bly en julle “nee”, “nee” - October 2, 2026
- Moet jou nie teen ‘n slegte mens verset nie - October 3, 2026
- Julle moet julle vyande liefhê en bid vir dié wat julle vervolg - October 4, 2026
- Doen liefdadigheid in die geheim; die Vader sal jou beloon - October 5, 2026
- So moet julle dan bid - October 6, 2026
- So moet julle dan vas - October 7, 2026
- Maak vir julle skatte bymekaar in die hemel - October 8, 2026
Discover more from Bybelskool
Subscribe to get the latest posts sent to your email.
originalblizzard19aaa84c56
Die gesprek is so relevant in my lewe op die punt. Ons oorweeg(dink, bid.,beplan,wonder ens) om vlgde jaar nader te trek aan ons 4 kinders in Wes Kaap. Tog hier waar ons is ook nodig en relevant en binne Sy plan met ons lewe.
Chris van Wyk
Ja, dit is baie relevant. Wat ek geleer het, is dat die Here die Een is wat voorstap. Hoe nader ‘n mens aan Hom lewe, hoe helderder raak die volgende stap. Sterkte!