Jesus roep sy dissipels as vissers van mense langs die See van Galilea
MATTEUS 4:18-22
18 Terwyl Jesus langs die See van Galilea loop, het Hy twee broers, Simon wat Petrus genoem word, en Andreas sy broer, ’n werpnet in die see sien gooi, want hulle was vissers.
19 En Hy sê vir hulle: “Kom agter My aan en Ek sal julle vissers van mense maak.”
20 Hulle het toe dadelik hulle nette gelos en Hom gevolg.
21 En Hy het van daar verder gegaan en twee ander broers gesien, Jakobus die seun van Sebedeus en Johannes sy broer, wat in die skuit saam met Sebedeus, hulle vader, besig was om hulle nette reg te maak, en Hy het hulle geroep.
22 Hulle het toe dadelik die skuit en hulle vader gelos en Hom gevolg.
Teks en konteks
4:18-20 Onthou dat Jesus ‘n vorige ontmoeting met Simon en Andreas gehad het (Joh. 1:40-42). Hulle aanvanklike belangstelling in Jesus gaan egter eers hier oor in ware dissipelskap wanneer Hy hulle roep om Hom te volg.
Anders as in Lukas se weergawe van hierdie verhaal wat van trammelnette praat, gebruik Petrus-hulle hier werpnette, ‘n kleiner ronde net met gewigte rondom, wat soos ‘n valskerm in die water gegooi word en dan óf leeggemaak word deur die visse een vir een uit te haal, óf dit aan die onderkant bymekaar te vat en na die kant toe uit te trek. Net een persoon was nodig om dié net te hanteer. Dit is gewoonlik in die dag gebruik soos ook met treknette (Matt. 13:47). Trammelnette is net in die nag gebruik, soos dit in Lukas se verhaal vermeld word (Luk. 5:1-11). Petrus sal later in opdrag van Jesus ook met ‘n hoek en lyn visvang (Matt. 17:27).
4:21-22 Jesus roep terselfdertyd ook twee ander broers, Jakobus en Johannes, wat besig was om hulle nette reg te maak. Ook hulle volg Hom dadelik.
Betekenis en boodskap
Die verskille tussen Lukas en Matteus (en Markus) se verhaal kan waarskynlik as volg verklaar word.
Die broers, Simon en Andreas, het niks deur die nag gevang nie. Hulle besluit dus die volgende oggend om met werpnette iets vir die rooster te vang toe Jesus by hulle aankom en vir sy bediening roep.
Lukas brei uit oor die gebeure deur van Jesus se opdrag om weer die see in te vaar om vis met die trammelnette te vang, te vertel. Daarmee bring hy ons onder die indruk van die gesag wat Jesus by hulle inboesem met die wonder visvangs. Die feit dat hulle aanvanklik met werpnette gevang het, word egter eenvoudig uitgelaat, omdat dit nie bydra tot sy hoofstorie, die impak van die wonder visvangs, nie.
Matteus (en Markus) weer haak net aan by die aanvanklike ontmoeting die dag en fokus op die gesagvolle roeping van die twee stelle broers. Die wonder visvangs word doodgewoon geïgnoreer.
Ons sal dié werkswyse telkens in die vier Evangelies raaksien. Die skrywers is nie besig om ‘n geskiedenis of ‘n joernaal te skryf nie, maar ‘n Evangelie. Hulle wil die goeie nuus wat Jesus bring, verkondig, soos God dit vir hulle gegee het. Vandaar die verskille beide in weglatings en byvoegings.
View all posts in this series
- Kom en volg Hom – ’n 23-week leesplan deur Matteus - August 27, 2026
- Inleiding - September 10, 2026
- Jesus se geslagsregister in Matteus verbind Hom aan Abraham, Dawid en die volk na die ballingskap MATTEUS 1:1-17 - September 11, 2026
- ‘n Engel van die Here oortuig Josef dat Maria se Kind van die Heilige Gees is MATTEUS 1:18-25 - September 12, 2026
- Sterrekundiges besoek Jesus in die huis in Betlehem MATTEUS 2:1-12 - September 13, 2026
- Josef-hulle vlug van Betlehem na Egipte - September 14, 2026
- Herodes die Grote pleeg kindermoord - September 15, 2026
- Die Engel van die Here praat in ‘n droom met Josef om terug te keer na Israel - September 16, 2026
- Josef word gewaarsku in ‘n droom om nie in Judea nie, maar in Galilea in Nasaret te gaan woon - September 17, 2026
- Johannes die Doper preek in die woestyn van Judea en kondig die doop van bekering aan - September 18, 2026
- Johannes die Doper waarsku die Fariseërs en Sadduseërs om die vrug van bekering te dra - September 19, 2026
- Jesus word deur Johannes gedoop en met die Gees vervul by die Jordaan - September 20, 2026
- Jesus word deur die Satan versoek in die woestyn van Judea - September 21, 2026
- Jesus gaan woon in Kapernaum en preek in Galilea dat die koninkryk van God naby gekom het - September 22, 2026
- Jesus roep sy dissipels as vissers van mense langs die See van Galilea - September 23, 2026
- Jesus verkondig die evangelie van die koninkryk en groot skares uit Galilea, Sirië, Dekapolis, Jerusalem, Judea en oorkant die Jordaan volg Hom - September 24, 2026
Discover more from Bybelskool
Subscribe to get the latest posts sent to your email.
Onlangse kommentaar