Skip to main content

Jesus praat in gelykenisse met dié wat hoor, maar nie luister nie

Lukas (8:9-10), Markus (4:10-12) en Matteus vertel almal van Jesus se verduideliking waarom Hy in gelykenisse praat. Markus beklemtoon die geheim van die koninkryk wat aan die dissipels gegee word, en Lukas fokus op die onderskeid tussen dié wat verstaan en dié wat nie verstaan nie. Matteus brei die gesprek die meeste uit deur Jesaja 6 uitvoerig aan te haal en daarmee die geestelike blindheid van Jesus se teenstanders sowel as die voorreg van sy dissipels te beklemtoon.

MATTEUS 13:10-17

10 En die dissipels het nadergekom en vir Hom gesê: “Hoekom praat U met hulle in gelykenisse?”

11 En Hy het geantwoord en vir hulle gesê: “Omdat dit vir julle gegee is om die geheime van die koninkryk van die hemele te ken, maar vir hulle is dit nie gegee nie.

12 Want vir die een wat het, sal gegee word, en hy sal in oorvloed hê, maar van die een wat nie het nie, sal ook wat hy het, weggeneem word.

13 Daarom praat Ek in gelykenisse met hulle omdat hulle kyk, maar nie sien nie, en hoor, maar nie luister en verstaan nie.

14 En ten opsigte van hulle word die profesie van Jesaja waar wat sê:

‘Julle sal hoor en hoor

en glad nie verstaan nie,

en kyk en kyk

en glad nie sien nie.

15 Want die hart van hierdie volk

het sy vermoë om te verstaan

verloor,

en hulle het swaar met hulle ore gehoor

en hulle het hulle oë toegedruk

sodat hulle nie met hulle oë kon sien

en met hulle ore hoor

en met hulle hart verstaan

en tot inkeer kom

en Ek hulle gesond maak nie.’ (Jes. 6:9-10)

16 Julle oë is gelukkig dat hulle sien en julle ore dat hulle hoor.

17 Want amen, Ek sê vir julle dat baie profete en regverdiges begeer het om te sien wat julle sien en dit nie gesien het nie, en om te hoor wat julle hoor en dit nie gehoor het nie.”

Teks en konteks

13:10 Die dissipels maak ‘n kring rondom Jesus en wil weet waarom Jesus gelykenisse gebruik om sy boodskap aan die skare oor te dra. Die skare is nog op die agtergrond, want Jesus praat na hierdie gesprek weer met hulle en gaan eers later terug huis toe (Matt. 13:36).

13:11 Jesus verklaar dan dat die dissipels die voorreg ontvang het om die geheime van die koninkryk te ken. Dié voorreg is nie die skare beskore nie.

13:12-13 Gelykenisse is God se manier om sy boodskap verstaanbaar te maak vir sy dissipels. Maar terselfdertyd, met dieselfde gelykenis, maak Hy dit nie verstaanbaar vir die skare nie: “omdat hulle siende blind en horende doof is en dus nie verstaan nie.” Die dissipels kry selfs meer en meer begrip, maar die skare verloor selfs die bietjie begrip wat hulle het, omdat hulle nie luister en gehoorsaam raak nie.

13:14-15 Dit, sê Jesus, is ’n vervulling van die profesie van Jesaja 6:9-10. Hy haal dit aan uit die Griekse vertaling van die OT, die Septuaginta of LXX.

Volgens Jesaja is die ongemaklike waarheid dat ‘n mens jou vermoë verloor om te verstaan wat die Woord sê as jy nie gehoorsaam is aan God se Woord nie. Deur ongehoorsaamheid beland jy in ‘n toestand waar die woorde by die een oor ingaan en by die ander oor uit, sonder enige begrip.

Jy hoor en hoor, maar verstaan glad nie. Jy kyk en kyk, maar jy sien glad nie. Jou hart (onthou dit is die setel van verstaan, Bybels gesproke) en die hart van ‘n volk, verloor die vermoë om te verstaan. Trouens, die volk het hulle oë toegedruk sodat hulle nie miskien sal sien en tot inkeer kom wat tot heling sou kon lei nie.

Jesus sal net voor sy kruisdood weer terugkeer na hierdie gedagtes as Hy besef dat, ná al die werk wat Hy onder die Jode gedoen het, daar doodgewoon mense is wat nooit sal reageer nie (Joh. 12:40). Paulus sal ook aan die einde van sy bediening die waarheid van Jesaja se profesie oor sy volksgenote eggo (Hand. 28:26-27).

13:16-17 Die dissipels moet dus bly wees dat hulle nie in daardie slaggat getrap het nie. Want, nou is hulle in die gelukkige posisie dat hulle oë kan sien en hulle ore kan hoor. Daar is talle profete en regverdiges deur die eeu wat die Verlosser wou sien en hoor, maar die voorreg nie gesmaak het nie, al het hulle daarna verlang. Selfs Jesaja kon dit net uit die verte sien en begroet.

Boodskap en betekenis

Met hierdie lering aan die dissipels gee Jesus uitdrukking aan die misterieuse kant van die genade.  God gee aan die een kant ontvanklikheid vir die boodskap aan wie Hy wil. ’n Mens kan daarom op ‘n persoonlike vlak net dankbaar wees as jy genade ontvang om Jesus se woorde te hoor om daaraan gehoorsaam te wees. Genade is per definisie onverdiend en afhanklik van God se besluit. Dit is God se genade dat jy gehoorsaam is.

Maar, die ander kant is dit ook waar. Die onbegrip van die ongehoorsames is te wyte aan die tipe grond en die gesindheid van hulle hart wat hulle “siende blind” en “horende doof” maak. Dit is immers hulle eie skuld as hulle nie gehoorsaam is nie.

Dit laat my egter diep nadink oor die bediening van die Woord van God. Want, dit is wat ek self ook ervaar in my bediening. Dit is genade as iemand luister en gehoorsaam. En ‘n mens kan jou daaroor verbly.

Maar dit is ook soms só dat jy waarneem hoe idees soos ’n digte, haas ondeurdringbare muur te staan gekom het tussen mense en die Woord van God.

Mense laat toe dat die voëls die saad wegpik; hulle verwyder nie die klippe uit hulle lewens wat keer dat die saad wortel skiet nie; hulle bly tussen die doringplante wat vinniger en kragtiger groei as die saad en keer dat hulle vrug dra.

Dit is hierdie dinge wat die boodskap van die Bybel uitdoof. Dit keer dat die saad van God se Woord op vrugbare grond val. En jy kan min doen as mense doelbewus kies om nie te sien en te hoor nie.

Die boodskap van die gelykenis is vir almal van ons wat worstel hiermee dat ’n mens doodgewoon dit moet aanvaar en verder moet gaan met die saaiwerk en die Here vertrou dat Hy oë, ore en harte sal oopmaak.

Daar is immers diegene wat vrug dra, en daaroor kan ’n mens opgewonde en bly wees. Terwyl jy skouer aan die wiel sit en nie ophou nie.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Matteus-leesplan


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Onlangse kommentaar