Herodes die Grote pleeg kindermoord
MATTEUS 2:16-18
16 Toe Herodes uitvind dat hy deur die sterrekundiges om die bos gelei is, het hy baie kwaad geword, en hy het opdrag gegee dat in Betlehem en al sy streke al die seuns van twee jaar en minder om die lewe gebring word, volgens die tyd wat hy by die sterrekundiges vasgestel het.
17 Toe is vervul wat deur Jeremia die profeet gesê is:
18 “’n Stem is in Rama gehoor,
’n gehuil en groot geweeklaag.
Ragel huil oor haar kinders,
en wil nie getroos word nie,
omdat hulle nie meer daar is nie.” (Jer. 31:15)
Teks en konteks
Herodes die Grote was regtig ‘n wrede en magsbehepte karakter. Van hom het keiser Augustus gesê hy sal eerder Herodes se vark as sy seun wees (“varksog” en “seun” is ‘n woordspel in NT Grieks: huos en huios). Die rede was dat Herodes nie gehuiwer het om sy eie familie en vriende te laat vermoor nie. Naas ‘n klomp ander onskuldiges, het hy by verskillende geleenthede drie van sy seuns en selfs sy gunsteling vrou koelbloedig laat vermoor. Vir hom was geweld ‘n oplossing vir enige probleem, die enigste manier om te regeer.
Herodes was nie eers ’n ware Jood nie. Hy was van Edomitiese (’n Idumeër uit die nageslag van Esau) en Arabiese afkoms en is deur die Romeine as Koning aangestel, nie deur die Jode nie. Sy posisie was dus altyd in die weegskaal en kon net deur geweld in stand gehou word.
2:16 Ons teks vertel vir ons hier van sy heftige reaksie op die sterrekenners se verraad. Hy kom agter dat hulle met ‘n ander pad teruggekeer het na hul land sonder om hom te vertel waar die nuutgebore kind tuisgaan. Sy komplot om hulle te gebruik om Jesus te vind, misluk dus. Herodes gee daarom ‘n wraaksugtige en koelbloedige bevel dat alle seuns van twee jaar en jonger in die omgewing van Bethlehem doodgemaak moet word.
2:17-18 Dié gebeure word deur Matteus as vervulling van die ontsteltenis van die profeet Jeremia (Jer. 31:15) oor Ragel se kinders wat in ballingskap weggevoer is, geïnterpreteer. Jeremia is by Rama vrygelaat van ballingskap (Jer. 40:1), hoewel hy uiteindelik ontvoer is deur sy eie mense na Egipte. Die ballingskap en die ontvoering van Jeremia in die verlede vorm dus ‘n parallel met die verlies van Joodse kinderlewens en die ontworteling van die familie van Jesus as ‘n vlugteling na Egipte, in die hede.
Ragel is boonop in daardie omgewing begrawe, “langs die pad na Efrata, dit is Betlehem” (Gen. 35:19-21), die plek waar die herders hulle skape in die nag opgepas het. Die nuus wat die herders dus versprei oor die Kind, sowel as die sterrekenners se vlug van Herodes, word deur hom misbruik om sy bose kindermoord uit te voer.
Dié optrede van Herodes is grusaam, maar tog tevergeefs, want God het alreeds opgetree om dié teenstand van Herodes te fnuik en die Kind en sy ouers na ‘n veilige plek te laat uitwyk.
Betekenis en boodskap
Die tragedie van die kindermoord is ontstellend. Dit illustreer dat hierdie wêreld in die mag van die Bose is. Die kinders dra die prys van die magtiges se selfsug en eie belang. En dit kan ‘n mens moedeloos maak. Selfs laat wonder oor God se genade. En laat wonder hoekom Hy net vir Jesus die moord spaar? Hoekom nie ook vir die ander kinders nie? Is dit nie onregverdig nie? ‘n Liefdevolle God wat nie ‘n kindermoord keer nie? Dit kan mos nie? Of hoe?
Daarop wil ek drie dinge sê waaroor jy kan nadink.
Die eerste is dat dit Herodes is wat die kindermoord pleeg, nie God nie. Dit is vanselfsprekend, maar iets wat ‘n mens maklik vergeet in jou gedagtes oor sulke tragedies. Dit is Herodes se skuld dat die kinders sterf, nie God s’n nie. Ons kom ook duidelik God se afgryse oor die verhaal agter, in die verwysing na Jeremia wat lank terug al daaroor geween het. En die verhaal laat verder die besef by ons grondvat dat sulke boosheid uitgewis móét word. Die wêreld kan nie só werk nie. Die tragedie laat ook in ons die verwagting groei dat daar ‘n Verlosser sal kom wat hieraan ‘n einde sal bring. Iets wat wel deeglik in God se plan voorsien word.
Die tweede is dat God wel toelaat dat Jesus aan die kruis vermoor word. Hy besluit wel om Jesus die kindermoord te spaar, maar dit is omdat Hy ‘n ander plan met Jesus se lewe het. Hy laat immers toe dat Jesus aan die kruis vermoor word. Hoekom? Want God wil die Bose as sodanig uitwis, deur die onskuldige moord van Jesus aan die kruis, sodat Hy ‘n nuwe bedeling kan skep, ‘n koninkryk waar sy wil vir almal sal geld. In dié koninkryk sal sulke kindermoorde nie meer moontlik wees nie.
Die derde is dat God alles ten goede laat meewerk (Rom. 8:28). En watter genade is die kruismoord nie in die lig van dié perspektief van Paulus nie! Deur die kruis kon God sy koninkryk vestig deur Jesus uit die dood op te wek en deur Hom alles nuut te maak. Jesus is nou verhef bó alle magte en kragte van hierdie wêreld en die toekomstige om alles terug te bring onder God se heerskappy. Sodat daar verlossing kan kom vir almal, ook vir die kinders wat in die kindermoord uitgewis is.
View all posts in this series
- Kom en volg Hom – ’n 23-week leesplan deur Matteus - August 27, 2026
- Inleiding - September 10, 2026
- Jesus se geslagsregister in Matteus verbind Hom aan Abraham, Dawid en die volk na die ballingskap MATTEUS 1:1-17 - September 11, 2026
- ‘n Engel van die Here oortuig Josef dat Maria se Kind van die Heilige Gees is MATTEUS 1:18-25 - September 12, 2026
- Sterrekundiges besoek Jesus in die huis in Betlehem MATTEUS 2:1-12 - September 13, 2026
- Josef-hulle vlug van Betlehem na Egipte - September 14, 2026
- Herodes die Grote pleeg kindermoord - September 15, 2026
- Die Engel van die Here praat in ‘n droom met Josef om terug te keer na Israel - September 16, 2026
- Josef word gewaarsku in ‘n droom om nie in Judea nie, maar in Galilea in Nasaret te gaan woon - September 17, 2026
- Johannes die Doper preek in die woestyn van Judea en kondig die doop van bekering aan - September 18, 2026
- Johannes die Doper waarsku die Fariseërs en Sadduseërs om die vrug van bekering te dra - September 19, 2026
- Jesus word deur Johannes gedoop en met die Gees vervul by die Jordaan - September 20, 2026
- Jesus word deur die Satan versoek in die woestyn van Judea - September 21, 2026
- Jesus gaan woon in Kapernaum en preek in Galilea dat die koninkryk van God naby gekom het - September 22, 2026
- Jesus roep sy dissipels as vissers van mense langs die See van Galilea - September 23, 2026
- Jesus verkondig die evangelie van die koninkryk en groot skares uit Galilea, Sirië, Dekapolis, Jerusalem, Judea en oorkant die Jordaan volg Hom - September 24, 2026
- Geseënd is dié wat weet hoe nodig hulle God het om hulle karakter te vorm - September 25, 2026
- Julle is die sout vir die aarde - September 26, 2026
- Julle is die lig vir die wêreld - September 27, 2026
- Jesus verbreek nie die wet nie, maar vervul dit - September 28, 2026
- Maak vrede as iemand iets teen jou het: jy mag nie moord pleeg nie - September 29, 2026
- As jy kyk na ‘n vrou om haar te begeer, het jy reeds in jou hart egbreuk gepleeg - September 30, 2026
- Elkeen wat skei, behalwe oor ontrou, maak dat die ander een egbreuk pleeg - October 1, 2026
- Julle “ja” moet “ja” bly en julle “nee”, “nee” - October 2, 2026
- Moet jou nie teen ‘n slegte mens verset nie - October 3, 2026
- Julle moet julle vyande liefhê en bid vir dié wat julle vervolg - October 4, 2026
- Doen liefdadigheid in die geheim; die Vader sal jou beloon - October 5, 2026
- So moet julle dan bid - October 6, 2026
- So moet julle dan vas - October 7, 2026
Discover more from Bybelskool
Subscribe to get the latest posts sent to your email.
originalblizzard19aaa84c56
Dankie.