Skip to main content

Doen liefdadigheid in die geheim; die Vader sal jou beloon

In Matteus 6 fokus Jesus op die lewe van geregtigheid. Nadat Hy ses sleutelaspekte uit die wet in die stryd vir geregtigheid op die tafel gesit het, fokus Hy op hóé ‘n mens die lewe van geregtigheid beoefen.

Onthou: die dele uit die wet omsluit eintlik almal met wie jy in ‘n verhouding is.  Mense wat naby aan jou is soos huweliksmaats, en mense wat jou teenstanders en selfs jou vyande is.  Mense wat jou kwaad maak en ontstel met hulle dwaasheid en “nikswerd wees”, sowel as jou verhouding met jouself, waarin dit belangrik is om reg te kyk, reg te praat en reg op te tree teenoor dié wat jou kwaad (kan) aandoen.

Jesus lig in hierdie hoofstuk sewe oorhoofse aspekte van die lewe van geregtigheid uit:

  1. Doen liefdadigheid in die geheim; die Vader sal jou beloon – Matt. 6:1-4
  2. So moet julle dan bid – Matt. 6:5-15
  3. So moet julle dan vas – Matt. 6:16-18
  4. Maak vir julle skatte bymekaar in die hemel – Matt. 6:19-21
  5. Sorg dat die lig in jou nie duisternis is nie – Matt. 6:22-23
  6. Julle kan nie God én Mammon dien nie – Matt. 6:24
  7. Soek eers die koninkryk van God en wat Hy vereis, en al hierdie dinge sal vir julle gegee word – Matt. 6:25-34

MATTEUS 6:1-4

1 “Pas op om nie julle godsdienstige pligte voor mense te doen om deur hulle gesien te word nie; anders het julle nie ’n beloning by julle Vader in die hemel nie.

2 Wanneer jy dan liefdadigheid doen, moenie dit voor jou uitbasuin net soos die skynheiliges in die sinagoges en in die strate doen sodat hulle deur die mense geprys kan word nie. Amen, Ek sê vir julle: Hulle het hulle beloning ontvang.

3 Maar wanneer jy liefdadigheid doen, moet jou linkerhand nie weet wat jou regterhand doen nie,

4 sodat jou liefdadigheid in die geheim kan wees; en jou Vader wat dinge sien wat in die geheim is, sal jou beloon.”

Teks en konteks

6:1 Die eerste ding wat Jesus in hierdie deel van sy toespraak doen, is om skynheiligheid in die nakom van godsdienstige pligte te ontbloot. As jy dit doen net om gesien te word, het jy geen beloning by die Vader in die hemel nie

6:2 Liefdadigheid, net soos gebed en vas, is deel van jou lewe met God, wat wel mense se lewens aanraak, maar nie bedoel is om jouself in die kalklig te stel nie.  Dié wat liefdadigheid ontvang moet God in die liefdesdaad raaksien. Dit moet nie tot jou eie voordeel uitgebasuin word sodat mense jou kan prys nie.

6:3 Jesus waarsku dus onomwonde teen die gevaar van liefdadigheid ter wille van die aansien wat dit die een gee wat ‘n liefdesdaad verrig.  Die linkerhand moet nie weet wat die regterhand doen nie. Jy moet ernstige stappe neem dat jou beuel nie geblaas word vir jou goeie dade nie.

6:4 Waar jy liefdadigheid in die geheim doen, is daar die belofte van God wat jou sal beloon, want Hy sien in die verborge.

Boodskap en betekenis

Skynheiligheid is ‘n groter probleem as wat ons baie keer besef. Selfs net om jou goeie dade só te doen dat ander jou kan raaksien, is al skynheilig. Jou fokus moet wees op God wat self barmhartig is. Jy moet vanuit jou verhouding met God uitreik en hulp verleen. Dit is die pad van heiligmaking waar sy eer en heerlikheid jou lewe volmaak.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Matteus-leesplan


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar