Jesus se geslagsregister in Matteus verbind Hom aan Abraham, Dawid en die volk na die ballingskap MATTEUS 1:1-17
Jesus word as Messias en Koning vir Israel en die nasies gebore
Die Evangelie volgens Matteus word nie om dowe neute aan die begin van die NT geplaas nie. Dit is die Evangelie wat die verhaal van Jesus Christus op die mees direkte wyse aan die OT verbind.
Jesus is volgens Matteus die hoogtepunt en vervulling van die Messiaanse verwagting van die hele OT verhaal. Dit sien ‘n mens in die baie moeite wat Matteus regdeur sy Evangelie doen om Jesus se lewe en bediening aan die vervulling van OT beloftes en profesieë te koppel (meer as 60 aanhalings en toespelings).
Jesus se lewensveranderende woorde (aangebied in vyf toesprake), sy magtige werke (geïllustreer onder andere deur agtien wonderwerke) en sy simboolryke dade (bv. die reiniging van die tempel en die vervloeking van die vyeboom) wys onomwonde dat Hy die langverwagte Messias van die profetiese tradisie is.
Jesus is ook die “Seun van Dawid” (Matt. 1:1 en nog agt ander kere só genoem) en die “Seun van God” (Matt. 14:33 en nog sewe ander kere só genoem, onder andere deur die duiwel, die dissipels en die Romeinse offisier en sy soldate by die kruisiging). Dit is titels wat beide sy menslike as sy Goddelike kant beklemtoon. Hy is beide die nakomeling van Dawid as nakomeling van God.
Hierdie Jesus, sê Matteus, se geboorte kondig sy Koningskap vir Israel en die nasies aan. Sy Koninkryk word veral openbaar deur sy wonderwerke en woordbediening totdat hy sy Koninkryk gevestig het met sy lyding, kruisdood en opstanding aan die einde van die Evangelie.
Geen wonder dus dat dié Evangelie die mees-gebruikte Evangelie van die vroeë kerk was nie, soos ons aflei uit die feit dat die vroeë kerkvaders twee keer meer keer uit dié Evangelie aanhaal in hulle geskrifte as uit die ander drie Evangelies saam.
Geboorte verhale (hfst. 1-2)
Ons begin met die geboorteverhale van Jesus wat uit die volgende sewe gedeeltes bestaan:
- Jesus se geslagsregister in Matteus verbind Hom aan Abraham, Dawid en die volk na die ballingskap – Matt. 1:1-17
- ‘n Engel van die Here oortuig Josef dat Maria se Kind van die Heilige Gees is – Matt. 1:18-25
- Sterrekundiges besoek Jesus in die huis in Betlehem – Matt. 2:1-12
- Josef-hulle vlug van Betlehem na Egipte – Matt. 2:13-15
- Herodes die Grote pleeg kindermoord – Matt. 2:16-18
- Die Engel van die Here praat in ‘n droom met Josef om terug te keer na Israel – Matt. 2:19-21
- Josef word gewaarsku in ‘n droom om nie in Judea nie, maar in Galilea in Nasaret te gaan woon – Matt. 2:22-23
Jesus se geslagsregister in Matteus verbind Hom aan Abraham, Dawid en die volk na die ballingskap
MATTEUS 1:1-17
1 Register van die afstamming van Jesus Christus, Seun van Dawid, Seun van Abraham.
2 Abraham het Isak verwek, Isak het Jakob verwek, Jakob het Juda en sy broers verwek,
3 Juda het Peres en Serag by Tamar verwek, Peres het Gesron verwek, Gesron het Ram verwek,
4 Ram het Amminadab verwek, Amminadab het Nagson verwek, Nagson het Salmon verwek,
5 Salmon het Boas by Ragab verwek, Boas het Obed by Rut verwek, Obed het Isai verwek,
6 Isai het Dawid, die koning, verwek. Dawid het Salomo by die vrou van Urija verwek,
7 Salomo het Rehabeam verwek, Rehabeam het Abia verwek, Abia het Asa verwek,
8 Asa het Josafat verwek, Josafat het Joram verwek, Joram het Ussia verwek,
9 Ussia het Jotam verwek, Jotam het Agas verwek, Agas het Hiskia verwek,
10 Hiskia het Manasse verwek, Manasse het Amon verwek, Amon het Josia verwek,
11 Josia het Jojagin en sy broers verwek ten tye van die Babiloniese ballingskap.
12 Ná die Babiloniese ballingskap het Jojagin Sealtiël verwek, Sealtiël het Serubbabel verwek,
13 Serubbabel het Abihud verwek, Abihud het Eljakim verwek, Eljakim het Asor verwek,
14 Asor het Sadok verwek, Sadok het Agim verwek, Agim het Elihud verwek,
15 Elihud het Eleasar verwek, Eleasar het Mattan verwek, Mattan het Jakob verwek,
16 Jakob het Josef verwek, die man van Maria, by wie Jesus wat Christus genoem word, verwek is.
17 Al die geslagte vanaf Abraham tot Dawid was dus veertien geslagte, en van Dawid tot die Babiloniese ballingskap veertien geslagte, en vanaf die Babiloniese ballingskap tot Christus veertien geslagte.
Teks en konteks
1:1 Inleiding: Matteus begin sy Evangelie met die geslagsregister van Jesus Christus. Hy noem Hom die “Seun van Dawid”, en die “Seun van Abraham.” Die 42 geslagte in groepe van veertien wat Matteus beskryf, eindig met Josef, die man van Maria, by wie Jesus wat Christus, dit is Messias, genoem word, gebore is.
Daarmee anker Matteus Jesus se historisiteit in die geskiedenis van die Joodse volk wat by Abraham begin sowel as aan Dawid se koningshuis aan wie God beloftes van ‘n nageslag gegee het wat vir die wêreld tot groot seën sou wees (Gen. 12; 2 Sam. 7).
Matteus werk met die geslagsregister van Jesus Christus in drie groepe van veertien geslagte elk vanaf Abraham tot by Dawid, van Dawid tot by die Babiloniese ballingskap (Jojagin) en van die Babiloniese ballingskap af tot by Jesus se geboorte.
‘n Mens tel die drie groepe nie as ‘n biologiese lys nie, maar as ‘n literêr-geordende lys. Bv. tussen Joram en Ussia in die tweede groep ontbreek drie konings uit die OT: Ahasia, Joas en Amasia. ‘n Mens noem hierdie antieke konvensie teleskopering, om net die aantal geslagte te noem wat vir jou boodskap belangrik is. Die res word uitgelaat, soos ‘n mens dikwels ook in Kronieke se geslagsregisters sien.
Vir die drie groepe word Dawid en Jojagin as skarniere gebruik. M.a.w., hulle word twee keer gelys, Dawid aan die einde van die eerste lys en aan die begin van die tweede lys; Jojagin aan die einde van die tweede lys, en aan die begin van die derde lys.
Matteus se volgorde van Jesus se geslagsregister is weliswaar anders as Lukas s’n (Luk. 3:23-38). Matteus begin sy geslagsregister met Abraham, laat die name van die voorsate voor hom weg en wys hoe dit uiteindelik uitloop op die geboorte van Jesus. Lukas begin in omgekeerde volgorde met die geboorte van Jesus en laat dit al die pad terugloop tot by Adam, die “seun van God”.
Matteus lê dus klem op Jesus se geboorte uit die Joodse geslag. Lukas lê klem op Jesus se geboorte uit die menslike geslag, met die bykomende kommentaar in Lukas dat die mens, Adam, deur God as sy “seun” verwek is.
Die name wat Matteus en Lukas in hulle geslagsregisters gebruik van Abraham tot Dawid kom wel ooreen ten spyte van die omgekeerde volgorde (vgl. 1 Kron. 1:34; 2:1-15; Rut 4:18–22).
1:2-6 Eerste groep: Abraham tot Dawid: Wat merkwaardig is van die eerste groep in Matteus se weergawe van die geslagsregister is dat hy vier vroue daarin opneem – Tamar, Ragab, Rut en die vrou van Urija – anders as Lukas wat net die manlike voorvaders noem.
Soos in Kronieke vermy Matteus die naam van Batseba, die vrou van Urija, waarskynlik om ook aan Urija prominensie te verleen en sy beginselvastheid te beklemtoon, eerder as om noodwendig negatief oor haar te wees. Kronieke noem haar bv. Bat-Sua, dieselfde naam as een van Juda se vroue, d.w.s. ’n stammoeder, wat ook positief interpreteer kan word (1 Kron. 3:3).
Al vier dié vroue het ’n interessante geskiedenis waarin 1) hulle afkoms van ander nasies, 2) hulle verstommende inisiatief en wysheid sowel as 3) God se genade om hulle te seën, uitstaan:
- Tamar, waarskynlik ’n Kanaänitiese vrou, verlei haar skoonpa Juda deur haar te vermom as ’n prostituut, en hou hom dan op baie slim wyse aan sy beloftes ten spyte van die gevaar vir haarself (Gen. 38).
- Ragab, die prostituut en ’n vrou van Kanaän, red die twee verspieders in Jerigo met groot teenwoordigheid van gees ten spyte van die gevaar vir haar eie lewe (Jos. 2).
- Rut, die Moabiet, nader Boas as Losser ten spyte van die moontlikheid dat sy verwerp kan word (Rut 1-4).
- Batseba, moontlik ’n Hetitiese vrou (Urija, haar man, was van Hetitiese afkoms), die een met wie Dawid owerspel gepleeg het, sorg dat Salomo die koningskap verkry wat Dawid belowe het, ten spyte van die moontlikheid dat dit op hulle kan boemerang (2 Sam. 12 en 1 Kon. 1-2).
1:7-11 Tweede groep: Dawid tot Jojagin: Die geslagsregisters van Matteus en Lukas het egter groot verskille met die name wat van Dawid tot by Babiloniese ballingskap (en daarna tot by Jesus) gebruik word. Die verskille kan waarskynlik die beste verklaar word deur 1) die seuns van Dawid waarmee in die geslagsregisters onderskeidelik afgeskop word en 2) die gebruik van teleskopering.
Matteus gebruik Salomo as Dawid se seun vir die doeleindes van sy geslagsregister en volg dus daarna die koninklike lyn (Rehabeam en die meeste ander konings van Juda, hoewel sommige uitgelaat word – vgl. 1 Kron. 3:10-17; Esra 3:2).
Lukas gebruik Natan as Dawid se seun en werk waarskynlik daarna met die biologiese lyn (Mattata en verder; Lukas sluit ook meer van die geslagte in). Natan was die derde van Dawid se elf kinders wat in Jerusalem gebore is en Salomo die vierde (2 Sam. 5:14). Maar, Salomo is natuurlik die seun wat Dawid as koning opgevolg het.
Die insluiting van Jojagin bo sy broers hier is betekenisvol. Matteus wil daarmee waarskynlik sy geskiedenis positief waardeer, soos dit inderdaad deur Konings vóór en Kronieke ná die Ballingskap neergepen is.
Jojagin word op die jonge ouderdom van 18 jaar koning in Juda. Eintlik staan daar in die grondteks van Kronieke dat hy 8 jaar oud was (2 Kron. 36)! Hy regeer net 3 maande lank voor Nebukadneser hulle weer inval, met die wisseling van die jaar, d.w.s. 596 v.C. Die boek Konings skets vir ons ’n positiewe prentjie van dié koning en noem dat Jojagin homself oorgegee het aan Nebukadneser en weggevoer is (presies soos Jeremia eintlik voorgestel het dat hulle moes doen).
Hoewel Jeremia aanvanklik baie skerp is in die oordele wat hy oor Jojagin uitspreek (Jer. 22) het hy uiteindelik ook sagter woorde oor hom (Jer. 24). Jeremia verwys na die mense wat agtergebly het in Jerusalem as die slegte vye en die ballinge (waaronder Jojagin) as die goeie vye in die bekende gesig wat hy in die tempel gesien het van die twee mandjies vye.
Die boek Konings sluit hierby aan en vermeld dat hy na amper die helfte van die ballingskap verby was, in die 37ste jaar van die ballingskap van koning Jojagin, begenadig is, vrygelaat is en van toe af ’n hoër status geniet het as die ander konings wat saam met hom daar was (2 Kon. 25:27-29; Jer. 52:31-34). Hy het selfs aan die koning van Babel se tafel geëet en ’n permanente toelae gekry vir sy daaglikse behoeftes solank as wat hy gelewe het.
’n Mens wonder of dit verband hou met die werk en status van Daniël, hoewel dit nêrens vir ons eksplisiet vertel word nie. Jojagin word dus uiteindelik positief bejeën in die OT. Matteus volg dus waarskynlik dié interpretasielyn in sy eie beoordeling en insluiting van Jojagin in sy geslagsregister.
1:12-16 Derde groep: Jojagin tot Jesus: Die enigste ooreenkoms tussen Matteus en Lukas se geslagsregister ná die ballingskap tot by Jesus se geboorte, is die noem van Sealtiël en Serubbabel, die twee uit die nageslag van Dawid wat net na die ballingskap die leiding in Jerusalem met die herbou van die stad geneem het. Maar, daarna verskil dit weer, vermoedelik omdat die koninklike lyn in Matteus en die biologiese lyn in Lukas weer daarna gevolg is.
Dit val ook op dat Matteus Jakob as Josef se pa noem, en Lukas Eli. Daar is talle verklarings deur die eeue vir die verskil gegee. Die oudste en moontlik steeds die beste verklaring is dié van die kerkvader Africanus in die 3de eeu n.C. Hy het die verskil verklaar aan die hand van die gebruik van ‘n leviraatshuwelik. Eli was volgens hom kinderloos en ná sy dood het sy broer Jakob, Josef se biologiese pa by Eli se vrou, geword. Dit het beteken dat Eli Josef se wettige pa was, al was hy uiteraard al dood. Dit is hoe die familiereg daardie tyd gewerk het.
Matteus gebruik dus die biologiese pa van Josef se naam, Jakob, en Lukas die wettige pa se naam Eli in hulle onderskeie geslagsregisters. Augustinus het in die 4de eeu n.C. met ‘n soortgelyke verklaring gewerk.
Daar is wel heelwat geleerdes (op voetspoor van Luther) wat gedink het dat die een geslagsregister eintlik Maria se geslagsregister weergee (gewoonlik word aan Lukas s’n gedink vir dié doel) en die ander Josef s’n. Dit is egter onwaarskynlik omdat Lukas self die geslagsregister aankondig as dat Jesus Josef se seun is (Luk. 3:23). Hy werk dus waarskynlik nie met die afstamming via Maria nie.
1:17 Opsomming: Matteus sluit die geslagsregister af met ‘n opsomming waarin hy sy literêre keuse verduidelik: “Al die geslagte vanaf Abraham tot Dawid was dus veertien geslagte, en van Dawid tot die Babiloniese ballingskap veertien geslagte, en vanaf die Babiloniese ballingskap tot Christus veertien geslagte.”
Betekenis en boodskap
Matteus begin dus sy Evangelie met die afstamming van Jesus Christus. Daarmee beklemtoon hy die vervulling van die Abrahamitiese en Dawidiese beloftes van ‘n nageslag waardeur God die wêreld wil seën. Dit plaas die geboorte van Jesus uit sy ma Maria vierkantig in ‘n heilshistoriese konteks. Jesus Christus is die vervulling van die beloftes van die OT.
Dit het betekenis natuurlik nie net vir Joodse gelowiges nie, maar ook vir gelowiges uit die heidennasies. Vergelyk hoe Paulus dit verwoord in sy brief aan die Galasiërs:
“Want julle almal is kinders van God deur die geloof, in Christus Jesus, want julle almal wat in Christus gedoop is, het julle met Christus geklee. Daar is nie Jood of Griek nie, daar is nie slaaf of vry mens nie, daar is nie man en vrou nie, want julle almal is een in Christus Jesus. En as julle aan Christus behoort, dan is julle die nageslag van Abraham, en erfgename volgens die belofte.” (Gal 3:26-29).
Dit is ook betekenisvol dat Matteus op subtiele wyse die nasies in sy geslagsregister beklemtoon met die verwysing na vier vroue wat almal van ander nasies afgestam het. Geen wonder dat Matteus daarom sy Evangelie afsluit met die Groot Opdrag waarin Jesus sy dissipels uitstuur na al die nasies toe en beveel om die mense sy dissipels te maak (Matt. 29:19-20). Soos die nasies deel uitgemaak het van Jesus se eie afstamming, só kies Hy om hulle ook deel te maak van sy volgelinge.
View all posts in this series
- Kom en volg Hom – ’n 23-week leesplan deur Matteus - August 27, 2026
- Inleiding - September 10, 2026
- Jesus se geslagsregister in Matteus verbind Hom aan Abraham, Dawid en die volk na die ballingskap MATTEUS 1:1-17 - September 11, 2026
Discover more from Bybelskool
Subscribe to get the latest posts sent to your email.
originalblizzard19aaa84c56
Matteus. Amazing, om my te verwonder aan die Heilige Skrif. Dankie vir navorsing.