Skip to main content

Johannes die Doper waarsku die Fariseërs en Sadduseërs om die vrug van bekering te dra

MATTEUS 3:7-12

7 Maar toe hy baie van die Fariseërs en Sadduseërs sien kom vir sy doop het hy vir hulle gesê: “Julle gebroedsel van slange, wie het julle gewaarsku om te vlug vir die komende oordeel?

8 Lewer dan die vrug wat by die bekering pas

9 en moenie dink dat julle by julleself kan sê: ‘Ons het Abraham as vader’ nie. Want ek sê vir julle dat God uit hierdie klippe kinders vir Abraham kan verwek.

10 Die byl lê reeds aan die wortel van die bome; elke boom dan wat nie goeie vrug dra nie word uitgekap en in die vuur gegooi.

11 Ek doop julle met water wat wys op bekering, maar Hy wat ná my kom, is sterker as ek, wie se sandale ek nie werd is om vir Hom te dra nie. Hy sal julle doop met die Heilige Gees en met vuur.

12 Sy oesvurk is in sy hand en Hy sal sy dorsvloer skoonmaak en sy koring in die graanskuur bymekaarmaak, maar die kaf met ’n onblusbare vuur verbrand.”

Teks en konteks

3:7 Matteus verwoord ook Johannes die Doper se skerp teregwysing van die mense wat na hom kom luister as ‘n “gebroedsel van slange”, mense wat nie moet dink dat hulle sommer deur ‘n doop die oordeel van God sal ontvlug nie. Hy sonder spesifiek die Fariseërs en Sadduseërs uit wat na Johannes se doop kom kyk het vir hierdie vlymskerp teregwysing.

Die NAV vertaling van vers 7 kan ‘n mens laat dink dat hulle ook gedoop wou word, maar in die oorspronklike staan eintlik net dat hulle “na sy doop” gekom het, soos korrek hierbo in die ASV vertaal is. Sommige was waarskynlik nuuskierig, ander omdat hulle gedoop wou word, en nog ander, soos ‘n mens later in die verhaal gaan agterkom, omdat hulle hom as teenstander beskou het.

3:8 Johannes laat hulle egter onder geen illusie nie. In die eerste plek, sê hy, as hulle gedoop wil word, moet hulle vrugte dra wat by die bekering pas, anders sal die doop niks help nie. Sondebelydenis moet ’n nuwe lewenswyse inlei.

3:9 In die tweede plek, sê hy, moet hulle ook nie die fout maak om te dink dat hulle Joodse afkoms hulle gaan help in die verlossende oordeel van God wat op pad is nie (vers 9-10). Die regte geslagsregister sal hulle nie help nie; net ’n gehoorsame lewe.

3:10-12 Hierdie verlossende oordeel van God word dan aan die Een wat ná Johannes kom, gekoppel. Jesus is die een wat hierdie verlossende oordeel van God sal voltrek – verlossing deur die Heilige Gees vir die gelowiges/gehoorsames (koring) en oordeel deur die doop met vuur vir die ongelowiges/ongehoorsames (kaf) op die dorsvloer van die wêreld.

Betekenis en boodskap

‘n Bietjie meer inligting oor die verskillende groepe Jode wat ons in die Evangelies aantref:

Die Fariseërs

Hulle het waarskynlik in die 2de eeu v.C. in die tyd van die Makkabeërs tot stand gekom. Hulle was ‘n godsdienstig konserwatiewe groep, baie vroom, maar wat in die proses van Bybeluitleg hulle eie stel wette saamgestel het. Hulle het ‘n mondelinge tradisie geskep wat die Skrif aangevul en selfs verander het. Die motivering was om ‘n “heining om die wet te bou”, sodat die wet makliker nagekom kan word.

Jesus wys egter telkens die Fariseërs se tradisies af – hulle mondelinge interpretasies van die wet – en gee die regte uitleg daarvan. Jesus handhaaf dus die skriftelike tradisie van die wet self, nie die mondelinge tradisies wat daarom geweef is nie.

Hy verkwalik hulle ook telkens oor hulle skynheiligheid deurdat hulle nie net met hulle mondelinge tradisies die Skrif self van sy krag beroof nie (Matt. 15:3), maar uiteindelik nie eers presies navolg wat hulle in die plek van die Skrif leer nie (Matt. 23:3). Daar is talle gesprekke met die Fariseërs regdeur al vier Evangelies, ‘n totaal van 76 verwysings. Matteus spandeer onder andere 4 hoofstukke daaraan (Matt. 14-17).

Die Sadduseërs

Hulle was ‘n godsdienstig liberale groep, deel van die priesterlike aristokrasie, en die meerderheid in die Sanhedrin, dit is die Joodse Raad. Hulle het ook waarskynlik in die tyd van die Makkabeërs tot stand gekom, maar was teenstanders van die Fariseërs. Ten spyte van hulle handhawing van die gesag van die Skrif, het hulle ‘n soort humanistiese interpretasie daarvan gehandhaaf, waarin die belange van die mense voorop gestaan het, bv in terme van die huwelik. Menslike vryheid was vir hulle van hoë waarde. God was in hulle leringe nie soseer betrokke in die wel en wee van mense nie.

Hulle het ook nie in die bestaan van geestelike wesens geglo nie. Ook nie in die opstanding na die dood nie. Iets wat Paulus tot sy voordeel in ‘n debat in die Joodse Raad gebruik het (Hand. 23:6-8). Die Sadduseërs was dus waarskynlik die eerste “godsdienstige humaniste”.

Lukas en Markus vertel vir ons op net een plek van ‘n gesprek van die Sadduseërs met Jesus (Luk. 20:27-40; Mrk. 12:18-27). Matteus noem ook daardie gesprek (Matt. 22:23-33), en dan nog twee ander interaksies waarvan hulle deel was, waarvan bogenoemde interaksie een was (Matt. 3:7; 16:1-12). In Handelinge praat Lukas twee keer van hulle as deel van die Joodse Raad (Hand. 4:2; 23:6-8).

Die Skrifgeleerdes

Hulle was rabbi’s uit die geledere van beide die Fariseërs en Sadduseërs wat hulle ook met intense studie van die Ou-Testamentiese wet besig gehou het, dit is die eerste vyf boeke van die OT, die Pentateug. Jesus het heelwat interaksie met hulle en talle van sy leringe word in gesprek met die skrifgeleerdes gelewer. Daar is in totaal 54 verwysings na hulle in die Evangelies.

Die Herodiane

Hulle was lojale ondersteuners van die Herodes konings. Onthou ons lees van vyf Herodes konings in die Evangelies soos ek vroeër geskryf het: Herodes die Grote by Jesus se geboorte, Herodes Argelaos tydens Jesus-hulle se terugkeer van Egipte, Herodes Antipas tydens Jesus se kinderjare in Nasaret in Galilea en regdeur sy bediening, Herodes Agrippa I tydens die ontstaan van die vroeë kerk, Herodes Agrippa II later tydens Paulus se verhoor in Jerusalem. Al die Herodes konings was in diens van die Romeinse ryk en in opposisie met die Fariseërs. Soms het hulle saamgesweer (Matt. 22:16). In totaal is daar net twee verwysings na die Herodiane: vroeg in Jesus se bediening (Mrk. 3:6) en net voor Jesus se laaste Lydensweek (Mrk. 12:14; Matt. 22:16).

Die Esseners

Hulle was ‘n sterk moralistiese, maar sektariese groep wat hulle met intense Skrifstudie by die Dooie See, soos ons uit die ontdekking van die Dooie See rolle in 1948 kan agterkom, besig gehou het. Hulle word nie direk in die Evangelies genoem nie, maar Jesus wys van hulle leringe af, bv die idee in die Bergrede dat jy jou vyand moet liefhê wat nie uit die OT aangehaal word nie, maar uit die eerste Dooie See Rol (1:10; 2:20; 10:19)! Hulle het dus ook hulle eie tradisies geskep wat die Skrifboodskap weerspreek het.

Die Selote

Die Selote was ‘n fanatieke opposisie-party teen die Romeine – ondergronds en gewelddadig. Jesus roep egter vir Simon, “die Seloot”, as ‘n dissipel wat wys dat God se genade geen grense ken nie (Luk. 6:15). Judas, die Galileër, was waarskynlik hulle leier. Gamaliël verwys waarskynlik na hom in die verhoor van Petrus en Johannes voor die Joodse Raad (Hand. 5:37).


Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Matteus-leesplan


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar