Johannes die Doper waarsku die Fariseërs en Sadduseërs om die vrug van bekering te dra
MATTEUS 3:7-12
7 Maar toe hy baie van die Fariseërs en Sadduseërs sien kom vir sy doop het hy vir hulle gesê: “Julle gebroedsel van slange, wie het julle gewaarsku om te vlug vir die komende oordeel?
8 Lewer dan die vrug wat by die bekering pas
9 en moenie dink dat julle by julleself kan sê: ‘Ons het Abraham as vader’ nie. Want ek sê vir julle dat God uit hierdie klippe kinders vir Abraham kan verwek.
10 Die byl lê reeds aan die wortel van die bome; elke boom dan wat nie goeie vrug dra nie word uitgekap en in die vuur gegooi.
11 Ek doop julle met water wat wys op bekering, maar Hy wat ná my kom, is sterker as ek, wie se sandale ek nie werd is om vir Hom te dra nie. Hy sal julle doop met die Heilige Gees en met vuur.
12 Sy oesvurk is in sy hand en Hy sal sy dorsvloer skoonmaak en sy koring in die graanskuur bymekaarmaak, maar die kaf met ’n onblusbare vuur verbrand.”
Teks en konteks
3:7 Matteus verwoord ook Johannes die Doper se skerp teregwysing van die mense wat na hom kom luister as ‘n “gebroedsel van slange”, mense wat nie moet dink dat hulle sommer deur ‘n doop die oordeel van God sal ontvlug nie. Hy sonder spesifiek die Fariseërs en Sadduseërs uit wat na Johannes se doop kom kyk het vir hierdie vlymskerp teregwysing.
Die NAV vertaling van vers 7 kan ‘n mens laat dink dat hulle ook gedoop wou word, maar in die oorspronklike staan eintlik net dat hulle “na sy doop” gekom het, soos korrek hierbo in die ASV vertaal is. Sommige was waarskynlik nuuskierig, ander omdat hulle gedoop wou word, en nog ander, soos ‘n mens later in die verhaal gaan agterkom, omdat hulle hom as teenstander beskou het.
3:8 Johannes laat hulle egter onder geen illusie nie. In die eerste plek, sê hy, as hulle gedoop wil word, moet hulle vrugte dra wat by die bekering pas, anders sal die doop niks help nie. Sondebelydenis moet ’n nuwe lewenswyse inlei.
3:9 In die tweede plek, sê hy, moet hulle ook nie die fout maak om te dink dat hulle Joodse afkoms hulle gaan help in die verlossende oordeel van God wat op pad is nie (vers 9-10). Die regte geslagsregister sal hulle nie help nie; net ’n gehoorsame lewe.
3:10-12 Hierdie verlossende oordeel van God word dan aan die Een wat ná Johannes kom, gekoppel. Jesus is die een wat hierdie verlossende oordeel van God sal voltrek – verlossing deur die Heilige Gees vir die gelowiges/gehoorsames (koring) en oordeel deur die doop met vuur vir die ongelowiges/ongehoorsames (kaf) op die dorsvloer van die wêreld.
Betekenis en boodskap
‘n Bietjie meer inligting oor die verskillende groepe Jode wat ons in die Evangelies aantref:
Die Fariseërs
Hulle het waarskynlik in die 2de eeu v.C. in die tyd van die Makkabeërs tot stand gekom. Hulle was ‘n godsdienstig konserwatiewe groep, baie vroom, maar wat in die proses van Bybeluitleg hulle eie stel wette saamgestel het. Hulle het ‘n mondelinge tradisie geskep wat die Skrif aangevul en selfs verander het. Die motivering was om ‘n “heining om die wet te bou”, sodat die wet makliker nagekom kan word.
Jesus wys egter telkens die Fariseërs se tradisies af – hulle mondelinge interpretasies van die wet – en gee die regte uitleg daarvan. Jesus handhaaf dus die skriftelike tradisie van die wet self, nie die mondelinge tradisies wat daarom geweef is nie.
Hy verkwalik hulle ook telkens oor hulle skynheiligheid deurdat hulle nie net met hulle mondelinge tradisies die Skrif self van sy krag beroof nie (Matt. 15:3), maar uiteindelik nie eers presies navolg wat hulle in die plek van die Skrif leer nie (Matt. 23:3). Daar is talle gesprekke met die Fariseërs regdeur al vier Evangelies, ‘n totaal van 76 verwysings. Matteus spandeer onder andere 4 hoofstukke daaraan (Matt. 14-17).
Die Sadduseërs
Hulle was ‘n godsdienstig liberale groep, deel van die priesterlike aristokrasie, en die meerderheid in die Sanhedrin, dit is die Joodse Raad. Hulle het ook waarskynlik in die tyd van die Makkabeërs tot stand gekom, maar was teenstanders van die Fariseërs. Ten spyte van hulle handhawing van die gesag van die Skrif, het hulle ‘n soort humanistiese interpretasie daarvan gehandhaaf, waarin die belange van die mense voorop gestaan het, bv in terme van die huwelik. Menslike vryheid was vir hulle van hoë waarde. God was in hulle leringe nie soseer betrokke in die wel en wee van mense nie.
Hulle het ook nie in die bestaan van geestelike wesens geglo nie. Ook nie in die opstanding na die dood nie. Iets wat Paulus tot sy voordeel in ‘n debat in die Joodse Raad gebruik het (Hand. 23:6-8). Die Sadduseërs was dus waarskynlik die eerste “godsdienstige humaniste”.
Lukas en Markus vertel vir ons op net een plek van ‘n gesprek van die Sadduseërs met Jesus (Luk. 20:27-40; Mrk. 12:18-27). Matteus noem ook daardie gesprek (Matt. 22:23-33), en dan nog twee ander interaksies waarvan hulle deel was, waarvan bogenoemde interaksie een was (Matt. 3:7; 16:1-12). In Handelinge praat Lukas twee keer van hulle as deel van die Joodse Raad (Hand. 4:2; 23:6-8).
Die Skrifgeleerdes
Hulle was rabbi’s uit die geledere van beide die Fariseërs en Sadduseërs wat hulle ook met intense studie van die Ou-Testamentiese wet besig gehou het, dit is die eerste vyf boeke van die OT, die Pentateug. Jesus het heelwat interaksie met hulle en talle van sy leringe word in gesprek met die skrifgeleerdes gelewer. Daar is in totaal 54 verwysings na hulle in die Evangelies.
Die Herodiane
Hulle was lojale ondersteuners van die Herodes konings. Onthou ons lees van vyf Herodes konings in die Evangelies soos ek vroeër geskryf het: Herodes die Grote by Jesus se geboorte, Herodes Argelaos tydens Jesus-hulle se terugkeer van Egipte, Herodes Antipas tydens Jesus se kinderjare in Nasaret in Galilea en regdeur sy bediening, Herodes Agrippa I tydens die ontstaan van die vroeë kerk, Herodes Agrippa II later tydens Paulus se verhoor in Jerusalem. Al die Herodes konings was in diens van die Romeinse ryk en in opposisie met die Fariseërs. Soms het hulle saamgesweer (Matt. 22:16). In totaal is daar net twee verwysings na die Herodiane: vroeg in Jesus se bediening (Mrk. 3:6) en net voor Jesus se laaste Lydensweek (Mrk. 12:14; Matt. 22:16).
Die Esseners
Hulle was ‘n sterk moralistiese, maar sektariese groep wat hulle met intense Skrifstudie by die Dooie See, soos ons uit die ontdekking van die Dooie See rolle in 1948 kan agterkom, besig gehou het. Hulle word nie direk in die Evangelies genoem nie, maar Jesus wys van hulle leringe af, bv. die opvatting van die Esseners dat ’n mens jou naaste moet liefhê maar jou vyand moet haat: “Maar Ek sê vir julle: Julle moet julle vyande liefhê.” Die opdrag om jou naaste lief te hê kom uit Levitikus 19:18, maar “haat jou vyand” kom nie uit die Ou Testament nie. ’n Baie soortgelyke onderskeid kom egter in die Qumran-gemeenskap se Gemeenskapsreël (1QS 1:9–10) voor: hulle moes “al die seuns van die lig” liefhê en “al die seuns van die duisternis” haat. Dit kan daarop dui dat Jesus hier reageer op ’n soort sektariese interpretasie van hulle wat sy tydgenote geken het. Hulle het dus ook hulle eie tradisies geskep wat die Skrifboodskap weerspreek het.
Die Selote
Die Selote was ‘n fanatieke opposisie-party teen die Romeine – ondergronds en gewelddadig. Jesus roep egter vir Simon, “die Seloot”, as ‘n dissipel wat wys dat God se genade geen grense ken nie (Luk. 6:15). Judas, die Galileër, was waarskynlik hulle leier. Gamaliël verwys waarskynlik na hom in die verhoor van Petrus en Johannes voor die Joodse Raad (Hand. 5:37).
View all posts in this series
- Kom en volg Hom – ’n 23-week leesplan deur Matteus - August 27, 2026
- Inleiding - September 10, 2026
- Jesus se geslagsregister in Matteus verbind Hom aan Abraham, Dawid en die volk na die ballingskap MATTEUS 1:1-17 - September 11, 2026
- ‘n Engel van die Here oortuig Josef dat Maria se Kind van die Heilige Gees is MATTEUS 1:18-25 - September 12, 2026
- Sterrekundiges besoek Jesus in die huis in Betlehem MATTEUS 2:1-12 - September 13, 2026
- Josef-hulle vlug van Betlehem na Egipte - September 14, 2026
- Herodes die Grote pleeg kindermoord - September 15, 2026
- Die Engel van die Here praat in ‘n droom met Josef om terug te keer na Israel - September 16, 2026
- Josef word gewaarsku in ‘n droom om nie in Judea nie, maar in Galilea in Nasaret te gaan woon - September 17, 2026
- Johannes die Doper preek in die woestyn van Judea en kondig die doop van bekering aan - September 18, 2026
- Johannes die Doper waarsku die Fariseërs en Sadduseërs om die vrug van bekering te dra - September 19, 2026
- Jesus word deur Johannes gedoop en met die Gees vervul by die Jordaan - September 20, 2026
- Jesus word deur die Satan versoek in die woestyn van Judea - September 21, 2026
- Jesus gaan woon in Kapernaum en preek in Galilea dat die koninkryk van God naby gekom het - September 22, 2026
- Jesus roep sy dissipels as vissers van mense langs die See van Galilea - September 23, 2026
- Jesus verkondig die evangelie van die koninkryk en groot skares uit Galilea, Sirië, Dekapolis, Jerusalem, Judea en oorkant die Jordaan volg Hom - September 24, 2026
- Geseënd is dié wat weet hoe nodig hulle God het om hulle karakter te vorm - September 25, 2026
- Julle is die sout vir die aarde - September 26, 2026
- Julle is die lig vir die wêreld - September 27, 2026
- Jesus verbreek nie die wet nie, maar vervul dit - September 28, 2026
- Maak vrede as iemand iets teen jou het: jy mag nie moord pleeg nie - September 29, 2026
- As jy kyk na ‘n vrou om haar te begeer, het jy reeds in jou hart egbreuk gepleeg - September 30, 2026
- Elkeen wat skei, behalwe oor ontrou, maak dat die ander een egbreuk pleeg - October 1, 2026
- Julle “ja” moet “ja” bly en julle “nee”, “nee” - October 2, 2026
- Moet jou nie teen ‘n slegte mens verset nie - October 3, 2026
- Julle moet julle vyande liefhê en bid vir dié wat julle vervolg - October 4, 2026
- Doen liefdadigheid in die geheim; die Vader sal jou beloon - October 5, 2026
- So moet julle dan bid - October 6, 2026
- So moet julle dan vas - October 7, 2026
- Maak vir julle skatte bymekaar in die hemel - October 8, 2026
- Sorg dat die lig in jou nie duisternis is nie - October 9, 2026
- Julle kan nie God én Mammon dien nie - October 10, 2026
Discover more from Bybelskool
Subscribe to get the latest posts sent to your email.
Onlangse kommentaar