Skip to main content

Jesus verklaar dat God niemand vergeet wat Hom vrees nie

Jesus gaan voort om sy dissipels vir hulle sendingtaak te onderrig, al sal hulle dieselfde vervolging moet verduur as Hyself. Dit moet hulle egter nie beskroomd en bedeesd maak nie. Hulle moet onbevreesd in hulle getuienis wees.

MATTEUS 10:26-31

26 “Moet hulle dus nie vrees nie, want daar is niks wat bedek is wat nie geopenbaar sal word nie, en geheim wat nie bekendgemaak sal word nie.

27 Wat Ek vir julle in die donker sê, sê dit in die lig, en wat julle in die geheim hoor, verkondig dit van die dakke af.

28 En moenie dié vrees wat die liggaam doodmaak, maar die siel nie kan doodmaak nie. Vrees eerder die Een wat sowel die siel as die liggaam in die hel kan vernietig.

29 Word twee mossies nie vir ’n assarion (Romeinse kopermuntstukke) verkoop nie? En nie een van hulle sal op die grond val sonder julle Vader nie.

30 Van julle is selfs die hare op julle kop almal getel.

31 Moet dus nie vrees nie; julle is meer werd as baie mossies.”

Teks en konteks

10:26-27 Hierdie verse kom wat die inhoud betref, baie ooreen met Lukas 12:1-3, maar verskil wesenlik in die gerigtheid daarvan. In Lukas waarsku Jesus die dissipels om eerbaar te lewe, omdat geheime uitkom. Hier in Matteus bemoedig Jesus die dissipels dat dieselfde waar is van hulle teenstanders, want alles wat hulle in die geheim konkel sal openbaar gemaak word. Die geheime van die vervolgers sal oopgevlek word. Dit belowe die Here. Daarin kan hulle rus vind.

Trouens, Jesus moedig die dissipels aan om wat Hy in die donker aan hulle openbaar, in die lig te verkondig, en die dinge wat hulle in die geheim van Hom hoor, van die dakke af vir hierdie wêreld te verkondig. Sy private onderrig is bedoel vir publieke verkondiging.

10:28 Jesus waarsku hulle daarom om nie dié te vrees wat die liggaam kan doodmaak nie, maar die siel nie kan vernietig nie. Wie hulle eerder moet vrees is dié Een wat die mag het om die siel sowel as die liggaam in die hel (Gehenna) te vernietig.

Gehenna was die Griekse naam van die Vallei van Hinnom suid van Jerusalem waar vullis verbrand is. Jesaja het Gehenna as simbool van die hel begin gebruik (Jes. 66:24) en is deur Jesus en die ander NT skrywers nagevolg (Matt. 5:29-30; 10:28; 23:15, 33; Mrk 9:43, 45; Luk. 12:5; Jak 3:6; 2 Pet 2:4). In Openbaring word hierdie plek die “poel van vuur” genoem (Openb. 20:10, 14-15; 21:8). Dit is die “tweede dood”.

Matteus se beskrywing van die vernietiging van siel en liggaam in die hel wys onteenseglik op die werklikheid van hierdie ewige poel van vuur. En let op dat Jesus hierdie boodskap met sy dissipels deel. Dit beteken dat die lering oor die hel ook bedoel is om gelowiges op die pad van gehoorsaamheid te hou.

10:29-31 Die dissipels moet dus vir niemand bang wees nie, want God sal vir hulle sorg. Jesus gebruik die vergelyking met die prys van twee mossies. Hulle was maar een assarion werd, die loon vir ‘n halfuur se werk in daardie tyd (Lukas se vyf mossies was twee assarii werd – jy het basies een verniet gekry as jy vier koop!).

Die dissipels is egter baie meer werd as die mossies waarvoor God sorg. Nie een van hulle is vergete voor God nie. Jesus verseker hulle daarom dat selfs die hare van hulle hoof almal getel is. Só betrokke is God by die fyn detail van hulle lewe. Hulle hoef dus niks te vrees nie. Hulle is meer werd as baie mossies.

Boodskap en betekenis

Ons getuienistaak is die kern van ons roeping as dissipels. Trouens, jy kan dit nie ontwyk nie, anders is jy dislojaal aan die Een wat jou roep. Daar is net Een aan wie ons lojaliteit verskuldig is, en dit is die Here en sy boodskap. Aan Hom moet ons getrou bevind word, selfs al beteken dit ons verloor ons lewe.

Net so belangrik as wat dit is om opnuut jou getuienistaak as roeping te aanvaar – kom wat wil – is die belofte van God se sorg wanneer jy jou hart en siel daarin werp. Hy sal in die kleinste detail vir jou sorg op daardie pad.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Matteus-leesplan


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Comments

Maak 'n opmerking

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Onlangse kommentaar