Skip to main content

Jesus verkondig die evangelie van die koninkryk en groot skares uit Galilea, Sirië, Dekapolis, Jerusalem, Judea en oorkant die Jordaan volg Hom

MATTEUS 4:23-25

23 Jesus het rondgegaan in die hele Galilea en onderrig gegee in hulle sinagoges en die evangelie van die koninkryk verkondig en elke siekte en kwaal onder die volk genees.

24 En die nuus oor Hom het in die hele Sirië versprei, en hulle het vir Hom almal gebring wat siek was en aan allerhande siektes en hewige pyne gely het, wat met die duiwel besete was, wat aan epilepsie gely het en verlamdes, en Hy het hulle gesond gemaak.

25 En groot skares van Galilea en Dekapolis en Jerusalem en Judea en van oorkant die Jordaan het Hom gevolg.

Teks en konteks

4:23 Matteus spel drie sleutelaspekte van Jesus se bediening hier uit: onderrig uit die OT, verkondiging van die evangelie, en genesing van allerhande siektes (nosos) en kwale (malakia – swakhede). Dit is waarmee Hy die hele Galilea deurgereis het en die Jode in hulle sinagoges en daarbuite bedien het.

Dit was alles deel van die deurbreek van die koninkryk van God op aarde. Die genesing van elke siekte en kwaal onder die volk was tekens dat die tyd van die koninkryk inderdaad aangebreek het.

Matteus gee vir ons Jesus se boodskap van die koninkryk in vyf groot toesprake in sy Evangelie weer, waarvan die eerste direk hierna aan die beurt kom: Bergrede – hfst 5-7; Onderrig aan dissipels – hfst 10; Gelykenisse van die koninkryk – hfst 13; Verhoudinge in die kerk – hfst 18; Koms van die koninkryk – hfst 23-25.

4:24 Die nuus oor Jesus versprei ver buite die Joodse gebied. Van oor die hele Sirië (die grondgebied van die Arameërs met die hoofstad in Damaskus) in die noorde is mense met allerhande siektes na Hom gebring, en het Hy hulle almal genees.

Hier word vyf breë groepe siektes genoem wat ‘n oorsig gee van die tipe genesing wat Jesus gebring het: allerhande siektes (nosos), hewige pyne (basanos – pyne wat mense in hulle mag gehad het), duiwelbesetenes (daimonizomai – demone wat mense in hulle mag gehad het), lyers aan epilepsie (selēniazomenous – letterlik: “maansiekes”; dit kan ook met duiwelbesetenheid verband hou: vgl. Matt. 17:15) en verlamdes (paralytikos – mense wat nie kon loop nie).

Die klem is op Jesus wat die mag gebreek het wat dié siektes en besetenheid op die mense gehad het.

4:25 Groot skares benewens dié uit Sirië het Jesus begin volg vanuit die gebiede rondom die See van Galilea. Interessant genoeg noem Matteus ook vyf gebiede: Galilea, Dekapolis aan die suid-oostekant van die See van Galilea (‘n alliansie van 10 Griekse stede wat aan Sirië onderdanig was), die hoofstad Jerusalem, die stamgebied van Juda wat Judea genoem is, en van oorkant die Jordaan, waarskynlik Edom, die gebied van Esau, Jakob se seun.

Interessant genoeg noem Matteus (en Markus) nêrens enige interaksie met die Samaritane nie. Trouens, Jesus verbied die twaalf dissipels om in ‘n stad van die Samaritane in te gaan met hulle eerste uitsending (Matt. 10:5). Dit is net Lukas en Johannes wat van Jesus se eie bediening aan Samaritane vertel: die vrou by die put aan die begin van sy bediening (Joh. 4) en die tien melaatse manne aan die einde op pad na Jerusalem toe (Luk. 17). Lukas vertel ook vir ons van Jesus se gelykenis van die Barmhartige Samaritaan waarmee Hy die belang van naasteliefde uitspel (Luk. 10).

Die tafel is nou gedek vir een van die belangrikste toesprake wat ooit gelewer is, die Bergrede.

Boodskap en betekenis

Genesing was ‘n sentrale deel van Jesus se bediening. Natuurlik saam met sy uitleg en onderrig van die OT en die verkondiging van die goeie nuus van die evangelie oor die aanbreek van die koninkryk van God.

Die genesings demonstreer immers die fisiese deurbreek van die koninkryk van God in hierdie wêreld, terwyl die onderrig en verkondiging die geestelike kant daarvan verteenwoordig.  Vandag nog is genesing ‘n teken van die koninkryk van God en daarom ‘n geskenk uit sy hand.

Ons moet natuurlik nie aan genesing net in terme van fisiese siektes dink nie. Vandaar die klem hier op mense wat in die mag gekom het van een of ander kwaal. Jesus genees ook van die mag wat ‘n spesifieke siekte of kwaal oor mense verkry.

Daar is ook baie gestaltes van genesing. Daar is wonderbaarlike genesing deur gebed. Daar is genesing deur mediese ingrepe. Daar is ook genesing in die aanpas van mense se lewenstyl. Selfs die herstel van onderlinge verhoudinge deur vergifnis en versoening is genesend.

Hierdie tipe genesings is net so belangrik en staan almal in die verlengde van wat Jesus hier van sy bediening demonstreer.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Matteus-leesplan


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar