Skip to main content

Die fondament van jou huis is stewig, as jy hierdie woorde van My hoor en dit doen

MATTEUS 7:24-29

24 “Elkeen dan wat hierdie woorde van My hoor en dit doen, sal soos ’n verstandige man wees wat sy huis op rots gebou het.

25 En die reën het geval en die strome het gekom en die winde het gewaai en teen daardie huis 
aangestorm, maar dit het nie ingeval nie, want dit was stewig op rots gevestig.

26 En elkeen wat hierdie woorde van My hoor en dit nie doen nie, sal wees soos ’n dwase man wat sy huis op sand gebou het.

27 En die reën het geval en die strome het gekom en die winde het gewaai en teen daardie huis gewoed, en dit het ingeval, en sy val was groot.”

28 En toe Jesus klaar gepraat het, was die skares stomgeslaan oor sy onderrig,

29 want Hy het hulle onderrig soos een wat gesag het, en nie soos hulle skrifgeleerdes nie.

Teks en konteks

Soos Jesus die dissipels net tevore aangemoedig het met die metafoor van die twee weë/poorte om die pad van die lewe te loop en nie die pad wat na die verderf lei nie (Matt. 7:13-14), sluit Hy hier die Bergrede af met ’n soortgelyke metafoor of gelykenis, die een van die twee bouers. Daarmee beklemtoon Hy die belangrikheid van hoor en doen.

7:24-25 Elkeen wat Jesus se woorde hoor en doen, is soos ‘n verstandige (phronimos) man – ‘n man met insig, wysheid, en onderskeiding – wat daarom sy huis op rots bou. Sy huis word gebou op ‘n plek waar die grootste moontlike beskerming teen reën, oorstromings (flashfloods) en wind bestaan. D.w.s. nie op die sand van droë rivierlope (wadis) nie. Die reën kan dus kom, en die vloede en die winde trouens het gekom, maar sy huis kon stewig staan, omdat die fondament stewig was. Hoor en doen was die motto van sy lewe.

7:26-27 Die dwase (mōros) man – let op weereens dat Jesus dwaasheid kan uitwys! – bou egter sy huis op die sand, presies waar die skielike vloede chaos kan veroorsaak. Die reën het dus geval, die strome het gekom, en die winde het gewaai teen daardie huis. En die huis het ingeval … en sy val was groot. Jesus verwys hier na die oordeelsdag. Die man se luister na die evangelie het hom niks gebaat nie. Hy was sonder fondament.

7:28-29 Die Bergrede word daarmee afgesluit met die verstomming van die skare oor Jesus se onderrig. Hulle het dus ingeluister wat Jesus met die dissipels op die berg gedeel het. En wat hulle beïndruk het, is die gesag waarmee Hy gepraat het.  Hy het nie net as ‘n interpreteerder van vorige woorde van God gepraat nie. Hy het as die Woord van God gepraat.

Boodskap en betekenis

Met die gelykenis van die twee bouers onderstreep Jesus dus die appèl tot gehoorsaamheid aan die dissipels, om nie net te luister na wat Hy gesê het nie, maar te doen wat Hy gesê het.  Dit is iets wat Jesus nog ’n hele paar keer gaan beklemtoon, ook in Matteus waar Hy onder andere sal sê: “Elkeen wat die wil doen van my Vader wat in die hemel is, dié is my broer en my suster en my moeder.”

Dit is daarom ook ‘n gepaste afsluiting van die Bergrede. Jesus wil nie net hoor dat ‘n mens sal luister en beïndruk sal wees deur wat Hy sê nie. Hy wil hê dat ‘n mens die pad van gehoorsaamheid sal kies, om alles wat Hy sê, deel van die praktyk van ‘n mens se lewe te maak. Jou ewige toekoms hang daarvan af.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Matteus-leesplan


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar