Skip to main content

Jesus vertel die gelykenis van die onkruid tussen die koring

Hierdie gelykenis van Jesus oor die onkruid tussen die koring word net deur Matteus vertel, maar dit kan vergelyk word met die gelykenis van die saad wat self groei wat weer net deur Markus vertel word. Matteus fokus dus eerder op Jesus se verklaring van die gemengde werklikheid van die koninkryk waarin koring en onkruid tydelik saam groei. Die klem val dus minder op die groeikrag van die saad en meer op die spanning tussen die kinders van die koninkryk en dié wat aan die Bose behoort totdat God uiteindelik reg laat geskied. Die invloed daarvan word dus selfs binne die institusionele kerk ervaar.

MATTEUS 13:24-30

24 Hy het vir hulle ’n ander gelykenis vertel en gesê: “Die koninkryk van die hemele is soos ’n man wat goeie saad op sy saailand gesaai het.

25 Maar terwyl die mense slaap, het sy vyand gekom en onkruid tussen die koring gesaai en weggegaan.

26 En toe die klein plantjies uitspruit en graan vorm, toe het die onkruid ook verskyn.

27 En die slawe van die eienaar het na hom gekom en vir hom gesê: ‘Meneer, het u nie goeie saad op u saailand gesaai nie? Waar kom die onkruid vandaan?’

28 En hy het vir hulle gesê: ‘’n Vyand het dit gedoen.’ En die slawe sê vir hom: ‘Wil u dan hê dat ons moet teruggaan en dit bymekaarmaak?’

29 Maar hy sê: ‘Nee, sodat julle nie terwyl julle die onkruid bymekaarmaak, die koring daarmee saam uittrek nie.

30 Laat al twee saam groei tot die oes toe, en in die oestyd sal ek vir dié wat oes, sê: Maak eers die onkruid bymekaar en bind dit in bondels om te verbrand, en maak dan die koring in my skuur bymekaar.’”

Teks en konteks

13:24-25 Die koninkryk van die hemele is ook só, sê Jesus, dat daar nie net ’n man is wat goeie saad saai op die land nie. Daar is ook ’n vyand wat onkruid tussen die koring saai. Hierdie onkruid word in Grieks zizanion genoem.

13:26 Die goeie saad spruit uit en vorm koring. Die onkruid doen dieselfde. Maar, hoewel hierdie tipe onkruid ( in Engels darnel, in Afrikaans waarskynlik drabok) baie soos koring gelyk het – totdat die vrug gevorm het – was sy opbrengs giftig.

Die twee tipes saad is dus van meet af aan in konflik met mekaar. Die koring lewer ‘n goeie oes. Die drabok lewer ‘n slegte en giftige oes.

13:27-28a Die slawe van die eienaar van die land kom gaandeweg agter – soos die vrug van die koring en die drabok sigbaar raak – dat alles nie wel is op die land nie. Die onkruid is tussen die koring. En hulle wonder waar dit dan vandaan kom. Die eienaar het dan net goeie saad gesaai? Waarop die eienaar antwoord dat die onkruid kom van ‘n vyand.

13:28b Die problematiek is nou hoe om die koring tussen die onkruid te hanteer. Die slawe vra of hulle moet teruggaan land toe en die onkruid bymekaar moet maak.

13:29-30 Uit vrees dat daar dus van die koring verlore sal gaan, omdat dit só eenders lyk, beveel die eienaar dat albei gelos moet word tot die einde toe.  Met die oestyd sal die onkruid eers uitgehaal en verbrand word.  Dan sal die koring in die skuur bymekaargemaak word.

Die betekenis hiervan sal Jesus verder aan die dissipels verduidelik as hulle alleen terug is in die huis (Matt. 13:36-43). Maar dit is alreeds duidelik dat die goeie saad die mense van die koninkryk is, en die onkruid die mense wat aan die Bose behoort. Die goeie saad is mense wat volgens die wil van God leef. Die onkruid is mense wat volgens die wil van die Bose leef. In Jesus se latere verduideliking brei Hy uit op wat dit alles in die praktyk van die geestelike lewe beteken en verduidelik Hy dat die oes eers aan die einde van die tyd sal plaasvind.

Boodskap en betekenis

Met hierdie gelykenis gee Jesus vir ons ‘n ander perspektief op die uitdagings van die geestelike lewe. Dit is nie net die feit dat die interne druk van sorge, gierigheid en rykdom die groei van die goddelike saad in ons lewe bedreig nie – een van die punte wat die gelykenis van die Saaier met die saad tussen die onkruid onderstreep.

Ons het ook ‘n massiewe uitdaging van mense wat lyk asof hulle die pad saam met ons stap, maar in werklikheid ons vyande is; mense wat oënskynlik die wil van God die Vader doen, maar in werklikheid net skynheilig is. Hulle is eintlik besig om die wil van die Vyand te doen. Dit is mense wat met hulle leringe die impak van die wet van God – om mense tot ‘n sondebesef te begelei –in ander se lewens ontkrag.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Matteus-leesplan


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Onlangse kommentaar