Skip to main content

So moet julle dan vas

MATTEUS 6:16-18

16 “Wanneer julle vas, moenie soos die skynheiliges met lang gesigte wees nie, want hulle vertrek hulle gesigte sodat mense kan sien hulle vas. Amen, Ek sê vir julle: Hulle het hulle beloning ontvang.

17 Maar wanneer jy vas, salf jou kop en was jou gesig

18 sodat die mense nie sien dat jy vas nie, maar jou Vader, wat jy nie kan sien nie; en jou Vader wat sien wat in die geheim is, sal jou beloon.”

Teks en konteks

6:16 Die derde element van ‘n lewe in die geregtigheid van God, kom nou ter sprake. Die eerste twee was liefdadigheid en gebed. Hier word nou oor vas gepraat. Ook in hierdie geloofsgewoonte is skynheiligheid ‘n probleem. Weereens moet die dissipels waak teen skynheiligheid, en nie met ‘n lang gesig vas, sodat hulle bewonder kan word vir hoeveel hulle opoffer in hul diens aan God nie. Dan het hulle eintlik hulle beloning weg, naamlik bewondering.

6:17 Maar wanneer jy vas, salf jou kop en was jou gesig. Moenie aandag trek met jou vas nie. Versorg jou voorkoms – hare is versorg deur olie – dat niemand kan sien dat jy vas nie.

6:18 Net soos dit vir liefdadigheid en gebed geld, is dit nie die mense wat moet sien dat jy vas nie, maar God! Hy, die Alwetende, sien wat in die geheim is, en beloon in die openbaar.

Boodskap en betekenis

Die Fariseërs het twee keer ‘n week gevas (Luk. 18:12). Die uiterlike vertoon was vir hulle belangrik. En hulle het seker gemaak dat ander weet daarvan deur as op hulle kop te gooi en hulle gesigte met stof te besmeer. Jesus beskou dit as skynheiligheid.

Dit beteken egter nie dat ‘n mens nie moet vas nie. Jesus bevestig later dat vas deel van die geloofsgewoontes ná sy hemelvaart sal wees (Matt. 9:15), soos die vroeë kerk inderdaad nagevolg het. Gesamentlike vas was gebruiklik by groot besluite (Hand. 13:2-3) sowel as by die verkiesing van leiers (Hand. 14:23).

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Matteus-leesplan


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar