Skip to main content

Jesus word diep geraak deur die skares wat soos skape sonder ‘n herder is

MATTEUS 9:35-38

35 Jesus het al die stede en dorpe besoek, en Hy het in hulle sinagoges onderrig en die evangelie van die koninkryk verkondig en elke siekte en elke kwaal genees.

36 Toe Hy die skares sien, was Hy diep geraak oor hulle omdat hulle bekommerd en hulpeloos was soos skape wat nie ’n herder het nie.

37 Hy sê toe vir sy dissipels: “Die oes is groot, maar die arbeiders min.

38 Vra dan die Eienaar van die oes om arbeiders vir sy oes uit te stuur.”

Teks en konteks

9:35 Matteus som die betekenis en impak van Jesus se bediening op voor hy die tweede hoofdeel van sy Evangelie sal afsluit met die uitsendingsrede (Matt. 10). Jesus het nie ‘n stad of dorp uitgelaat in sy missie om in hulle sinagoges onderrig te gee, die evangelie van die koninkryk te verkondig en die mense van elke siekte en kwaal te genees nie.

9:36 Matteus brei ook uit oor sy motivering. Hy het deernis gehad met die skare Jode wat aan die een kant bekommerd en hulpeloos was, en aan die ander kant soos skape was wat nie ‘n herder gehad het nie. Hy wou iets doen aan hulle nood in die lig van beide hulle onkunde en die gebrek aan leierskap.

9:37-28 Dit laat Hom ook fokus op die voorsiening van ‘n groter groep leiers wat die oes kan gaan insamel. In die eerste plek roep Hy sy dissipels op om vir meer arbeiders in die oes te bid; om tot die Eienaar van die oes te bid dat Hy meer mense vir sy oes sal uitstuur. En in die tweede plek sal Hy hierna die dissipels self uitstuur, soos Matteus 10 vir ons sal vertel.

Boodskap en betekenis

Die gedeelte wys die hart van Jesus wat deur ’n innige jammerte vir verwarde en verstrooide mense gedryf word.  Daarom roep Hy sy dissipels op om te bid vir meer arbeiders om die oes wat God gereedmaak en wat bestaan uit sulke mense, te gaan insamel.  En in die volgende hoofstuk gaan Hy hulle inderdaad uitstuur om presies dit te gaan doen.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Matteus-leesplan


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar