Skip to main content

Jesus kies die weg van diens, nie publieke populariteit nie

Ons vind hierdie gedeelte net in Matteus se Evangelie. Dit vorm ‘n belangrike skakel tussen die Fariseërs se besluit om Jesus uit die weg te ruim (Matt 12:14) en sy voortgaande bediening onder die skare as die Kneg van die Here.

MATTEUS 12:15-21

15 Maar toe Jesus dit uitvind, het Hy daarvandaan weggegaan. Groot skares het Hom gevolg, en Hy het hulle almal gesond gemaak,

16 en Hy het hulle opdrag gegee om ander nie van Hom te vertel nie,

17 sodat vervul is wat deur Jesaja die profeet gesê is:

18 “Kyk, my kneg wat Ek gekies het,

my geliefde oor wie my hart bly is;

Ek sal my Gees op Hom plaas,

en Hy sal die reg vir die nasies aankondig.

19 Hy sal nie argumenteer en uitroep nie,

en niemand sal sy stem

in die strate hoor nie.

20 ’n Geknakte riet sal Hy nie breek

en ’n rokende lamppit

sal Hy nie uitdoof nie,

totdat Hy geregtigheid laat seëvier.

21 En die nasies sal hul hoop

op sy Naam plaas.” (Jes. 42:1-4)

Teks en konteks

12:15 Toe Jesus uitvind dat die Fariseërs ná sy genesing van die man met ‘n verskrompelde hand uitgegaan het om sy dood te beplan, het Hy self weggegaan. Hy sou die tyd van sy kruisdood bepaal, nie die Fariseërs nie. Groot skares het Hom egter bly volg en Hy het hulle behoefte aan genesing raakgesien en daaraan voldoen.

12:16 Jesus het hulle opdrag gegee om nie vir ander van Hom te vertel nie, duidelik gemik op die bedreiging van die Fariseërs. Die tyd vir verkondiging sou kom, trouens, Matteus sal met die Groot Opdrag afsluit dat alle nasies die boodskap van God se koninkryk moet hoor. Maar, Hy soek nie openbare vertoon, politieke mobilisering of selfbevordering nie.

12:17 Matteus verbind hierdie opdrag aan die woorde van Jesaja, die profeet, in Jesaja 42:1-4. Daarmee identifiseer Hy Jesus as die Lydende Messias. Sy doel is die herstel van mense wat gebroke en weerloos is.

12:18-21 Dit is belangrik dat hierdie uitspraak binne die konteks van die baie kragte en genesings wat Jesus verrig, gemaak word. Die vestiging van geregtigheid op aarde is die eintlike oorhoofse passie van Jesus se bediening soos die Bergrede reeds duidelik gemaak het. Hierdie geregtigheid word daarby nie met ‘n getwis en geskreeu en talle groot toesprake in die strate gevestig nie, maar deur aandag te gee daaraan dat ’n geknakte riet nie afgebreek word nie, dat ’n rokende lamppit  nie uitgedoof word nie, totdat die reg regdeur die wêreld vir alle nasies ’n werklikheid word (vgl. Matt. 11:28-30 wat oor die rus wat Jesus gee, uitwei).

Dít is die Messias waarop die nasies met reg hulle hoop kan vestig, ook vandag.

Boodskap en betekenis

Jesus is nie ’n populêre politieke Messias nie, maar een wat dien, wat nie probeer naam maak nie, maar fokus op die reg wat vir die geknakte riete en die rokende lamppitte moet seëvier. Sy effektiwiteit lê in die paradoks van lyding en opoffering wat die reg laat seëvier. Jesus se effektiwiteit lê dus nie in sy publieke populariteit nie, maar in die diens wat Hy aan mense wat ly lewer. Dit is hoe Hy sy roeping as Kneg van die Here vervul. Iets wat ons in terme van ons eie bediening ter harte moet neem.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Matteus-leesplan


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Onlangse kommentaar