Skip to main content

Jesus wek die dogtertjie van Jaïrus op

MATTEUS 9:23-26

23 Toe Jesus by die huis van die leier kom en die fluitspelers en die skare sien wat luidrugtig tekere gaan,

24 het Hy gesê: “Gaan weg, want die dogtertjie het nie gesterf nie, maar slaap.” Maar hulle het Hom uitgelag.

25 Toe die skare uitgestuur is, het Jesus ingegaan en haar hand geneem, en die dogtertjie het opgestaan.

26 En hierdie nuus het in daardie hele gebied versprei.

Teks en konteks

9:23 Matteus rond die verhaal van die leier af. Let op dat die man as ‘n “leier” (archōn) geteken word. Die Griekse woord kan ook met “owerste” vertaal word wat eerder op ‘n regeringshoof of regter dui as op ‘n hoof van die sinagoge (archisynagōgos soos in Luk. 49 en Mrk. 5:22). Jesus kom by sy huis aan en sien die skare wat daar vergader het. Daar is fluitspelers – waarskynlik professionele roubeklaers – en almal het luidrugtig tekere gegaan.

9:24 Jesus stuur hulle egter weg, omdat in sy oë die dogtertjie nie gesterf het nie, maar net besig was om te slaap. Dié opmerking van Hom word egter nie goed ontvang nie. Hulle het Hom uitgelag.

9:25-26 Daar was waarskynlik ook van die skare mense binne die leier se huis. Jesus het hulle ook uitgestuur, in die kamer ingegaan waar die dogtertjie gelê het, haar hand geneem, en die dogtertjie laat opstaan. Die nuus van hierdie wonderwerk het in daardie hele gebied versprei. Dit gee ‘n mens nog meer rede om te dink dat dit ‘n ander wonderwerk van Jesus is as die opwekking van die dogtertjie van Jaïrus, want daar het Hy opdrag gegee dat die nuus stil gehou word.

Boodskap en betekenis

Jesus verspil nie tyd met die skare en die fluitspelers nie. Hy gaan ook nie in ‘n debat met dié wat Hom uitlag nie. Hy fokus op die behoefte van die pa en sy dogtertjie. Hy wek haar op uit die dood as ‘n teken van die mag wat Hy het oor die dood, maar ook as ‘n voorskou van wat met sy eie opstanding uit dood sal gebeur. Jesus sal ook opgewek word uit die dood (Matt. 28:6-7) waarna Hy dié voorreg sal gee aan elkeen wat in Hom glo (1 Tes 4:16).

God beskou gelowiges dus nie as “dooies” nie, maar as “lewendes”. Dit is duidelik uit hierdie gedeelte. Markus sal later ‘n gesprek tussen Jesus en die Sadduseërs vertel waarin Jesus dit só stel: “26En wat die dode betref, dat hulle opstaan—het julle nie gelees in die boek van Moses, in die gedeelte oor die doringbos, hoe God vir hom gesê het: Ek is die God van Abraham en die God van Isak en die God van Jakob nie? 27God is nie ’n God van dooies nie, maar ’n God van lewendes. Julle dwaal dus grootliks.” (Mrk 12:26, 27)

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Matteus-leesplan


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar