Skip to main content

Geseënd is dié wat weet hoe nodig hulle God het om hulle karakter te vorm

Jesus openbaar sy koninkryk deur woordbediening en wonderwerke

1ste diskoers: Geregtigheid van die koninkryk (hfst. 5–7)

Hierdie toespraak van Jesus, die sogenaamde Bergrede (Matteus 5-7), is die mees indringende verkondiging van wat die koninkryk van God behels. Ten diepste handel die koninkryk oor die vestiging van God se geregtigheid in elke aspek van die lewe – godsdienstig, sosiaal, persoonlik.  Dit kan as die etiek van die koninkryk beskryf word wat aansluit by die boodskap van die OT, maar in talle opsigte dieper en verder as dit gaan.  Die sentrale plek wat die “Ons Vader” gebed in die Bergrede neem, val ook op, waarin die gebed vir die koninkryk ook sentraal staan (Matt. 6:9-13).

Die woord geregtigheid word eksplisiet op vyf plekke genoem (Matt. 5:6,10,20; 6:1,33), maar lê vir my onderliggend aan die meeste van Jesus se uitsprake in dié drie hoofstukke:

  • die fokus op “goeie werke” waardeur God sigbaar word (Matt. 5:16);
  • die sentrale toepassing en vervulling van die “wet en profete” deur Jesus (Matt. 5:17-48; ook Matt. 7:12);
  • die drie kern godsdienstige handelinge: “liefdadigheid” (Matt. 6:2), “gebed” (Matt. 6:5-6) en “vas” (Matt. 6:16-18);
  • die keuse vir eksklusiewe “lojaliteit” (Matt. 6:24);
  • die keuse vir ’n regverdige “oordeel” (Matt. 7:1-5);
  • die belofte van God wat “goeie dinge” gee (Matt. 7:11);
  • die fokus op en beoordeling van “goeie vrugte” (Matt. 7:15-20);
  • die fokus daarop om “God se wil” te doen (Matt. 7:21-23).

In die lig hiervan kan ’n mens die drie hoofstukke van die Bergrede in Matteus met drie titels beskrywe:

  1. Die stryd vir geregtigheid – Matteus 5
  2. Die lewe van geregtigheid – Matteus 6
  3. Die vrug van geregtigheid – Matteus 7

Matteus 5 beskryf die stryd vir geregtigheid aan die hand van tien aspekte:

  1. Geseënd is dié wat weet hoe nodig hulle God het om hulle karakter te vorm – Matt. 5:1-12
  2. Julle is die sout vir die aarde – Matt. 5:13
  3. Julle is die lig vir die wêreld – Matt. 5:14-16
  4. Jesus verbreek nie die wet nie, maar vervul dit – Matt. 5:17-20
  5. Maak vrede as iemand iets teen jou het: jy mag nie moord pleeg nie – Matt. 5:21-26
  6. As jy kyk na ‘n vrou om haar te begeer, het jy reeds in jou hart egbreuk gepleeg – Matt. 5:27-30
  7. Elkeen wat skei, behalwe oor ontrou, maak dat die ander een egbreuk pleeg – Matt. 5:31-32
  8. Julle “ja” moet “ja” bly en julle “nee”, “nee” – Matt. 5:33-37
  9. Moet jou nie teen ‘n slegte mens verset nie – Matt. 5:38-42
  10. Julle moet julle vyande liefhê en bid vir dié wat julle vervolg – Matt. 5:43-48

MATTEUS 5:1-12

1 En toe Jesus die skares sien, het Hy teen die berg opgegaan, en toe Hy gaan sit, het sy dissipels nadergekom na Hom toe;

2 en Hy het begin praat en hulle onderrig met die volgende woorde:

3 “Geseënd is dié wat weet hoe nodig hulle God het, want die koninkryk van die hemele is hulle s’n.

4 Geseënd is dié wat treur, want hulle sal vertroos word.

5 Geseënd is die sagmoediges, want hulle sal die aarde ontvang.

6 Geseënd is dié wat honger en dors na die geregtigheid, want hulle sal versadig word.

7 Geseënd is die barmhartiges, want aan hulle sal barmhartigheid bewys word.

8 Geseënd is die reines van hart, want hulle sal God sien.

9 Geseënd is die vredemakers, want hulle sal kinders van God genoem word.

10 Geseënd is hulle wat vervolg word ter wille van die geregtigheid, want die koninkryk van die hemele is hulle s’n.

11 Geseënd is julle wanneer hulle julle beledig en vervolg, en valslik alles wat sleg is van julle sê ter wille van My.

12 Wees bly en verheug, want julle loon is groot in die hemel, want so het hulle die profete voor julle vervolg.”

Teks en konteks

5:1 Toe Jesus die skares sien wat na Hom kom luister het, besluit Hy om eers sy dissipels te onderrig en gaan naby die See van Galilea teen ‘n berg op, waarskynlik aan die westekant waar daar hoërliggende gedeeltes is. Hy het êrens aan die bokant gaan sit met sy dissipels wat nadergekom het. Van die skares het Hom waarskynlik gevolg, op ‘n afstand, want sommige van hulle het ook geluister, soos ons later lees (Matt. 7:28-29). Die Bergrede was egter duidelik in die eerste plek op die dissipels gerig.

5:2 Jesus het weggeval met sy onderrig. Hy sou met die afgaan van die berg af ook met die skares oor van dieselfde dinge gesels (Luk. 6:17-49), soos Moses dit ook eenmaal gedoen het toe hy die wet en voorskrifte van die Here op die berg Sinai ontvang het (Eks 19-24).

5:3-11 Dit val op dat Jesus nie wegskram van die moeilike vrae van die lewe en die noodsaak vir die stryd vir geregtigheid nie, maar sy mense aanmoedig om midde in die swaarkry, vas te staan en bly te wees oor die beloning wat vir hulle wag. Trouens, dit is dié mense, dié wat stry vir geregtigheid, wat geseëndes is. Hulle sal vir hulle swaarkry beloon word.

In nege saligsprekinge, elkeen aangedui met die woord makarioi (geseënd), spel Jesus die kenmerke van die karakter van sy geseëndes uit. God vestig sy geregtigheid:

  1. deur mense wat weet hoe nodig hulle God het (die armes van gees, nie net persoonlik nie, maar ook bewus van die nood van die volk), sodat Hy vir hulle kan seën met die koms van die koninkryk van die hemele wat alles sal herstel;
  2. deur mense wat treur oor alles wat nie reg is nie (oor alles wat verkeerd is, hulle eie en die volk se sonde, sowel as die nood in die wêreld), sodat Hy hulle kan vertroos deur dinge reg te stel;
  3. deur mense wat bereid is om sagmoedig te lewe, mense wat nie hulle gewig rondgooi nie, sodat Hy vir hulle die (nuwe) aarde kan gee (vgl. Ps. 37:11: “Die ootmoediges daarenteen sal die aarde besit en hulle verlustig oor groot vrede.” – vgl. ook Openbaring 21 se nuwe hemel en aarde);
  4. deur mense wat honger en dors na die geregtigheid en uiteraard nie self onreg sal pleeg nie, sodat Hy hulle honger en dors daarna kan stil (vgl. Ps. 37:12-17 wat praat van ‘n tyd waarin die goddelose se swaarde hulle eie harte sal tref en hulle boë stukkend gebreek sal word);
  5. deur mense wat bereid is om barmhartig te wees, soos God dit inderdaad is, want aan hulle sal Hy barmhartigheid bewys en die onreg teen hulle nie ongestraf laat bly nie (vgl. Eks. 34:6-7);
  6. deur mense wat rein van hart is, mense wat niks tussen hulle en God laat kom nie, sodat hulle God kan sien en met Hom in ’n intieme verhouding kan leef (vgl. Ps. 24:3-4);
  7. deur mense wat bereid is om vredemakers te wees (soos Jesus – vgl. Kol. 1:20), sodat God Homself só deur sy kinders aan die wêreld bekend kan stel;
  8. deur mense wat bereid is om vervolg te word ter wille van geregtigheid, want dít is hoe God sy koninkryk vestig en ons deel kry daaraan;
  9. deur mense wat bereid is dat mense hulle om Sy ontwil beledig en vervolg en vals beskuldig van alles wat sleg is, want hulle swaarkry sal beloon word.

Dít is hoe God sy koninkryk vestig, nie deur die misbruik van mag nie, nie deur vernietiging en geweld nie, maar deur die sagte oog, die omhelsende arm, die vredemakende hand van Sy mense.

5:12 Jesus draai dus nie doekies om oor hoe moeilik dit is om die regte dinge te doen, om sagmoedig te wees, om vrede te maak en vervolging te verduur, vir vyande te bid, en so meer nie.

Maar, sê Hy, as jy dit aanvaar ten spyte van wat dit jou kan kos, as jy begin deur self die regte dinge te doen, dán ervaar jy dat jy geseënd is, dat jy begenadig word, dat jy God begin raaksien, dat jy getroos word, dat jy versadig word, dat aan jou barmhartigheid bewys word, dat die koninkryk van God ook aan jou behoort.  Dán is jy bly en verheug, want jou loon is groot in die hemel!

Dít is ons erfenis.  Daarop kan ons staatmaak.

Boodskap en betekenis

Die betekenis van hierdie toespraak kan kwalik oorskat word. Die impak hiervan is te verreikend. Dat Jesus ‘n meer afgeleë en afgesonderde plek kies, is ook betekenisvol. Dit is in ‘n meer intieme omgewing waar daar stilte en ontvanklikheid is, waar Jesus se woorde die diepste ingang sal vind.

So is dit ook die geval met die grond in die gelykenis van die Saaier waar die saad op die vrugbare grond val en vrug dra in die gehoorsame gelowiges se lewe. Hoekom? Omdat hulle gehoor en verstaan het (Matt. 13:23). Markus sê dat hulle gehoor en aanvaar het (Mrk. 4:20). Lukas gee die reaksie die volledigste weer, omdat hulle: “die woord met ’n goeie en opregte hart hoor en dit bewaar en deur volharding vrug dra.” (Luk. 8:15).

Dit is iets wat ons gerus in ag kan neem in ons stiltetyd – stilte is eintlik noodsaaklik – sowel as om ‘n retraite van tyd tot tyd te hou waar ons gefokusde aandag aan God se Woord kan gee – afsondering is ook noodsaaklik.

Ek wil jou uitnooi om Eugene Peterson se weergawe van die saligsprekinge in The Message te lees en vir jouself toe te eien:

  1. 3  “You’re blessed when you’re at the end of your rope. With less of you there is more of God and his rule.
  2. 4  “You’re blessed when you feel you’ve lost what is most dear to you. Only then can you be embraced by the One most dear to you.
  3. 5  “You’re blessed when you’re content with just who you are—no more, no less. That’s the moment you find yourselves proud owners of everything that can’t be bought.
  4. 6  “You’re blessed when you’ve worked up a good appetite for God. He’s food and drink in the best meal you’ll ever eat.
  5. 7  “You’re blessed when you care. At the moment of being ‘care-full,’ you find yourselves cared for.
  6. 8  “You’re blessed when you get your inside world—your mind and heart—put right. Then you can see God in the outside world.
  7. 9  “You’re blessed when you can show people how to cooperate instead of compete or fight. That’s when you discover who you really are, and your place in God’s family.
  8. 10  “You’re blessed when your commitment to God provokes persecution. The persecution drives you even deeper into God’s kingdom.
  9. 11–12  “Not only that—count yourselves blessed every time people put you down or throw you out or speak lies about you to discredit me. What it means is that the truth is too close for comfort and they are uncomfortable. You can be glad when that happens—give a cheer, even!—for though they don’t like it, I do! And all heaven applauds. And know that you are in good company. My prophets and witnesses have always gotten into this kind of trouble.
View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Matteus-leesplan


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Comments

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar