Skip to main content

Jesus waarsku teen die ewige sonde van lastering teen die Heilige Gees

Die drie Sinoptiese Evangelies behandel dieselfde verhaal, maar met verskillende aksente. Markus (3:20-30) plaas die fokus op die konflik rondom Jesus se bediening in Kapernaum en verbind die beskuldiging dat Hy deur Beëlsebul werk direk aan sy waarskuwing oor die lastering van die Heilige Gees. Lukas (11:14-23) beklemtoon die betekenis van Jesus se duiweluitdrywing as bewys dat die koninkryk van God reeds aangebreek het en ontwikkel veral die beeld van Jesus as die “sterker man” wat Satan se mag verbreek. Matteus neem elemente uit albei hierdie tradisies op, maar plaas die verhaal binne sy groter tema van Jesus as die Messias en Seun van Dawid. Hy wys dat Jesus se uitdrywing van demone nie net ‘n wonderwerk is nie, maar ‘n beslissende openbaring dat God se koninkryk in Hom aangebreek het en dat die verwerping daarvan verreikende geestelike gevolge inhou.

MATTEUS 12:22-32

22 Toe is ’n demoonbesetene na Hom toe gebring, wat blind en doofstom was, en Hy het hom gesond gemaak sodat die doofstomme kon praat en sien.

23 Die skares was almal verstom en het gesê: “Is Hy nie miskien die Seun van Dawid nie?”

24 Maar toe die Fariseërs dit hoor, het hulle gesê: “Hy dryf demone alleenlik uit deur Beëlsebul, die aanvoerder van die demone.”

25 Maar omdat Hy hulle gedagtes geken het, het Hy vir hulle gesê: “Elke koninkryk wat teen homself verdeeld is, word woes gelaat, en elke stad of familie wat teen homself verdeeld is, sal nie staande bly nie.

26 En as die Satan die Satan uitdryf, is hy teen homself verdeeld; hoe sal sy koninkryk dan staande bly?

27 En as Ek deur Beëlsebul die demone uitdryf, deur wie dryf julle volgelinge hulle uit? Daarom sal hulle julle regters wees.

28 Maar as Ek deur die Gees van God die demone uitdryf, dan het die koninkryk van God by julle gekom.

29 Of hoe kan iemand in die huis van ’n sterk man ingaan en sy besittings steel as hy nie eers die sterk man vasbind nie? Dan kan hy sy huis plunder.

30 Die een wat nie saam met My is nie, is teen My, en die een wat nie saam met My byeenbring nie, jaag uitmekaar.

31 Daarom sê Ek vir julle, elke sonde en lastering sal mense vergewe word, maar die lastering teen die Gees sal nie vergewe word nie.

32 En wie ook al iets teen die Seun van die mens sê, sal vergewe word. Maar wie ook al iets teen die Heilige Gees sê, sal nie vergewe word nie, nie in hierdie bedeling nie en nie in die een wat kom nie.”

Teks en konteks

Onthou dat Jesus in die vorige perikoop in Matteus uitsprake gemaak het oor sy deernis met geknakte riete en rokende lamppitte; dat sy oorhoofse passie is om regdeur die wêreld vir alle nasies die reg te herstel (vgl. Matt. 12:15-21). En dat een van die maniere waarop Hy dit doen, is deur rus te bied vir mense wat in sy juk trek, sy lering aanvaar, in gelid met Hom lewe (vgl. Matt. 11:28-30).

12:22 ‘n Demoonbesetene word dan na Jesus toe gebring. Die demoon het hom blind en doofstom gemaak. Jesus genees die man sodat hy weer kon praat en sien.

12:23 Dit verstom die skare en laat hulle die logiese gevolgtrekking maak dat Hy moontlik die Seun van Dawid is, die langverwagte Messias.

12:24 Die Fariseërs moet dus die genesing diskrediteer. Hulle kan nie die wonderwerk ontken nie. Hulle diskrediteer Jesus se werk deur Hom met die aanvoerder van die demone te verbind, Beëlsebul, een van die name van Satan. Beëlsebul was ’n naam wat aanvanklik aan ’n Filistynse god, Baälsebul, behoort het (2 Kon. 2-16).  Mettertyd was dit ’n naam wat ook vir Satan gebruik is, met die betekenis “’prins van die demone”.

12:25-27 Jesus – wat hulle gedagtes ken en daarmee eintlik sy goddelikheid aan hulle bewys – wys die valsheid van hulle argumentasie uit.  ’n Koninkryk, dorp of huis wat teen homself verdeeld is, kan nie staande bly nie. Die praktyk van demoonuitdrywing was in daardie tyd ook onder die Jode bekend (vgl. Hand. 19:13) wat daarom hulle besware teen Jesus eintlik belaglik maak. Hulle kinders sou hulle daaroor teregwys.

12:28-29 Jesus openbaar die bron van sy demoonuitdrywing as die Gees van God.  Dit dra die boodskap aan hulle oor dat die koninkryk van God in Jesus en in die wonders hulle nou bereik het. Dit impliseer dat die “sterk man” waarvan hulle praat, die Satan, gebind is en dat mense van sy mag bevry kan word.

12:30 Daarmee gaan Jesus hulle skerp teë en ontbloot hulle teëstand as ’n verstrooiing van hulle volgelinge wat tot hulle ewige skade sal dien. Nie net ’n verstrooiing nie, hulle openbaar ’n absolute weiering om die boodskap van die koninkryk te aanvaar.

12:31-32 Daardeur maak hulle hulle boonop skuldig aan die sonde en lastering teen die Heilige Gees. Hierdie sonde lê in ’n absolute verwerping van God se genade in Jesus. Hulle weier eintlik om in Jesus te glo. Dit is ‘n sonde wat hulle van sy genade uitsluit, nou en in die bedeling wat kom.

Boodskap en betekenis

Die “onvergeefbare sonde” het direk te make met die Fariseërs wat ’n genesingswonder sien en dan weier om die krediet daarvoor aan die werk van die Gees in Jesus toe te skryf, selfs al wys Hy vir hulle die absurditeit van hulle argumente uit. Dit gaan dus nie om ’n misverstand van wie Jesus is en wat Hy doen nie, maar die direkte teenstand teen die koninkryk wat Hy kom vestig en die weiering om te aanvaar dat dit van die Gees van God, van God self af kom.

Donald Hagner (Word) sê dit so mooi: “The only unforgivable sin is that of deliberately denying God in a fundamental way, one which goes against plain and obvious evidence. Such hardheartedness is the result of one’s own deliberate insensitivity and cuts one off from forgiveness. However, any person who is genuinely worried about having committed the unforgivable sin against God, by virtue of this concern, can hardly be guilty of such blasphemy or denial.”

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Matteus-leesplan


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Comments

Maak 'n opmerking

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Onlangse kommentaar