Skip to main content

Jesus vertel die gelykenis van die saaier

Derde diskoers: Gelykenisse van die koninkryk (hfst. 13)

Matteus 13 bevat die mees uitgebreide versameling gelykenisse van Jesus in die Sinoptiese Evangelies. Al drie Evangelies begin met die gelykenis van die Saaier, die verklaring daarvan, en Jesus se verduideliking waarom Hy in gelykenisse praat. Die klem val deurgaans op die gemengde reaksie op die boodskap van die koninkryk en op die onderskeid tussen dié wat hoor en verstaan en dié wat hoor, maar nie luister nie. Markus beklemtoon in sy weergawe veral die geheim van die koninkryk wat aan die dissipels gegee word, en voeg een unieke gelykenis by: die saad wat vanself groei. Lukas fokus ook op die ontvangs van die Woord, die noodsaak van volharding en die vrug wat uit gehoorsame luister voortkom. Matteus neem hierdie temas op, maar ontwikkel dit veel verder in hierdie derde diskoers oor die koninkryk.

Waar Markus vier gelykenisse van die koninkryk bevat en Lukas slegs enkele daarvan verspreid deur sy Evangelie weergee, rangskik Matteus hierdie agt gelykenisse in ‘n doelbewuste eenheid. Hy beklemtoon die onderskeid tussen die skares en die dissipels, tussen dié wat die geheime van die koninkryk ontvang en dié vir wie dit verborge bly. Daarby bevat Matteus verskeie gelykenisse wat uniek aan sy Evangelie is, soos die onkruid tussen die koring, die skat in die saailand, die kosbare pêrel en die treknet. Hierdie gelykenisse ontwikkel die sentrale tema verder dat die koninkryk van die hemele reeds teenwoordig is, maar in ‘n wêreld funksioneer waar gehoorsames en ongehoorsames, geloof en ongeloof, tydelik langs mekaar bestaan totdat God se finale oordeel aanbreek.

Matteus 13 moet daarom nie bloot as ‘n versameling losstaande gelykenisse gelees word nie, maar as Jesus se onderrig oor die aard, groei, waarde, teenstand en uiteindelike oorwinning van die koninkryk van die hemele. Deur die gelykenisse lei Hy sy dissipels in die geheime van die koninkryk in, terwyl dieselfde gelykenisse die geestelike blindheid van dié wat weier om te luister, ontbloot. Daarmee vorm hierdie hoofstuk die teologiese hart van Jesus se bediening in Galilea en ‘n sleutel tot die verstaan van die res van die Evangelie.

Dit is ook belangrik om raak te sien dat almal uitgenooi word om te luister. Dit is hoe Jesus werk. Dit is hoe God werk. Die skares is egter soos drie tipes onvrugbare grond waarop sy woorde soos saad val. Sy woorde vind nie ingang by hulle sodat hulle vrug dra nie. Sy volgelinge is egter soos goeie grond wat inderdaad luister en vrug dra.

Let ook op dat Jesus in die eerste helfte van die hoofstuk, vers 1-36, meesal met die skare langs die see op die strand besig (vgl. Matt. 13:2, 34).  Soms het Hy, waarskynlik terwyl die skare nog daar was, net met die dissipels gepraat, toe hulle nader gekom het aan Hom, om sy dieper verklaring te hoor (Matt. 13:10-23).  Maar in die breë is Hy met die skare besig.

In totaal het hy dus vier gelykenisse hier met die skare gedeel sonder verdere verduidelikings aan hulle – die gelykenis van die grond, die onkruid tussen die koring, die mosterdsaad en die suurdeeg.  “Sonder gelykenisse het Hy hulle niks vertel nie,” sê Matteus, sodat die Skrif vervul sou word uit Ps. 78:2, hoewel die gelykenisse aan die skare op ’n negatiewe aanwending van die Psalm dui. Dit geld ook die uitspraak op grond van Jesaja 6 waar Hy sy strategie verduidelik: “vir hulle is dit nie gegee nie… omdat hulle kyk, maar nie sien nie, en hoor, maar nie luister en verstaan nie.” (Matt. 13:11, 13).

In die res van die hoofstuk, vers 36-53, is Jesus egter net met die dissipels binne die huis besig, nadat die skare weggestuur is (Matt. 13:36).  Hulle is die vrugbare grond. Hy verklaar daarom die gelykenis van die onkruid tussen die koring om hulle te bemagtig en gebruik nog vier gelykenisse – die gelykenis van die skat, die pêrel, die treknet en die skrifkenner met nuwe en ou skatte – om hulle die weg van vrugbare gehoorsaamheid aan te dui.  Die laaste gelykenis kan ook net ’n beskrywende opmerking wees, maar het met die tema van die koninkryk te make en word dus as gelykenis geïnterpreteer. Daarmee bemagtig Jesus hulle om die woord van die Here daarin te hoor en daarop in gehoorsaamheid te reageer.

Hierdie gelykenis kom in al drie Sinoptiese Evangelies voor en vorm die vertrekpunt vir Jesus se onderrig oor die koninkryk (vgl. Mrk. 4:1-9; Luk. 8:4-8). In al drie Evangelies gebruik Jesus die beeld van ‘n saaier om die verskillende reaksies op die Woord van God te verduidelik en om die belangrikheid van vrugdraende geloof te beklemtoon. In Matteus staan die gelykenis aan die begin van sy groot versameling koninkryksgelykenisse en dien dit as ‘n inleiding tot alles wat volg. Dit berei die leser voor op die uiteenlopende maniere waarop mense op die boodskap van die koninkryk reageer en beklemtoon dat die toestand van die hart bepalend is vir die ontvangs van die Woord. Daarmee funksioneer die gelykenis nie alleen as onderrig oor dissipelskap nie, maar ook as ‘n sleutel tot die verstaan van die daaropvolgende gelykenisse.

MATTEUS 13:1-9

1 Op daardie dag, nadat Jesus uit die huis uitgegaan het, het Hy by die see gaan sit.

2 Groot skares het by Hom bymekaargekom sodat Hy in die skuit ingeklim en gaan sit het, en die hele skare het op die strand gestaan.

3 En Hy het vir hulle baie dinge in gelykenisse vertel en gesê: “Luister, ’n saaier het uitgegaan om te saai.

4 En terwyl hy saai, het sommige saad op die pad geval, en die voëls het gekom en dit opgevreet.

5 En ander het op rotsagtige grond geval waar dit nie baie grond gehad het nie, en dit het dadelik opgekom omdat die grond nie diep was nie.

6 Maar toe die son opkom, het dit verskroei, en omdat dit nie ’n diep wortel gehad het nie, het dit verdroog.

7 Ander het tussen die doringplante geval, en die doringplante het opgekom en dit versmoor.

8 Maar ander het op goeie grond geval en ’n oes gelewer, sommige honderd-, ander sestig-, en ander dertigvoudig.

9 Wie ore het, moet luister.”

Teks en konteks

13:1-2 Jesus lewer dié gelykenis langs die See van Galilea vanuit ’n skuit op die see aan ’n skare wat op die strand bly staan het.

13:3 Let weereens op dat Jesus begin met die oproep om te luister. ‘n Saaier het uitgegaan om te saai.

13:4 Een deel van die saad het langs die pad geval waar die voëls dit opgevreet het.

13:5-6 ‘n Ander deel van die saad het op rotsagtige grond geval waar dit nie diep kon wortel skiet weens die vlak lagie grond nie. Die son het dit verskroei en laat verdroog.

13:7 ‘n Ander deel van die saad het tussen die doringplante geval waar dit versmoor is. Interessant is dat Jesus dit hier beskryf as dat beide die doringplante en die saad wat Hy gesaai het opgekom en gegroei het, maar dat die doringplante eenvoudig die groei van sy saad versmoor het in die lewe van sulke mense.

13:8 Die ander saad het in goeie grond geval en ‘n goeie oes gelewer. Op drie maniere en in ‘n ander volgorde as in Markus se verhaal: honderdvoudig, sestigvoudig, en dertigvoudig.

13:9 Jesus sal later vir sy dissipels die betekenis van die gelykenis verduidelik, maar hier herhaal Hy wat Hy aan die begin gesê het, maar gee ‘n bietjie meer insig oor wie uiteindelik sal luister, dit is dié wat ore het om te luister. Dit is dus aan hulle – sy dissipels – wat Hy sy appèl rig om te luister na wat hulle hoor.

Boodskap en betekenis

Dit is ‘n gelykenis wat baie fundamenteel is vir ons begrip van en belewenis van die evangelie van Jesus Christus. Onthou dat sonder die saad wat gesaai word – Jesus se woorde – daar nooit eers ‘n plant kan wees nie. Die begin van enige geestelike groei lê in God se werk in ons lewe.

Maar, net só, kan daar nie volhoubare groei in ‘n dissipel se lewe wees sonder dat hy of sy doen wat God sê nie. Dit is waar die onderskeid ook kom. Sommige begin nooit regtig vir Jesus volg nie, al sien ‘n mens soms vir ‘n tyd ‘n flikkering van lewe by hulle. En daar is ook ‘n verskil in vrug by dié wat Jesus volg. Ons roeping is om na die beste van ons vermoë te luister sodat God se werk in ons tot sy volheid kan ontwikkel.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Matteus-leesplan


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Comments

Maak 'n opmerking

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Onlangse kommentaar