Skip to main content

Julle is die sout vir die aarde

Jesus se verwysing na gelowiges as die “sout van die aarde” sou baie betekenis gehad het vir vissermanne wat bekend was met die proses van vis sout vir preservering. Vissermanne het hulle vis na die hawe by Magdala gebring om gesout te word en dan in die res van die Romeinse ryk verskeep te word. Die hawe by Magdala was bekend as Taricheae, die plek waar vis gesout word.

MATTEUS 5:13

13 “Júlle is die sout vir die aarde, maar as die sout smaakloos word, waarmee sal dit sout gemaak word? Dis vir niks meer goed nie behalwe om buite gegooi en op getrap te word deur die mense.

Teks en konteks

Die praktiese aard van die onderrig wat die Jesus op die berg in Galilea gee, is eintlik verstommend.  Jesus gebruik vervolgens twee metafore om die dissipels aan te moedig om God deur hulle goeie dade vir ander sigbaar te maak. Die dissipels is sout vir die aarde en lig vir die wêreld. Ons hanteer vandag die eerste een.

5:13 Die eerste metafoor vir sy “geseënde” mense is om hulle as die sout vir die aarde te beskryf.  Dié metafoor is baie gepas in die lig van die probleme wat mense in daardie tyd ervaar het met die sout wat van die Dooie See af kom. Dit was soms só onsuiwer dat niemand daarmee kon kook nie en dit dan buite gegooi is en deur die mense vertrap is.

Nie alle sout was dus ewe goed, ewe smaakvol of bederfwerend nie. Die swak sout was met soveel ander stowwe gemeng dat die natriumchloried maklik opgelos en uitgelek het wat die oorblyfsel onbruikbaar en kragteloos gemaak het. Die oorblyfsel is weggegooi en vertrap.

Jesus gebruik die beeld van sout wat verslaan om die godsdiens van baie van sy Joodse tydgenote te beskryf. Jesus kon sien hoe die Fariseërs en die Skrifgeleerdes godsdiens op ‘n manier bedryf het wat sy krag verloor het. Teenoor die ware dien van God, en die lewe van gehoorsaamheid en toewyding, soos die wet en die Ou Testamentiese profete dit beskryf het, het hulle godsdiens in hulle eie mensgemaakte prosedures verval. Só ‘n eie stel reëls deug nie; dit is dwaas; so ‘n lewe word uitgegooi, en onbruikbaar.

God se mense moet bruikbaar wees in die gemeenskap en doen wat sout doen: smaak gee en bederf in hierdie wêreld teenwerk. Dit is die dinge wat ons geseënd en gelukkig maak, sê Hy.

Hou in gedagte dat Jesus sê dat hulle die sout is vir die aarde (gēs). Aarde dui hier op die bewoonde aarde, die mense met wie hulle elke dag in aanraking kom. Hulle, en ons, is dus geroep om ander se lewens smaak te gee, om soos sout in hulle kos te wees. Mense moet God kan proe in ons gedrag.

Boodskap en betekenis

Hier is verdere gedagtes oor sout.

Sout was iets alledaags en baie goed bekend, soos vandag nog. In die antieke wêreld was sout egter selfs belangriker en waardevoller as wat dit vandag is. Soms is mense selfs met sout betaal.

Hier is ‘n paar eienskappe van sout waarmee ons dieper kan begryp wat dit beteken as Jesus die metafoor van sout op ons van toepassing maak:

  • Sout gee smaak. Deur ‘n bietjie sout by kos te voeg, word die inherente smaak van die voedsel na vore gebring. Kos is smaakliker, meer genotvol en aantreklik, wanneer dit gesout word. Net so bring gelowiges smaak in die wêreld. Die vreugde en genot van die lewe as geskenk van God kom in sy volheid na vore as jy die sout van gelowiges se lewe daarby voeg.
  • Sout preserveer. Voordat vrieskaste beskikbaar was, is sout gebruik om voedsel soos vleis oor lang tye te bewaar. Iets soos biltong bestaan omdat daar sout is! Sout preserveer voedsel en help dat jy dit vir ‘n lang tydperk kan berg sodat dit veilig bly vir menslike gebruik. Net so beskerm gelowiges as sout die lewe. Die wêreld word ‘n veiliger plek daar waar mense wat die Here gehoorsaam en dien hulle invloed uitoefen. Misdaad daal, respek vir lewe neem toe, en die waardes van integriteit, liefde, omgee en beskerming styg.
  • Sout genees bederf en verrotting. Dit sluit ten nouste aan by sout se bederfwerende funksie. Mens kan wonde met sout uitwas om infeksie te verhoed of ‘n septiese wond te genees. Mense met sinusprobleme gebruik gereeld ‘n bietjie soutwater. Ons gooi sout in ons skottelgoedwassers om dit te help reinig. Sout se krag lê daarin dat dit ‘n verskil maak in ‘n wêreld waar bederf so maklik wortelskiet. Net so bring gelowiges genesing vir die siektes van hierdie lewe.
  • Sout offer sigself op.Sout werk net wanneer dit uit die soutpot gegooi word. Sout bestaan nie ter wille van sout self nie, maar ter wille van die wêreld. Sout gee sy eie geborgde bestaan in die soutpot prys om die wêreld te dien. Net so offer gelowiges hulle lewens op vir ander in gehoorsaamheid van hulle Meester wat ook sy lewe opgeoffer het vir mense.
View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Matteus-leesplan


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar