Skip to main content

Jesus waarsku dat ‘n onrein gees kan terugkeer en iemand dan slegter daaraan toe is

Soos die vorige gedeelte deel Matteus hierdie waarskuwing van Jesus met Lukas (11:24-26), en die inhoud van die uitspraak is byna identies. In Lukas gebruik Jesus die beeld as ‘n algemene waarskuwing oor die noodsaak van ware dissipelskap. Bevryding van die bose is nie genoeg nie; die leemte wat ontstaan, moet gevul word met toewyding aan God en ‘n lewe van gehoorsaamheid. In Matteus gebruik Jesus dieselfde uitspraak binne die konteks van die toenemende konflik met die Fariseërs. Daarom word die toepassing skerper en meer spesifiek: die “slegte geslag” wat Jesus se bediening beleef, maar Hom verwerp, verkeer in gevaar om geestelik slegter daaraan toe te wees as voorheen. Waar Jesus in Lukas die beginsel algemeen op die geestelike lewe van sy hoorders toepas, gebruik Jesus in Matteus dieselfde waarskuwing om die erns van Israel se verwerping van God se besoeking in sy midde te beklemtoon.

MATTEUS 12:43-45

43 “Wanneer ’n onrein gees uit ’n persoon uitgaan, gaan hy deur waterlose plekke en soek rus, maar vind dit nie.

44 Dan sê hy: ‘Ek sal terugkeer na my huis waarvandaan ek vertrek het;’ en hy kom en vind dit onbewoon, skoongevee en netjies gemaak.

45 Dan gaan hy en neem sewe ander geeste slegter as hyself met hom saam en hulle gaan in en neem hul intrek daar; en die persoon is op die ou end slegter daaraan toe as voorheen. So sal dit ook gaan met hierdie slegte geslag.”

Teks en konteks

12:43-45 Jesus waarsku die Fariseërs dat hulle teenstand teen Hom rampspoedig sal wees. Hy gebruik dieselfde metafoor (amper ’n gelykenis) as Lukas oor ‘n onrein gees wat uit ‘n persoon gaan, maar dan rus soek in die woestyn, dit nie vind nie, en terugkeer na sy aanvanklike tuiste en sy intrek saam met sewe ander slegter geeste as hyself neem. Só ‘n persoon se lewe is op die ou end slegter daaraan toe as voorheen. Jesus maak dit dan van toepassing op almal wat nie die pad met Hom loop nie: “So sal dit ook gaan met hierdie slegte geslag.”

Boodskap en betekenis

Waar Lukas hierdie waarskuwing van Jesus hanteer het as ‘n aanmoediging tot dissipelskap, doen Matteus dieselfde, maar meer direk gerig aan die Fariseërs wat dink dat hulle moreel suiwer lewens kan leef, maar vergeet dat dit op sy eie geen waarborg van ‘n lewe met God is nie. Hulle dink hulle kan regkom op hulle eie, terwyl hulle die nuwe lewe nodig het wat slegs Jesus kan bring.

In die kontak met Jesus het hulle ’n voorsmakie gekry van wat dit beteken om met God ’n pad te begin loop. Hoe sy koninkryk geregtigheid en genesing teweeg bring, soos geïllustreer deur die genesing van die demoonbesetenes. Maar, as hulle nie Jesus die middelpunt van hulle lewens maak, en Hom begin volg nie, sal hulle uiteindelik slegter daaraan toe wees, veral wanneer Jesus nie meer met hulle is nie. Trouens, só sal dit nie net met die Joodse leiers gaan nie, maar met almal wat die boosheid verkies bo Jesus.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Matteus-leesplan


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Comments

Maak 'n opmerking

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Onlangse kommentaar