Skip to main content

Julle is die lig vir die wêreld

MATTEUS 5:14-16

14 Júlle is die lig vir die wêreld. ’n Stad wat op ’n berg lê, kan nie weggesteek word nie.

15 Hulle steek ook nie ’n lamp op en sit dit onder ’n maatemmer nie, maar op ’n lampstaander, en dit skyn vir almal in die huis.

16 Julle lig moet so skyn voor die mense dat hulle julle goeie dade kan sien en julle Vader in die hemel verheerlik.”

Teks en konteks

Jesus gebruik hier die tweede metafoor om die dissipels aan te moedig om God deur hulle goeie dade sigbaar te maak vir ander.  Die eerste was dat hulle as die sout vir die aarde beskryf is. Die tweede is om hulle as die lig vir die wêreld te beskryf.

5:14 Gelowiges is die lig vir die wêreld. Daarmee herinner Jesus die dissipels aan die roeping van die volk om in die lig van God te wandel (Jes. 2:5) en ‘n lig vir die nasies te wees (Jes. 60:3).

Om draers van die lig te wees is nou alle gelowiges se taak, want hulle leef in die lig wat Jesus as die Lig vir die wêreld vir hulle gee (Joh. 8:12; 9:5; 12:46; 1 Joh. 1:5; Openb. 21:23; vgl. ook Matt. 4:17; Luk. 1:78; 2:32; Joh. 1:4,9; 3:19; Hand. 13:47; 26:23; 1 Tess. 5:5; Ef. 5:8; Kol. 1:12).

Soos in Jesaja 2:1-5 word die beeld van ‘n stad op ‘n berg gekoppel aan die metafoor van lig. Die klem lê met albei metafore op die sigbaarheid van gelowiges se boodskap – woorde en werke – in hierdie wêreld as God se verteenwoordigers. Gelowiges kan nie hulleself wegsteek nie. Dit sou hulle doel as lig vir die wêreld dwarsboom.

Hou ook in gedagte dat Jesus net in die vorige vers gesê het dat hulle die sout is vir die aarde (gēs). Aarde dui op die mense van die bewoonde aarde en die metafoor van sout op die dissipels se gedrag.

Hier sê Jesus dat hulle die lig is vir die wêreld (kosmos). Mense moet dus God ook in ons getuienis kan sien, omdat wêreld hier dui op die wêreldsisteem, die mense wat afvallig is van God, en in opstand is teen Hom.

Ons is dus geroep om God in hulle lewens te verteenwoordig, om soos lig in die duisternis te wees.

5:15 Almal weet dat jy nie ‘n lamp opsteek en onder ‘n maatemmer sit nie, want dan sal die lig uitgedoof word. ‘n Mens sit ‘n lamp op ‘n lampstaander sodat dit vir almal in die huis kan skyn.

Daarmee sê Jesus dat die feit dat hierdie getuienis nie altyd aanvaar word nie, ons nie mag verlei om ons getuienis weg te steek nie. Ons moet bereid wees om die lig vir die wêreld te wees – om op ‘n lampstaander te skyn – al slaag die getuienis nie om mense uiteindelik te oortuig om in Jesus te glo nie.

‘n Goeie voorbeeld was Johannes die Doper, sê Jesus op ‘n ander plek, wat as ‘n lamp geskyn het, wat selfs die Fariseërs vir ‘n tyd lank in sy lig laat verbly het, maar tog nie uiteindelik daarin kon slaag om hulle te oortuig om in Jesus te glo nie, al het Hy ‘n baie groter getuienis as Johannes gehad (Joh. 5:35). Maar Johannes die Doper het nie om daardie rede opgehou om sy lig te laat skyn nie, al het dit hom sy lewe gekos.

5:16 God se mense moet dus só optree dat hulle goeie dade die lig op God kan laat val en die Vader in die hemele verheerlik kan word.  Dit is waarvoor hulle geroep is. Dit is waarvoor hulle hulleself moet gee.

Terloops, op pad na Jerusalem sal Jesus hierdie metafoor weer gebruik om daarmee te fokus op die innerlike verligting wat nodig is om uiterlik as gelowige te lewe (Luk. 11:33-36). Daaroor later.

Boodskap en betekenis

Dit maak sin om hierdie gedeelte saam met die uitsprake oor sout te lees, want, sê Jesus, ‘n geseënde lewe is om soos sout en lig oral ‘n verskil te maak.  Dit is om die God-flavors en die God-colors in hierdie wêreld te versprei, soos Peterson dit so raak beskryf. Vergelyk sy vertaling:

God-flavors and God-colors

“Let me tell you why you are here. You’re here to be salt-seasoning that brings out the God-flavors of this earth. If you lose your saltiness, how will people taste godliness? You’ve lost your usefulness and will end up in the garbage.”

“Here’s another way to put it: You’re here to be light, bringing out the God-colors in the world. God is not a secret to be kept. We’re going public with this, as public as a city on a hill. If I make you light-bearers, you don’t think I’m going to hide you under a bucket, do you? I’m putting you on a light stand. Now that I’ve put you there on a hilltop, on a light stand—shine! Keep open house; be generous with your lives. By opening up to others, you’ll prompt people to open up with God, this generous Father in heaven.” (Matthew 5:13-16 in The Message)

Ons roeping is aan die een kant om die persoonlike lewens van mense op aarde met smaak en geur te vul. Om hulle ‘n idee van godliness te gee. Om hulle tot godliness te beweeg.

Ons roeping is aan die ander kant om die publieke lewe in die wêreld met helderheid en lig te vul, en so die samelewing aan God en sy wil vir die lewe te verbind, om die duisternis te verlig wat op soveel plekke oorheers.

En ons moet onsself daarvoor gee, want ons lig moet sigbaar bly, al beteken dit ook dat ons lig daarom ook kwesbaar is. Al kan die lamp op die lampstaander omval en deur wind en weer doodgewaai word, by wyse van spreke, mag ons nie daarom die lig probeer beskerm deur dit weg te steek nie. Mense wat die lig vir die wêreld is, kan nooit hulleself wegsteek nie.  Hulle leef en werk juis in plekke waar hulle die meeste sigbarar sal wees.

“A secret disciple is no more use in the world than one who has lost his distinctiveness.” (RT France, Matthew).

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Matteus-leesplan


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar