Skip to main content

Herodes dink Jesus is Johannes die Doper wat opgewek is

Dit is waarskynlik gedurende die tyd van die sending van die twaalf dissipels dat Herodes Antipas Johannes die Doper op een van sy verjaarsdae laat onthoof het. Lukas (9:7-9) se plasing van die gebeure laat dié afleiding toe, hoewel die presiese tydstip nie met sekerheid vasgestel kan word nie. Wat wel duidelik is, is dat Johannes se dood voor die eerste vermeerdering van die brood plaasgevind het, aangesien al drie Sinoptiese Evangelies die verhaal in dié volgorde vertel.

Opvallend genoeg begin Matteus, Markus (6:14-29) en Lukas nie met die verhaal van Johannes se teregstelling nie, maar met Herodes se verwarring oor Jesus. Eers word vertel hoe Jesus se groeiende bekendheid Herodes se skuldige gewete roer en hom laat vermoed dat Johannes die Doper uit die dood opgewek is, waarna die Evangelies terugkeer om die omstandighede van Johannes se dood te verduidelik. Dit suggereer dat die besonderhede van Johannes se teregstelling eers wyer bekend geword het toe Herodes se opmerkings oor Jesus begin versprei het. Die fokus val dus aanvanklik op die verwarring wat Johannes se dood veroorsaak het voordat die verhaal self vertel word.

Volgens die Joodse geskiedskrywer Josefus was Johannes die Doper gedurende hierdie tyd in die vestingpaleis Machaerus aan die oostekant van die Dooie See gevange gehou. Dit is ook daar waar Herodes uiteindelik sy teregstelling laat uitvoer het.

MATTEUS 14:1-2

1 In daardie tyd het Herodes, die viervors, die nuus oor Jesus gehoor,

2 en hy het vir sy dienaars gesê: “Hierdie man is Johannes die Doper; hy is uit die dood opgewek en daarom is hierdie kragte in hom aan die werk.”

Teks en konteks

Matteus koppel die dood van Johannes die Doper aan die verwerping van Jesus in Nasaret – waarskynlik ‘n tweede verwerping (vgl. Matt. 13:53-58). Onthou dat sy tuisdorp verbaas was oor sy wysheid en kragte. Weens hulle ongeloof kon Jesus daar egter nie baie van sy kragtige dade doen nie.

14:1 In daardie tyd – d.w.s. die tyd van Jesus se (tweede) verwerping in Nasaret – het Herodes Antipas, die viervors, die nuus oor Jesus gehoor.

14:2 Herodes se onmiddellike reaksie is om op te merk teenoor sy mense dat hy dink Jesus is Johannes die Doper wat herleef het ná Herodes sy kop afgekap het. Dit verklaar vir hom die kragte wat in Jesus aan die werk is.

Boodskap en betekenis

Dit is tragies hoe ongeloof jou visie kan versteur. Nasaret kyk vas in die feit dat Jesus die seun van ‘n skrynwerker was. Hulle kyk deur hulle eie persepsies na Hom en weier om te aanvaar dat Jesus iemand besonders is.

Dit is nog meer tragies hoe dwaasheid jou denke kan benewel. Herodes se gewete pla hom dat hy Johannes die Doper vermoor het. Hy skep daarom sy eie denkbeeldige verhaal oor Jesus asof hy Johannes die Doper is wat uit die dood uit opgestaan het. Miskien het hy iets gedink soos: “Ek het hom doodgemaak, maar dit was nie so erg nie. Kyk, hy lewe sowaar weer.” Sielkundiges sal dit kognitiewe dissonansie noem, want die waarheid is vir Herodes te erg om te hanteer. Hy moet ‘n storie opmaak om sy gewete te paai.

Maar, let ook op dat Herodes ironies genoeg onwetend ‘n verskuilde waarheid oor Jesus formuleer. Jesus sou inderdaad later uit die dood opgewek word. As Herodes maar net eerstehands met Jesus gaan kennis maak het. Hy verspil egter die kans, ook later met Jesus se verhoor.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Matteus-leesplan


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Onlangse kommentaar