Skip to main content

Maak vrede as iemand iets teen jou het: jy mag nie moord pleeg nie

MATTEUS 5:21-26

21 “Julle het gehoor dat daar vir die mense van ouds gesê is: ‘Jy mag nie moord pleeg nie (Eks 20:13; Deut 5:17), en wie ook al moord pleeg, sal voor die reg strafbaar wees.’

22 Maar Ek sê vir julle dat elkeen wat vir sy broer kwaad is, voor die reg strafbaar sal wees; en wie ook al vir sy broer sê: ‘Jou domkop,’ sal voor die Sanhedrin strafbaar wees; en wie ook al sê: ‘Jou dwaas,’ sal strafbaar wees in die hel met sy vuur.

23 As jy dan jou gawe by die altaar aanbied en jy daar onthou dat jou broer iets teen jou het,

24 los jou gawe daar voor die altaar en gaan maak eers vrede met jou broer, en kom dan en bied jou gawe aan.

25 Kom gou tot ’n vergelyk met jou aanklaer terwyl jy saam met hom op pad is, sodat jou aanklaer jou nie oorlewer aan die regter en die regter aan die hofbeampte en jy in die tronk gegooi word nie.

26 Amen, Ek sê vir jou, jy sal beslis nie daar uitkom totdat jy die laaste kodrantes (kleinste Romeinse muntstuk) betaal het nie.”

Teks en konteks

Na die inleiding oor die wet hanteer Jesus ses dele van die wet in die vorm van teenstellings: “julle het gehoor”… “maar Ek sê vir julle …”, om sy punt oor die geldigheid van die wet te onderstreep, maar ook die volle betekenis daarvan te openbaar. Vyf van die verwysings is na aanleiding van vyf van die gebooie op die tweede tafel van die Tien Gebooie. Die sesde en laaste een is na aanleiding van Levitikus 19:18.

5:21 Die eerste teenstelling is met die sesde gebod oor moord. Jesus haal hier aan uit die Tien Gebooie (Eks 20:13; Deut. 5:17) met ‘n uitbreiding uit die verdere lering oor die Tien Gebooie wat God aan Moses gegee het in die Boek van die Verbond: Genesis 21-24. Wie ook al moord pleeg – doelbewuste kriminaliteit is in die oog, nie siviele oortredings soos onopsetlike manslag nie – is strafbaar voor die reg (Eks. 21:12-14; vgl. dieselfde gebod aan Noag – Gen. 9:6 en ook Moses se reëlings vir asiel op pad na Kanaän – Num. 35:16–34).

5:22 Die wet bly uiteraard van krag, sê Jesus, maar die bedoeling van die wet is eintlik dat jy jou naaste geen kwaad sal aandoen nie (vgl. Paulus in Rom. 13:10). Dit wil sê, dit gaan nie net oor die letterlike uitleg van die wet nie, ook oor die geestelike betekenis daarvan.

Elkeen wat dus vir sy broer kwaad is, sal strafbaar wees. Let op dat dit gaan oor ‘n medegelowige. Die OAV voeg ook “sonder rede” by as verklaring van die “kwaad word”, ‘n lesing wat deur heelwat manuskripte ondersteun word.

Of die teks so gelees moet word, is nie seker nie, maar dit is waarskynlik wat hier bedoel word. Dit lei geleerdes af van die feit dat van Jesus op ‘n keer gesê word dat Hy kwaad was, maar tegelykertyd ook hartseer (Mrk. 3:5). Hy het ook die tempel gereinig sonder dat daar enigsins gesê word dat Hy kwaad was (Luk. 19:45-46; Mrk. 11:15-19; Matt. 21:12-17; Joh. 2:13-21). Dit gaan hier dus oor kwaad word sonder rede.

Dit word egter verder gekwalifiseer deur woorde wat ‘n negatiewe impak sal hê, of dit nou met rede of sonder rede gesê word. As jy vir jou broer sê: “jou domkop” (die Hebreeuse woord is raka wat ook met “nikswerd” of “idioot” vertaal kan word), help jy hom immers nie reg nie. Jy verkleineer hom.

Trouens, wie ook al vir ‘n broer “jou dwaas” toesnou, sal strafbaar wees, nie maar net voor die menslike regstelsel nie, maar voor die goddelike. En die straf sal in die hel met sy vuur wees.

Wat die Here in die oog het, is dat ons ons gedagtewêreld sal skoonmaak van woede, haat en wraakgedagtes wat ander onteer. Dit pas nie by kinders van die koninkryk nie. Al pleeg ons nou nie moord nie, maar wel “karakter”-moord deur ons woede en wraakgedagtes, bly ons skuldig aan die sesde gebod.

Ons moet sout wees in ons gedrag en lig in ons getuienis. Ons moet mense opbou en nie afkraak nie. Selfs wanneer ons kritiek moet uitspreek, soos Jesus later in die Bergrede sal aanvoer met die voorbeeld van die splinter in die broer se oog (Matt. 7:1-6), moet ons sorg dat ons nie die sesde gebod oortree nie. ‘n Radikale standpunt!

5:23-24 Die rede hiervoor is dat onversoendheid met jou broer jou versoening met God in gedrang bring. Maak dus die saak uit met jou broer, veral as dit hy is wat iets teen jou het, vóór jy met die Here verder in verhouding gaan, uitgedruk met die simboliek van ‘n offer op die altaar.

5:25 Jesus wil hê dat ons as vredemakers sal optree – gou tot ‘n vergelyk kom met ons aanklaers, selfs terwyl ons nog op pad is na ‘n regsproses – om die moontlike gevolge van ‘n negatiewe uitspraak te vermy.

5:26 Jesus voeg by dat die gevolge ernstig kan wees, selfs ekonomies vernietigend (die kodrantes was die kleinste Romeinse muntstuk), wat ‘n mens laat vermoed dat Hy eintlik ‘n ewige konnotasie aan sy raad hier heg. God se oordeel is nie halfhartig nie.

Boodskap en betekenis

Ons is geneig om die sesde gebod oor moord te ignoreer, omdat ons dink dat dit net slaan op ‘n kriminele daad. Jesus is egter só radikaal in sy toepassing van die sesde gebod dat daar amper niemand van ons is wat nie op een of ander manier skuldig is aan die oortreding van die sesde gebod nie.

Wie van ons was nie al kwaad vir iemand nie, soms ook sonder rede, of het nie al vir iemand gesê: “jou domkop”, of “jou idioot”, of “jou dwaas” nie?! En dit maak nie saak of jou oordeel in die kol is nie. Die punt is dat jy deur só ‘n stelling jouself verhef bó iemand anders en daarom skuldig bevind kan word aan “karakter”-moord.

Die punt is dat ek niemand mag onteer, haat, beledig of doodmaak nie, selfs nie my vyande nie, soos dit aan die einde van hierdie hoofstuk onderstreep sal word. Ons moet selfs ons vyande liefhê.

Natuurlik kan ‘n mens onderskei tussen kwaad en goed, tussen reg en verkeerd, en moet ons mekaar ook reghelp, soos Jesus dit later uitspel in Matteus 18. Ons kan ook in sekere omstandighede kritiek uitspreek, maar net as ons seker gemaak het dat dit nie skynheilig is nie (Matt. 7). Ons het egter nie die reg om iemand se menswees in die proses aan te rand nie.

Die Heidelbergse Kategismus vraag 105-107 verduidelik dit so:

“Die sesde gebod leer ons dat ons nie self en ook nie deur iemand anders ons naaste mag onteer, haat, beledig of doodmaak nie. Ons mag dit nie met ons gedagtes, woorde of gebare doen nie en nog minder met die daad. Ons moet alle wraaksug laat vaar. Ons mag ook onsself nie kwaad aandoen of moedswillig in gevaar begewe nie.  Deur doodmaak te verbied leer God ons dat Hy die wortel daarvan, soos afguns, haat, woede en wraaklus, verafsku. Dit alles is vir Hom heimlike moord.  Dit beteken nie dat ons die gebod gehoorsaam as ons maar net nie ons naaste doodmaak nie.  Terwyl God afguns, haat en woede verbied, gebied Hy dat ons ons naaste moet liefhê soos onsself. Ons moet teenoor hulle geduldig, vredeliewend, sagmoedig, barmhartig en vriendelik wees, alles wat hulle kan benadeel sover moontlik probeer voorkom en selfs aan ons vyande goed doen.”

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Matteus-leesplan


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Comments

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar