Inleiding
Matteus
Matteus, die skrywer van hierdie Evangelie, is die dissipel en apostel Matteus in die Evangelies (Matt. 9:9; 10:3) soos deur talle kerkvaders bevestig. Markus en Lukas beskryf hom as Levi in hulle Evangelies (Mrk. 2:14; Luk. 5:27), hoewel hulle hom slegs as Matteus in die lys van apostels insluit (Mrk. 3:18; Luk. 6:15).
Dit is egter waarskynlik dieselfde persoon, omdat al drie Evangelieskrywers dieselfde gebeure met Matteus/Levi se roeping beskryf. Matteus en Levi is beide Hebreeuse name, maar die naam Matteus het ook ‘n Griekse ekwivalent gehad wat “dissipel” beteken. Dit kan die gebruik van die twee name vir Matteus verklaar, die een ‘n Griekse (Matteus), en die ander ‘n Hebreeuse naam (Levi).
Hoewel Matteus/Levi – soos Jakobus, die “Kleinere” – as die “seun van Alfeus” beskrywe word (Mrk. 2:14; vgl. Matt. 10:3; Mrk. 3:18; 15:40; Hand. 1:13), is daar is geen ander historiese getuienis wat hulle as broers aan mekaar koppel nie. Hulle was dus waarskynlik uit verskillende huise afkomstig.
Tollenaar
Matteus was ‘n tollenaar, en daarom waarskynlik ‘n vermoënde man. Hy was ook waarskynlik meer in diens van koning Herodes Antipas as in diens van die Romeine, aangesien Matteus se tolhuis in Kapernaum aan die noordelike oewer van die see van Galilea was waar tol gehef is op goedere wat Herodes se gebied binnegekom het. Dit het ironies genoeg beteken dat Matteus waarskynlik tol gehef het op die vis wat van die ander dissipels gevang het. Sy tolhuis was by die hawe geleë.
Dit verklaar ook moontlik Matteus se toegang tot die storie van die wyse manne wat by Herodes gaan aanklop het op hulle soektog na Jesus. Hy kon dit by die paleis gehoor het in sy kommunikasie met hulle as tollenaar. Matteus is die enigste skrywer wat die verhaal vertel (Matt. 2:1-12). Hy is ook die enigste wat oor Herodes die Grote se dood berig (Matt. 2:13-18).
Terloops, daar is vyf heersers wat in die Evangelies en Handelinge “Herodes” genoem word:
- Herodes die Grote tree tydens die geboorteverhale van Johannes die Doper en Jesus op (37 – 4 v.C.).
- Herodes Argelaos, sy een seun, tree in Judea op met Jesus-hulle se terugkeer uit Egipte soos ons in Matteus 2:22 lees, hoewel hy nie lank regeer het voor hy vir sy wandade van die koningskap onthef is nie (4 v.C. – 6 n.C.).
- Herodes Antipas, ‘n ander seun, was koning in Galilea, en is die een wat tydens Jesus se publieke bediening optree en uiteindelik betrokke is by Jesus se verhoor. Dit is merendeels van hom wat ons in die res van die Evangelies lees. Matteus sou waarskynlik aanvanklik amptelik met hom geskakel het (4 v.C. – 39 n.C.).
- Herodes Agrippa I, seun van Aristobolos, en kleinseun van Herodes die Grote, tree in Handelinge 12 op en onthoof Jakobus, broer van Johannes, en neem Petrus in hegtenis. Hoewel Petrus deur engele vrygelaat is, is Herodes Agrippa I egter kort daarna aan “wurms” dood. ‘n Engel van die Here het hom getref (39 – 44 n.C.).
- Herodes Agrippa II, Agrippa I se seun, tree in Handelinge 25-26 op met die verhoor van Paulus. Dit is hierdie Herodes, Agrippa II, wat vir Paulus gesê het: “Jy probeer my in ’n kort tyd oorreed en my ’n Christen maak!” (53 – 93 n.C).
Volgeling
Anders as die ryk jongman (Matt. 19:16-30) reageer Matteus dadelik toe Jesus hom as dissipel geroep het. Lukas vertel vir ons dat Matteus “alles agtergelaat het” en Jesus gevolg het (Luk. 5:28). Daar is ‘n spontaneïteit en onmiddellikheid in sy reaksie wat ons ‘n klein kykie gee in die effek wat Jesus op hom gehad het.
Ons kom ook agter dat Matteus ‘n nederige man was wat nie die aandag op homself wou fokus nie. Uit Matteus se weergawe van die roeping laat hy jou wonder of die ete die aand in sy huis, óf in Jesus s’n gehou is. Die teks is dubbelsinnig: “in die huis” (Matt. 9:10).
Uit Lukas se weergawe van die verhaal is dit egter duidelik dat dit in Matteus se huis gehou is, en dat dit ‘n “groot onthaal” was waar ‘n skare mense aangelê het vir ete “in sy huis” (Luk. 5:29).
Apostel
Dit is ook duidelik dat Matteus se keuse om Jesus te volg ‘n groot impak gehad het op ‘n klomp ander tollenaars, want hulle lê saam met Jesus die aand aan vir die feesmaal (vgl. Saggéüs se verhaal in Luk. 19:1-10). Matteus onderspeel sy rol daarin in sy eie Evangelie deur net te sê dat: “daar baie tollenaars en sondaars gekom het” (Matt. 9:10), maar uit Lukas se weergawe is dit duidelik dat Matteus die tollenaars uitgenooi het na die onthaal (Luk. 5:29). Matteus was dus ‘n gestuurde, ‘n apostel, van die begin af.
Interessant genoeg beteken Matteus se Hebreeuse naam “gawe van Jahwe” wat in die Griekse weergawe daarvan “dissipel” beteken. Dat sy Evangelie ‘n sterk sendingboodskap dra, lê dus op ‘n manier al ingebed in sy naam, sowel as in sy eerste reaksie op Jesus, want dit is Matteus wat die Groot Opdrag om die boodskap van Jesus aan al die nasies te neem, beklemtoon.
Skrywer
Volgens sommige geleerdes skryf Matteus sy Evangelie moontlik in Antiogië aangesien dit duidelik is dat sy Evangelie veral die biskop van Antiogië, Ignatius (hy lewe van 35 – 108 n.C.), beïnvloed het. Dit kan ‘n mens sien uit die baie aanhalings van Matteus se Evangelie in Ignatius se eie briewe aan die kerk in die laaste helfte van die 1ste eeu n.C.
Kerkplanter
Daar is historiese getuienis dat Matteus op sy eie sendingreis gegaan het na Ethiopië en vir 23 jaar daar die evangelie verkondig het. Die “Church of the Resurrection” in Ethiopië herlei hulle geskiedenis na sy bediening daar.
Daar is ook getuienis dat Matteus hierna ‘n sendingreis na Persië onderneem het en onder andere onder kannibale gewerk het. Hy het daar ‘n martelaarsdood gesterf (Brian Shelton, The Quest for the Historical Apostles).
Die Evangelie van Matteus
Matteus verweef op ’n baie integrale manier die oorgelewerde verhale oor Jesus met sy verkondiging:
- Verhale: Geboorte – hfst. 1-2; Voorbereiding (doop en versoeking) – hfst. 3-4; Wonders – hfst. 8-9; Gesprekke met teenstanders – hfst. 11-12; Wonders en strydgesprekke met Fariseërs – hfst. 14-17; Bediening in Judea – hfst. 19-20; Bediening in Jerusalem: gelykenisse en gesprekke – hfst. 21-22; Lyding: nagmaal, verhoor en kruisiging – hfst. 26-27; Opstanding: verskynings en uitsending – hfst. 28.
- Verkondiging (diskoerse): Bergrede – hfst. 5-7; Onderrig aan dissipels – hfst. 10; Gelykenisse van die koninkryk – hfst. 13; Verhoudinge in die koninkryk – hfst. 18; Koms van die koninkryk – hfst. 23-25.
Die “diskoerse” word uitgeken en afgebaken met ‘n afsluitende sin wat daaraan ‘n eie karakter gee:
- Matteus 7:28: “Toe Jesus klaar gepraat het…”
- Matteus 13:53: “Toe Jesus hierdie gelykenisse klaar vertel het…”
- Matteus 19:1: “Nadat Jesus klaar gepraat het…”
- Matteus 26:1: “Nadat Jesus oor al hierdie dinge klaar gepraat het…”
Die diskoerse gee aan die historiese gegewens van Jesus se lewe, bediening, kruisdood en opstanding ’n sterk verkondigingskarakter.
Met die verhale oor Jesus gekoppel aan sy verkondiging wil Matteus dus sy lesers beweeg om nie net te glo in Jesus op grond van sy woorde nie, maar om Hom na te volg in alles wat Hy gedoen het, soos Matteus dit inderdaad self gedoen het.
Struktuur van die Evangelie van Matteus
‘n Mens kan die struktuur van Matteus soos volg weergee:
Jesus word as Messias en Koning vir Israel en die nasies gebore
- Geboorte verhale (hfst. 1-2)
- Voorbereidingsverhale: doop en versoeking (hfst. 3-4)
Jesus openbaar sy koninkryk deur woordbediening en wonderwerke
- 1ste diskoers: Geregtigheid van die koninkryk (hfst. 5–7)
- Wonderwerke en roeping in Galilea (hfst. 8–9)
- 2de diskoers: Die koninkryk het naby gekom (hfst. 10)
- Konflik met teenstanders in Galilea (hfst. 11–12)
- 3de diskoers: Gelykenisse van die koninkryk (hfst. 13)
- Wonderwerke en konflik in Galilea en omliggende streke (hfst. 14–17)
- 4de diskoers: Verhoudinge in die koninkryk (hfst. 18)
- Gesprekke en gelykenisse in Judea en Jerusalem (hfst. 19–22)
- 5de diskoers: Die koms van die koninkryk (hfst. 23–25)
Jesus vestig sy koninkryk deur sy lyding, kruisdood en opstanding
- Lyding- en kruisigings verhale – hfst. 26-27
- Opstandingsverhale – hfst. 28
Die volledige Bybelteks is ingesluit (ASV)
Ek het die teks van Matteus in 162 perikope opgedeel wat oor ‘n tydperk van 23 weke gelees kan word, ‘n perikoop per dag.
Die volledige Bybelteks is ingesluit – in die omraamde gedeeltes – sodat jy primêr daarop kan fokus en net sekondêr op my kommentaar. My kommentaar is ‘n leeshulp op sekere aspekte van die teks en konteks. Dit is dinge wat myself getref het in my besig wees met die Evangelie. Dit sal jou help met jou begrip van die Bybelteks en die betekenis en boodskap daarvan vir jou lewe.
Maar, wat jy self gaan lees, luister en leef, is belangriker as wat ek skryf.
Skrifaanhalings
Skrifaanhalings is geneem uit die Afrikaanse Standaard Vertaling © 2014. Gebruik met toestemming van Christelike Uitgewersmaatskappy, Posbus 1599, Vereeniging, 1930. Alle regte voorbehou.
Die oorsprong van die Afrikaanse Standaard Vertaling (ASV) lê in die Interliniêre Bybel wat in 2012 deur Christelike Uitgewersmaatskappy gepubliseer is. Die Afrikaanse Standaard Vertaling is die produk van die hersiening van die direkte vertaling wat in die Interliniêre Bybel verskyn het. Dit is ’n bronteksgeoriënteerde vertaling in vloeiende, goed verstaanbare Afrikaans.
View all posts in this series
- Kom en volg Hom – ’n 23-week leesplan deur Matteus - August 27, 2026
- Inleiding - September 10, 2026
- Jesus se geslagsregister in Matteus verbind Hom aan Abraham, Dawid en die volk na die ballingskap MATTEUS 1:1-17 - September 11, 2026
Discover more from Bybelskool
Subscribe to get the latest posts sent to your email.
originalblizzard19aaa84c56
‘n Mondvol oor Matteus. Sien uit na die reis. Dankie