Skip to main content

God se bekende en verborge wil

Photo by Aaron Burden on Unsplash

Daar is ten minste vier maniere waarop die Bybel oor God se wil praat, waarvan sommige dele aan ons bekend gemaak word en ander dele verborge bly.  Ek kan dit só opsom:

  1. Die Bybel maak aan ons in die eerste plek God se wil vir die lewe bekend.
  2. Dele van sy wil bly steeds verborge, hoewel ons sekere aspekte daarvan kan sien as ons terugkyk in ons geskiedenis.
  3. Die Heilige Gees begelei ons op ‘n daaglikse wyse om God se wil te kan onderskei.
  4. Hy gee aan ons gawes wat ons help om God se wil en roeping vir ons te kan onderskei.

Hier is ‘n kort uitbreiding daarvan:

1. God se ewige plan of wil vir die wêreld

Ons lees in Ef 3:7-11:

“Van hierdie evangelie het ek ’n dienaar geword, ’n voorreg wat God in sy genade aan my gegee het deur sy krag in my te laat werk. Hoewel ek die geringste van al die gelowiges is, het Hy aan my hierdie voorreg gegee om aan die heidennasies die evangelie van die onpeilbare rykdom van Christus te verkondig. Ek moet aan almal bekend maak hoe God, die Skepper van alle dinge, nou sy verborge plan uitvoer nadat Hy dit deur al die eeue geheim laat bly het. Maar nou het God die ryke verskeidenheid van sy wysheid deur die kerk bekend laat word aan elke mag en gesag in die hemelruim, soos Hy Hom van ewigheid af al voorgeneem het om dit deur Christus Jesus, ons Here, tot uitvoering te bring.”

Die Heidelbergse Kategismus  vraag en antwoord 31 sluit hierby aan en sê dat God se wil deur Jesus Christus openbaar gemaak word

Vraag: “Waarom word Hy ‘Christus’, wat Gesalfde beteken, genoem ?”

Antwoord: “Omdat Hy deur God die Vader bestem en aangestel en met die Heilige Gees gesalf is tot ons hoogste Profeet en Leraar wat aan ons die verborge raad en wil van God aangaande ons verlossing ten volle bekend gemaak het; tot ons enigste Hoëpriester, wat ons met die enige offer van sy liggaam verlos het en met sy voorbidding gedurigdeur by die Vader vir ons intree; tot ons ewige Koning, wat ons met sy Woord en Gees regeer en ons by die verlossing wat verwerf is, beskerm en bewaar.”).

Die Nederlandse Geloofsbelydenis artikel 7 verbind die bekendmaking van God se wil aan die boeke van die Bybel:

Ons glo dat hierdie Heilige Skrif die wil van God volkome bevat en dat alles wat die mens vir sy saligheid moet glo, daarin voldoende geleer word.”

Die Dordtse Leërreels Hoofstuk 3 en 4, Afdeling 1, sê in artikel 11 oor die rol van die Heilige Gees:

“Wanneer God sy welbehae in die uitverkorenes tot uitvoering bring en die ware bekering in hulle werk, laat Hy die evangelie nie net uiterlik aan hulle verkondig nie. Hy verlig ook nie net hulle verstand kragtig deur die Heilige Gees, sodat hulle die dinge van die Gees van God reg kan verstaan en onderskei nie. Maar deur die kragtige werking van dieselfde Gees, wat die wedergeboorte skenk, dring Hy ook deur tot in die binneste dele van die mens, open Hy die geslote hart, versag Hy wat hard is, en besny Hy wat onbesnede is. In die wil stort Hy nuwe eienskappe in en maak die wil, wat dood was, lewend; wat sleg was, goed; wat onwillig was, gewillig en wat ongehoorsaam was, gehoorsaam. Hy beweeg en versterk die wil sodat dit, soos ’n goeie boom, vrugte van goeie werke kan dra.”

God werk dus in ons deur sy Woord en sy Gees om nie net sy wil aan ons bekend te maak  nie, maar ons wil te versterk om Hom te gehoorsaam.

Dit beteken dat die nadenkende reflekterende lees van die Bybel in navolging van Jesus Christus onder begeleiding van die Heilige Gees, die primêre geestelike dissipline in ‘n mens se lewe moet wees, waarin die metodiek van Skrifstudie aan die een kant en die Geestelike lees van die Bybel, Lectio Divina, aan die ander kant belangrik is.  Dit sluit in dat ons Hom moet navolg, soos ons Sy wil al hoe beter leer ken.

Hoekom?  Want die Bybel bevat die hele bekende wil van God en in ons gehoorsaamheid aan wat die Here ons daarin leer, kan ons die wil van God doen in ons hele lewe. Dit is die evangelie, die goeie nuus wat vir die hele wêreld bedoel is. Dit sluit alles in wat vir die lewe belangrik is.

2. God se wil in die geskiedenis soos Hy dit op verborge en soewereine manier ten uitvoer bring

As ‘n mens in die Bybel God se bekende wil kan ontdek, beteken dit egter nie dat ‘n mens alles van wat God wil kan ken nie.  Spreuke 16:9 sê:

“’n Mens beplan sy pad, maar die Here bepaal hoe hy loop.”

Daarom kan Paulus bv. sê dat hy van voorneme is om op ‘n plek uit te kom:

“Maar binnekort sal ek na julle toe kom, as die Here wil” (1 Kor. 4:19).

Dit beteken daar is sekere dinge wat buite ons beheer gebeur, dinge wat aan ons onbekend is, dinge wat God kies dat ons nie weet nie. En dit is nie ons fout nie, maar God se besluit.

Ons moet met dié wil van God goed rekening hou, ons kan selfs daarop vertrou, veral dat Hy die beste sal doen in ‘n sekere situasie, al weet ons nie presies wat dit is nie.  Paulus skryf met passie daaroor in Rom 8:26-28:

“Die Gees staan ons ook in ons swakheid by: ons weet nie wat en hoe ons behoort te bid nie, maar die Gees self pleit vir ons met versugtinge wat nie met woorde gesê word nie. En God, wat die harte deurgrond, weet wat die bedoeling van die Gees is, want Hy pleit, volgens die wil van God, vir die gelowiges. Ons weet dat God alles ten goede laat meewerk vir dié wat Hom liefhet, dié wat volgens sy besluit geroep is.”

Die feit dat ons nie alles weet nie, en op God kan vertrou om die beste in elke situasie te doen, sluit egter nie uit dat ons steeds ons onderskeiding en verstand moet gebruik nie om die beste besluit vir ons lewe te neem, en dit te doen in die lig van wat ons weet God reeds vir ons duidelik gemaak het.

God gee ons wel ‘n kykie in dié wil wanneer Hy ons begelei in ons terugkyk na wat in die verlede lê en ons probeer om God se spore in die lewe te probeer raaksien. Dit is waarom die Daaglikse Ondersoek as geestelike dissipline so belangrik is, want ons sien dinge beter in perspektief as ons terugkyk. Neem bv. ‘n tyd elke dag om die afgelope 24 uur te deurdink en jou af te vra, in beide die goeie en die slegte wat gebeur het, waar het ek God se teenwoordigheid raakgesien.  Vir groepe is ‘n Storiemuur oefening as geestelike dissipline ‘n heerlike manier om dié wil van God op dieselfde wyse in die geskiedenis van ‘n gemeenskap of gemeente te begin ontrafel en só God se teenwoordigheid in hulle storie te ontdek.

3. God se wil vir ons lewe wat Hy daagliks aan ons bekend maak

Die wil van God in die Bybel en wat ons daarvan in die geskiedenis raaksien, moedig ons aan om daagliks te fokus op wat God vandag vir ons lewe wil.

Dit sluit in die oorgawe aan God waarvan Paulus in Romeine 12:1-2 skryf:

“Gee julleself aan God as lewende en heilige offers wat vir Hom aanneemlik is … laat God julle verander deur julle denke te vernuwe. Dan sal julle ook kan onderskei wat die wil van God is, wat vir Hom goed en aanneemlik en volmaak is.”

Dit sluit ook veral die lewenshouding van die liefde in, soos Paulus daaroor skryf in Fil 1:9-10:

“Ook bid ek dat julle liefde al hoe meer sal toeneem in begrip en fyn aanvoeling, sodat julle die dinge sal kan onderskei waarop dit werklik aankom.”.

Hierdie onderskeiding het met ons oorgawe aan God te make, dit het met die vernuwing van ons verstand te make, dit het met begrip te make wat vanuit die liefde groei, en met ‘n fyn aanvoeling wat ook deur ervaring gevoed word.

Dit is waarom die geestelike dissipline van Geestelike Onderskeiding só belangrik is om daagliks in afhanklikheid van die Heilige Gees te fokus daarop om God se wil te kan ken en leef. Die Seisoen van Luister het hulle deeglik ingegrawe in maniere waarop ‘n mens dit kan doen, soos bv. deur die sirkelbewegings van die luistersiklus: Rus, Hoor en Leef.  John Ackerman gebruik Stop, Look, Listen, en beskryf dit ook as Read, Reflect en Respond.  Ek gebruik in die laaste tyd merendeels die bewegings van Lees, Luister, Leef.  Watter metodiek jy ook toepas, dit is iets waarin jy jouself moet oefen sodat jy al hoe beter kan onderskei en al hoe nader aan God kan wandel.  En dit is ook iets wat met vrug saam met ander gelowiges beoefen kan word.

4. God se wil wat Hy bekend maak deur die gawes wat Hy vir elkeen van ons gee

Paulus skryf in 1 Kor 12:4-11 die volgende oor die gawes wat ook ‘n aanduiding van God se wil vir ons lewe is en deur die Heilige Gees in ons en ander se lewens gebruik word:

“Daar is ’n verskeidenheid van genadegawes, maar dit is dieselfde Gees wat dit gee; daar is ’n verskeidenheid van bedieninge, maar dit is dieselfde Here wat die opdrag gee; daar is ’n verskeidenheid van kragtige werkinge, maar dit is dieselfde God wat alles in almal tot stand bring. Aan elkeen afsonderlik word ’n werking van die Gees gegee tot voordeel van almal. Aan die een word deur die Gees die gawe gegee om ’n woord van wysheid te praat, aan ’n ander ’n woord van kennis deur dieselfde Gees; aan die een geloof deur dieselfde Gees, aan ’n ander genadegawes van gesondmaking deur die één Gees. Aan die een gee Hy die krag om wonders te doen, aan ’n ander die gawe om te profeteer, en aan nog ’n ander die gawe om tussen die geeste te onderskei. Aan nog een gee Hy die gawe om ongewone tale of klanke te gebruik en aan ’n ander om dit uit te lê. Maar al hierdie dinge is die werk van een en dieselfde Gees, wat aan elkeen afsonderlik ’n gawe uitdeel soos Hy wil.”

Dié gawes word aan ons gegee om dit te gebruik soos Hy dit wil, waaruit ons ook meesal die roeping vir ons lewe kan aflei (vgl. Paulus se beskrywing van sy eie roeping as apostel in verskeie van die inleidings tot sy briewe – bv. 1 Kor. 1:1). Trouens, die gawes wys eintlik vir ons wat ons roeping is: apostels, profete, evangeliste, herders, leraars, en dan die hele reeks ander gawes in 1 Kor. 12. Dit is waarom die geestelike dissipline wat ‘n mens as Lewenspraktyk (rule for life) ken, so belangrik is, waarin jy fokus op die beoefening van jou gawes. Jy raak eintlik ‘n gawe van God vir die lewe deur die gawes wat Hy vir jou gee, en dít raak jou lewenspraktyk.

Die boekie Barnabas wat ek en Frederick Marais en Nico Simpson geskryf het, brei verder hierop uit.  Koop dit by Bybel-Media as jy belangstel.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Geloofsgewoontes, God se wil, Kronieke


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Comments

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar