Skip to main content

Tag: Spreuke

Spreuke – Lees, luister, leef – ePub

Spreuke leer ons dat daar ’n regte pad is om op te loop en ’n verkeerde een. Deur tien lewenslesse en meer as vyfhonderd en sestig spreuke leer die boek ’n mens om hierdie wyse pad in die praktyk van die lewe te onderskei en daarvolgens te begin lewe. Dit leer jou ook om die dwase afdraaipaaie te vermy, opgesom as: easy money, easy sex en easy power.

Wysheid begin by die eerste beginsel van die geestelike lewe, die ontsag vir God. Dit word prakties geïllustreer in die voorbeeld van rolmodelle wat nagevolg moet word. Daarmee leer Spreuke jou die geheim van die lewe voor God ken en inspireer jou om deurleefde oortuigings in die lewe te ontdek en jou eie te maak. Met vele stories, beelde, waarhede en slim slagspreuke leer jy só om ‘n ekspert in die lewe te word. Wysheid word daardeur jou metgesel en laat jou met takt en oorleg in die teenwoordigheid van God self leef.

Hierdie is die tweede boek in die reeks Lees, Luister, Leef gemik op Bybelstudiegroepe, Bybelskole en persoonlike stiltetyd.
Buy this e-book on Lulu.

Spreuke 31:1-31 – Wyse woorde van en oor ‘n knap vrou

Dit val op hoe die boek Spreuke omraam word deur die pa in gesprek met sy seun (hfst 1-9) aan die begin van die boek, en hier die ma in gesprek met haar seun (hfst 31) aan die einde van die boek.  Dit wys nie net hoe ewewigtig die boek aan mekaar gesit is nie, deur aan albei ouer se onderrig aandag te gee, maar ook hoe noodsaaklik beide ouers se onderrig en leiding in ‘n kind se lewe geag word.

Versigtig vir die vreemde vrou en die vervreemding wat drank bring – 31:2-9

Dit is opvallend hoe die ma haar seun se onderskeidingsvermoë juis oor vrouens wil opskerp, maar op ‘n ander wyse as wat die pa vroeër gedoen het.  Waar die pa baie uitgebrei het oor hoe vreeslik dit is om te val in die hande van die vreemde vrou ( in drie al hoe langer en uitgebreide gedeeltes), en min gesê het oor die waarde van die regte vrou, doen die ma dit andersom.

Continue reading

Die woorde van Lemuel

Die boek Spreuke sluit af met twee uitnemende versamelings wyshede: 31:1-9 en 31:10-31.  Dit rond die wysheid van die boek op voortreflike wyse af deur Vrou Wysheid van hoofstuk 1-9 verder te verpersoonlik in die lewe van koning Lemuel se moeder.  En soos die wyse pa in die eerste 9 hoofstukke die gesprek lei, doen die wyse ma dit hier in hoofstuk 31.
  • Aan die een kant gee die moeder in 31:1-9 aan haar seun, die koning, ‘n voorskrif vir sy regering en persoonlike lewe, waarin sy twee kernagtige wyshede uitlig, versigtig vir vroue (31:2-3) en versigtig vir drank (31:4-9).  Dit is die wyse woorde van ‘n goeie vrou oor die gevaar van vreemde vroue en oor die vervreemding wat drank kan bring.
  • Aan die ander kant leer sy hom in 31:10-31 van die tipe vrouwees waarop hy moet fokus in ‘n unieke fyn uitgewerkte gedig – in akrostiese styl (elke vers begin met ‘n opeenvolgende letter van die Hebreeuse alfabet).  Dit is die wyse woorde van ‘n goeie vrou oor die ideale knap vrou, dié tipe vrou waarmee hy sy lewe moet versier.

In die eerste vers verneem ons dat Lemuel van Massa af kom.  Dit is ‘n streek in Noord-Arabië (Gen 25:14).  Soos met die woorde van Agur, is hierdie hoofstuk dus waarskynlik wysheid uit ‘n ander tradisie wat ingespan is in ‘n Israeliese konteks.  Maar let op dat dit binne die Jahwe tradisie van Israel geplaas word (31:30).

Spreuke 30:1-33 – God is daar vir dié wat by Hom skuil!

30:1-14 – God is daar vir dié wat by Hom skuil

Dit is interessant om te let op die ooreenkomste van vers 4 met Jesaja 40:12-14 en dele van Job 38 waar oor die misterie van God se skeppingshandelinge gepraat word.  Lees dit gerus.

Belydenis

Agur probeer die onmeetlike onderskeid tussen hom en God uitdruk in vers 2-3 deurdat hy in sy eie oë selfs minder as ‘n dier weet, as dit by sy kennis van God kom (30:2-3).

Die onmeetlikheid van die heelal, die onbeheerbare karakter van die wind en die weer, en die kompleksiteit van die wisselwerking tussen die vastelande en die oseane bring Agur onder die besef van God se grootsheid (30:4).

Tóg, dié God (Eloah is die naam vir God wat hy hier gebruik, soos in Job), is daar vir almal wat by Hom skuil (30:5).  Hy beskerm hulle, en elke belofte van God is (vir hulle) betroubaar.  Voorwaar ‘n woord wat op jou spieël in die badkamer geskrywe moet word, sodat jy jouself hieraan kan herinner as jy in die oggend opstaan en dit die laaste ding kan wees wat jy sien voor jy gaan slaap.

Dit is waarom jy niks moet probeer byvoeg by wat Hy gesê het nie.  Nie net is dit onnodig nie, maar gevaarlik – 30:6.

Continue reading

Die uitsprake van Agur

Agur word as die seun van Jake aan ons bekend gestel .  Sy identiteit is vir ons onbekend.  Omdat die oorspronklike Hebreeus hāmǎśśāʾ  – wat in die NAV vertaal is met “belangrike uitspraak” – ook met “Massaïet” vertaal kan word, is dit moontlik dat hy ook van Massa in Arabië afkomstig is, soos trouens die geval met Lemuel is (31:1), wat vir hoofstuk 31 verantwoordelik was. Agur was dus moontlik ‘n buitelander.

Daar is ook baie verskil van mening oor die laaste deel van vers 1.

  • Sommige kies om dit te vertaal as persoonsname: “Die man het vir Itiël gesê, vir Itiël en vir Ukal”  (NAV).  Die naam Itiël is bekend (Neh 11:7), maar nie die naam Ukal nie.
  • Dit sou egter ook as volg vertaal kan word: “Die uitspraak van die man: Ek is nie God nie; Ek is nie God nie, dat ek die vermoë sou hê nie:” wat sin sou maak in die lig van die uitsprake wat volg (Murphy).
  • Dit kan ook as volg vertaal word: “Ek is moeg, o God; ek is moeg, o God, en effentjies” (vgl die OAV) wat ook sin maak van die inhoud van die res van die hoofstuk.

Moeilike keuse!

Die gedeelte val duidelik in twee dele uiteen.

  • 30:1-14 word as die woorde van Agur aan ons bekend gestel en bevat ‘n paar diepsinnige opmerkings oor God en die lewe, te same met die enigste gebed in Spreuke.
  • 30:15-33 bevat veral 5 numeriese spreuke, waarin telkens van getalle gebruik gemaak word in die proses om ‘n punt te maak (bv “daar is twee, drie, nee vier …” – 30:15).  Dit is ‘n tegniek wat al vroeër in Spreuke gebruik is (oor God se afkeur: 6:16-19), reeds ook eintlik in vers 7 (“twee dinge vra ek van U …”) en vers 11-14 (“’n soort mens” [=generasie] word 4 keer na mekaar gebruik) voorkom, en op ‘n hele paar ander plekke in die Bybel gebruik word (oor sonde: Amos 1:3–2:6; oor besittings: Prediker 11:2).  Die presiese doel daarmee is onseker.  Moontlik word dit gebruik vir beklemtoning of om dit in ’n soort raaiselagtige styl – raaisels was ’n gewilde tydverdryf in die Midde-Ooste – te skryf.

Onlangse kommentaar

  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38Baie dankie vir hierdie verduideliking. Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vesti…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38GOD is so goeie GOD. HY gee vir ons die voorskrifte vanaf Deut. 28 en dan volg HY dit ook op in Psalm 107 en sê as ons net doen wat HY ons beveel sal dit met ons goed gaan en ons geseënd wees, nie oor ons nie, maar oor GOD en wie HY is.
  • Chris van Wyk on Psalm 106:43-48Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vestiging in die Beloofde Land.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:1-9Psalm 1:1 Stel dit so mooi hoe ons, ons pad moet hou en dat ons moet hou en bly by GOD se gebooie
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:43-48Goeie naand, Psalm 106: 28 Kan u asb vir my verduidelik wat Baâlpeor is ? Baie dankie Amanda
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:13-33Baie dankie vir die verduideliking, dit is hoekom ek hier is om te kan leer.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:13-33Dit breuk ñ mens se hart dat die Isrealiete ten spyte van al die tekens en wonders hulle telkemale opstandig word en GOD met so min agting behandel, en dat selfs Abraham vir hulle in die brese tree, en hoeveel keer die volk homself ook laat sondig het. Ek kan net sê ons dien ñ genadige GOD en GOD so…
  • Chris van Wyk on Psalm 106:6-12Die verskillende vertalings - "Rietsee", "Rooi See" en "Skelfsee" – het ontstaan omdat die Hebreeuse uitdrukking יַם־סוּף (yam sûf) verskillend vertaal is. Die Hebreeuse teks in Eksodus 13:18 beteken letterlik "See van Riete" of "Skelfsee" soos die 1933-vertaling dit vertaal het (skelf = riete, 'n w…
  • Chris van Wyk on Psalm 105:37-45Baie waar, vergifnis is genesend.