Skip to main content

Psalm 104 – Hoe groot is U, hoe groot is U!

’n Pragtige skeppings- en natuurlied

Bybelskool.com bydrae grafika
Bybelskool.com bydrae

Die pragtige gedig van die Sweedse digter Carl Gustav Boberg: “O Sture Gud” (1885) het wêreldwye aanklank gevind en word regoor die wêreld gesing op die bekende Sweedse volkswysie.  Dit is vertaal en uitgebrei deur die Britse sendeling Stuart K Hine as: “How great Thou art”.  In die Liedboek van die NG Kerk lui dit soos volg (Lied 464):

O Heer my God as ek in eerbied wonder
En al U werke elke dag aanskou
Die son en maan, die aarde, sterre, wolke,
Hoe U dit elke dag so onderhou…
Refrein:
Dan moet ek juig, my Redder en my God!
Hoe groot is U, hoe groot is U!
Want deur die hele skepping klink dit saam
Hoe heerlik Heer U grote Naam!
Ek sien die veld – die bosse, berge, vlaktes
Ek hoor hoe fluister grasse, stroom en wind
O Heer, U sorg vir klein, vir groot, vir alles
en U sorg dag na dag vir my, U kind.
Refrein
U maak ons deel van al U grootse werke.
U laat ons bid, Heer, dat U ryk mag kom.
En kom U weer, in heerlikheid op wolke,
maak U volkome nuut U eiendom.
Refrein

Hoewel Psalm 8 waarskynlik die inspirasie vir Boberg se gedig was, onder andere na aanleiding van sy verrukking oor die natuurskoon van ’n geweldige storm wat opgevolg is deur ’n vredevolle kalmte, vind ’n mens dieselfde perspektiewe en selfs nog meer in Psalm 104.  Dit is by uitstek ’n lofpsalm uit die natuur en die skepping vir God se versorging.

Interpretasie en indeling

Psalm 104 is saam met Psalm 8, 19, 29 en 148 die vyf Psalms van die natuur of die skepping in die Psalmboek.

’n Kenmerk van die Psalm is die afwisseling van die tweede persoon direkte aanspreekvorm van die Here as U, met die derde persoon indirekte aanspreekvorm Hy.  Die 1983 vertaling het gekies om alles in die tweede persoon direkte aanspreekvorm te vertaal met U, maar eintlik vind ’n mens U net in vers 1, 6-9, 13, 20, 24, 26-30 en Hy/Hom in vers 2-5, 16, 19, 31-35.  In die res van die Psalm word óf een van die twee veronderstel óf dit nie gebruik nie óf die naam van God alleen gebruik as aanspreekvorm (vers 21, 31, 33, 34, 35).

Die Psalm toon ook ooreenkomste met ’n Egiptiese lied van Amenhotep IV uit die vroeë 14de eeu v.C. wat handel oor die son, wat as die god Aten aanbid is (jy kan dit hier lees).  Die ooreenkomste lê in die beskrywing van water in vers 10-13, die versadiging van voëls en diere in vers 11-14, die beskrywing van die leeus in vers 20-21, die beskrywing van die sonsopkoms in vers 21, die beskrywing van arbeid in vers 23, die beskrywing van die skepping in vers 24, die beskrywing van versorging in vers 27 en die beskrywing van God wat lewe gee in vers 29-30 (vgl. Allen in die Word kommentaar reeks).

Dit is egter net generiese ooreenkomste omdat dit in die breë oor dieselfde tipe natuur onderwerpe handel.  Psalm 104 gaan ook sy eie weg op in die interpretasie van wat in die natuur en skepping gebeur het.  Die groot verskil in die twee gedigte lê in die feit dat die Here in Psalm 104 as Skepper aanbid word wat lig, waarvan die son maar ’n deel is, soos ’n kleed aantrek (vers 2) en die son self in die Egiptiese lied die god is wat aanbid word.

Die son is dus ’n objek in Psalm 104 maar die subjek in die Egiptiese lied.  Dit is die diep en radikale verskil wat regdeur gehandhaaf word.  In die Psalm is God die Skepper.  In die Egiptiese lied is die son die skepper.  Daar is ook ander verskille in bv. die betrokkenheid van God by die skepping van die mens in Psalm 104 wat afwesig is in die Egiptiese lied, maar vergelyk dit self by die skakel hierbo.

Dit is boonop duidelik dat die inspirasie vir Psalm 104 uit Genesis 1 se skeppingsverhaal kom deurdat die volgorde van die onderwerpe wat in die Psalm aangespreek word in die breë met die Genesis gedig ooreenkom: lig, water, plante, son en maan, seediere, kos voorsiening.  Dieselfde woordeskat word ook gebruik as in Genesis 1 vir die ooreenstemmende begrippe en dieselfde tipe teologie rondom God as Skepper en nie as deel van die skepping nie, word in beide gehandhaaf.

Daar is baie maniere om hierdie lofpsalm in te deel.  Ek kies vir ’n eenvoudige ses-deling wat vier dinge uitspel waarvoor die Here geloof en geprys moet word, en afgerond word met ’n gebed vir God en ’n verbintenis tot lofprysing aan Hom:

  1. God het die hemel en die aarde gemaak – vers 1–4.
  2. God het die aarde bewoonbaar gemaak (water) – vers 5–13.
  3. God het die aarde leefbaar gemaak (voedsel) – vers 14-24.
  4. Alles en almal is van God se versorging afhanklik – vers 25-30.
  5. Mag God Hom bly verheug in sy werke – vers 31–32.
  6. Ek sal die Here loof solank ek leef – vers 33–35.

1.  God het die hemel en die aarde gemaak – vers 1–4

Die Here is groot, want Hy is met lig omvou soos met ’n mantel.  Hy het alles gemaak, hemel en aarde.  Dit sal vir altyd en ewig nie wankel nie.  Hy skep soos Hy dit nodig het.  Winde en vlammende vuur word sy boodskappers.  Wolke word sy strydwa.  Hy ry op die wieke van die wind.  Alles wat geskep is, is in Sy diens.  Hy maak daarmee en stuur dit soos Hy wil.  Alles wat geskape is, is objekte in Sy hand.  Net Hy is die absolute Subjek, die Een wat as U aangespreek moet word.

2.  God het die aarde bewoonbaar gemaak (water) – vers 5–13

Allen (Word kommentaar) het my oë oopgemaak vir die rol wat water speel in vers 5-13 en voedsel in vers 14-24.  Vandaar die indeling van hierdie gedeelte van vers 5-13 en die volgende gedeelte van vers 14-24.

2.1  Die groot waters word beperk – vers 5-9

Let op hoe daar in vers 6 verwys word na die “groot waters” (oerwaters) wat die aarde oordek het.  Die Hebreeuse woord wat vir “groot waters” gebruik word, is תְּהוֹם (téhom, “diepte”).  Dié woord verwys na die oerwater wat egter nie net met die oseane verbind word nie (Gen. 1:2; Job 36:27; 37:10; Ps. 33:7; 107:23; Spr. 3:20; Jes. 51:10 – dit word ook soms simbolies gebruik, bv. in Jer. 51:55; Eseg. 26:19; Jon. 2:5), maar ook met die water wat onder die aarde is (vgl. Gen 7:11; 8:2).

Vir God se dreigende donderende stem (Gen. 1 sê dit meer terughoudend: “Toe het God gesê:”) het die waters op die vlug geslaan in die valleie in na die plek wat die Here daarvoor bestem het.  Hy het ook ’n grens gestel waaroor die waters nie mag gaan om die aarde weer te bedek nie.

In aansluiting by die gedagte van die “groot waters” as ’n aanduiding ook van die waters wat onder die aarde is, kan ek nie anders as om te vertel van die opspraakwekkende onlangse ontdekking deur geofisici van ’n reservoir van water diep onder die aarde wat drie keer meer volume het as al die water van al die oseane van die aarde saam.  Drie keer meer!  Dit is wat hierdie nuwe navorsing beweer.  Dié water is in ’n laag van blou rots amper 700 km diep rondom die aardkors (lees meer by Science Magazine).

Dit het my laat dink aan die Noag verhaal.  In Genesis 7:11 staan daar: “Presies op die sewentiende dag van die tweede maand van die ses honderdste jaar van Noag het die fonteine van die groot waters oopgebreek.”  Dieselfde Hebreeuse woord wat vir “groot waters” gebruik word in Genesis 1, Psalm 104 en ander plekke word ook hier gebruik.

Die verhaal van Noag teken dus ‘n prentjie van onder-aardse water wat uitbars bo die aarde en die aarde na sy vorige staat – omring deur water – verander.  Die skepping word dus as’t ware omgekeer. Die sondvloed is in Bybelse perspektief dus nie net ‘n soort vloedwater wat mens met tsunami’s sou verbind nie, maar ‘n omvattende verswelging van alles wat leef en beef op aarde.

God se belofte dat Hy nie weer só iets sou doen nie (Gen. 9:15: “Daar sal nooit weer vloedwaters kom wat alle lewende wesens uitroei nie.”) het dus nie met oorstromings te make nie, maar met ‘n omvattende verswelging wat perfek sou pas by ‘n onder-aardse bron van water.

Hiervan praat Psalm 104 na my mening ook.  Maar, meer hieroor wanneer ek met Genesis besig raak in 2016, DV.

2.2  Die aarde gee lewegewende water vir alles wat leef en beef – vers 10-13

Die Here gebruik nou die reservoir van water onder die aarde, die fonteine, om deur die riviere water te gee vir al die diere, die wilde donkies, en die voëls van die hemel.  Almal kan hulle dors les en sing van vreugde!  Netso vul Hy dit aan uit die hemel (sy bokamers!) met reënwater sodat die aarde deur God se sorg versadig kan word.

3.  God het die aarde leefbaar gemaak (voedsel) – vers 14–24

Die voorsiening van voedsel en die versorging van die mens staan in dié gedeelte voorop, maar die werklikheid is dat alles wat leef ’n volhoubare ruimte kry op die aarde wat leefbaar gemaak is deur die Here.  Die leefbaarheid lê ook in wederkerigheid.  Die bome word versadig sodat die voëls soos ooievaars daarin kan nesmaak.  Die berge gee skuiling vir die klipbokke en dassies.  Selfs die ritmes van dag en nag bring versadiging vir al die diere, selfs die leeus, en uiteindelik veral vir die mens in die ritme van sy arbeid.

Hoe talryk is u werke, Here!  Alles is met wysheid deur U gemaak; die aarde is vol van wat aan U behoort.” (vers 24 – 2014 vertaling)

4.  Alles en almal is van God se versorging afhanklik – vers 25-30

Wat die Psalmis laat uitroep: “Hulle almal sien op na U om vir hulle kos te gee op tyd.” (vers 26 – 2014 vertaling).  Dit geld die seediere, en die seevaarders, selfs die oer seedier die Leviatan.  Alles kom uit God se hand – versorging en die lewe.  Sonder God se guns is geen lewe moontlik nie.  Hy is die soewereine Skepper Heer.  Hy is ook die soewereine Voorsiener Heer.

5.  Mag God Hom bly verheug in sy werke – vers 31–32

Dit laat die Psalmis die hoop en gebed uitspreek dat God tog sal voortgaan om Hom te verheug in sy werke, soos dit van Hom in die Genesis 1 gedig vertel is.  Mag Sy Majesteit vir ewig duur, soos ook sy blydskap in sy Skepping, al is sy blik ook dreigend en donderend.

6.  Ek sal die Here loof solank ek leef – vers 33–35

Hy sluit af met die verbintenis om van sy kant af die Here te loof en prys.  Dit is waarvoor hy bestaan.  Soos hy elke woord in lofprysing aan die Here moet opdra, so moet eke gedagte (bepeinsing, besinning) van hom in die eerste plek vir die Here, soos ’n geurige offer, aangenaam wees.  Hy wil hom verheug in die Here sy hele lewe lank, met woorde en gedagtes.

Net voor hy afsluit met die laaste “Ek moet die Here prys!  Halleluja!” kry hy dwarsklap in na die sondaars en goddeloses vir wie hy tot nie-bestaan verwens.  Hulle is ’n klad op God se goeie skepping en verdien nie om in die ruimte wat God geskep het, te gedy nie.  Die implikasie is dat hulle voortbestaan God se goeie Skepping in gedrang kan bring (Allen).

Boodskap van die Psalm

Psalm 104 loof God vir die bewoonbare en leefbare ruimte wat Hy met die Skepping vir alles wat leef en beef gegee het, in die besonder deur water en voedsel wat versadig en lewe moontlik maak.  Hy is nie net Skepper nie, maar ook Voorsiener, en bly dit vir ewig en altyd: “Hulle almal sien op na U om vir hulle kos te gee op tyd.” (vers 27).  Daarom bid Hy dat God vir ewig bly sal wees oor sy handewerk en verbind hy hom om dié God te prys in woorde en gedagtes solank hy leef.

Dit vul my gedagtes en word my refrein vir hierdie dag: “Hoe groot is U, hoe groot is U!”  Inderdaad.

Psalms


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Comments

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar