Tag: Konings
2 Konings 24-25 – Die Here wou dit nie vergewe nie
Ons sien hier ‘n kant van God wat ons nie maklik eien nie. Die God wat ons in Jesus ken as die vergewingsgesinde, die een wat belowe dat Hy ons sonde so ver van ons af sal verwyder as die ooste van die weste af is, dié God besluit om Juda uit sy teenwoordigheid te verwyder.
Hoekom? Uiteraard was dit weens die konings van dié tyd, Jojakim en na hom Jojagin, wat volhard het in die sondes van hulle voorvaders. Jojakim het byvoorbeeld die Woord van God geminag deur dit te verbrand (Jer 36) en die woord van Jeremia in die wind geslaan. Maar volgens die skrywers van Konings was dit veral weens die sonde van Manasse en die onskuldige bloed wat hy in Jerusalem vergiet het:
“en die Here wou dit nie vergewe nie.”
2 Konings 23 – Die Woord is ‘n gemeenskapsboek
Let op dat Josia die “boek van die verbond” nie alleen lees nie. Man en muis is saam met hom in die huis van die Here en sluit saam met hom ‘n verbond met die Here om Hom te volg en sy riglyne met hulle hele hart en siel te gehoorsaam. Die Bybel is nie vir individue in die eerste plek nie, dit is vir gemeenskappe wat saam die Here wil dien.
Let ook op dat dit hierdie tipe gesamentlike lees is wat die verandering voorafgaan en inlei. Josia begin diepgaande hervormings in die stad gefokus op die tempel en tempel-diens, sowel as in die ander stede van Juda gefokus op die hoogtes. Hy betrek ook die priesters van die ander stede by sy hervormings, hoewel hy ‘n onderskeid tussen hulle en die priesters by die tempel in Jerusalem tref.
2 Konings 22 – Die Bybel moet geleef word in die teenwoordigheid van die Here
Ek sien twee bewegings raak in hierdie hoofstuk.
Aan die een kant is daar die groeiende bewuswording by koning Josia dat die volk regtig ver afgedwaal het van God se pad, wat tot daadwerklike praktiese toewyding en geestelike hervormings lei.
- Dit begin met sy herstelwerk aan die tempel, die plek waar God Homself openbaar – let op hoe sy optrede ooreenkom met een van sy grootjies, Joas (2 Kon 11-12).
- Dit verdiep met die ontdekking van die wetboek, die plek waar God sy wil openbaar – darem ontstellend dat die priesters die Woord van God letterlik verloor het, terwyl hulle met die werk van die tempel aangegaan het!
- En dit word prakties met die geestelike onderskeiding wat Gulda aan die dag lê deur die lewende woord van God vir Josia uit te lê.
2 Konings 21 – Genadetyd raak kort vir Jerusalem
Manasse was nou werklik ’n afvallige koning in direkte kontras met sy pa Hiskia. Dit is asof Manasse ’n lys gemaak het van alles wat vorige konings verkeerd gedoen het, en dit een vir een uitgevoer het. Deur sy lang regeringstyd was daar regtig niks positiefs wat die skrywers van Konings kon kry om van hon te sê nie. Hulle ignoreer selfs die klein verhaaltjie van hoop waarvan 2 Kron 33 vir ons vertel. Hoekom? Want, met die Baäl-godsdiens regdeur die Asjera-aanbidding tot by kinderoffers het hy die Here uitgetart en geminag met die “stinkende afgode” en die einde van die volk se tyd in Jerusalem verhaas. Konings oordeel daaroor baie skerp.
Manasse se naam beteken: “die een wat laat vergeet” en sy ouers het heel moontlik ’n baie positiewe verwagting van dié seun van hulle gehad. Hy het egter die naam deur die modder gesleep deur die volk van God te laat vergeet.
Onlangse kommentaar