Skip to main content

Tag: Beloftes

Psalm 119:169-176 – Hou my lewend sodat ek U kan loof

24 November

Daarmee kom ons aan die einde van hierdie projek. Dankie vir een en almal wat dit saam met my gevolg het. Dit was ‘n groot voorreg;

  • Ek sal graag wil hoor wat hierdie jaar se reis vir jou beteken het.
  • Ek sal ook graag wil hoor watter behoeftes Bybelskool verder kan aanspreek.
  • E-pos of Whatsapp my. Dit sal my help in my beplanning vorentoe.

Psalm 119:169-176 – Hou my lewend sodat ek U kan loof

ת TAW 169Laat my klaagroep voor U kom, Here; gee my insig ooreenkomstig u woord. 170Laat my smeekgebed U bereik, red my volgens u belofte. 171My lippe laat lofprysing uitstroom, want U leer my u voorskrifte. 172My tong besing u woord, want al u gebooie is regverdig. 173Laat u hand my te hulp kom, want ek verkies u opdragte. 174Ek verlang na u verlossing, Here; u wet is my vreugde. 175Hou my lewend sodat ek U kan loof en laat u beslissings my help. 176Ek dwaal rond soos ‘n verlore skaap; soek tog u dienskneg. U gebooie vergeet ek immers nie.

Psalm 119 word in die 22ste deel afgesluit met die belydenis dat die sin van die lewe lê in die lof aan God: “Hou my lewend sodat ek U kan loof.” En daaraan voeg hy toe: “Laat u beslissings my help.” (vers 175). Dit beteken dat die Psalmis sy beroep doen op God se voorsienigheid (beslissings) om in hierdie lewe in lof teenoor God te kan leef. Daarom stort hy sy hulpkrete en smeekgebede uit voor die Here, sowel as sy lofprysing en sang. Hy soek insig ooreenkomstig God se woord. Hy verwag redding volgens God se beloftes. Hy verwag dat God hom sal leer, want hy verkies om God se opdragte na te kom bo alles. Daarom sien hy uit na God se verlossing, want hy vind in God se wet sy vreugde. Trouens: “My lippe laat lofprysing uitstroom, want U leer my u voorskrifte.” (vers 171). Wat hy vra, gee die Here alreeds.

Maar, alles is nog nie soos dit moet wees nie, selfs nie in sy eie lewe nie. Daarom sluit hy die 22ste deel en daarmee ook Psalm 119 as ‘n geheel af met die versugting: “As ek sou ronddwaal soos ‘n skaap wat weggeraak het, soek my dan, want u gebooie het ek nie verontagsaam nie.” (vers 176). Hierop sal die Here Jesus natuurlik jare later antwoord met sy drie gelykenisse oor dié wat ronddwaal: die verlore skaap, verlore muntstuk en verlore seun (Luk 15). Dit is die Goeie Herder wat dié funksie vir elkeen wat in Hom glo, nakom, en hulle die oorvloed van sy teenwoordigheid gee.

Dit beteken dus dat die Psalmis besef dat die Here se hart vir hom, die Here se sorg en bystand, die Here se voorsiening uiteindelik baie belangriker is as sy eie hart vir die Here, sy eie vasgryp aan die Here se woord, en sy eie gehoorsaamheid daaraan, selfs waar dit in die fynste besonderhede is.

God gee vir ons wat Hy van ons vra. Dit is die evangelie. Dit is oorvloedig en genoegsaam. Hy gee dit in die Woord en in die werklikheid. Soli Deo Gloria.

Ek het soveel seën geput uit Leslie Allen se (Word-reeks) kommentaar op Psalm 119 dat ek graag ‘n aanhaling maak uit sy opsomming van dié Psalm:

The prayer for insight into the Torah in v 169 and the appeal for Yahweh’s “rulings” or promises of intervention in v 175 have illustrated the two poles of the psalm. At one end stands the revealed Torah, and it is for insight into this that the psalmist prays so that he may fulfill Yahweh’s moral will in his life. At the other end stands the hope of divine providential intervention, and for this too he prays out of his distress. The dual manifestation of God is itself bridged by the Torah’s examples and promises of aid to the faithful. In the interim the psalmist is kneeling, communing with God through the fellowship of prayer. He looks this way with the eyes of faith and that way with the eyes of hope. From this double spiritual stance the same living God becomes present through the written revelation and can be expected to become present through the providential overruling of adversity in the believer’s life and also through imparting wisdom in understanding and applying the Torah.

Dít verwoord my eie vasgryp aan die skriftelike openbaring van die Here terwyl ek voluit leef met die verwagting dat ek sy voorsiening op baie konkrete maniere in die werklikheid van my lewe sal ervaar. Vanuit die geskrewe Woord leef ek na die alledaagse werklikheid toe in die verwagting dat eenmaal die toekomstige werklikheid vir my en alle gelowiges sal oopgaan. Sela.

Lees meer: https://bybelskool.com/psalm-119169-176-taw-hou-my-lewend-sodat-ek-u-kan-loof/

Psalm 119:161-168 – Groot vrede is daar vir hulle wat u wet liefhet

23 November

Psalm 119:161-168 – Groot vrede is daar vir hulle wat u wet liefhet

שׂ SIN שׁ SJIN 161Leiers vervolg my sonder rede, maar net vir u woord het my hart ‘n heilige vrees. 162Ek verheug my oor u woord, soos iemand wat ‘n groot buit gevind het. 163Ek haat en verafsku valsheid, maar u wet het ek lief. 164Sewe keer per dag loof ek U oor u regverdige beslissings. 165Groot vrede is daar vir hulle wat u wet liefhet; vir hulle is daar geen struikelblokke nie. 166Ek vestig my hoop op u verlossing, Here, en ek voer u bevele uit. 167Ek kom u bepalings na; ja, ek het dit baie lief. 168Ek kom u opdragte en u bepalings na, want al my paaie lê oop voor U.

Die 21ste deel van Psalm 119 werk steeds met die gehegtheid aan die woord in die konteks van vervolging. Hierdie keer maak hy spesifiek die keuse om nie mense in magsposisies te vrees nie, maar net in ontsag vir die Here se woord te leef. Die Psalmis weet immers dat hy in ‘n sekere sin nie op God se ondersteuning en onderskraging kan staatmaak as hy nie van sy kant af met sy hele hart vasgryp aan God se woord en daarvolgens sy lewe inrig nie.

Wat hom hierin begelei, is die vreugde wat hy vind in die woord, presies soos Psalm 1 dit al uitgespel het: “Gelukkig is die mens … wat vreugde in die wet van die Here vind en sy wet dag en nag prewelend opsê.” (Ps 1:1-2). Trouens, sewe keer ‘n dag loof hy die Here oor sy regverdige beslissings, soos vers 163 meer letterlik vertaal word. Eugene Peterson vertaal dit so pragtig: “Seven times each day I stop and shout praises for the way you keep everything running right.” (The Message). Dit is asof die Psalmis in ‘n konteks van aanvegting wil sê dat ‘n mens nog meer as gewoonlik die Here moet loof vir sy woord, meer in elk geval as die drie keer ‘n dag van ‘n Daniël (Dan 6:11) en ‘n Dawid (Ps 55:18: “In die aand en in die oggend, selfs in die middag ,het ek gekla en gesteun; toe het Hy my stem gehoor.”)!

Die Psalmis is soos iemand wat ‘n groot buit gevind het en hom net nie kan inhou van opgewondenheid oor sy geluk nie. Soos Jesus ook in die NT in sy gelykenis oor die koninkryk op ‘n soortgelyke wyse vertel: “Met die koninkryk van die hemel gaan dit soos met ’n skat wat in ’n saailand onder die grond lê. Wanneer iemand dit kry, maak hy dit weer toe; en omdat hy baie in sy skik is, gaan verkoop hy alles wat hy het, en hy koop daardie land.” (Matt 13:44). Die omgekeerde is natuurlik dat in sy vreugde oor die woord, verberg hy ook nie sy afsku vir valsheid, dws vir mense wat die woorde van die Here verdraai en verontagsaam nie. Hy het die wet van die Here lief en loop daarmee te koop (vers 163).

Hoekom? Want hy weet dat daar vrede (1983-vertaling het sekerheid) is vir diégene wat die wet liefhet, en dat daar vir hulle geen struikelblokke is in hulle toewyding aan die Here. Struikelblokke in die lewe, ja, teenstand, selfs verguising, maar geen hindernis in hulle verhouding met die Here nie (vers 165).

Daarom vestig hy sy hoop op die Here wat verlos en voer hy God se bevele uit, onderhou hy die bepalings, en leef hy in totale openheid teenoor die Here. Hoekom? “Want al my paaie lê oop en bloot voor U”, dws sy hele lewe (vers 168). Hy weet dat hy in ‘n sekere sin net die Here se “wag hou” oor sy lewe kan ervaar as hy bewustelik oop voor die Here leef. Weereens soos Psalm 1 sê: “Ja, die Here sorg vir (ken) die pad van die regverdiges, maar die pad van die goddelose mense loop dood.” (Ps 1:6).

Lees meer: https://bybelskool.com/psalm-119161-168-sinsjin-sewe-keer-n-dag-loof-ek-u-oor-u-regverdige-beslissings/

Psalm 119:153-160 – Die wese van u woord is betroubaarheid

22 November

Psalm 119:153-160 – Die wese van u woord is betroubaarheid

ר RESJ 153Sien tog my ellende raak en red my, want u wet vergeet ek nie. 154Behartig my regsaak en verlos my; hou my lewend op grond van u belofte. 155Verlossing bly ver van goddeloses, want hulle streef nie u voorskrifte na nie. 156U ontferming is groot, Here; hou my lewend volgens u beslissings. 157My agtervolgers en teenstanders is baie, maar van u bepalings wyk ek nie af nie. 158Ek het ontroues gesien en dit het my met weersin vervul dat hulle u woord nie onderhou nie. 159Sien tog raak dat ek u opdragte liefhet, Here, maak my lewend in ooreenstemming met u troue liefde. 160Die wese van u woord is betroubaarheid, en elkeen van u regverdige beslissings is vir ewig.

Die waarde van Psalm 119 lê ten diepste in die herhaalde onderstreping van belangrike eienskappe van die openbaring van God:

  • Dat God se beloftes en beslissings lewend maak en daarom getuig van God se troue liefde (verse 154, 156, en 159);
  • Dat die hoofsaak van God se woord waarheid of betroubaarheid is: “Die wese van u woord is betroubaarheid, en elkeen van u regverdige beslissings is vir ewig.” (vers 160).

Let op hoe ‘n mens hierin iets sien van God se liefde wat nie sonder sy waarheid en betroubaarheid tot sy volle reg kom nie. God se liefde en die liefde vir God bly altyd binne die raamwerk van die waarheid wat Hy geopenbaar het. Die omgekeerde is natuurlik ook waar. God se waarheid word binne die raamwerk van die liefde verwerklik. Let ook op hoeveel erns hy maak met die openbaring van God (positief gestel), want dit is die waarheid:

  • Hy vergeet nie God se wet nie (vers 153).
  • Hy bestudeer God se voorskrifte, anders as die goddeloses (vers 155).
  • Hy wyk nie af van God se bepalings nie, al word hy agtervolg en teengestaan (vers 157).
  • Hy onderhou God se woord, en daarom vul dit hom met weersin as hy sien dat die ontroues dit nie doen nie (vers 158).
  • Hy het God se opdragte lief, en wil hê die Here moet dit raaksien (vers 159).

Die ding wat egter vir my vandag uitstaan in hierdie twintigste deel van Psalm 119 – wat deur die herhaling onderstreep word – is die feit dat die beloftes en beslissings van God IN die ellende van regsake, in die agtervolging en teenstand van goddeloses en ontroues gegee word. Dit is IN die smeltkroes van snedige spotters wat die Psalmis vashou aan die lewe wat uiteindelik kom deur die einste woord wat deur die teenstanders vertrap word.

Daarom dat die Psalmis se gebed is dat die Here sy ellende sal raaksien en hom sal red van die regsaak teen hom – waarskynlik vanweë sy vashou aan die waarheid – in die hoop dat sy vashou aan God se beloftes en beslissings en sy weiering om daarvan af te wyk, deur die Here raakgesien sal word.

Lees meer: https://bybelskool.com/psalm-119153-160-resj-die-hoofsaak-van-u-woord-is-waarheid/

Psalm 119:145-152 – God se teenwoordigheid word beleef in die openbaring van die Skrif

21 November

Dit is vandag die 365ste belofte van ons projek. Ek gee ‘n paar bonus beloftes die volgende paar dae om Psalm 119 se beloftes klaar te maak. Ons maak dus hierdie projek die 24ste November klaar.

  • Ek sal graag wil hoor wat hierdie jaar se reis vir jou beteken het.
  • Ek sal ook graag wil hoor watter behoeftes Bybelskool verder kan aanspreek.
  • E-pos of Whatsapp my. Dit sal my help in my beplanning vorentoe.

Psalm 119:145-152 – God se teenwoordigheid word beleef in die openbaring van die Skrif

ק KOF 145Ek roep met my hele hart: “Antwoord my, Here, u voorskrifte wil ek onderhou!” 146Ek roep na U: “Verlos my sodat ek u bepalings kan nakom!” 147Voor die oggendskemer roep ek al om hulp; op u woorde wag ek. 148Met oop oë gaan ek elke nagwaak in, sodat ek oor u woord kan nadink. 149Luister tog in u troue liefde na my stem, Here, hou my lewend volgens u beslissing. 150Mense wat slinkse planne najaag, kom nader; hulle bly ver van u wet. 151Maar U, Here, is naby, en al u gebooie is betroubaar. 152Uit u bepalings weet ek lank reeds dat U dit vir ewig gevestig het.

Dit is duidelik in hierdie negentiende deel van dié Psalm, waarvan elkeen van die 8 versreëls met die Hebreeuse letter kof begin, dat die teenwoordigheid van die Here in sy geskrewe openbaring beleef word. Dit is wanneer ‘n mens nadink oor wat die Here reeds gesê het, dié dinge wat reeds bekend is, dat daar nie net nuwe insigte opdaag nie, maar die verlossende krag van die Here aan die werk kom om dié openbaring van God na te kom en uit te voer. Dit is van ewige waarde (vers 152). Laat ek dit helder sê.

  • God is naby ons deur dít wat skriftelik aan ons oorgelewer is, die Bybel. Ons beleef God se teenwoordigheid in die voorskrifte, bepalings (2x), woorde (dâbâr se meervoud), woord (‘imrâh – waarskynlik in die sin van ‘n belofte), beslissing, wet, en gebooie van sy openbaring.
  • Ons beleef God se teenwoordigheid in die beweging wat die Bybel in ons aan die gang sit. Die Psalmis wys vir ons hoe die skriftelike openbaring ons innerlike mens in beweging moet bring: “Ek roep met my hele hart.” Hart sluit hier ons gevoelens, gedagtes en wil in (vers 145). Hy wys vir ons ook hoe die Bybel ons uiterlike mens, d.w.s. ons nougesette gehoorsaamheid in gedrag, in beweging moet bring: “U voorskrifte wil ek nakom!” (vers 146).

God is natuurlik ook in die Skepping teenwoordig en dit is ongelooflik wonderlik (Ps 19). Hy is ook in die lewe teenwoordig in alles wat met ons gebeur (Ps  42:5). Hy is immers die bron van ons lewe, soos die Psalmis vroeër bely: ”U is my lewe.” (Ps  16:5). Hy is ook in ons midde waar gelowiges die wil van die Here soek en probeer onderskei (Matt 18:20). Maar dit is juis deur die lig wat Hy vir ons gee uit sy geskrewe openbaring wat ons op die beste manier tot insig kom en die lig vir ons pad kry (vers 105). Dít is waarom dit so belangrik is dat God se skriftelike openbaring die belangrikste plek in ons lewe moet inneem. Dit moet ook van ons waar wees, soos die Psalmis op ‘n ander plek sê: “U woord is my hele lewe.” (Ps 40:9). Dit is immers waarom die Psalmis vroeër ook kan skryf dat hy ‘n vriend is van almal wat vir die Here ontsag het en sy opdragte nakom (vers 63).

Let op hoe die Psalmis daarom met sy hele hart na die Here se voorskrifte roep, dat hy reeds voor die oggendskemer al op God se woorde wag (vers 147), trouens in die nag al oor God se woord nadink (verfs 148 – die nagwaak waarna hier verwys word, is waarskynlik die tyd tussen 2 en 6 uur in die oggend). Die Psalmis luister ook nie net nie. Hy vra dat God na hom sal luister en hom sal verlos en bewaar van mense wat slinkse planne het. Dit is immers wat God se Woord doen. Dit roep om ‘n antwoord van ons; dit roep om ‘n gesprek met ons, sodat ons nie net met vreugde God se woorde kan ontvang nie, maar met blydskap dit kan gehoorsaam. Dit is in hierdie lees en luister na God se Woord en woorde wat ons met oorgawe en oorvloed kan leef. Die Woord is inderdaad ‘n huis waarin ons kan woon.

Lees meer: https://bybelskool.com/psalm-119145-152-kof-op-u-woorde-wag-ek/

Lukas 1:67-80 – God bewerk vir ons ‘n kragtige verlossing deur die Here Jesus

20 November

Lukas 1:67-80 – God bewerk vir ons ‘n kragtige verlossing deur die Here Jesus

67Sagaria, sy pa, is hierna met die Heilige Gees vervul en het geprofeteer en gesê: 68“Lofwaardig is die Here, die God van Israel, want Hy het omgesien na sy volk en hulle bevryding bewerkstellig. 69‘n Kragtige verlossing het Hy vir ons bewerk uit die nageslag van Dawid, sy dienskneg, 70soos Hy reeds lank gelede by monde van sy heilige profete beloof het – 71verlossing van ons vyande en uit die hand van almal wat ons haat. 72Dit het Hy gedoen om ontferming aan ons voorvaders te bewys en sy heilige verbond in gedagte te hou, 73die eed wat Hy teenoor ons vader Abraham gesweer het, sodat ons, 74gered uit die hand van ons vyande, Hom sonder vrees sou dien, 75en al ons dae voor Hom in heiligheid en geregtigheid kan leef. 76En jy, kindjie, profeet van die Allerhoogste sal jy genoem word, want jy sal voor die Here uitloop om sy paaie gereed te maak, 77en om sy volk in te lig dat hulle verlos kan word deur die vergewing van hulle sondes, 78danksy ons God se innige ontferming, waardeur die môreson uit die hoogte oor ons sal opkom, 79om te skyn oor diegene wat hulle in die duisternis en in die skadu van die dood bevind, en om ons voete op die pad van vrede te plaas.” 80Die kindjie het gegroei en sterk geword deur die Gees. Hy het in die woestyngebiede gewoon totdat hy in die openbaar voor Israel begin optree het.

Die profesie van Sagaria word deur die eeue die Benedictus genoem. Dit kom van die eerste woord van sy loflied in die Latynse vertaling: “Blessed be the Lord”. Sagaria profeteer onder leiding van die Heilige Gees:

  • oor die Verlosser wat volgens die belofte die volk weer toegewy (heilig) en opreg (regverdig) en sonder vrees vir hulle vyande sal laat lewe (1:68-75), en
  • oor die voorloper, Johannes (die naam beteken God is genadig), wat die pad vir Hom sal voorberei, interessant genoeg om hulle deur vergifnis en die lig wat Hy gee op die pad van vrede te laat loop (1:76-79).

Sagaria se loflied het ‘n aantal aanhalings of toespelings uit die Psalms (18:2; 105:8-9; 106:9-10; 148:4) en die profete, veral Jesaja (9:1-2; 11:1-10; 40:3). God kom hulle van hulle vyande verlos deur hierdie Verlosser. Hy sal hulle kom bevry van almal wat hulle haat, wat hulle verbintenis aan God wil verbreek. God kom hulle deur hierdie Verlosser bevry dat hulle Hom “sonder vrees kan dien met toewyding en opregtheid voor Hom.” “Al ons dae”! (vers 74-75) En hierdie toesegging gaan terug op die verbond met Abraham (Luk 1:73 – Gen 12:1-3; 17:1-27) en die belofte aan Dawid (Luk 1:69 – 2 Sam 22:3). Want aan hulle het God belowe dat Hy ‘n ruimte sal gee waar hulle God kan dien, sonder om bang te wees vir hulle vyande, waar hulle geseënd kan wees, en tot ‘n seën vir ander sal wees. God het belowe dat Hy sal afreken met die sonde, die vyand van binne.

Heilig en opreg – “met toewyding en opregtheid voor Hom” – dit is God se doel met sy volk. In ‘n noue verhouding met Hom, so heilig soos Hy is, en onberispelik na buite in die gemeenskap. Die feit dat Sagaria profeteer dat dié Verlosser uit die huis van Dawid sou kom, is betekenisvol, want dit versterk die idee dat Maria ‘n verbintenis met die stam van Juda gehad het. Dit beïnvloed die interpretasie van Jesus se geslagsregister, soos ons later gaan hanteer.

Daarvoor, sê Sagaria, het God hulle ook van hulle sonde kom verlos. Om hulle te leer hoe om uit die duisternis van die sonde, “die skaduwee van die dood” te beweeg na die pad van vrede, waarin hulle sonde vergewe is, en hulle in die lig van die Môreson, ‘n beskrywing van die Here Jesus (Mal 4:2; 2 Pet 1:19), kan lewe (vers 76-79). Vrede beskryf hier die kalmte van hart wat God bring, en die krag van oortuiging om sy wil te doen in die lewe. En Johannes sal die voorloper wees, die een wat die volk sal voorberei om die verlossing te ontvang wat die Messias sal bring.

Johannes het grootgeword en is geestelik versterk (bekragtig deur/in die g[G]ees). Dit kan geestelik of Geestelik verstaan word. Maar let op, dat sy openbare bediening eers gebeur op die tyd wat God bepaal. Daar is vir hierdie voorloper ’n tyd van voorbereiding nodig soos dit ook was met heelwat ander Godsfigure, Moses en Dawid in die OT, en in die NT, Jesus en Paulus.

Lees meer: https://bybelskool.com/lukas-11-56-twee-godsmanne-word-vir-twee-godsvroue-belowe/

Onlangse kommentaar