Skip to main content

Rigters 4 – Debora, die formidabele moeder in Israel

Hoewel Debora nie buite die boek Rigters vermeld word nie (wel Barak) is dit duidelik dat sy die eintlike een was wat die voortou geneem het in dié geskiedenis van Israel. Sy was ‘n gesogte profeet, gedugte regter, bobaas rigter en gesagvolle leier wat die titel: “moeder in Israel” heeltemal waardig was. ‘n Onkreukbare mens, as daar ooit een was.

Dit is hoe sy haarself beskryf in die loflied oor die oorwinning wat hulle behaal het: “Die lewe buite die stede het in Israel gekwyn en agteruitgegaan totdat ek, Debora, na vore gekom het, totdat ’n moeder in Israel na vore gekom het.” (Rigt 5:7).

Die Israeliete verval in ongehoorsaamheid en die Here straf hulle met koning Jabin van Hasor

Die verhaal begin soos gewoonlik met die Israeliete wat doen wat verkeerd is in die oë van die Here en in ongehoorsaamheid verval. Ehud (en Samgar) se invloed het met sy dood getaan. Hierdie keer gee Hy hulle as straf oor in die hande van die koning Jabin van Hasor, ‘n stad so vyftien kilometer noord van die See van Galilea.

Ongeveer ‘n eeu te vore in die tyd van Josua het die toenmalige koning Jabin (dit is ‘n titel) van Hasor ’n noordelike koalisie met omringende inwoners teen die magte van Israel gevorm. Josua kon daarin slaag om die stad in te neem in die aanvanklike “platvee”-veldtog en sy koning oorwin (Jos 11:1–15).

Nou is die rolle omgekeer en word Israel deur ‘n nasaat, ook koning Jabin, oorheers, ‘n hele 20 jaar lank. Veral die hoof van Jabin se weermag het chaos in Israel gesaai met sy 900 ysterstrydwaens.

Israel is dus gekonfronteer met ‘n formidabele vyand. Dit was aan die begin van die Yster tydperk in die Midde-Ooste, wat beteken dat die Kanaäniete regtig tegnologies gevorderd was vir die tyd. Hulle kon wapens van yster maak, wat baie beter was as die brons waarvan Israel se wapens gemaak is. Met hulle skaarste aan goeie sterk wapens, laat staan nog ysterwaens, was Israel menslik gesproke nie opgewasse teen Sisera nie.

Dit het die Israeliete baie bang gemaak. Hulle het traag geraak om te reis. As hulle êrens gereis het, as hulle nie anders kon nie, het hulle ompaaie gebruik. Die lewe buite die stede van Israel het gekwyn en agteruitgegaan. Die boere het in sulke omstandighede swaar gekry en kon nie hulle lande bewerk soos hulle wou nie. Hulle het langs bergstroompies, in grotte en in ander ontoeganklike plekke gaan bly (vgl Gideon in Rigt 6:2). Hulle het regtig wegkruip-lewens gelei.

Die Here luister na hulle geroep om hulp en gee vir hulle dié moeder in Israel: Debora

Daarom het hulle soos tevore tot die Here geroep om hulp. En vanweë God se voorsiening kon Hy hulle weer verlos, dié keer met ‘n besondere vrou, die moeder Debora.

Dit tref my hoe God selfs terwyl die verdrukking as strafmaatreël die lewe moeilik maak vir die volk, reeds ‘n plan gereed het om die volk te verlos. Sy oordeel sluit altyd sy verlossing in. Daarom dat ‘n mens so baie keer in die Bybel van oordeel as ‘n verlossende oordeel kan praat.

Debora was ‘n formidabele vrou. Haar naam beteken letterlik by (heuningby), en soos ‘n koninginby het sy alles beïnvloed rondom haar. Sy was die eerste werkende ma waarvan ons in die Bybel lees.

Sy was die vrou van Lappidot, maar terselfdertyd die bobaas rigter van die Israeliete. Sy was daarby ’n gesogte profetes wat altyd onder ‘n palmboom – wat uiteindelik na haar vernoem is, die “Deborapalm” – in die Efraimsberge tussen Rama en Bet-El gesit het om die Israeliete se geskille by te lê. Sy was dus ook ‘n gedugte regter.

Sy word egter ook ‘n gesagvolle leier, want sy laat vir Barak uit Naftali roep en beveel hom – namens die Here! – om Sisera by die Kisonspruit naby die Taborberg tegemoet te trek met die stamme Naftali en Sebulon, die Jabiniete die stryd aan te sê, en hulle te verslaan (saam met Efraim, die halwe stam van Manasse in die land [Makir], Benjamin, en Issaskar, soos dit uit Rigters 5 blyk).

En Barak kom nie net haar toe op haar bevel nie, maar vra haar om saam te trek, anders sal hy nie die moed hê om dié opdrag na te kom nie.

Die Israeliete behaal ‘n klinkende oorwinning oor Hasor

Daar in die “slag van Taänak”, tussen die Taborberg en die Kisonspruit, het Naftali en Sebulon (en die ander vier stamme) ‘n klinkende oorwinning oor Sisera en die Jabiniete van Hasor behaal. Die eer sou egter aan ‘n vrou behoort, soos sy hom ingelig het toe sy instem om saam te gaan.

Hierdie profesie het nie net op haarself as rigter gedui nie, maar ook letterlik op wie Sisera sou doodmaak. Dit is inderdaad ‘n vrou wat vir Sisera verslaan het, Jael, ‘n Keniet, nageslag van Moses se skoonpa (of swaer) Gobab, en daarom nageslag van Midian, Abraham se een seun by Ketura (lees meer in my bydrae oor Eksodus 2 en Numeri 10).

Let op hoe Debora volledig staatmaak op wat die Here vir haar sê. Sy doen wat reg is in die oë van die Here, óók in die veldslag wat op sy terme gevoer word. Haar vertroue in God boesem dus vertroue in by die volk. Die Here se belofte van oorwinning gee Barak die moed om op te tree.

Maar let ook op dat dit die Here is wat vrees in die harte van Sisera en sy beter toegeruste mag inboesem, soveel só dat Sisera sy strydwa agterlaat en te voet voor die manne van Israel vlug.

Daar is egter meer. Uit die lied wat Debora en Barak sing (Rigt 5), wil dit voorkom of daar iets baie ongewoons gebeur het, iets wat hulle groot vrees verklaar. Miskien was daar ‘n geweldige wolkbreuk, óf ‘n aardbewing by die Kisonspruit, wat ‘n groot vloed veroorsaak het óf een of ander kosmiese gebeure. Nietemin, dit het die leër van Sisera onkant gevang, sodat hulle gevlug het.

Sisera vlug en dink nie meer helder nie. Hy aanvaar die uitnodiging van Jael en dink dit sal tot sy voordeel wees. Sy is immers die vrou van Geber wat op ‘n goeie voet met koning Jabin verkeer het. Maar Sisera was salig onbewus daarvan dat Geber intussen weggetrek het van sy familie af … Jael se gasvryheid is dus ‘n lokval en sy maak korte mette van hom met ‘n tentpen deur die slaap.

Sy maak ook nie te veel daarvan nie. So half terloops sê sy vir Barak dat Sisera dood in haar tent lê … ‘n magtige kryger oorwin deur ‘n vrou. Dié vernedering het die moed van Jabin gebreek en die Israeliete algaande die oorhand laat kry totdat Hasor vernietig is

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Rigters


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Comments

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38Baie dankie vir hierdie verduideliking. Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vesti…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38GOD is so goeie GOD. HY gee vir ons die voorskrifte vanaf Deut. 28 en dan volg HY dit ook op in Psalm 107 en sê as ons net doen wat HY ons beveel sal dit met ons goed gaan en ons geseënd wees, nie oor ons nie, maar oor GOD en wie HY is.
  • Chris van Wyk on Psalm 106:43-48Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vestiging in die Beloofde Land.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:1-9Psalm 1:1 Stel dit so mooi hoe ons, ons pad moet hou en dat ons moet hou en bly by GOD se gebooie
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:43-48Goeie naand, Psalm 106: 28 Kan u asb vir my verduidelik wat Baâlpeor is ? Baie dankie Amanda
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:13-33Baie dankie vir die verduideliking, dit is hoekom ek hier is om te kan leer.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:13-33Dit breuk ñ mens se hart dat die Isrealiete ten spyte van al die tekens en wonders hulle telkemale opstandig word en GOD met so min agting behandel, en dat selfs Abraham vir hulle in die brese tree, en hoeveel keer die volk homself ook laat sondig het. Ek kan net sê ons dien ñ genadige GOD en GOD so…
  • Chris van Wyk on Psalm 106:6-12Die verskillende vertalings - "Rietsee", "Rooi See" en "Skelfsee" – het ontstaan omdat die Hebreeuse uitdrukking יַם־סוּף (yam sûf) verskillend vertaal is. Die Hebreeuse teks in Eksodus 13:18 beteken letterlik "See van Riete" of "Skelfsee" soos die 1933-vertaling dit vertaal het (skelf = riete, 'n w…
  • Chris van Wyk on Psalm 105:37-45Baie waar, vergifnis is genesend.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:6-12Askies u praat van die Rietsee, maar die Bybel praat van die Skelfsee
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:1-5Amen, baie dankie vir hierdie woord, GOD het die mens so lief dat HY nie wil hê dat enige een verlore sal gaan nie, maar die ewige lewe sal hê. GOD het ons so lief dat HY SY SEUN vir ons gegee het om ons sonde te vergewe, sal jy as mens dit doen? Ek self sal baie swaar kry, sou GOD dit ooit van my s…