Rigters 4 – Debora, die formidabele moeder in Israel

Hoewel Debora nie buite die boek Rigters vermeld word nie (wel Barak) is dit duidelik dat sy die eintlike een was wat die voortou geneem het in dié geskiedenis van Israel. Sy was ‘n gesogte profeet, gedugte regter, bobaas rigter en gesagvolle leier wat die titel: “moeder in Israel” heeltemal waardig was. ‘n Onkreukbare mens, as daar ooit een was.

Dit is hoe sy haarself beskryf in die loflied oor die oorwinning wat hulle behaal het: “Die lewe buite die stede het in Israel gekwyn en agteruitgegaan totdat ek, Debora, na vore gekom het, totdat ’n moeder in Israel na vore gekom het.” (Rigt 5:7).

Die Israeliete verval in ongehoorsaamheid en die Here straf hulle met koning Jabin van Hasor

Die verhaal begin soos gewoonlik met die Israeliete wat doen wat verkeerd is in die oë van die Here en in ongehoorsaamheid verval. Ehud (en Samgar) se invloed het met sy dood getaan. Hierdie keer gee Hy hulle as straf oor in die hande van die koning Jabin van Hasor, ‘n stad so vyftien kilometer noord van die See van Galilea.

Ongeveer ‘n eeu te vore in die tyd van Josua het die toenmalige koning Jabin (dit is ‘n titel) van Hasor ’n noordelike koalisie met omringende inwoners teen die magte van Israel gevorm. Josua kon daarin slaag om die stad in te neem in die aanvanklike “platvee”-veldtog en sy koning oorwin (Jos 11:1–15).

Nou is die rolle omgekeer en word Israel deur ‘n nasaat, ook koning Jabin, oorheers, ‘n hele 20 jaar lank. Veral die hoof van Jabin se weermag het chaos in Israel gesaai met sy 900 ysterstrydwaens.

Israel is dus gekonfronteer met ‘n formidabele vyand. Dit was aan die begin van die Yster tydperk in die Midde-Ooste, wat beteken dat die Kanaäniete regtig tegnologies gevorderd was vir die tyd. Hulle kon wapens van yster maak, wat baie beter was as die brons waarvan Israel se wapens gemaak is. Met hulle skaarste aan goeie sterk wapens, laat staan nog ysterwaens, was Israel menslik gesproke nie opgewasse teen Sisera nie.

Dit het die Israeliete baie bang gemaak. Hulle het traag geraak om te reis. As hulle êrens gereis het, as hulle nie anders kon nie, het hulle ompaaie gebruik. Die lewe buite die stede van Israel het gekwyn en agteruitgegaan. Die boere het in sulke omstandighede swaar gekry en kon nie hulle lande bewerk soos hulle wou nie. Hulle het langs bergstroompies, in grotte en in ander ontoeganklike plekke gaan bly (vgl Gideon in Rigt 6:2). Hulle het regtig wegkruip-lewens gelei.

Die Here luister na hulle geroep om hulp en gee vir hulle dié moeder in Israel: Debora

Daarom het hulle soos tevore tot die Here geroep om hulp. En vanweë God se voorsiening kon Hy hulle weer verlos, dié keer met ‘n besondere vrou, die moeder Debora.

Dit tref my hoe God selfs terwyl die verdrukking as strafmaatreël die lewe moeilik maak vir die volk, reeds ‘n plan gereed het om die volk te verlos. Sy oordeel sluit altyd sy verlossing in. Daarom dat ‘n mens so baie keer in die Bybel van oordeel as ‘n verlossende oordeel kan praat.

Debora was ‘n formidabele vrou. Haar naam beteken letterlik by (heuningby), en soos ‘n koninginby het sy alles beïnvloed rondom haar. Sy was die eerste werkende ma waarvan ons in die Bybel lees.

Sy was die vrou van Lappidot, maar terselfdertyd die bobaas rigter van die Israeliete. Sy was daarby ’n gesogte profetes wat altyd onder ‘n palmboom – wat uiteindelik na haar vernoem is, die “Deborapalm” – in die Efraimsberge tussen Rama en Bet-El gesit het om die Israeliete se geskille by te lê. Sy was dus ook ‘n gedugte regter.

Sy word egter ook ‘n gesagvolle leier, want sy laat vir Barak uit Naftali roep en beveel hom – namens die Here! – om Sisera by die Kisonspruit naby die Taborberg tegemoet te trek met die stamme Naftali en Sebulon, die Jabiniete die stryd aan te sê, en hulle te verslaan (saam met Efraim, die halwe stam van Manasse in die land [Makir], Benjamin, en Issaskar, soos dit uit Rigters 5 blyk).

En Barak kom nie net haar toe op haar bevel nie, maar vra haar om saam te trek, anders sal hy nie die moed hê om dié opdrag na te kom nie.

Die Israeliete behaal ‘n klinkende oorwinning oor Hasor

Daar in die “slag van Taänak”, tussen die Taborberg en die Kisonspruit, het Naftali en Sebulon (en die ander vier stamme) ‘n klinkende oorwinning oor Sisera en die Jabiniete van Hasor behaal. Die eer sou egter aan ‘n vrou behoort, soos sy hom ingelig het toe sy instem om saam te gaan.

Hierdie profesie het nie net op haarself as rigter gedui nie, maar ook letterlik op wie Sisera sou doodmaak. Dit is inderdaad ‘n vrou wat vir Sisera verslaan het, Jael, ‘n Keniet, nageslag van Moses se skoonpa (of swaer) Gobab, en daarom nageslag van Midian, Abraham se een seun by Ketura (lees meer in my bydrae oor Eksodus 2 en Numeri 10).

Let op hoe Debora volledig staatmaak op wat die Here vir haar sê. Sy doen wat reg is in die oë van die Here, óók in die veldslag wat op sy terme gevoer word. Haar vertroue in God boesem dus vertroue in by die volk. Die Here se belofte van oorwinning gee Barak die moed om op te tree.

Maar let ook op dat dit die Here is wat vrees in die harte van Sisera en sy beter toegeruste mag inboesem, soveel só dat Sisera sy strydwa agterlaat en te voet voor die manne van Israel vlug.

Daar is egter meer. Uit die lied wat Debora en Barak sing (Rigt 5), wil dit voorkom of daar iets baie ongewoons gebeur het, iets wat hulle groot vrees verklaar. Miskien was daar ‘n geweldige wolkbreuk, óf ‘n aardbewing by die Kisonspruit, wat ‘n groot vloed veroorsaak het óf een of ander kosmiese gebeure. Nietemin, dit het die leër van Sisera onkant gevang, sodat hulle gevlug het.

Sisera vlug en dink nie meer helder nie. Hy aanvaar die uitnodiging van Jael en dink dit sal tot sy voordeel wees. Sy is immers die vrou van Geber wat op ‘n goeie voet met koning Jabin verkeer het. Maar Sisera was salig onbewus daarvan dat Geber intussen weggetrek het van sy familie af … Jael se gasvryheid is dus ‘n lokval en sy maak korte mette van hom met ‘n tentpen deur die slaap.

Sy maak ook nie te veel daarvan nie. So half terloops sê sy vir Barak dat Sisera dood in haar tent lê … ‘n magtige kryger oorwin deur ‘n vrou. Dié vernedering het die moed van Jabin gebreek en die Israeliete algaande die oorhand laat kry totdat Hasor vernietig is

View all posts in this series

Rigters


Chris van Wyk

Ek is gemeenteleraar by Somerstrand gemeente, Port Elizabeth. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am pastor at Summerstrand congregation, Port Elizabeth. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Comments (2)

  • Chris jy kan gerus vir ons iets skryf oor die plek van die vrou in die OT. Miskien het jy al. Daar is ‘n wydverspreide persepsie dat die vrou in die OT beskou is as ‘n minderwaardige wese. Ek sien dit nie so nie.

    • Hi Jan. Ja, ek stem saam. Ek het oor Miriam al iets geskryf in Eksodus, ook oor Magla, dogter van Selofgad, en Aksa, dogter van Kaleb, en hier oor Debora. Sal later ook iets plaas oor Simson se ma. Sal oorweeg om al die goed bymekaar te sit op ‘n dag. Ek het wel al ‘n kort stuk oor vroue in die NT geskryf. Ek was ook redakteur van daardie “delightful”boek vir die Seisoen van Luister: Magla die dogter wat buite die boks gedink het (en 39 ander cool Bybelkarakters) deur Christelle Bekker en Nico Simpson. Dit stel jou bloot aan 20 vroue en 20 mans in die Bybel in ‘n lekker bevatlike en toeganklike Bybelstudie. Hier is die inhoudsopgawe:

      1. Magla: Die dogter wat buite die boks gedink het
      2. Hanna: Die ma wat dronk gelyk het
      3. Jetro: Wanneer Skoonpa kom kuier
      4. Manoag se vrou: Die mamma-sonder-naam
      5. Josia: Die jong koning en die profetes
      6. Naäman: Die stemlose mense wat gepraat het
      7. Naomi: As skoonma jou beste maat is
      8. Boas: ’n Vreemdeling word familie van Jesus
      9. Jonatan: Die pel wat die prins sy kroon gekos het
      10. Die farao: Koning Slim maak dom en dommer planne
      11. Jogebed: Die moordmasjien word kraamsaal
      12. Josef: Vergewe is nie vergeet nie
      13. Samuel: Boeta word koning
      14. Moses: God besoek ’n vlugtende moordenaar
      15. Debora: Vroue wat vir niks skrik nie
      16. Elia: Die dominee met selfmoordneigings
      17. Daniël: Afguns in die staatsdiens kan jou opvreet
      18. Josua: Mense loop deur diep rivier
      19. Ester: Mej Wêreld bring wêreldvrede
      20. Ester: ’n Plan wat lelik boemerang!
      21. Elisa: Entrepreneursdag in Kanaän
      22. Amos: Die plaasjapie wat uit sy beurt gepraat het
      23. Job: Vriende wat niks help nie
      24. Jona: ’n Lessie oor liefde – nie oor ’n vis
      25. Habakuk: Ge-abba of gekruk, nogtans sal ek sing
      26. Saggeus: Lang vingers, kort bene
      27. Saulus: Vervolger word volgeling
      28. Paulus: In die breingimnasium
      29. ’n Vrou op die pad: Die hondjie wat vir Jesus geblaf het
      30. Die vrou by die put: Jesus en die loslappie
      31. ’n Vrou by die kollektediens: Die ryk, arm weduwee
      32. Elisabet: ’n Godsdiensleier bly stil en twee vroue loof die Here
      33. Priscilla en Akwila: Mevrou en meneer Tentmaker
      34. ’n Seuntjie: Nog bokkoms en broodjies?
      35. Onesimus: Tronk-CV
      36. Petrus: Die leier wat te vinnig gepraat het
      37. Lidia: Sakevrou word kerkstigter
      38. Timoteus: Soldaat, atleet, boer en die bietjie wyn
      39. Die vrou by die dinee: ’n Ongenooide gas word die gasvrou
      40. Abigajil: Die vrou wie se man hom doodgeskrik het

Maak 'n opmerking

%d bloggers like this: