Skip to main content

Tag: Johannes

Prontuit die Waarheid

Die storielyn en boodskap van Jesus

As iemand vir jou vra: “Wat glo jy van Jesus?” kan jy gemaklik sy storielyn en boodskap oordra? Sy kinderjare. Sy reise. Sy gesprekke. Sy wonders, woorde en werke. Sy boodskap en betekenis. Dit is nie só eenvoudig nie, nê?

Dit is nie maklik om ’n geheelbeeld van die verhaal en verkondiging van Jesus te vorm uit die individuele bydraes van Lukas, Markus, Matteus en Johannes nie. ‘n Mens het ‘n sinopsis of harmonie van die onderskeie evangelies nodig.

Om daarmee te help, het ek só ‘n opeenvolgende sinopsis geskep waarin die 535 perikope (volgens my indeling) van die vier evangelies so ver moontlik kronologies gerangskik is.

Ek fokus in die inleiding op ‘n oorhoofse begrip van die vier evangelies en gee meer inligting oor die vier skrywers. Die res van die sinopsis bestaan uit my beskrywende opskrifte en die opeenvolgende perikope van al vier evangelies. Die gedrukte weergawe is net beskikbaar by die kerkkantoor van NGK Somerstrand.

Die Bybelskool byeenkomste Woensdae 18:00-19:00 in die konsistorie gaan die volgende twee jaar hierop fokus. Ons bespreek saam die betekenis en boodskap van Jesus volgens die vier evangelies. Ons gaan vyf perikope ‘n week lees sodat daar genoeg tyd is dat die Here ons geestelike lewens daardeur kan vorm.

Ek stuur elke week my bydraes oor die vyf perikope per e-pos wat sal fokus op die teks en konteks van die perikope, sowel as op die betekenis en boodskap daarvan. Dit is net ‘n leeshulp. Jou eie lees van die Bybelteks is fundamenteel noodsaaklik.

Skryf hier in om die bydraes te ontvang.

Hier is ook ‘n argief van vorige bydraes.

My hoop en wens en gebed vir jou is dat Jesus – die Een van die vier evangelies – in ons saam lees, saam luister, en saam leef, jou lewende Reisgenoot sal word.

Lees die vier evangelies en Handelinge

Soek jy ‘n planmatige deurlees van die evangelies van Jesus Christus?

Die vier evangeliste verteenwoordig met vier simbole: Matteus, 'n gevleuelde mens, Markus, 'n gevleuelde leeu, Lukas, 'n gevleuelde bul, en Johannes, 'n arend
Die vier evangeliste verteenwoordig met vier simbole: Matteus, ‘n gevleuelde mens, Markus, ‘n gevleuelde leeu, Lukas, ‘n gevleuelde bul, en Johannes, ‘n arend – https://ancientwordtour.wordpress.com/2013/06/

Begin by Markus wat ‘n vergelykende lees van Markus, Matteus, en Lukas is, met twee gedeeltes uit Johannes wat met Markus verband hou.  E-pos my vir ‘n lêer wat al die gedeeltes langs mekaar vir jou gee wat ‘n mens kan gebruik om die evangelies saam te lees (100 bladsye dik!).

Lees dan Matteus, Lukas-Handelinge, en uiteindelik Johannes.

Dit behoort julle ‘n tydjie besig te hou!

Johannes – Lees, luister, leef – ePub

Die evangelie van Johannes fokus op Jesus as die gestuurde Woord van God wat volledig mens geword het. In hoofstuk 1-12 vertel Johannes van Jesus se publieke Joodse bediening met ’n fokus op wondertekens wat sy ware identiteit as die Seun van God openbaar. In Jesus ervaar ons God se genade en waarheid. In hoofstuk 13-20 fokus Johannes op die persoonlike bediening van Jesus aan sy dissipels wat uitmond in sy verheerliking deur sy lyding, kruisdood en opstanding as publieke getuienis aan die wêreld. In Jesus vind ons die model van dissipelskap waarin die liefde – soos God liefhet – die kern van alles is. Die evangelie eindig in hoofstuk 21 met die roerende verhaal van Petrus wat by hernuwing geroep word. Daarmee word die dissipels deur God gestuur om op dieselfde wyse as Jesus sy genade en waarheid aan die wêreld te bring, sodat die wêreld kan glo. Hierdie is die vierde boek in die reeks Lees, Luister, Leef gemik op Bybelstudiegroepe, Bybelskole en persoonlike stiltetyd. Klik hier om dit aan te skaf.

Buy this e-book on Lulu.
By Chris van Wyk

Terugblik op die lees van die evangelie van Johannes

Ek  wil jou uitnooi om deur jou joernaal te blaai of deur die verskillende bydraes oor Johannes op die webtuiste en te kyk na temas wat jou aangespreek het.  En skryf vir ons by die webtuiste iets oor wat jou getref het.  Dit kan ’n nuwe insig wees wat jy gekry het.  Of ’n ervaring van God se nabyheid in die nadenke oor Johannes.

As ek terugdink, is daar ’n paar goed vir wat vir my uitstaan:

  • Die wyse waarop Jesus met metafore gewerk het, soos lig en brood en water, het vir my nuwe waardering en ook bewondering gegee vir sy boodskap.  Dat Jesus na die huttefees se ligte uitgedoof is, aankondig dat Hy die lig vir die wêreld is, is vir my indrukwekkend, en spreek my aan.
  • Dat ek persoonlik die pad kon stap om die dood van my pa te verwerk terwyl ek Johannes 11 lees oor die opstanding van Lasarus en daaroor skrywe, was vir my ’n besonderse aanraking deur die Here.  Hy is werklik die lewe, selfs in die aangesig van die dood.
  • Die kostelikheid van die dilemma van die bruidegom in Kana toe sy wyn opraak weens die groot getal mense wat daar was, het my laat glimlag.  En Jesus se voorsiening van ’n oorvloed van wyn teken vir my op ’n besondere manier God se karakter.  Hy is nie suinig nie!
  • Dat Petrus nie net ’n tweede kans gegun word nie, maar inderdaad deur Jesus ’n herder rol gegee word (soos wat Jesus gehad het), sê vir my dat Jesus beter verstaan wat in ons gebeur as ons voor versoekings en uitdagings kom, as wat ons dink.  En dat Hy nie in die blaming besigheid is nie, maar in die herstel besigheid.

Dankie vir die wonderlike reis saam met elkeen van julle.  Las sommer hieronder by Leave a Comment jou bydrae oor wat jou getref het en jou sal bybly.

Johannes 21:1–25 – Jesus leer Petrus om Hom te volg

RUS

  • Ek loof die Here vir Sy opstanding en Sy lewende teenwoordigheid wat my begelei deur die lewe.

HOOR

  • Ek lees die epiloog van die evangelie van Johannes.
  • Die volgende aspekte tref my:
Johannes sluit sy evangelie af met die beskrywing van die vierde verskyning van Jesus, hierdie keer aan die dissipels by die See van Tiberias.  Dit is die deel van die See van Galilea by die nuut-ontwikkelde dorpie Tiberias (in 22 nC gebou), dieselfde plek waar die broodvermeerdering plaasgevind het (Joh 6).  En weereens eet hulle brood en vis!

Drie episodes van dié dag se gebeure word vir ons vertel:

  • Die wonderlike visvangs – 21:1-14;
  • Petrus se hernude opdrag – 21:15-19;
  • Informasie oor Johannes – 21:20-25.

Continue reading

Onlangse kommentaar

  • sparklybc467b2e69 on Josef-hulle vlug van Betlehem na EgipteGoeie môre, baie dankie, ja dit maak sin, want dit is hoekom Dawid ñ man na GOD se hart was, hy was ook elke keer gehoorsaam aan GOD. Daar is egter iets wat my so diep geraak het, terwyl ek u opmerkings lees, JESUS die seun van GOD het geen rykdom of enige voortrekkery ontvang nie, HY was regtig so…
  • originalblizzard19aaa84c56 on Josef-hulle vlug van Betlehem na EgipteTans so gepas in my vrou en my se lewe. Moet noukeurig let op die detail van die Heer se leiding. Kan nie wag om die volgende stappe te volg nie. Dankie.
  • Philip Vermaak on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Wat my weer getref het is God se liefde vir alle mense en Dawid se nederige houding as hy tot God roep en hom met alles aan God "oorgee" En- wat ons het is aan ons deur God geskenk en wat ons is is slegs Genade Baie dankie
  • originalblizzard19aaa84c56 on Sterrekundiges besoek Jesus in die huis in Betlehem MATTEUS 2:1-12Prys die Here vir sy Heilige Woord en Gees.
  • sparklybc467b2e69 on ‘n Engel van die Here oortuig Josef dat Maria se Kind van die Heilige Gees is MATTEUS 1:18-25Dit is vir my opsig self so groot bewys van GOD se grootheid, Sy Heilige Gees wat Maria bevrug. Ek het altyd gedink dat Maria baie besonders was onder die vroue, maar as ñ mens lees van Josef en sy karakter, was hulle albei uitverkies as JESUS, GOD se seun.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Jesus se geslagsregister in Matteus verbind Hom aan Abraham, Dawid en die volk na die ballingskap MATTEUS 1:1-17Matteus. Amazing, om my te verwonder aan die Heilige Skrif. Dankie vir navorsing.
  • Chris van Wyk on Psalm 150Hi, jy sal steeds die Matteus bydraes kry as jy ingeteken is. Die skakel is daar vir nuwe mense. Die opmerkings moet eers goedgekeur word deur my, vandaar die verposing. Hoop jy het steeds Matteus gekry?
  • perfectly57edc75df4 on Psalm 150Naand Chris. Ek dink daar is iets met die website verkeerd. Psalms was op Bybelskool beskikbaar, maar vir Mattteus vra dit jou om weer in te teken op Bybelskool. Ek is op Bybelskool. Dan stuur die opmerkings ook nie elke keer nie. Die inskrywing vir Matteus vat jou na 'n snaakse vorm. Is dit reg so,…
  • Doreen Snyders on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Baie baie dankie vir die Psalms. Dit was só insiggewend en het baie gehelp om om die Skrif te bid. Nogmaals dankie. Ek sien baie uit na Matteus. Doreen Snyders
  • johannes buhrmann on Psalm 150Die God aan wie die Psalm digters hul lof en dankbaarheid betuig het , en teenoor wie hulle hul klagtes en swaarkry en onsekerhede kon bekendmaak is dieselfde God teenoor wie gelowiges hulle in die huidige tydsgewrig gewrig hul kan wend om geloof en lewensrigting te verkry Dankie
  • originalblizzard19aaa84c56 on Inleiding'n Mondvol oor Matteus. Sien uit na die reis. Dankie
  • Francois Du Toit on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Dit was n wonderlike reis deur die psalms, teen n pas wat genoeg tyd vir nadenke toegelaat het. En die diep nuanses vd Onse Vader laat deurskemer het. Baie dankie vd leiding en verklari gs.
  • Hannes. on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Middag Dr. Chris, Baie dankie vir ‘n insiggewende reis deur Psalms. Dit het beslis gehelp om my persoonlike gebedslewe te verbeter, en ek glo sterk dat elke gebed beslis my verhouding met die Here verdiep op ‘n manier waar ek tans baie meer pligsgetrou is teenoor my persoonlike stiltetyd en gesprekk…
  • Kobus on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Dit was vir my 'n wonderlike ervaring, ek kyk met 'n ander insig nou na die Psalms
  • Chris van Zyl on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Bid die Psalms het vir my baie beter insig verskaf, veral die kontektualisering en verklarings wat elke gedeelte belig het. Ek is so dankbaar dat ek kon deel in hierdie bid-gerigte ervaring. Menige dag het ek gevoel dat die Psalm van die dag spesiaal vir my bedoel was. Dankie Chris van Wyk vir hierd…