Skip to main content

Psalm 144

Die fokus van hierdie Leesplan is gemeenskap met God. Ons begin telkens met die bid van die Ons Vader, bid dan die Psalm met ‘n tyd van nadenke, en sluit ons gebedstyd af met ‘n kort Lofprysing. Die idee is dat jy na die Ons Vader die kort gedeelte oor die teks en konteks van die Psalm lees, daarna die Psalm met aandag deurlees, en dan vers vir vers in jou eie woorde (hardop as dit kan) bid. Daarna kan jy die kort bydrae oor die boodskap en betekenis lees vir nadenke. Sluit met die bid van die Lofprysing. Die middag en aand bid jy net die Ons Vader, die Psalm, en die Lofprysing.

Ons Vader

“Ons Vader wat in die hemele is, laat u Naam geheilig word. Laat u koninkryk kom. Laat u wil geskied, soos in die hemel, so ook op die aarde. Gee ons vandag ons daaglikse brood. En vergeef ons ons sondes, soos ons ook ons skuldenaars vergeef. En laat ons nie in versoeking kom nie, maar verlos ons van die Bose. Want aan U behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid. Amen.” (Matt. 6:9-13)

Teks en konteks

Die Psalm val duidelik in twee dele uiteen. Die eerste deel – vers 1-11 – beskryf in die eerste persoon enkelvoud die gebed van die koning om bevryding. Die tweede deel – vers 12-15 – beskryf in die eerste persoon meervoud die gebed van die koning vir en namens die geloofsgemeenskap dat die Here hulle op omvattende wyse sal seën. Die 2020-vertaling verbind dié twee dele met ‘n “sodat” in vers 12 om die implisiete verband tussen die bevryding van konflik en die seën van ‘n florerende gemeenskap te beklemtoon. Daarmee word twee van die grootste teologiese lyne in die OT aan mekaar verbind – die Abrahamitiese tradisie van seën en die Mosaïese tradisie van bevryding. En dit is betekenisvol dat dit in die gebed van Dawid gekombineer word, want hy is dan ook die voorafskaduwing van die Messias, Jesus Christus, die een wat ons verlos en die een wat ons seën.

Bid die Psalm

“’n Dawidspsalm. Geseënd is die Here, my rots, wat my hande leer om te veg, my vingers om oorlog te maak. Hy is my troue hulp en my toevlug, my veilige vesting en my redder. Hy is my beskermer by wie ek skuil, wat volke aan my onderwerp. Here, wat is die mens dat U hom raaksien, ’n mensekind dat U vir hom omgee? Die mens is soos ’n asemteug, soos ’n skadu gaan sy dae verby. Here, buig u hemele en daal neer! Raak die berge aan sodat hulle rook! Laat weerligstrale u vyande verstrooi, u pyle hulle in verwarring laat vlug. Reik af uit u hemel en verlos my; bevry my van woeste waters, red my uit die mag van vreemdelinge wie se monde vol is van leuens, wat lieg selfs as hulle ’n eed aflê. Ek sing ’n nuwe lied vir U, o God! Ek sing lofsange met begeleiding van die harp. U wat oorwinning gee aan konings, wat vir Dawid, u dienaar, van die bose swaard gered het. Red my en verlos my uit die mag van vreemdelinge wie se monde vol is van leuens, wat lieg selfs as hulle ’n eed aflê. Dan sal ons seuns in hulle jeug opgroei soos goed versorgde plante. Ons dogters sal hoekpilare wees, uitgebeitel soos vir ’n paleis. Ons voorraadskure sal vol wees van allerlei soorte lewensmiddels. Ons kleinvee sal vermeerder by die duisende, selfs by die tienduisende op ons velde. Ons beeste sal baie kalwers hê. Daar sal geen breuk in ons mure, en geen ballingskap meer wees nie; geen klaagkrete sal weer op ons pleine gehoor word nie. Gelukkig is die volk met wie dit so goed gaan. Gelukkig is die volk wie se God die Here is.” NLV

Boodskap en betekenis

Dit wil voorkom asof die konteks in die eerste gedeelte ‘n dreigende oorlog is – vgl. vers 1 wat praat van oorlog en vers 10 wat praat van die oorwinning wat God aan konings gee, ook aan Dawid sy dienskneg wat Hy: “bevry van ‘n dodelike swaard.” Eksegeties is daar ‘n baie belangrike woordspeling wat in die 1983-vertaling verlore raak. Dit is die verwysing na Dawid se hande wat deur die Here geleer word om oorlog te maak (vers 2), die Here se hand wat uit die hoogte hom red van gevaar (vers 7), in die konteks van die vreemdelinge: “wie se monde onsin verkondig en wie se regterhande bedrieglik is.” (vers 8 en 11 – 1983-vertaling: “wie se woorde en dade leuens en bedrog is.”) Die laaste verwysing na die vreemdelinge se “regterhande” dui waarskynlik op valse eedswering, want, soos vandag, is die regterhand opgehou as teken van ‘n eed van waarheid. Dawid se teenstanders se regterhande is egter bedrieglik en dui eintlik op die teendeel, d.w.s. dat hulle nie hulle woord kan hou nie. Daarom prys hy die Here dat dié standvastig bly midde in die konflik. Hy druk dit in die eerste twee verse uit met ses beskrywings van God: my Rots, Vertroueling, Bergskuiling, Toevlugsoord, Bevryder, en Skild by wie hy skuil. Dít betuig die Here aan hom deurdat die Here hom in staat stel om die konflik die hoof te bied – “Hy wat my hande leer om te veg, my vingers om oorlog te maak.” Maar, let op dat dié vaardigheid uiteindelik aangevul moet word – eintlik afhanklik is daarvan – dat God se hand hom nie net versorg en in ag neem (vgl. die eksplisiete verwysing na Ps. 8 se loflied op God se sorg vir die mens) al is hy soos ‘n asemteug en sy lewensdae soos ‘n vlugtige skaduwee. Nee, God se hand reik uit die hemel soos van ouds by die berg Sinai – terwyl die berge rook en die weerligte flits – en bring verwarring by die vyande en bevry Dawid van die konflik (watermassa) ten spyte van die onsin wat die vreemdelinge verkondig en die bedrog van hulle gedrag. Daarom, wil Dawid die Here loof op sy tiensnarige harp, omdat God Hom telkens bewys as die een wat in konflik Self ingryp en klaarheid en oorwinning bring. Let op hoe Dawid aan dié loflied weereens die gebed koppel teen die vreemdelinge se onsin en bedrog, ‘n baie belangrike herhaling, wat die erns van die situasie waarin hy verkeer, beklemtoon. Dawid skets dan die voorsienige seën van die Here wat hulle almal se deel sal wees, as God hom bystaan in die oorlog. Hulle seuns sal nie in hulle jeug sneuwel nie, maar volgroeide plante word. Hulle dogters sal nie weggevoer word in slawerny nie, maar soos hoekpilare die familie se voortbestaan nie net bevestig nie, maar ook versier met hulle skoonheid: “uitgekerf, geskik vir ‘n paleis.” Dit sal ook sorg dat die graanskure vol van kos kan word, en die weivelde vol vee, en die beeste vrugbaar en hulle gemeenskapslewe kan floreer: “met geen bres in ons mure nie, en geen gejammer op ons pleine nie.” Die dood sal nie meer die volk se bestaan kenmerk nie. ‘n Droom?! Moenie glo nie: “Hoe gelukkig is die volk wie se God die Here is!” Waar Hy hulle lei en hulle Hom volg, is dít hulle voorland – bevryding en seën!

Lofprysing

“Weet vandag en verstaan dat die Here God is; Hy alleen is God in die hemel en op die aarde.” (Deut. 4:39)

Psalm 143

Die fokus van hierdie Leesplan is gemeenskap met God. Ons begin telkens met die bid van die Ons Vader, bid dan die Psalm met ‘n tyd van nadenke, en sluit ons gebedstyd af met ‘n kort Lofprysing. Die idee is dat jy na die Ons Vader die kort gedeelte oor die teks en konteks van die Psalm lees, daarna die Psalm met aandag deurlees, en dan vers vir vers in jou eie woorde (hardop as dit kan) bid. Daarna kan jy die kort bydrae oor die boodskap en betekenis lees vir nadenke. Sluit met die bid van die Lofprysing. Die middag en aand bid jy net die Ons Vader, die Psalm, en die Lofprysing.

Ons Vader

“Ons Vader wat in die hemele is, laat u Naam geheilig word. Laat u koninkryk kom. Laat u wil geskied, soos in die hemel, so ook op die aarde. Gee ons vandag ons daaglikse brood. En vergeef ons ons sondes, soos ons ook ons skuldenaars vergeef. En laat ons nie in versoeking kom nie, maar verlos ons van die Bose. Want aan U behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid. Amen.” (Matt. 6:9-13)

Teks en konteks

Daar is verskillende interpretasies van die konteks van Psalm 143. Dit kan wees dat dié Psalm steeds in die konteks van die grot gebid word, as ‘n mens vers 4 vergelyk met vers 4 in Ps. 142 waar min of meer dieselfde taal gebruik word. Baie verklaarders dink egter dat juis die smeekbede in vers 1 en die versoek in vers 8 dui op ‘n gebed in die tempel waarin die Here se aangesig gesoek is binne ‘n moeilike situasie, waarin Dawid se vyande hom agtervolg om hom te verpletter. Uit Dawid se lewensverhaal weet ons van vele sulke gevalle, selfs van die opstand van sy eie seun, Absalom. Die Psalm is liturgies in Gereformeerde kringe as een van die sogenaamde boetepsalms in die Psalmboek hanteer (Ps. 6; 32; 38; 51; 102; 130; 143) veral as gevolg van die belydenis in vers 2 dat: “niemand wat leef, is voor U regverdig nie.” (2020-vertaling). Let op dat Dawid sy smeekgebed nie op enige manier op sy onskuld baseer nie, maar op die Here se trou en regverdigheid. Dit is ‘n fundamentele belydenis van die geloof dat ons van God se genade afhanklik is. Ons sien eggo’s hiervan in die helder uitsprake in Paulus se brief aan die Romeine waar hy dieselfde sentimente aan die vryspraak in Christus koppel (Rom. 1:16-17; 3:20-21). Dit bid Dawid baie doelbewus in die twee dele van die Psalm – vers 1-6 en 7-12 – wat met ‘n Sela aan die einde van vers 6 aangedui word. Sy vertroue is op God en daarom wil Hy ‘n antwoord van God hê in sy nood. Vergelyk vers 1: “Antwoord my in u trou met u regverdige optrede,” en vers 8: ”Laat ek in die môre van u troue liefde bewus word, want op U vertrou ek.

Bid die Psalm

“’n Dawidspsalm. Luister na my gebed, Here! Hoor tog my smeekgebede. Antwoord my, want U is getrou en regverdig. Moenie ’n regsgeding teen u dienaar begin nie, want niemand wat lewe, is voor U onskuldig nie. My vyand agtervolg my, vertrap my teen die grond, hy laat my in duisternis lewe soos dié wat lankal dood is. Ek het moed verloor; ek is stomgeslaan. Ek dink aan die dae, lank gelede. Ek peins oor al u dade, ek oordink die werke van u hande. Ek strek my hande uit na U. Ek dors na U soos ’n verdorde land. Sela Antwoord my tog gou, Here, want ek het moed verloor. Moenie U vir my verberg nie, anders word ek soos dié wat sterf. Laat ek in die oggend hoor van u onfeilbare liefde, want ek vertrou op U. Wys my die pad waarop ek moet loop, want tot U rig ek my gebed. Bevry my van my vyande, Here, want ek skuil by U. Leer my om u wil te doen, want U is my God. Laat u goeie Gees my lei op ’n pad wat gelyk is. Here, laat my lewe ter wille van u Naam; lei my uit my nood, want U is regverdig. Vernietig my vyande ooreenkomstig u trou; laat al my teenstanders omkom, want ek is u dienaar.” NLV

Boodskap en betekenis

Dawid se vertroue word gebaseer op God se dade, nie net in sy eie lewe nie, maar ook dié van “dae lank gelede,” waarin God juis die werk van sy hande geopenbaar het sodat almal dit kan sien. Daarom strek hy sy hande uit na God en bid hy dat die Here hom tog gou sal antwoord en sy gesig nie vir hom sal verberg nie: “my gees is gedaan.” Let daarom veral op hoe hy in kontras met sy eie gees wat gedaan is, bid dat hy nie net van God se troue liefde in die môre – waarskynlik na ‘n nag van bid vóór die Here in die tempel – bewus sal word nie, maar ook deur die Here die pad gewys sal word wat hy moet loop: “Leer my om te doen wat vir U aanvaarbaar is … U goeie Gees moet my lei op gelyk grond.” Dit is tegelykertyd ook ‘n fundamentele belydenis, hoewel Dawid en die res van die OT gelowiges dié werklikheid nog net ten dele geken het. Dit is God se Gees wat ons op gelyk grond laat loop, nie iets wat intrinsiek tot ons eie gees en insig behoort nie. Die gelyk grond verwys ook nie na ‘n pad sonder uitdagings nie. Dit bedoel maar net dat die regte onderskeiding van dié dinge waarop dit regtig aankom, dié dinge wat God se goedkeuring wegdra, gedoen kan word. Dawid brei in die laaste twee verse uit op nóg gronde vir die verhoring van sy gebed wat vir ons ‘n goeie sinopsis gee van waarop ons ook kan staatmaak in ons gebede. Let op die vier motiverings wat hy aanvoer op grond waarvan God hom van sy vyande moet verlos:

  • “Ter wille van u Naam, Here,”
  • “Deur u regverdige optrede,”
  • “In u troue liefde,”
  • Want ek is u dienskneg.”

Dit gaan dus oor God en God se getuienis in die wêreld, sy Naam, soos Jesus ons ook in die Ons Vader leer bid het. Dit gaan dus oor God en God se karakter, soos Hy Hom openbaar het: ‘n regverdige en liefdevolle God wat trou bly aan gelowiges. Dit gaan in die laaste plek tog ook oor sy verbintenis aan ons, sy diensknegte, in NT terme, sy kinders. Daarop kan ons staatmaak ook in ons gebede.

Lofprysing

“Weet vandag en verstaan dat die Here God is; Hy alleen is God in die hemel en op die aarde.” (Deut. 4:39)

Psalm 142

Die fokus van hierdie Leesplan is gemeenskap met God. Ons begin telkens met die bid van die Ons Vader, bid dan die Psalm met ‘n tyd van nadenke, en sluit ons gebedstyd af met ‘n kort Lofprysing. Die idee is dat jy na die Ons Vader die kort gedeelte oor die teks en konteks van die Psalm lees, daarna die Psalm met aandag deurlees, en dan vers vir vers in jou eie woorde (hardop as dit kan) bid. Daarna kan jy die kort bydrae oor die boodskap en betekenis lees vir nadenke. Sluit met die bid van die Lofprysing. Die middag en aand bid jy net die Ons Vader, die Psalm, en die Lofprysing.

Ons Vader

“Ons Vader wat in die hemele is, laat u Naam geheilig word. Laat u koninkryk kom. Laat u wil geskied, soos in die hemel, so ook op die aarde. Gee ons vandag ons daaglikse brood. En vergeef ons ons sondes, soos ons ook ons skuldenaars vergeef. En laat ons nie in versoeking kom nie, maar verlos ons van die Bose. Want aan U behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid. Amen.” (Matt. 6:9-13)

Teks en konteks

Psalm 142 word – soos met Psalm 57 – verbind met ‘n noodsituasie uit Dawid se lewe, albei kere met verwysing na die tyd toe hy vir Saul in die grot ingevlug het. Ons lees in Samuel van twee sulke geleenthede. Psalm 57 verwys waarskynlik na die eerste geleentheid by die Adullamgrot waarvan ons lees in 1 Samuel 22. Psalm 142 verwys waarskynlik na die tweede gebeure in die skuilplekke by En-Gedi waar Dawid in die omgewing van die Klipbokrotse in ‘n grot by ‘n skaapkraal geskuil het, waarvan ons in 1 Samuel 24 vertel word. Dit is die geleentheid waar Dawid ’n stukkie van Saul se mantel afgesny het, en dit Saul tot trane beweeg het. Dawid is baie bewus van die feit dat sy hulp net van die Here af kom. Daarom roep Hy na die Here en pleit om genade. Roerend stort hy sy klag voor die Here uit en maak sy nood aan God bekend. Let op hoe hy staatmaak op die feit dat wanneer sy gees hom begewe en hy dreig om alle moed te verloor, dit juis sy wete is, dat God sy pad ken, en weet wat hy moet deurmaak, wat hom staande hou. Dit is iets wat jy vandag ter harte kan neem. God weet presies waardeur jy gaan in jou lewe, selfs al swik jou knieë op die pad wat jy op die oomblik moet loop. Dus, al is daar op dié pad ‘n strik vir Dawid gespan – hy skuil alreeds vir Saul in die grot, en nou is hy regtig vasgevang deurdat Saul juis dié grot besoek! – en al sien Dawid geen uitkoms nie, want niemand by Saul is hom goedgesind nie, weet hy dat hy die Here om hulp kan vra, want die Here is sy skuilplek. Dit is dus wat ons by Dawid leer. Die grot is uiteindelik van nul en gener waarde as beskerming nie. Dit is net die Here wat sy ware skuilplek is en hom kan beskerm. Let op hoe hy verby die aardse stutpale vasgryp aan die ewige grond van God self: “U is my skuilplek, my deel in die land van die lewendes.” Soos Allen hieroor skrywe van mense wat dit ter harte begin neem: “The land became transparent, and through it they could see with the eyes of faith the divine ground on which they stood and thrived.” Dawid se opmerking: “As ek na regs kyk, sien ek niemand is my goedgesind nie.” ( vers 5 in die 2020-vertaling – “Ek soek hulp, maar niemand wil help nie,” in die 1983-vertaling), verwys waarskynlik na die situasie in ‘n regsgeding waar die getuies regs van die aangeklaagde of verweerders gestaan het. Dawid gebruik dit nou as metafoor om te wys hoe benard sy situasie is. Daar is niemand wat vir hom intree nie, niemand wat vir sy saak opkom, niemand wat hom (en die manne by hom in die grot) bystaan en sy saak saam met hom beveg nie. Let op hoe hy sy eie onbenulligheid voor die Here bely, maar tog staatmaak daarop dat die Here groot dinge kan doen as Hy hom uit sy gevangenskap sal lei. Dan sal hy nie net die Here se Naam kan loof nie, maar ‘n begeleidende rol kan speel daarin in die geloofsgemeenskap: “Regverdiges sal om my saamkom as U aan my goed doen.” (vers 8 in 2020-vertaling). Hy hoop dus daarop dat God hom sal red ter wille van die getuienis wat dit in die geloofsgemeenskap van God se goedheid sal kan oordra

Bid die Psalm

“’n Dawidspsalm na aanleiding van sy verblyf in die grot. ’n Gebed. Ek roep tot die Here; ek pleit om die Here se genade. Ek stort my klagtes uit voor Hom en vertel Hom van my kwellinge. Wanneer ek moed verloor, dan ken U my pad. Op die pad waarop ek loop, het hulle vir my ’n strik gestel. Ek kyk na regs, maar niemand sien my raak nie. Daar is vir my geen ontvlugting nie, en niemand gee om vir my nie. Ek het tot U gebid, Here. Ek het gesê: “U is my toevlug, my deel in die land van die lewendes. Luister na my hulpgeroep, want ek is terneergedruk. Red my van dié wat my vervolg, want hulle is te sterk vir my. Bevry my uit die gevangenis sodat ek u Naam kan loof. Opregtes sal rondom my kom staan, want U is goed vir my.”” NLV

Boodskap en betekenis

Ons leer uit hierdie Psalm dat die verlossing wat God uit die “grotte” van die wêreld gee, altyd moet uitmond in lof aan God sowel as in die bevestiging van sy ingrype in die lewe van die geloofsgemeenskap. Dit is ten diepste die doel van die getuienisse wat God lewer in ons lewe, maak nie saak hoe klein of groot die grot is waaruit Hy ook vir ons lei nie. Hy maak Homself groot en gee die geloofsgemeenskap moed daardeur. Daarom kan en mag ons ook saam met Dawid dié gebed bid, in watter situasie ons ook al is, en wag dat God antwoord, soos en wanneer Hy wil. En soos Dawid, kan en moet ons ook daarvan getuig in die vergadering van die gelowiges, wanneer Hy ons uitlei uit dié dinge wat ons aan bande lê. Sulke getuienisse sal altyd tot God se eer en tot die versterking van die geloofsgemeenskap wees.

Lofprysing

“Weet vandag en verstaan dat die Here God is; Hy alleen is God in die hemel en op die aarde.” (Deut. 4:39)

Psalm 141

Die fokus van hierdie Leesplan is gemeenskap met God. Ons begin telkens met die bid van die Ons Vader, bid dan die Psalm met ‘n tyd van nadenke, en sluit ons gebedstyd af met ‘n kort Lofprysing. Die idee is dat jy na die Ons Vader die kort gedeelte oor die teks en konteks van die Psalm lees, daarna die Psalm met aandag deurlees, en dan vers vir vers in jou eie woorde (hardop as dit kan) bid. Daarna kan jy die kort bydrae oor die boodskap en betekenis lees vir nadenke. Sluit met die bid van die Lofprysing. Die middag en aand bid jy net die Ons Vader, die Psalm, en die Lofprysing.

Ons Vader

“Ons Vader wat in die hemele is, laat u Naam geheilig word. Laat u koninkryk kom. Laat u wil geskied, soos in die hemel, so ook op die aarde. Gee ons vandag ons daaglikse brood. En vergeef ons ons sondes, soos ons ook ons skuldenaars vergeef. En laat ons nie in versoeking kom nie, maar verlos ons van die Bose. Want aan U behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid. Amen.” (Matt. 6:9-13)

Teks en konteks

Hierdie Psalm is ‘n kragtige bevestiging van ons absolute afhanklikheid van die Here om aan Hom getrou te bly. Die enigste betroubare beskerming teen die versoekinge van die hart sowel as teen die verleiding van goddeloses bly die Here self: “Op U, Here, my God aan wie ek behoort, is my oë gerig.” (vers 8). Vanuit dié geestelike fokus kán ons nee sê vir die versoekinge en verleidinge en ons lewens inrig om in die beskerming van God te floreer. Daarom dat die Psalmis in die eerste plek moeite doen om direk met die Here te praat, om die Here om sy teenwoordigheid in alles te smeek: “Kom tog gou na my toe, luister tog na my, ek roep na U.” (vers 1). Maar, dat hy in die tweede plek terselfdertyd hom bereid verklaar om alles in sy vermoë te doen om die geselskap en teregwysing van regverdiges te verwelkom en die geselskap en invloed van goddeloses ten alle koste te vermy (vers 5). Hy vergelyk sy gebed met die wierookoffer wat in die aand met die aansteek van die lampe in die tempel gebrand is (Eks. 30:8) en wat ‘n simbool was van die volk se voortdurende soeke na die teenwoordigheid van die Here. Dit is dus die eerste fokus van sy lewe. Daarin sal hy volhard. Hy vergelyk die uitstrek van sy hande met die graanoffer wat soortgelyk in die aand met die aansteek van die lampe geoffer is, baie keer saam met die wierookoffer (Lev. 2:1). Dit was ‘n offer van fynmeel wat sonder suurdeeg (Lev. 2:11) gebring is en óf as ‘n ringbrood (doughnut) óf as ‘n roosterkoek gebak is (Lev. 2:4).  Dit was dus ‘n simbool van die volk se voortdurende fokus op ‘n heilige lewe in die teenwoordigheid van die Here. Hierdie is dus die tweede fokus van sy lewe, ‘n heilige lewe. Daarin sal hy ook volhard.

Bid die Psalm

“’n Dawidspsalm. Here, ek roep tot U; maak tog gou! Luister na my wanneer ek na U roep! Aanvaar my gebed soos wierook voor U, en my uitgestrekte hande soos ’n offer in die aand. Sit ’n wag voor my mond, Here, hou wag oor wat ek sê. Bewaar my van verkeerde begeertes wat lei na bose dade, saam met mense wat sonde doen en so saam eet aan hulle lekkernye. Regverdiges kan my slaan in liefde, en my ook teregwys. Dis soos salwing van die kop met olie, wat ek nie sal weier nie. My gebede is gedurig teen boosdoeners gerig. As hulle leiers afgegooi word van ’n krans, dán sal hulle my woorde hoor en weet dit was goed. Soos wanneer een wat ploeg die aarde oopbreek, so verspreid lê ons beendere by die bek van die doderyk. Maar my oë is op U gerig, oppermagtige Here. U is my toevlug; moenie my oorgee aan die dood nie. Bewaar my van die strikke wat hulle vir my gestel het, van die vangnet van hulle wat onreg doen. Laat die goddeloses in hulle eie vangnette val, maar laat my vrykom daarvan.” NLV

Boodskap en betekenis

Let op hoe die Psalmis die Here vertrou vir:

  • WOORDE: ‘n Wag voor sy mond – vers 3;
  • GEDAGTES: om hom weg te hou van gedagtes oor verkeerde dinge – vers 4.

Let ook op hoe die Psalmis vanuit dié vertroue hom voorneem om sy lewe in God se teenwoordigheid te leef:

  • KONSTRUKTIEWE GEDRAG: dat hy teregwysing van regverdiges in sy lewe verwelkom en dat hy voortdurend sy gebed sal voortsit selfs al gebeur dit te midde van die booshede wat die goddeloses pleeg – vers 5;
  • AFWYSENDE GEDRAG: dat hy nie saam met ander onreg sal doen en aan hulle feeste meedoen nie (letterlik: aan hulle lekkernye proe nie) – vers 4 – en selfs nie hulle gasvryheid aanvaar nie – vers 5.

Vers 5-7 is regtig moeilik om te vertaal. Die laaste deel van vers 5 kan ook positief vertaal word in die betekenis dat die teregwysing van die regverdiges soos olie op sy kop uitgegiet word, en dat hy die nie sal weier nie. Vers 6 kan leedvermakerig vertaal word soos in die 1983-vertaling – “goed so” – of meer positief – “sou hulle nog hoor dat my woorde aangenaam is” – soos in die 202-vertaling. Vers 7 kan dui óf op die goddeloses óf op die regverdiges se verguising. Die belangrike is egter dat die fokus op die Here volgehou word: “Maar op U bly my oë gerig, Here, my Heer – by U skuil ek, moenie my lewe uitgiet nie.” (vers 8 – 2020-vertaling). Dit is Hy alleen wat ‘n mens kan beskerm van die strikke wat daar vir die regverdiges gestel word en wat die onregverdiges in hulle eie strikke kan laat omkom.

Wierookoffers en graanoffers in die NT

Dit is merkwaardig hoe die simboliek van die wierookoffer en die graanoffer ook steeds ‘n rol speel in die NT beskrywing van ons gebede en ons lewens. Die NT gebruik die simboliek van dié wierookoffer op twee maniere.

  1. Aan die een kant gebruik Johannes dit as ‘n simbool van die gebede van gelowiges. Die gebede van die gelowiges word twee keer soos wierook voor die Here deur beide die vier en twintig ouderlinge (Openb. 5:8) en die engel (Openb. 8:3) in die hemel geoffer. Die eerste beskrywing van die gebede is bedoel as lofprysing wat deel is van die uitvoering van God se wêreldagenda. Die tweede beskrywing van die gebede is bedoel om die Here vir regstelling te vra wat die oordele van die sewe trompette van God inlui. Dit is uiteraard net so deel van die uitvoering van God se wêreldagenda.
  2. Aan die ander kant gebruik Paulus dit as ‘n simbool van die lewe van gelowiges. God gebruik die getuienis van ons lewens om die kennis van Christus oral soos ’n aangename geur te versprei: “Ons is die wierook wat deur Christus vir God gebrand word, waarvan die geur dié bereik wat gered word, sowel as dié wat verlore gaan. Vir dié wat verlore gaan, is dit ’n doodsreuk wat dood bring; vir dié wat gered word, is dit ’n lewensgeur wat lewe wek.” (2 Kor. 2:14-17). Dit is waarom ons met soveel opregtheid in ons verbondenheid aan Christus, die opdrag van God in verantwoordelikheid aan God met alles in ons moet nakom, terwyl ons tegelykertyd ons afhanklikheid van God in ons gebedslewe uitleef.

Die NT gebruik ook die simboliek van die graanofffer en wel as ‘n teken van die liggaamlike offer wat Jesus Christus aan God geoffer het (Hebr. 10:5). In die verlengde van dié beeld, waar gelowiges saam as die liggaam van Christus geteken word (Rom. 12:5; 1 Kor. 12:27), en Paulus baie maak van die feit dat ons fisiese liggame ‘n tempel van die Here is (1 Kor. 6:19), is dit geen wonder dat ons ook opgeroep word om ons liggame te stel: “as ’n lewende, heilige en aan God welgevallige offer—dit is julle redelike godsdiens.” (Rom. 12:1 – OAV).

Lofprysing

“Weet vandag en verstaan dat die Here God is; Hy alleen is God in die hemel en op die aarde.” (Deut. 4:39)

Psalm 140

Die fokus van hierdie Leesplan is gemeenskap met God. Ons begin telkens met die bid van die Ons Vader, bid dan die Psalm met ‘n tyd van nadenke, en sluit ons gebedstyd af met ‘n kort Lofprysing. Die idee is dat jy na die Ons Vader die kort gedeelte oor die teks en konteks van die Psalm lees, daarna die Psalm met aandag deurlees, en dan vers vir vers in jou eie woorde (hardop as dit kan) bid. Daarna kan jy die kort bydrae oor die boodskap en betekenis lees vir nadenke. Sluit met die bid van die Lofprysing. Die middag en aand bid jy net die Ons Vader, die Psalm, en die Lofprysing.

Ons Vader

“Ons Vader wat in die hemele is, laat u Naam geheilig word. Laat u koninkryk kom. Laat u wil geskied, soos in die hemel, so ook op die aarde. Gee ons vandag ons daaglikse brood. En vergeef ons ons sondes, soos ons ook ons skuldenaars vergeef. En laat ons nie in versoeking kom nie, maar verlos ons van die Bose. Want aan U behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid. Amen.” (Matt. 6:9-13)

Teks en konteks

Die Psalm is opgedeel in vyf dele. Die eerste drie vorm ‘n eenheid en beskryf die situasie van aanvegting waarin die Psalmis (Dawid) verkeer en vra telkens dat die Here hom daaruit sal verlos. Die drie dele word telkens afgesluit met ‘n Sela (PS. 140:4,6,9). Die vierde deel vra dat die Here teen hierdie geweldenaars sal optree (PS. 140:10-12). Die vyfde deel bevestig die getrouheid van die Here aan magteloses en behoeftiges en neem dit as ‘n belofte waarop regverdiges en opregtes altyd weer kan staatmaak (Ps. 140:13-14).

Bid die Psalm

“Vir die koorleier: ’n Dawidspsalm. Red my van bose mense, Here, beskerm my van gewelddadiges wat in hulle harte boosheid beplan en die hele dag vyandskap aanhits. Hulle tonge is giftig soos ’n slang; hulle woorde venynig soos adders. Sela Here, hou my uit die hande van goddeloses. Bewaar my van gewelddadige mense wat saamspan om my te laat val. Trotsaards het vir my ’n strik gestel; ’n net van toue het hulle gespan, en op die pad vir my wippe gestel. Sela Ek het vir die Here gesê: U is my God! Luister tog, Here, na my gebed om genade! Oppermagtige Here, my sterke redder, U bewaar my op die dag van die veldslag. Here, moenie toegee aan begeertes van bose mense nie. Moenie toelaat dat hulle planne suksesvol is nie. Sela Mag die leiers wat my omsingel, oorspoel word met die boosheid waarvan hulle praat. Laat gloeiende kole op hulle val, laat vuur op hulle val. Uit modderputte sal hulle nie kan kom nie. Moenie toelaat dat lasteraars hulle in ons land vestig nie. Laat mense van geweld keer op keer met rampe getref word. Maar ek weet die Here behartig die regsaak van die hulpeloses en die regte van die armes. Die regverdiges sal u Naam prys, en in u teenwoordigheid sal die opregtes lewe.” NLV

Boodskap en betekenis

Dawid bid dat die Here hom sal red van slegte mense, van geweldenaars, van mense wat booshede beplan, wat gevegte aanhits. Hulle tonge is so skerp soos dié van slange en die gif van adders skuil agter hulle lippe. Die skerp punte van slange se gevurkte tong word dus as metafoor vir bitsigheid gebruik, en die gif vir die dodelikheid daarvan. Interessant genoeg word dié beskrywing van giftige woorde in Romeine 3:13 gebruik as prentjie van die tipe sondes waaraan ons almal skuldig is, en waarvan die Here Jesus ons kom bevry het. Niemand is dus vanself regverdig nie, selfs nie een nie, sê Paulus. Ons het God se redding nodig, selfs van ons eie gevurkte tonge en giftige woorde. Die Psalmis bid dat die Here hom sal beskerm van die hande (mag) van goddeloses en hoogmoedige mense. Woorde verwond, maar magspeletjies verguis en kan ‘n mens maklik ontspoor. Die Psalmis vra dus dat die Here hom sal bewaar van die vangstrikke wat mense vir hom stel, sodat hy op die pad kan bly wat die Here vir hom aanwys. Die Psalmis bely dan dat die Here alleen sy God is. Daarom kan hy met oorgawe sy smeekgebed aan die Here bid. Hy vra dat die Here hom sal beskut in die tyd van oorlog en nie die goddelose mense sal gee wat hulle begeer nie, dat hulle bose planne nie sal slaag nie, anders sal hulle nog meer verwaand raak. Vers 8 se laaste deel lui eintlik só: “U beskut my kop in ‘n tyd van oorlog.” (2020-vertaling). Dit is wat agter die 1983-vertaling se dinamiese vertaling lê: “U beskerm my wanneer die goddeloses my aanval.” Dit is belangrik om die meer letterlike vertaling in gedagte te hou in die lig van die kontras wat in vers 10 getrek gaan word met die koppe van die aanvallers. Die pleitgebed dat die Here sal optree teen geweldenaars werk met die eksplisiete veronderstelling dat daar ‘n wetmatigheid in die wêreld werksaam is. Iets wat van God af kom. Dit is, dat geweld uiteindelik altyd die geweldenaars self vernietig. Soos Jesus ook in die NT sê: “almal wat na die swaard gryp, sal deur die swaard omkom.” (Matt. 26:52). Daarom bid die Psalmis dat die een ramp ná die ander die geweldenaars sal inhaal: verleentheid (vurige kole – dit laat my dink aan Paulus se beskrywing van skaamte in Rom. 12:20), vernietiging (vuur en bodemlose putte), verslaentheid (nie weer opstaan nie), en ontworteling (nie gevestig nie). Die Psalmis verklaar stellig dat hy weet dat die Here Homself deur die geskiedenis bewys het as dié een wat die regsaak van magteloses en behoeftiges (armes) behartig het. Daarop kan regverdiges en opregtes staatmaak. Dit sluit uiteraard goddeloses en geweldenaars uit. Maar regverdiges sal die Here kan loof en opregtes sal God se teenwoordigheid as ‘n tuiste ervaar.

Lofprysing

“Weet vandag en verstaan dat die Here God is; Hy alleen is God in die hemel en op die aarde.” (Deut. 4:39)

Onlangse kommentaar

  • Hannes. on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Middag Dr. Chris, Baie dankie vir ‘n insiggewende reis deur Psalms. Dit het beslis gehelp om my persoonlike gebedslewe te verbeter, en ek glo sterk dat elke gebed beslis my verhouding met die Here verdiep op ‘n manier waar ek tans baie meer pligsgetrou is teenoor my persoonlike stiltetyd en gesprekk…
  • Kobus on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Dit was vir my 'n wonderlike ervaring, ek kyk met 'n ander insig nou na die Psalms
  • Chris van Zyl on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Bid die Psalms het vir my baie beter insig verskaf, veral die kontektualisering en verklarings wat elke gedeelte belig het. Ek is so dankbaar dat ek kon deel in hierdie bid-gerigte ervaring. Menige dag het ek gevoel dat die Psalm van die dag spesiaal vir my bedoel was. Dankie Chris van Wyk vir hierd…
  • Chris van Wyk on Psalm 137Dit is my voorreg. Groete!
  • Doreen Snyders on Psalm 137Net om weer 'n slag dankie te sê vir al die wonderlike verklarings en verduidelikings van al die Bybelse waarhede. Ons dien 'n wonderbare en allerheilige God. Ek sien baie uit na die Matteusevangelie. Nogmaals baie dankie. Doreen Snyders
  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…