Psalm 144
Die fokus van hierdie Leesplan is gemeenskap met God. Ons begin telkens met die bid van die Ons Vader, bid dan die Psalm met ‘n tyd van nadenke, en sluit ons gebedstyd af met ‘n kort Lofprysing. Die idee is dat jy na die Ons Vader die kort gedeelte oor die teks en konteks van die Psalm lees, daarna die Psalm met aandag deurlees, en dan vers vir vers in jou eie woorde (hardop as dit kan) bid. Daarna kan jy die kort bydrae oor die boodskap en betekenis lees vir nadenke. Sluit met die bid van die Lofprysing. Die middag en aand bid jy net die Ons Vader, die Psalm, en die Lofprysing.
Ons Vader
“Ons Vader wat in die hemele is, laat u Naam geheilig word. Laat u koninkryk kom. Laat u wil geskied, soos in die hemel, so ook op die aarde. Gee ons vandag ons daaglikse brood. En vergeef ons ons sondes, soos ons ook ons skuldenaars vergeef. En laat ons nie in versoeking kom nie, maar verlos ons van die Bose. Want aan U behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid. Amen.” (Matt. 6:9-13)
Teks en konteks
Die Psalm val duidelik in twee dele uiteen. Die eerste deel – vers 1-11 – beskryf in die eerste persoon enkelvoud die gebed van die koning om bevryding. Die tweede deel – vers 12-15 – beskryf in die eerste persoon meervoud die gebed van die koning vir en namens die geloofsgemeenskap dat die Here hulle op omvattende wyse sal seën. Die 2020-vertaling verbind dié twee dele met ‘n “sodat” in vers 12 om die implisiete verband tussen die bevryding van konflik en die seën van ‘n florerende gemeenskap te beklemtoon. Daarmee word twee van die grootste teologiese lyne in die OT aan mekaar verbind – die Abrahamitiese tradisie van seën en die Mosaïese tradisie van bevryding. En dit is betekenisvol dat dit in die gebed van Dawid gekombineer word, want hy is dan ook die voorafskaduwing van die Messias, Jesus Christus, die een wat ons verlos en die een wat ons seën.
Bid die Psalm
“’n Dawidspsalm. Geseënd is die Here, my rots, wat my hande leer om te veg, my vingers om oorlog te maak. Hy is my troue hulp en my toevlug, my veilige vesting en my redder. Hy is my beskermer by wie ek skuil, wat volke aan my onderwerp. Here, wat is die mens dat U hom raaksien, ’n mensekind dat U vir hom omgee? Die mens is soos ’n asemteug, soos ’n skadu gaan sy dae verby. Here, buig u hemele en daal neer! Raak die berge aan sodat hulle rook! Laat weerligstrale u vyande verstrooi, u pyle hulle in verwarring laat vlug. Reik af uit u hemel en verlos my; bevry my van woeste waters, red my uit die mag van vreemdelinge wie se monde vol is van leuens, wat lieg selfs as hulle ’n eed aflê. Ek sing ’n nuwe lied vir U, o God! Ek sing lofsange met begeleiding van die harp. U wat oorwinning gee aan konings, wat vir Dawid, u dienaar, van die bose swaard gered het. Red my en verlos my uit die mag van vreemdelinge wie se monde vol is van leuens, wat lieg selfs as hulle ’n eed aflê. Dan sal ons seuns in hulle jeug opgroei soos goed versorgde plante. Ons dogters sal hoekpilare wees, uitgebeitel soos vir ’n paleis. Ons voorraadskure sal vol wees van allerlei soorte lewensmiddels. Ons kleinvee sal vermeerder by die duisende, selfs by die tienduisende op ons velde. Ons beeste sal baie kalwers hê. Daar sal geen breuk in ons mure, en geen ballingskap meer wees nie; geen klaagkrete sal weer op ons pleine gehoor word nie. Gelukkig is die volk met wie dit so goed gaan. Gelukkig is die volk wie se God die Here is.” NLV
Boodskap en betekenis
Dit wil voorkom asof die konteks in die eerste gedeelte ‘n dreigende oorlog is – vgl. vers 1 wat praat van oorlog en vers 10 wat praat van die oorwinning wat God aan konings gee, ook aan Dawid sy dienskneg wat Hy: “bevry van ‘n dodelike swaard.” Eksegeties is daar ‘n baie belangrike woordspeling wat in die 1983-vertaling verlore raak. Dit is die verwysing na Dawid se hande wat deur die Here geleer word om oorlog te maak (vers 2), die Here se hand wat uit die hoogte hom red van gevaar (vers 7), in die konteks van die vreemdelinge: “wie se monde onsin verkondig en wie se regterhande bedrieglik is.” (vers 8 en 11 – 1983-vertaling: “wie se woorde en dade leuens en bedrog is.”) Die laaste verwysing na die vreemdelinge se “regterhande” dui waarskynlik op valse eedswering, want, soos vandag, is die regterhand opgehou as teken van ‘n eed van waarheid. Dawid se teenstanders se regterhande is egter bedrieglik en dui eintlik op die teendeel, d.w.s. dat hulle nie hulle woord kan hou nie. Daarom prys hy die Here dat dié standvastig bly midde in die konflik. Hy druk dit in die eerste twee verse uit met ses beskrywings van God: my Rots, Vertroueling, Bergskuiling, Toevlugsoord, Bevryder, en Skild by wie hy skuil. Dít betuig die Here aan hom deurdat die Here hom in staat stel om die konflik die hoof te bied – “Hy wat my hande leer om te veg, my vingers om oorlog te maak.” Maar, let op dat dié vaardigheid uiteindelik aangevul moet word – eintlik afhanklik is daarvan – dat God se hand hom nie net versorg en in ag neem (vgl. die eksplisiete verwysing na Ps. 8 se loflied op God se sorg vir die mens) al is hy soos ‘n asemteug en sy lewensdae soos ‘n vlugtige skaduwee. Nee, God se hand reik uit die hemel soos van ouds by die berg Sinai – terwyl die berge rook en die weerligte flits – en bring verwarring by die vyande en bevry Dawid van die konflik (watermassa) ten spyte van die onsin wat die vreemdelinge verkondig en die bedrog van hulle gedrag. Daarom, wil Dawid die Here loof op sy tiensnarige harp, omdat God Hom telkens bewys as die een wat in konflik Self ingryp en klaarheid en oorwinning bring. Let op hoe Dawid aan dié loflied weereens die gebed koppel teen die vreemdelinge se onsin en bedrog, ‘n baie belangrike herhaling, wat die erns van die situasie waarin hy verkeer, beklemtoon. Dawid skets dan die voorsienige seën van die Here wat hulle almal se deel sal wees, as God hom bystaan in die oorlog. Hulle seuns sal nie in hulle jeug sneuwel nie, maar volgroeide plante word. Hulle dogters sal nie weggevoer word in slawerny nie, maar soos hoekpilare die familie se voortbestaan nie net bevestig nie, maar ook versier met hulle skoonheid: “uitgekerf, geskik vir ‘n paleis.” Dit sal ook sorg dat die graanskure vol van kos kan word, en die weivelde vol vee, en die beeste vrugbaar en hulle gemeenskapslewe kan floreer: “met geen bres in ons mure nie, en geen gejammer op ons pleine nie.” Die dood sal nie meer die volk se bestaan kenmerk nie. ‘n Droom?! Moenie glo nie: “Hoe gelukkig is die volk wie se God die Here is!” Waar Hy hulle lei en hulle Hom volg, is dít hulle voorland – bevryding en seën!
Lofprysing
“Weet vandag en verstaan dat die Here God is; Hy alleen is God in die hemel en op die aarde.” (Deut. 4:39)
Onlangse kommentaar