Skip to main content

Tag: Lukas

Die koninkryk van God is soos suurdeeg

Die Jode was soos ‘n onvrugbare vyeboom

Jesus is op pad na Jerusalem vir sy kruisdood. Hy spandeer tyd aan sy dissipels om hulle voor te berei vir wat op hulle wag. Jesus is baie bewus van die teenstand wat nie net Hy gaan ervaar nie. Ook hulle.

Want die Jode is soos ‘n onvrugbare vyeboom, sê Jesus in ‘n gelykenis (Luk 13:6-9). Die boer, dit is God, verwag om vye daaraan te kry, maar verniet. Die boer besluit toe om dit nog ‘n jaar te gee, dan moet die boom uit as dit nie vrug dra nie. Onheilspellende woorde.

Die Jode was egter net nie ontvanklik vir die boodskap van Jesus nie. Soos die onvrugbare vyeboom.

Jesus en die kromgetrekte vrou

Een sabbatdag was Jesus weer in die sinagoge in een van die dorpies op pad na Jerusalem toe. En Hy sien ‘n kromgetrekte vrou en genees haar. Getrou aan hulle onvrugbare aard het die Jode egter ernstige probleme daarmee (Luk 13:10-17). Die leier van die sinagoge en sy vriende het Jesus aangevat en sleggesê.

En al het hulle skaam gekry toe Jesus hulle skerp oor hulle skynheiligheid aanspreek, het dit hulle nie van standpunt verander nie.

‘n Mens wil-wil moedeloos raak oor die onvrugbaarheid, die halstarrigheid, die openlike vyandigheid, die gebrek aan deernis met ‘n kromgetrekte vrou.

En dan vertel Jesus hierdie gelykenis:

Jesus vra toe weer: “Waarmee sal Ek die koninkryk van God vergelyk? Dit is soos suurdeeg wat ‘n vrou geneem en in drie sata koringmeel ingewerk het totdat dit heeltemal deursuur is.” (Lukas 13:20-21 – BDV)

‘n Saton (mv sata) was ‘n inhoudsmaat vir droë bestanddele, 13,5 liter. Drie sata was dus ongeveer veertig liter.

Was jy al moedeloos oor die kerk?

Was jy al op só ‘n moedelose plek? Waar jy wonder oor die vrug op jou arbeid? Waar jy wonder oor die vrug op die arbeid van die kerk?

Waar jy kan sien dat die evangelie net nie aankom in mense se lewens nie. Waar goeie dinge wat gebeur met mense bevraagteken word. Waar kromgetrekte vroue se genesing met argwaan bejeën word. Waar skynheiligheid seëvier.

Continue reading

Prontuit die Waarheid

Die storielyn en boodskap van Jesus

As iemand vir jou vra: “Wat glo jy van Jesus?” kan jy gemaklik sy storielyn en boodskap oordra? Sy kinderjare. Sy reise. Sy gesprekke. Sy wonders, woorde en werke. Sy boodskap en betekenis. Dit is nie só eenvoudig nie, nê?

Dit is nie maklik om ’n geheelbeeld van die verhaal en verkondiging van Jesus te vorm uit die individuele bydraes van Lukas, Markus, Matteus en Johannes nie. ‘n Mens het ‘n sinopsis of harmonie van die onderskeie evangelies nodig.

Om daarmee te help, het ek só ‘n opeenvolgende sinopsis geskep waarin die 535 perikope (volgens my indeling) van die vier evangelies so ver moontlik kronologies gerangskik is.

Ek fokus in die inleiding op ‘n oorhoofse begrip van die vier evangelies en gee meer inligting oor die vier skrywers. Die res van die sinopsis bestaan uit my beskrywende opskrifte en die opeenvolgende perikope van al vier evangelies. Die gedrukte weergawe is net beskikbaar by die kerkkantoor van NGK Somerstrand.

Die Bybelskool byeenkomste Woensdae 18:00-19:00 in die konsistorie gaan die volgende twee jaar hierop fokus. Ons bespreek saam die betekenis en boodskap van Jesus volgens die vier evangelies. Ons gaan vyf perikope ‘n week lees sodat daar genoeg tyd is dat die Here ons geestelike lewens daardeur kan vorm.

Ek stuur elke week my bydraes oor die vyf perikope per e-pos wat sal fokus op die teks en konteks van die perikope, sowel as op die betekenis en boodskap daarvan. Dit is net ‘n leeshulp. Jou eie lees van die Bybelteks is fundamenteel noodsaaklik.

Skryf hier in om die bydraes te ontvang.

Hier is ook ‘n argief van vorige bydraes.

My hoop en wens en gebed vir jou is dat Jesus – die Een van die vier evangelies – in ons saam lees, saam luister, en saam leef, jou lewende Reisgenoot sal word.

Die vrou wat Jesus se voete met geurige olie gesalf het

deur Mary Bradshaw Duncan

Die verhaal van die vrou wat Jesus se voete met geurige olie gesalf het, wys die diep impak wat vergifnis op iemand wat in sonde gelewe het, maak.  Daar is doodgewoon ‘n oorvloed van liefde wat oorborrel as jy God se genade en barmhartigheid ervaar. Niks is te veel om vir die Here te gee of te doen nie, want die vryheid wat Hy deur vergifnis bring, verander letterlik jou hele lewe.

Ek wil na die verhaal kyk op drie maniere.

  1. Eerstens die gewone feite van die verhaal – die landscape of action soos dit bekend staan in die narratiewe praktyk.
  2. Tweedens die dieper betekenis van die verhaal – die landscape of consciousness or identity.
  3. Derdens hoe ons God hierin raaksien en ons Hom kan navolg – die landscape of transcendence (Monteleone).

Dit is ‘n metodiek wat jy met enige verhaal in die Bybel kan volg om die betekenis daarvan vir jouself te ontsluit.

Continue reading

Lees die vier evangelies en Handelinge

Soek jy ‘n planmatige deurlees van die evangelies van Jesus Christus?

Die vier evangeliste verteenwoordig met vier simbole: Matteus, 'n gevleuelde mens, Markus, 'n gevleuelde leeu, Lukas, 'n gevleuelde bul, en Johannes, 'n arend
Die vier evangeliste verteenwoordig met vier simbole: Matteus, ‘n gevleuelde mens, Markus, ‘n gevleuelde leeu, Lukas, ‘n gevleuelde bul, en Johannes, ‘n arend – https://ancientwordtour.wordpress.com/2013/06/

Begin by Markus wat ‘n vergelykende lees van Markus, Matteus, en Lukas is, met twee gedeeltes uit Johannes wat met Markus verband hou.  E-pos my vir ‘n lêer wat al die gedeeltes langs mekaar vir jou gee wat ‘n mens kan gebruik om die evangelies saam te lees (100 bladsye dik!).

Lees dan Matteus, Lukas-Handelinge, en uiteindelik Johannes.

Dit behoort julle ‘n tydjie besig te hou!

Lukas-Handelinge: Twee boeke vir ons tyd – David J Bosch

GRATIS KINDLE/E-BOEK

Arnau van Wyngaard het in 1988 die streeksinode van Noord-Transvaal van die NGKA in Mamelodi bygewoon. Die hoogtepunt (min of meer die enigste, sê hy!) van die week was Bybelstudies oor Lukas & Handelinge wat elke oggend deur David Bosch gelei is. Dit was ‘n belewenis! Hy het destyds ‘n kopie daarvan in die hande gekry.

Met die toestemming van Annemie Bosch het hydit nou in ‘n elektroniese formaat verwerk vir gebruik op ‘n Kindle, of een van die baie ander e-lesers asook in PDF-formaat vir diegene wat dit wil uitdruk.

Jy is welkom om dit gratis af te laai en om dit gratis te versprei.

Vir my was dit ‘n belewenis om deur hierdie materiaal te werk.  Ek het dit ook nou in ‘n preek oor Lukas 4 gebruik.

Onlangse kommentaar

  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38Baie dankie vir hierdie verduideliking. Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vesti…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38GOD is so goeie GOD. HY gee vir ons die voorskrifte vanaf Deut. 28 en dan volg HY dit ook op in Psalm 107 en sê as ons net doen wat HY ons beveel sal dit met ons goed gaan en ons geseënd wees, nie oor ons nie, maar oor GOD en wie HY is.
  • Chris van Wyk on Psalm 106:43-48Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vestiging in die Beloofde Land.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:1-9Psalm 1:1 Stel dit so mooi hoe ons, ons pad moet hou en dat ons moet hou en bly by GOD se gebooie
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:43-48Goeie naand, Psalm 106: 28 Kan u asb vir my verduidelik wat Baâlpeor is ? Baie dankie Amanda