Skip to main content

Tag: Tessalonisense

2 Tessalonisense 3:6-18 – Verdien jou eie brood

Paulus moedig die Tessalonissense aan om nie leeg te lê nie, maar hulle eie brood te verdien, soos Spreuke 14:23 ook sê: “Harde werk bring beloning; om net te praat, bring gebrek.”  Dit bring natuurlik nie net voordeel vir hulleself nie, maar ook vir die koninkryk.  Hierin kan hulle Paulus se voorbeeld volg, wat self vir sy eie brood gewerk het in Tessalonika, al kon hy eintlik sy reg as apostel uitgeoefen het om van hulle voorsiening gebruik te maak.

Sy opdrag aan die gemeente om hulle aan leeglêers te onttrek kan moontlik die eerste vorm van sensuur in die Christelike kerk wees.  Dit is ook interessant dat die doel is om die oortreder terug te wen deur hom skaam te maak. Dit moet egter nie in ’n vyandige gesindheid geskied nie, omdat dit die saak van die evangelie sou skaad.

Hy sluit die brief af met ’n bemoediging tot volharding in goed doen, sowel as ’n seënbede, in sy eie handskrif.

Naskrif

Ek post vandag ook 3 gedeeltes wat ‘n oorsig oor die briewe aan die Korintiërs, sowel as meer spesifiek oor 1 Korintiërs gee, sowel as die leesplan vir die volgende week.  Jy kan dit vandag of môre lees, voordat jy met die eerste hoofstuk se leeswerk begin.

2 Tessalonisense 3:1-5- Gebed laat die Woord versprei

Die Bose is natuurlik nie net beperk tot die persoon van die Satan self of die wetteloosheid wat aan die werk is in die wêreld nie.  Verkeerde (letterlik: mense wat uit plek uit is!) en slegte mense kom ook in die geledere van die gemeente voor: “nie almal is gelowiges nie.”

Interessant is Paulus se voorskrif nie dat sulke mense uitgesnuffel moet word en uit die gemeente geban moet word nie.  ’n Mens kan natuurlik lelike foute op dié manier begaan.  Hy skryf gebed voor die gemeente en vir die werkers in die wingerd van die Here.  Dit is na alles God wat ons van die Bose bewaar ( vgl Matt 6:13).

Paulus se voorskrif tot gebed ook vir die werkers herinner aan Jesus se opdrag in Lukas 10:2: “Die oes is groot, maar die arbeiders min.  Bid dan die Here aan wie die oes behoort, om arbeiders uit te stuur vir sy oes.”  Maar die Woord word nie net deur die volgehoue arbeid van geestelike werkers versprei nie, maar spesifiek ook deur die gebede van die gemeente vir die bestaande werkers, in dié geval Paulus-hulle.

Vers 5 spoor die gemeente aan om aan die een kant God se liefde vir hulle te onthou.  Dit sal hulle versterk.  Maar Hy hou ook die voorbeeld van Christus voor, spesifiek sy volharding.  Dit sal hulle moed gee om hulle eie geloofswedloop te voltooi.

Kies weer vir jou ’n vers of ’n woord om oor dieper na te dink.

2 Tessalonisense 2:13-17 – God sterk ons in die goeie

Let op hoe God se werk en dié van die gelowiges saamwerk om hulle standvastig te maak.

Aan die een kant het die Here hulle lief, het God hulle uitverkies en gered deur sy Gees.  Aan die ander kant is hulle gered deurdat hulle die waarheid glo.

Netso het God hulle geroep deur die evangelie om deel te hê aan Jesus se heerlikheid.  Maar Paulus roep hulle ook op om standvastig vas te hou aan die leer wat hy aan hulle verkondig het.

Soos iemand gesê het: “Werk asof alles van jou afhang, dan sal jy agterkom dat alles van God afhang.”  Dit is ons troos en hoop.

Omdat vandag en môre relatief korter gedeeltes is, kan jy kies om oor ‘n woord of frase dieper na te dink, bv. “Wees dan standvastig” … of “(ek het) ‘n blywende troos en goeie hoop”.

2 Tessalonisense 2:1-12 – Wetteloosheid se mag sal gebreek word

Dit is duidelik dat die gemeente in Tessalonika Paulus verkeerd verstaan het.  Sy boodskap in sy eerste brief (hfst. 5) dat Jesus onverwags sou kom, is deur hulle geïnterpreteer dat Jesus moontlik reeds gekom het óf binnekort sou kom.  Dit kan ook moontlik wees dat daar iemand was wat valslik in sy naam ’n brief geskryf het (2:2) en sommige verwar het met ’n verkeerde interpretasie van sy vorige boodskap oor die wederkoms.

Paulus versoek hulle egter om nie so gou van stryk gebring te word deur misleidende interpretasies oor die wederkoms nie, maak nie saak of dit in ’n profetiese uitspraak gedoen word of deur ’n brief nie.  Daarom bevestig Paulus heel moontlik in 2 Tess 3:17 die egtheid van hierdie brief, deur die groete met sy eie handskrif te skryf.

Die wettelose mens (Antichris?) waarvan Paulus praat wat eers moet verskyn, kan óf met ’n demoniese mag óf ’n despotiese leier verbind word, iemand soos bv. die Siriese koning Antiogus Epifanes (175-164 vC – vgl Dan 11:31-39; 12:11 en 1 Makkabeërs 1:54,59) of die Romeinse keiser Gajus (37-41 nC – hy het probeer om ’n standbeeld van hom in die tempel in Jerusalem op te rig, maar is dood voor dit gebeur het), wat albei van hulle onderdane vereis het om hulle te aanbid as gode. Jesus verwys heel moontlik ook na dié wettelose een in sy profetiese rede in Markus 13:14.

As dit ’n despotiese leier sou wees, kan dit miskien dui op keiser Titus wat in 70 nC Jerusalem ingeneem het en die tempel ontheilig het.  As dit ’n demoniese mag sou wees, verwys Paulus se uitsprake na die Antichris in die eindtyd net voor die wederkoms van die Here Jesus.  Dit is ook moontlik om albei betekenisse te aanvaar, en ’n eerste vervulling met keiser Titus en ’n tweede vervulling aan die einde van die tyd hierin raak te sien (vgl 1 Joh 2:18 – daar is eintlik sprake van ’n hele paar antichriste).

Hoe dit ook al sy, die Tessalonisense het die lering verstaan, want hy het dit blykbaar die vorige keer met hulle deurgepraat.  Dit bly egter vir ons onseker presies wat hy bedoel, omdat die NT nie baie meer detail hieroor gee nie.  Dit geld ook die betekenis van die “geheime krag wat hom teëhou”.  Dit is  bv. al met die Romeinse ryk, wat op plekke die evangelie goedgesind was, verbind; ook met die evangelie verkondiging, dws dat deur die verspreiding van geloof, die wettelose teruggedryf word; ook met engele of met die Heilige Gees of God self, hoewel dit nie sin maak dat die Gees eers “uit die weg (moet) wees” nie (vers 7).

Selfs die grote Augustinus het hieroor gesê dat dit vir hom ’n onopgeloste raaisel is (City of God) … en ek dink hy het ’n punt beet! Miskien is William Hendriksen egter reg wat sê dat ons hier met ’n beskrywing van die algemene handhawing van reg en orde deur regerings en ander instansies te make het.  Wanneer dit verdwyn, sal die wetteloosheid oorneem, en is dit die einde.

Terloops, dan was daar al tye wat dit byna gebeur het: dink maar net aan die twee Wêreldoorloë van die vorige eeu, en wat tans in soveel dele van die wêreld gebeur: Afganistan, Pakistan, Iran, Irak, en baie dele van Asië en Afrika, selfs in die Amerikas en Europa …  Is daar ’n plek waar wetteloosheid nie dreig om oor te neem nie, wonder ek skielik?!

Wat wel seker is, is dat dit die Satan is wat agter die wettelose en die wetteloosheid sit.  Let egter op dat hy dit net regkry om dié te mislei wat reeds nie die waarheid liefgehad en tot hulle redding aanvaar het nie.  Die veroordeling kom dus nadat hulle reeds hulle keuse teen God se boodskap in Jesus Christus gemaak en Hom verwerp het.

Die Satan se werk, in die lig van wat die res van die Bybel ook daaroor skrywe, kan in 4 woorde opgesom word: versoeking (Matt 4), misleiding (1 Kon 22:21-22; Ef 6), teenspoed (Open 2:10) en aanklag (Job 1; Open 12:10).  Sy werk word daarom ook nie uitgewis deur “duiwel-uitdrywing” in die eerste plek nie, maar deur die waarheid te soek en te leef (Joh 8:31 vv; Ef 6:14,17 – hier word dit met die Bybel verbind) en getuienis te lewer (2 Kor 10:4-5; Ef 6:15,16) en biddend te lewe (Matt 6:13; Ef 6:18).

As ek al die inligting hierbo so beskou, is dit maklik om benoud te raak.  Hoe meer jy weet van wat in die wêreld aangaan, hoe meer weet jy van die mag van wetteloosheid.  Dan is die woorde waarmee Paulus hierdie perikoop begin en eindig ook vir my bedoel:

Jesus kom weer en Hy sal my met Hom herenig na Hy die wetteloosheid uit die weg geruim het!

En ek moet waak teen wetteloosheid in my eie lewe – ek kan nie ’n norm vir myself word nie, dat wat ek dink goed en sleg is, my lewe bepaal nie.  Dié voorreg behoort net aan die Here.

2 Tessalonisense 1 – God is regverdig en betroubaar

Paulus is dankbaar om te hoor van die gemeente in Tessalonika dat hulle geloof en liefde sterk toeneem (skaars Griekse woord huperauxano wat supergroei beteken!) ten spyte van vervolging en lyding.  Paulus dank God daarvoor, en praat met trots daarvan in al die ander gemeentes.  En dan bemoedig hy hulle om te volhard daarin deur na 2 eienskappe van God te verwys:

  1. God se regverdigheid, wat nie sal toelaat dat die lyding wat hulle verduur ongestraf sal verbygaan nie.  Die mense wat hulle nou laat ly, sal gestraf word met die ewige verdoemenis.[1] Let op hoe die verdoemenis geteken word as “altyd geban uit die teenwoordigheid van die Here” (vers 9).  Calvyn het gepraat van ’n “onsterflike dood”.
  2. God se betroubaarheid, wat nie net sal straf nie, maar ook sal sorg dat hulle daar is om te deel in die verheerliking.  Let op dat God verheerlik sal word deur hulle standvastige geloof én dat hulle deur Hom verheerlik sal word (vers 12).

Paulus sluit dié hoofstuk met ’n gebed dat God hulle waardig sal maak vir dié lewe waartoe Hy hulle geroep het, dat Hy hulle liefde vir die goeie en die werk van die geloof volkome sal maak – woorde wat herinner aan die eerste brief (1:3; 5:8).

Die boodskap bevredig my eie sin vir regverdigheid – lyding is nie maar toevallig of verniet nie – en gee my hoop – God sal my waardig maak vir die lewe waartoe Hy my geroep het.  Ek kan op sy regverdigheid en betroubaarheid staatmaak, in my bediening en lewe.


[1] Vers 8 praat nie soseer oor twee groepe mense nie, maar oor een.  Die tweede frase: “die wat die evangelie van ons Here Jesus nie gehoorsaam nie” verduidelik die eerste frase: “die mense … wat nie vir God ken nie”.  En dit dui hier op die vervolgers van die gelowiges in Tessalonika.

Onlangse kommentaar

  • Chris van Wyk on Wat is afgodery? – Romeine 1:21-25Ja Gerhard, ek sal eerder sê dat 'n mens jouself kan verafgod, as jou geloof as sodanig. Die Bybel praat nie so nie so ver ek kan agterkom. Die Bybel wys uiteraard afgode af, en dinge soos gierigheid wat 'n afgod kan raak. Daaruit kan 'n mens aflei dat enigiets wat in die plek van God gestel word, o…
  • Gerhard on Wat is afgodery? – Romeine 1:21-25Ds ek is besig om afgodery na te slaan. Ek het 'n ds gehoor met die opmerking dat jy jou geloof kan verafgod? Afgodery is tog weg van God af soos wat ek verstaan. Groete Gerhard
  • Chris van Wyk on DaniëlHi Elma, ek het so 15 verwysings na Daniël in die komende bydraes van Openbaring by die kronologiese lees van die Bybel. Ek het ook 'n paar verwysings na Openbaring in die vorige bydraes van Daniël. Maar, ek het dit nie pertinent êrens hanteer nie.
  • Elma Bosch on DaniëlDs Chris, daar is sekere ooreenkomste in Daniel en Openbaring - Het jy dit al in die verlede behandel en indien wel, waar kan ek dit vind? Of gaan ons dit behandel wanneer ons Openbaring later doen met die kronologiese leesplan? Baie dankie Elma
  • Chris van Wyk on JESAJA 6:1-8God praat hier met almal in sy teenwoordigheid in die hemel, ook met Jesaja wat die voorreg van hierdie openbaring kry. Hy wil iemand stuur om sy boodskap aan die volk te gaan lewer. Jesaja reageer positief en word dan gestuur om God se boodskapper te wees.
  • Miche Africa on JESAJA 6:1-8Wat is die betekenis van Jesiah 6 vers 8
  • Chris van Wyk on Matteus 11 – Kom na My toe en Ek sal julle rus geeWanneer Jesus in Matteus 11:6 sê: “Geseënd is hy wat nie aan My aanstoot neem nie,” bedoel Hy dat ons gelukkig is as ons nie ophou glo omdat God dinge anders doen as wat ons verwag het nie. Johannes die Doper het gedink die Messias sou oordeel bring, maar Jesus bring eers genesing en redding. Dit wa…
  • optimistica231f5e58a on Matteus 11 – Kom na My toe en Ek sal julle rus gee"Vers 6 is dan ’n baie spesifieke oproep aan Johannes om nie aan Jesus aanstoot te neem, omdat hy in die tronk is en nie wonders ervaar nie. Dit is mense wat leer om met die paradoks van onvervulde beloftes te lewe en nie aan Jesus aanstoot neem in die proses nie, wat geseënd is. Mense wat hulle lew…
  • Chris van Wyk on Efesiërs 6:10-24Dankie Carel!
  • cupcakevaliantlye36950698b on Efesiërs 6:10-24Uitstekende uitleg van die teks, baie dankie Chris! Ons stryd is wel teen die bose, maar ons fokus is nie op hulle nie, ons fokus op ons Here, op ons herstelde verhouding met Hom en op mense wat die goeie nuus nodig het. Kosbaar! Groetnis en seën Carel Smith
  • Chris van Wyk on Boek oor OpenbaringLekker om te hoor!
  • Emmarentia Vermeulen on Boek oor OpenbaringOns dames Bybelstudie groep is besig om die boek te behandel, ons trek na 8 maande by hoofstuk 7. Ons doen dit baie stadig en deeglik en ons leer baie. Baie dankie. Vanuit Perth, Wes Australië.
  • runawayjoyous2427b27b07 on Boek oor OpenbaringBaie baie dankie!!
  • inventive3b503adfaf on Boek oor OpenbaringVreeslik dankie! God's seën!
  • Chris van Wyk on Psalm 121 – God, jou Beskermer, slaap nieDie Here, die Beskermer, is soos die skaduwee aan jou regterhand, d.w.s. as jy jou skild in jou linkerhand hou, soos soldate dit gewoonlik gedoen het, sal Hy aan jou onbeskermde kant die wag hou. Hy is daar waar jy nie kan bykom nie. GOD SORG VIR JOU TEEN ONVOORSIENE AANVALLE.