Skip to main content

Vrees word getroef deur jou visie op God met ander te deel

Ons het vanoggend in die erediens uit 1 Samuel 17-18 geleer dat Dawid ’n man van God was, wat gelewe het in die groot wêreld van God en dat hy daarom die klein wêreld van bere en leeus en Goliat kon hanteer.

Die boodskap vir ons is dat ons ook moet leer om God raak te sien, soos hy, midde in ons vrese oor allerlei dinge in die gemeente en die wêreld.  Ek dink daar is niks wat ‘n groter impak op ons ervarings kan hê as juis dit nie.  Of dit nou is in ons nadenke oor die gemeente, oor ons finansies, oor ons bediening, oor die toekoms, oor ons ervaring van die kerk in die breë en oor die toekoms van ons land en wêreld – ons visie op God gaan ons moed om te lewe, bepaal.

Maar hoe doen ons dit?

1. Vrees word getroef deur naby God te lewe.

“Moed is net vrees wat begin bid het.” Anne Lamont

God moet so werklik vir jou raak soos jou skaduwee.

Jou ervarings in die gemeente en die gemeenskap moet met God deurgebid word. Jou daaglikse lewe moet bepaal word deur jou daaglikse ontmoetings met God en met ander wat saam met jou die Here kan dien.

Vrees word getroef deur naby God te lewe!

2. Vrees word getroef deur jou visie op God met ander te deel.

“Hou jou vrese vir jouself, maar deel jou moed met ander.” Robert Louis Stevenson

Dit is miskien die mees transformatiewe ding wat ons kan doen in ons gemeente en in ons gemeenskap – om mekaar nie met ons vrese op te saal nie, maar met ons visie op God, dít wat ons moed gee!

Vir al die pa’s op Vadersdag – dit kan ‘n ongelooflike fokus vir jou wees: deel jou visie op God met jou kinders. Laat dít die ding wees wat hulle van jou sal onthou, wie God vir jou was – want dit is ‘n legacy wat ruggraat gee in die moeilikste van omstandighede.

Daarom konfronteer hierdie bekende Bybelstorie ons met hierdie vrae:

  • Gaan jy gevorm word deur jou vrese vir die Goliats van die lewe óf deur God?
  • Gaan jy op jou knieë leef, naby aan God, gefokus op God?
  • Gaan jy jou visie op God deel, en so moed eerder as vrees versprei in hierdie wêreld?

Mag wie jy en ek is, bepaal word deur Wie ons in hierdie wêreld raaksien – God want dis Sy plek dié … én omdat ons Hom sien, gaan ons op ons knieë voor Hom, en gee dit vir ons krag om daardie volgende tree in die rigting van Goliat te gee …

Didage

Ons begin die 4de Februarie met Didage op Woensdagaande.  Soos gewoonlik eet ons saam om 18:00 (R25 per persoon, bespreek vooruit by die kerkkantoor – Alta Hanekom gaan ons vergas met haar wonderlike resepte!).  Daarna begin ons met die Mid-Week aanbiedinge om 18:30.

Die aanbiedinge val in drie kategorieë – 1) ‘n fokus op Bybel en Teologie; 2) ‘n fokus op Geestelike Gewoontes; 3) Geloof in Aksie.  Ons beplan om dit mettertyd ook na toerusting in geestelike vaardighede uit te brei, maar dit is nog toekomsmusiek!

Hierdie kwartaal kan jy dus een van die volgende 6 aanbiedinge bywoon:

BYBELSKOOL – Chris van Wyk (Bybel & Teologie fokus)

Ons lees die evangelie van Lukas en die Handelinge van die apostels.  Geskrywe deur Lukas, die dokter, fokus die evangelie van Lukas op die redding wat Jesus bring vir alle Jode, van die platteland in Galilea tot in die stad Jerusalem.  Sy tweede boek, Handelinge, vertel die verhaal van die redding wat deur die werk van die Gees horisontaal versprei van die stad Jerusalem terug na die platteland, maar dan ook verder na Asië, Afrika, Europa en uiteindelik na die groot stad en magsentrum van daardie tyd, Rome.
Koste: R30 vir ‘n begeleiersgids – almal welkom

LECTIO DIVINA – Deon Loots (Geestelike Gewoontes fokus)

Lectio Divina – geestelike lees – is `n baie ou geestelike dissipline. Dit het ontstaan as `n manier van luister na die Woord van God in ‘n tyd van grootskaalse ongeletterdheid. Dit gaan dus oor die kuns om werklik te leer luister na die Woord en die relevansie daarvan vir jou eie lewe.
Tydens ons Lectio Divina sessies gaan ons met jou van die belangrikste beginsels rondom die benadering deel. Dit is alreeds lewensveranderend. Ons gaan dit daarom ook elke week prakties beoefen. Ons gaan dus leer deur dit self te doen en met mekaar te deel wat ons hoor.
Dit geskied in `n atmosfeer van stilte en luister. Ons sal ook gewyde musiek gebruik om onsself in te stem op God se teenwoordigheid.

GEESTELIKE GEWOONTES – Rethie van Niekerk (Geestelike Gewoontes fokus)

Die beoefening van geestelike gewoontes skep ‘n ruimte vir God om ons van binne af te verander.  En ons leer dié gewoontes die beste aan in ‘n kleingroep wat dit saam met ons doen.
Adele Calhoun het ‘n unieke boek Spiritual Disciplines Handbook – Practices that transform us geskryf om ons hiermee te help.  In plaas daarvan om haar boek net van hoek tot kant deur te lees, help sy mens om jou spesifieke behoefte aan God te verbind aan die geestelike gewoonte wat die beste daarby pas.  As jy byvoorbeeld ‘n behoefte het om met meer deernis met ander te praat, woorde wat eg, liefdevol en genesend is, stel sy oefeninge voor om die gewoonte om jou “tong te beheer” te beoefen!  As jy behoefte het om die teenwoordigheid van God in alles te kan raaksien, stel sy die gewoonte van kontemplasie voor.  En daar is 60 ander …!
Koste: R280 vir Adele Calhoun se boek  – net 20 persone

PROJEK EKSODUS – André Killian (Geestelike Gewoontes fokus)

André nooi 9 mense uit om saam met hom ‘n geestelike reis te onderneem aan die hand van die werkboek van John en Adrienne Carr Projek Eksodus (The Pilgrimage Project).  Die doel van die reis is om aan die hand van die lewenshoofstukke van ons eie verhale te ontdek wat God se plan met ons lewens is.  Hierin speel beide woestyntye sowel as braambostye ‘n belangrike rol.  Die reis word afgesluit met ‘n vooruitkyk na die volgende hoofstuk wat God in jou lewe gaan skryf.
Koste: R20 per persoon vir die werkboek

HUWELIKSVOORBEREIDING – Deon Binneman (Geloof in Aksie fokus)

Hierdie praktiese huwelikskursus gee vir elke getroude paartjie die hulpmiddels vir die bou van ‘n sterk en gesonde huwelik wat ‘n leeftyd hou. Oor 8 weke gesels egpare oor belangrike sake wat maklik in die gejaag van die daaglikse lewe nie aandag kry nie. Onderwerpe sluit in: sien mekaar se behoeftes raak; leer om effektief te kommunikeer; hanteer konflik; genees seerkry uit die verlede; weet hoe om mekaar geliefd te laat voel; ouers en skoonouers; goeie seks; maak tyd vir mekaar en hê pret saam.
Elke paartjie se privaatheid word gerespekteer. Daar is geen groepsbespreking nie en niemand hoef enigiets oor hul verhouding bekend te maak nie. Elke aand begin met ‘n kerslig-ete. Daar is ‘n video-praatjie, gevolg deur ‘n geleentheid om die onderwerp as paartjie te bespreek.

Koste: R100 per paartjie vir die werkboek en R25 weekliks per persoon vir die etes

OP PAD MET GOD – Mariette Rossouw (Geestelike Gewoontes fokus)

Die pad saam met God is uniek en vol verrassings. As jy werklik met God leer wandel het, beloon Hy jou met ’n lewe van vreugde en oorwinning.  Dan wil jy in toewyding voor Hom as jou Vader leef, en in troue navolging die voorbeeld van Jesus volg.

Op jou geestelike pad is daar verskillende seisoene waarin jou kommitment tot God sal verskil. Tog is dit juis hierdie kommitment wat die hoekpilaar vorm van ‘n lewe saam met God, waarin jy leer om:

  • by God tot stilstand te kom: daar by Hom te skuil en van Hom te leer;
  • tot God te nader: die dag saam met Hom te begin;
  • in God vertroue, troos, beskerming en rus te vind;
  • voor God te kom: met jou pyn, emosies en goeters;
  • met God te wandel: bewus van die krag van Sy Gees;
  • vir God te leef: mense bereik, te dien en te bedien, tot uitbreiding van Sy Koninkryk.

OP PAD MET GOD is “kringwees vir Christus” . Dit is vir jou as jy ‘n soeke na God het, of wil ervaar dat God met jou praat, ‘n nuwe geestelike tuiste of ‘n nuwe visie vir jou lewe soek, geestelike afplatting ervaar of gewoon net geestelik wil groei.

Koste: een foliogrootte hardebandboek vir jou joernaal (gespreksboek met God).  Bring ook jou Bybel saam.

Fokus op Geestelike Gewoontes – 1ste kwartaal 09

Hierdie kwartaal gaan ons saam op ‘n reis om meer ruimte te maak vir God in ons lewe.  Deur te fokus op GEESTELIKE GEWOONTES gaan ons die Heilige Gees kans gee om ons van binnekant af te verander.  Hy is die een wat ons daarmee die DRUPPELS genade gee VIR DIE DORS wat ons na God het – soos ons bemarkingspamflet sê.

Vir elke erediens word daar ‘n Joernaal ontwikkel wat fokus op die geestelike gewoontes wat jou dors na God kan les. Jy kan dit gebruik vir persoonlike nadenke, vir kleingroepbyeenkomste, vir gesprek met geestelike vriende en vir huisgodsdiens. Alles sal ook weekliks op die webtuiste verskyn sodat jy kan bybly waar jy ook al op die aardbol rondreis (www.ngkerksomerstrand.co.za).

Op die blog kan jy ook deelneem aan gesprekke oor die weeklikse temas.

Waarom fokus ons op Geestelike Gewoontes?

Daar is by baie van ons ‘n begeerte na meer: meer tyd vir die belangrike dinge in die lewe, meer insig in wat ‘n mense by ‘n regtig betekenisvolle lewe uitbring, en veral om meer van God in ons lewe te hê.
Die wonder is, hierdie begeerte na meer val nie uit die lug nie.  Die begeerte na meer in ‘n mens se lewe is alreeds ‘n getuienis dat God aan die werk is in ons lewe.

Wat ons nodig het, is maniere om hierdie werk van God nie net agter te kom in ons lewe nie, maar veral om ruimte daarvoor te maak, daarby aan te sluit en daarmee saam te werk.  Een van die tydbeproefde maniere om ruimte vir God  te maak in ‘n mens se lewe, is om spesifieke geestelike gewoontes (of dissiplines) aan elkeen van hierdie begeertes na meer te verbind. Dit gee vir jou ‘n baie innoverende maar ook eg-persoonlike hulpmiddel vir geestelike groei.  En só word ‘n mens ingetrek in God se werk wat ons lewens transformeer.

Elke week gaan ons daarom een geestelike gewoonte neem, dit verbind aan ‘n behoefte na meer, die Skrif perspektiewe daarop uitspel, en dan maniere om die gewoonte te beoefen ondersoek en voorstel vir inoefening in die daaropvolgende week.  Rethie gaan ook ‘n groep Woensdagaande met Didage op ‘n dieper reis met die geestelike gewoontes neem.

Ons nooi jou uit om jou ervarings en vrae deur die loop van dié kwartaal met ons te deel.

Onlangse kommentaar

  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38Baie dankie vir hierdie verduideliking. Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vesti…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38GOD is so goeie GOD. HY gee vir ons die voorskrifte vanaf Deut. 28 en dan volg HY dit ook op in Psalm 107 en sê as ons net doen wat HY ons beveel sal dit met ons goed gaan en ons geseënd wees, nie oor ons nie, maar oor GOD en wie HY is.
  • Chris van Wyk on Psalm 106:43-48Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vestiging in die Beloofde Land.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:1-9Psalm 1:1 Stel dit so mooi hoe ons, ons pad moet hou en dat ons moet hou en bly by GOD se gebooie
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:43-48Goeie naand, Psalm 106: 28 Kan u asb vir my verduidelik wat Baâlpeor is ? Baie dankie Amanda