Psalm 133
Die fokus van hierdie Leesplan is gemeenskap met God. Ons begin telkens met die bid van die Ons Vader, bid dan die Psalm met ‘n tyd van nadenke, en sluit ons gebedstyd af met ‘n kort Lofprysing. Die idee is dat jy na die Ons Vader die kort gedeelte oor die teks en konteks van die Psalm lees, daarna die Psalm met aandag deurlees, en dan vers vir vers in jou eie woorde (hardop as dit kan) bid. Daarna kan jy die kort bydrae oor die boodskap en betekenis lees vir nadenke. Sluit met die bid van die Lofprysing. Die middag en aand bid jy net die Ons Vader, die Psalm, en die Lofprysing.
Ons Vader
“Ons Vader wat in die hemele is, laat u Naam geheilig word. Laat u koninkryk kom. Laat u wil geskied, soos in die hemel, so ook op die aarde. Gee ons vandag ons daaglikse brood. En vergeef ons ons sondes, soos ons ook ons skuldenaars vergeef. En laat ons nie in versoeking kom nie, maar verlos ons van die Bose. Want aan U behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid. Amen.” (Matt. 6:9-13)
Teks en konteks
Hierdie Psalm van Dawid gebruik die ideaal van broers uit dieselfde uitgebreide familie wat eensgesind saamwoon op hulle gesamentlike erfporsie as metafoor om die viering van die eenheid van die pelgrims van die verbondsgemeenskap in Jerusalem te beskryf: “Kyk hoe goed, hoe mooi is dit as broers eensgesind saam woon.” Waar hulle uit alle rigtings bymekaar kom in Jerusalem en saam die Here in die verskillende feestelike liturgieë dien, illustreer hulle die onlosmaaklike band wat hulle in die Here met mekaar deel. Dit is die gom wat hulle dan ook weer saambind as hulle elkeen in sy eie rigting teruggaan na hulle eie stukkie van die grondgebied van Israel. Dié eenheid is aan die een kant ‘n geestelike een wat beskryf word met die kosbare reukolie wat van die kop af in die baard van Aäron, die hoëpriester, tot op sy klere afloop. Dit verwys na die bevele van die Here in dié verband wat Aäron en sy seuns in hulle diens aan die Here gesalf het (Eks. 29:7; 30:23-25, 30; Lev. 8:12). Dieselfde het natuurlik ook by die salwing van die konings gebeur wat hulle roeping geestelik bevestig het. Oral waar gelowiges dit dus regkry om hulle eenheid te bevestig het dit ‘n geestelike impak, nie net vir hulleself nie, maar ook vir hulle geloofsgemeenskap. Dié eenheid is aan die ander kant ook iets wat ‘n impak op die gewone lewe het, soos uitgedruk met die metafoor van die spreekwoordelike oorvloedige dou van die Hermonberg – ‘n berg in Sirië noord van Israel – wat ook op die berge by Sion sal val. Dit beteken dat die seën van eenheid het ook ‘n impak op die wyer gemeenskap. ‘n Mens kan selfs hieruit ekologiese en ekonomiese seën aflei.
Bid die Psalm
“’n Pelgrimslied. Van Dawid. Hoe goed, hoe mooi is dit as broers eensgesind saamwoon! Dit is soos kosbare olie op die kop wat afloop op die baard, op die baard van Aäron, tot op die soom van sy kleed. Dit is soos die dou van Hermonberg wat neersak op die berge van Sion. Want daar gee die Here sy seën: ’n baie lang lewe.” NLV
Boodskap en betekenis
Die punt is, waar mense dit regkry om eensgesind te leef met mekaar is daar ‘n ongelooflike seën, geestelik en andersins. Trouens, dit is iets wat jou eintlik ‘n voorsmakie van die ewige lewe gee, die lewe wat God aan ons skenk. Dié Psalm gee dus ‘n ongelooflike beeldryke ondersteuning vir die NT ideaal van eensgesindheid soos Paulus bv. aan die Filippense skryf: “Aangesien julle die troos in Christus ondervind het, die aansporing deur die liefde, die gemeenskap deur die Gees, die innige meegevoel en meelewing—maak dan nou my blydskap volkome deur eensgesind te wees: een in liefde, een van hart, een in strewe. Moet niks uit selfsug of eersug doen nie, maar in nederigheid moet die een die ander hoër ag as homself. Julle moenie net elkeen aan sy eie belange dink nie, maar ook aan dié van ander.” (Fil. 2:1-4).
Lofprysing
“Weet vandag en verstaan dat die Here God is; Hy alleen is God in die hemel en op die aarde.” (Deut. 4:39)
Onlangse kommentaar