Skip to main content

Psalm 133

Die fokus van hierdie Leesplan is gemeenskap met God. Ons begin telkens met die bid van die Ons Vader, bid dan die Psalm met ‘n tyd van nadenke, en sluit ons gebedstyd af met ‘n kort Lofprysing. Die idee is dat jy na die Ons Vader die kort gedeelte oor die teks en konteks van die Psalm lees, daarna die Psalm met aandag deurlees, en dan vers vir vers in jou eie woorde (hardop as dit kan) bid. Daarna kan jy die kort bydrae oor die boodskap en betekenis lees vir nadenke. Sluit met die bid van die Lofprysing. Die middag en aand bid jy net die Ons Vader, die Psalm, en die Lofprysing.

Ons Vader

“Ons Vader wat in die hemele is, laat u Naam geheilig word. Laat u koninkryk kom. Laat u wil geskied, soos in die hemel, so ook op die aarde. Gee ons vandag ons daaglikse brood. En vergeef ons ons sondes, soos ons ook ons skuldenaars vergeef. En laat ons nie in versoeking kom nie, maar verlos ons van die Bose. Want aan U behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid. Amen.” (Matt. 6:9-13)

Teks en konteks

Hierdie Psalm van Dawid gebruik die ideaal van broers uit dieselfde uitgebreide familie wat eensgesind saamwoon op hulle gesamentlike erfporsie as metafoor om die viering van die eenheid van die pelgrims van die verbondsgemeenskap in Jerusalem te beskryf: “Kyk hoe goed, hoe mooi is dit as broers eensgesind saam woon.” Waar hulle uit alle rigtings bymekaar kom in Jerusalem en saam die Here in die verskillende feestelike liturgieë dien, illustreer hulle die onlosmaaklike band wat hulle in die Here met mekaar deel. Dit is die gom wat hulle dan ook weer saambind as hulle elkeen in sy eie rigting teruggaan na hulle eie stukkie van die grondgebied van Israel. Dié eenheid is aan die een kant ‘n geestelike een wat beskryf word met die kosbare reukolie wat van die kop af in die baard van Aäron, die hoëpriester, tot op sy klere afloop. Dit verwys na die bevele van die Here in dié verband wat Aäron en sy seuns in hulle diens aan die Here gesalf het (Eks. 29:7; 30:23-25, 30; Lev. 8:12). Dieselfde het natuurlik ook by die salwing van die konings gebeur wat hulle roeping geestelik bevestig het. Oral waar gelowiges dit dus regkry om hulle eenheid te bevestig het dit ‘n geestelike impak, nie net vir hulleself nie, maar ook vir hulle geloofsgemeenskap. Dié eenheid is aan die ander kant ook iets wat ‘n impak op die gewone lewe het, soos uitgedruk met die metafoor van die spreekwoordelike oorvloedige dou van die Hermonberg – ‘n berg in Sirië noord van Israel – wat ook op die berge by Sion sal val. Dit beteken dat die seën van eenheid het ook ‘n impak op die wyer gemeenskap. ‘n Mens kan selfs hieruit ekologiese en ekonomiese seën aflei.

Bid die Psalm

“’n Pelgrimslied. Van Dawid. Hoe goed, hoe mooi is dit as broers eensgesind saamwoon! Dit is soos kosbare olie op die kop wat afloop op die baard, op die baard van Aäron, tot op die soom van sy kleed. Dit is soos die dou van Hermonberg wat neersak op die berge van Sion. Want daar gee die Here sy seën: ’n baie lang lewe.” NLV

Boodskap en betekenis

Die punt is, waar mense dit regkry om eensgesind te leef met mekaar is daar ‘n ongelooflike seën, geestelik en andersins. Trouens, dit is iets wat jou eintlik ‘n voorsmakie van die ewige lewe gee, die lewe wat God aan ons skenk. Dié Psalm gee dus ‘n ongelooflike beeldryke ondersteuning vir die NT ideaal van eensgesindheid soos Paulus bv. aan die Filippense skryf: “Aangesien julle die troos in Christus ondervind het, die aansporing deur die liefde, die gemeenskap deur die Gees, die innige meegevoel en meelewing—maak dan nou my blydskap volkome deur eensgesind te wees: een in liefde, een van hart, een in strewe. Moet niks uit selfsug of eersug doen nie, maar in nederigheid moet die een die ander hoër ag as homself. Julle moenie net elkeen aan sy eie belange dink nie, maar ook aan dié van ander.” (Fil. 2:1-4).

Lofprysing

“Weet vandag en verstaan dat die Here God is; Hy alleen is God in die hemel en op die aarde.” (Deut. 4:39)

Psalm 132

Die fokus van hierdie Leesplan is gemeenskap met God. Ons begin telkens met die bid van die Ons Vader, bid dan die Psalm met ‘n tyd van nadenke, en sluit ons gebedstyd af met ‘n kort Lofprysing. Die idee is dat jy na die Ons Vader die kort gedeelte oor die teks en konteks van die Psalm lees, daarna die Psalm met aandag deurlees, en dan vers vir vers in jou eie woorde (hardop as dit kan) bid. Daarna kan jy die kort bydrae oor die boodskap en betekenis lees vir nadenke. Sluit met die bid van die Lofprysing. Die middag en aand bid jy net die Ons Vader, die Psalm, en die Lofprysing.

Ons Vader

“Ons Vader wat in die hemele is, laat u Naam geheilig word. Laat u koninkryk kom. Laat u wil geskied, soos in die hemel, so ook op die aarde. Gee ons vandag ons daaglikse brood. En vergeef ons ons sondes, soos ons ook ons skuldenaars vergeef. En laat ons nie in versoeking kom nie, maar verlos ons van die Bose. Want aan U behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid. Amen.” (Matt. 6:9-13)

Teks en konteks

Hierdie Psalm roep die geskiedenis van Dawid en die koningshuis in herinnering. Die pelgrims dink terug aan die passie van Dawid om ‘n tempel vir die Here te bou waarin die ark, die simbool van God se teenwoordigheid, ‘n vaste rusplek kan kry. Die twee name wat in vers 6 genoem word, Efrata en Jaär, help ‘n mens om die geskiedenis van die ark in herinnering te roep sowel as die tradisie van die Messias wat aan God se teenwoordigheid gekoppel is. Efrata verwys na Betlehem, die plek waar Ragel oorlede is met die geboorte van Benjamin (Gen. 35:19). Dit is ook die plek waar die verhaal van Naomi en Rut afspeel. Ook Samuel se pa, Elkana, se voorsate het van Efrata af gekom (1 Sam. 1:1). Miga voorspel dat die Messias van Betlehem-Efrata afkomstig sal wees (Miga 5:1), die teks wat die Skrifgeleerdes in die NT oortuig het dat die sterrekenners die Christus in Betlehem moes gaan soek (Matt. 2:6). Die plek Jaär (Jaärsveld) verwys waarskynlik na die plek waar die ark vir ‘n tyd lank gehou is, Kirjat-Jearim. Dit was in die huis van Abinadab, waar sy seun Eleasar gewy is om na die ark om te sien (1 Sam. 6:21; 1 Sam. 7:1). Ná Dawid Jerusalem ingeneem en as hoofstad gevestig het, was die eerste ding wat hy gedoen het om die ark terug te bring na die tabernakel in Jerusalem (2 Sam. 6:1 vv.; 1 Kron. 13:6 vv.). Die pelgrims tree opnuut ook in vir die Dawidshuis dat die Here sy belofte van trou aan hom en sy nageslag sal nakom. Hulle fokus is egter nie net op die verlede en die herinnering aan wat God in die verlede gedoen het nie. Hulle bid dat God se trou ook hierna sal manifesteer in die voortgang en bevestiging van God se gesalfde, dit is Messias. Ons lees dit as ‘n eenheid.

Bid die Psalm

“’n Pelgrimslied. Here, onthou tog vir Dawid en alles wat hy deurgemaak het. Hy het ’n eed voor die Here afgelê, ’n gelofte gemaak aan die Magtige van Jakob: “Ek sal nie huis toe gaan en na my bed toe gaan nie. Ek sal my oë nie laat slaap of laat sluimer nie tot ek ’n plek gekry het vir die Here, ’n heiligdom vir die Magtige van Jakob.” Ons het gehoor die ark is in Efrata, en dit gekry in die velde van Jaär. Kom ons gaan sy woning binne; laat ons laag voor Hom buig. Kom na u rusplek toe, Here, U en die ark, die teken van u mag. Laat u priesters geklee word met regverdigheid; mag u troue dienaars sing van vreugde. Ter wille van u dienaar Dawid, moet tog nie u gesalfde verwerp nie. Die Here het vir Dawid gesweer, en dit staan vas. Hy sal daarvan nie afwyk nie: “Een van jou afstammelinge sal Ek op jou troon laat sit. As jou seuns luister na my verbond en die eise navolg wat Ek hulle leer, sal ook húlle seuns vir altyd regeer.” Want die Here het Sion gekies, dit as sy woning begeer: “Dit is my rusplek vir altyd. Hier sal Ek woon, want die plek het Ek begeer. Ek sal die stad oorvloedig seën met voedsel en haar armes van kos voorsien. Haar priesters klee Ek met redding; haar getroues sal sing van vreugde. Hier vestig Ek die mag van Dawid, en ’n nageslag vir my gesalfde. Ek klee sy vyande met skaamte, maar sý kroon sal bly skitter.”” NLV

Boodskap en betekenis

Die gebed het in die eerste plek ‘n toepassing op die wyse waarop die Godsvolk regeer word. Hulle tree veral in vir die koningshuis se gehoorsaamheid aan die verbond en sy bepalings en die seëninge wat daaraan verbind is. Dié seëninge sluit vier goed in:

  • God se voortgaande verkiesing van Sion as woonplek – d.w.s .sy teenwoordigheid;
  • God se voortgaande voorsiening van voedsel, ook vir behoeftiges;
  • God se verlossende geskenk van oorwinning vir die priesters – onthou die ark is ook met oorloë gebruik;
  • God se voortgaande voorsiening van nasate om op Dawid se troon te sit, wat die Messiaanse verwagting lewend gehou het: “sy kroon sal op hom skitter”.

Dié Psalm nooi ons dus ook uit om met onvermoeide ywer vir die koms van die koninkryk te bid, in die kerk, sowel as regdeur die wêreld.

Lofprysing

“Weet vandag en verstaan dat die Here God is; Hy alleen is God in die hemel en op die aarde.” (Deut. 4:39)

Psalm 131

Die fokus van hierdie Leesplan is gemeenskap met God. Ons begin telkens met die bid van die Ons Vader, bid dan die Psalm met ‘n tyd van nadenke, en sluit ons gebedstyd af met ‘n kort Lofprysing. Die idee is dat jy na die Ons Vader die kort gedeelte oor die teks en konteks van die Psalm lees, daarna die Psalm met aandag deurlees, en dan vers vir vers in jou eie woorde (hardop as dit kan) bid. Daarna kan jy die kort bydrae oor die boodskap en betekenis lees vir nadenke. Sluit met die bid van die Lofprysing. Die middag en aand bid jy net die Ons Vader, die Psalm, en die Lofprysing.

Ons Vader

“Ons Vader wat in die hemele is, laat u Naam geheilig word. Laat u koninkryk kom. Laat u wil geskied, soos in die hemel, so ook op die aarde. Gee ons vandag ons daaglikse brood. En vergeef ons ons sondes, soos ons ook ons skuldenaars vergeef. En laat ons nie in versoeking kom nie, maar verlos ons van die Bose. Want aan U behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid. Amen.” (Matt. 6:9-13)

Teks en konteks

Hierdie Psalm van Dawid bring ons terug aarde toe na die rus wat daar is in die wete dat God daar is vir ons: “van nou af en vir altyd.” Alles hang nie van ons af nie. Inteendeel. Alles hang van God af. Die groot dade en die wonderwerke is sy domein. Nie dat dit altyd so maklik is nie! Ons weet mos daar is altyd dinge wat ons gedagtes vashou en besighou, groot dinge, belangrike dinge, kritiese dinge. Maar, ons weet ook uit ervaring dat dié dinge ons só kan vasvang dat ons óf hoogmoedig en verwaand raak en as’t ware bó ons vermoë met groot dade of wonderwerke probeer besig raak. Óf dat ons só onrustig raak dat ons geen kalmte meer ken nie en selfs in ‘n donker gat van depressie kan wegsink.

Bid die Psalm

“’n Pelgrimslied. Van Dawid. My hart is nie hoogmoedig nie, Here; en my oë is nie trots nie. Ek bemoei my nie met wat vir my te groot of te moeilik is nie. Maar ek het kalmte en rus gekry, soos ’n kindjie by sy moeder rus, so is my gemoed. Israel, hoop op die Here, nou en vir altyd.” NLV

Boodskap en betekenis

Die Psalmis herinner ons dus aan twee goed. Een, dat ons ons nie bó ons vermoë hoef te presteer nie. God verwag nie meer van ons as wat ons kan gee nie. Twee, dat God ons hoop is, niemand minder, niemand meer, en niemand anders nie. Daarom die oproep: “Israel, vestig jou hoop op die Here, van nou en vir altyd.” Natuurlik neem die gedagtes nie die kompleksiteit van die lewe weg nie. Dit beteken ook nie dat ons die komplekse vrae van die lewe kan of mag vermy nie. Die Psalm: “pictures the simplicity on the yonder side of complexity, not on this side of complexity” (Shoemaker, aangehaal in Allen se Word kommentaar). Maar vir die antwoorde op die kompleksiteite van die lewe, kan ons God vertrou. Soos ‘n gespeende kindjie by sy ma – gewoonlik só op drie jaar oud – kan ons dus ons gemoed tot kalmte en bedaring bring. Ons kan soos peuters, wat moeg gehardloop is, ons plek inneem by God, soos by ons ma, en op sy werk vertrou as dinge vir ons te veel raak. Die groot dade en die wonderwerke kom in elk geval van Hom af. Nou en vir altyd. Soli Deo Gloria.

Lofprysing

“Weet vandag en verstaan dat die Here God is; Hy alleen is God in die hemel en op die aarde.” (Deut. 4:39)

Psalm 130

Die fokus van hierdie Leesplan is gemeenskap met God. Ons begin telkens met die bid van die Ons Vader, bid dan die Psalm met ‘n tyd van nadenke, en sluit ons gebedstyd af met ‘n kort Lofprysing. Die idee is dat jy na die Ons Vader die kort gedeelte oor die teks en konteks van die Psalm lees, daarna die Psalm met aandag deurlees, en dan vers vir vers in jou eie woorde (hardop as dit kan) bid. Daarna kan jy die kort bydrae oor die boodskap en betekenis lees vir nadenke. Sluit met die bid van die Lofprysing. Die middag en aand bid jy net die Ons Vader, die Psalm, en die Lofprysing.

Ons Vader

“Ons Vader wat in die hemele is, laat u Naam geheilig word. Laat u koninkryk kom. Laat u wil geskied, soos in die hemel, so ook op die aarde. Gee ons vandag ons daaglikse brood. En vergeef ons ons sondes, soos ons ook ons skuldenaars vergeef. En laat ons nie in versoeking kom nie, maar verlos ons van die Bose. Want aan U behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid. Amen.” (Matt. 6:9-13)

Teks en konteks

Ek onthou nog so goed Totius se roerende beryming van hierdie Psalm:

“Uit dieptes, gans verlore,
van redding ver vandaan,
waar hoop se laaste spore
in wanhoop my vergaan;
uit diep van donker nagte
roep ek, o Here, hoor,
en laat my jammerklagte
tog opklim in u oor.”

As kind het dié woorde sowel as die melodie my hart geroer en geïnspireer om selfs in die moeilikste omstandighede – “waar hoop se laaste spore, in wanhoop my vergaan” – tóg die Here aan te roep en op Hom te vertrou. Dit is juis wanneer dit voel asof die diep waters jou insluk en jy dreig om weg te sink dat hierdie gebed uit ‘n mens geskeur word in die hoop dat Iemand sal hoor. En dít is presies wat die pelgrims met dié lied bely en gesmeek het. Soos Psalm 119 bely het dat ons na God se Woord luister as ‘n lig vir ons pad en ‘n lamp vir ons voet, só maak Psalm 130 staat op die feit dat God ook na ons stem luister, dat ons woord aan Hom vir ons vergifnis, ‘n antwoord en bevryding sal inhou.

Bid die Psalm

“’n Pelgrimslied. Uit die dieptes roep ek na U, Here, luister tog na my stem, Here. Let tog goed op die smeking van my gebed. Here, as U ons sondes sou opteken, wie, Here, sou ooit kon bestaan? Maar by U is vergifnis; daarom word U gevrees. Ek wag op die Here, ek wag, en hoop op sy woord. Ek wag op die Here, meer as wagte wag op die môre, wag op die môre. Israel, hoop op die Here, want by die Here is troue liefde, by Hom is volkome redding. Hy sal Israel bevry van al hulle sondes.” NLV

Boodskap en betekenis

Want, inderdaad, wie kan staande bly as die Here nie met sy vergifnis ons sondeskuld uitwis nie? Die Psalmis bely dat ons nie ‘n intrinsieke aanspraak op die Here het, asof ons Hom kan dwing nie. Ons kan immers nie ons goeie dade teen ons bose dade laat opweeg en ongeskonde ander kant uitkom nie. Ons het nodig dat die Here eenvoudig ons skuld uitwis, soos Hy in Jesus aan die kruis gedoen het. Ons kan ons net verlaat op die genade van die Here. Soms is ons behoefte nie aan vergifnis nie, maar aan ‘n woord van hoop, ‘n woord wat klaarheid in ons binneste sal bring, wat vir ons die pad vorentoe sal aandui. Die Psalmis wag met sy hele wese daarna, soos wat die wagte uitsien na die môre, ja, soos wagte na die môre. Die fokus skuif dan weg van die persoonlike behoefte aan vergifnis en ‘n antwoord na die gemeenskap se behoefte aan bevryding. Die Psalmis vestig die pelgrims se aandag op die Here se troue liefde en nooi hulle uit om hulle hoop op Hom te vestig vir bevryding, selfs al gaan hulle gebuk onder sondeskuld. Die Here het die vermoë – en die liefde! – om in oorvloed te bevry. Hierdie Psalm laat dus die behoefte van die gelowige en die geloofsgemeenskap oor mekaar skuif, want die een kan eintlik nie sonder die ander nie. Verandering kom wanneer God sentraal staan in beide jou eie lewe as in dié van jou geloofsgemeenskap. Bid dus vandag met volle oorgawe vir jouself sowel as vir die geloofsgemeenskap waarvan jy deel is. En vestig jou vertroue volledig op die troue liefde van die Here. Hy sal vergewe. Hy sal ‘n antwoord gee. Hy sal bevry.

Lofprysing

“Weet vandag en verstaan dat die Here God is; Hy alleen is God in die hemel en op die aarde.” (Deut. 4:39)

Psalm 129

Die fokus van hierdie Leesplan is gemeenskap met God. Ons begin telkens met die bid van die Ons Vader, bid dan die Psalm met ‘n tyd van nadenke, en sluit ons gebedstyd af met ‘n kort Lofprysing. Die idee is dat jy na die Ons Vader die kort gedeelte oor die teks en konteks van die Psalm lees, daarna die Psalm met aandag deurlees, en dan vers vir vers in jou eie woorde (hardop as dit kan) bid. Daarna kan jy die kort bydrae oor die boodskap en betekenis lees vir nadenke. Sluit met die bid van die Lofprysing. Die middag en aand bid jy net die Ons Vader, die Psalm, en die Lofprysing.

Ons Vader

“Ons Vader wat in die hemele is, laat u Naam geheilig word. Laat u koninkryk kom. Laat u wil geskied, soos in die hemel, so ook op die aarde. Gee ons vandag ons daaglikse brood. En vergeef ons ons sondes, soos ons ook ons skuldenaars vergeef. En laat ons nie in versoeking kom nie, maar verlos ons van die Bose. Want aan U behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid. Amen.” (Matt. 6:9-13)

Teks en konteks

Hierdie Psalm fokus op die teenstand wat gelowiges van goddelose moet verduur en prys die Here vir die verlossing wat Hy telkens bring. Hy gebruik op innemende wyse ploeg- en oes metafore om aan die een kant ‘n prentjie van verlossing uit verdrukking en aan die ander kant verguising vir verdrukkers te skets.

Bid die Psalm

“’n Pelgrimslied. Baie kere, vanaf my jeug, het hulle my verdruk. Laat Israel nou ook sê: Baie kere, vanaf my jeug, het hulle my verdruk, maar hulle kon nie die oorhand oor my kry nie. My rug is vol snye, asof lang vore daarop geploeg is. Maar die Here is goed; Hy het die bande afgesny waarmee die goddeloses my vasgemaak het. Mag almal wat Sion haat skaam omdraai. Mag hulle wees soos gras op ’n dak, wat verdroog voor dit kan uitspruit, en hy wat oes niks het om af te sny, en daar niks is om op te tel nie. Geen verbyganger sal sê: “Die Here se seën is op julle; ons seën julle in die Naam van die Here” nie.”NLV

Boodskap en betekenis

Die liturg in Jerusalem begelei die pelgrims – “laat Israel nou ook sê” – om hulle pyn te verwoord (vers 1-4). Hy skets ‘n prentjie van verdrukking wat waarskynlik die ballingskap as agtergrond het, maar ook op ander situasies van toepassing gemaak kan word. Dié verdrukking was van hulle jeug af, maar hulle kan getuig dat die Here regverdig was, en hulle nooit volledig oorwin is nie. Al het die aanvallers metafories soos ploeërs lang ploegvore oor hulle rug getrek, die Here het die harnas van die goddelose mense se toue waarmee hulle vasgebind was, losgesny. “Scarred survivors,” sê Kidner. Die liturg in Jerusalem begelei tegelykertyd die pelgrims om die verguising wat God belowe vir verdrukkers te verwoord (vers 5-8). Vir almal wat Sion haat – en hulle daarmee as God se teenstanders identifiseer – word beskaming en verydeling toegebid. Met vier verdere oes metafore spel hy dié verguising uit wat die prys is wat haters moet betaal:

  • Selfs die belofte van ‘n oes moet nooit van hulle waar wees nie. Hulle moet verdroog voordat daar ‘n oes is.
  • Só vrugteloos moet hulle lewens wees dat daar nie genoeg van hulle lewens kom wat ‘n mens kan oes nie.
  • “Mag hulle nooit… die vou van die kleed van een wat gerwe bind, vul nie.” Die koring is afgesny en gebêre in die sak voor in die klere wat hulle gedra het, totdat hulle dit in gerwe gebind het. Dit bevestig die vorige gebed dat die nalatenskap van hulle lewens tot niks sal kom.
  • Die slegste uiteinde word gevra in die laaste vers: “Mag verbygangers nooit sê nie: ‘Die seën van die Here vir julle; ons seën julle in die Naam van die Here.’” Die gebruik was dat verbygangers die snyers seën – soos ons in Rut se verhaal lees dat Boas met sy snyers doen en hulle terug aan hom (Rut 2:4) – maar juis hierdie seën word die goddeloses ontsê, beide in terme van die gemeenskap as die Here self se seën.

Pelgrims kon na hierdie gebed hulle lewensreis voortsit met die wete dat God nie net hulle pyn en swaarkry raak sien nie, maar dat Hy ook regverdig is om die verdrukkers hulle verdiende loon te laat kry. Paulus gaan in Romeine 12:17-18 nóg verder, en laat alles oor aan God se regverdige oordeel wat straf en vergelding sal insluit. Daarop kan ons staatmaak en goed bly doen, selfs vir ons verdrukkers, sê hy in vers 20-21: “As jou vyand honger is, gee hom iets om te eet; as hy dors is, gee hom iets om te drink; want deur dit te doen, maak jy hom vuurrooi van skaamte. Moet jou nie deur die kwaad laat oorwin nie, maar oorwin die kwaad deur die goeie.”

Lofprysing

“Weet vandag en verstaan dat die Here God is; Hy alleen is God in die hemel en op die aarde.” (Deut. 4:39)

Onlangse kommentaar

  • Chris van Wyk on Psalm 137Dit is my voorreg. Groete!
  • Doreen Snyders on Psalm 137Net om weer 'n slag dankie te sê vir al die wonderlike verklarings en verduidelikings van al die Bybelse waarhede. Ons dien 'n wonderbare en allerheilige God. Ek sien baie uit na die Matteusevangelie. Nogmaals baie dankie. Doreen Snyders
  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38Baie dankie vir hierdie verduideliking. Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vesti…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38GOD is so goeie GOD. HY gee vir ons die voorskrifte vanaf Deut. 28 en dan volg HY dit ook op in Psalm 107 en sê as ons net doen wat HY ons beveel sal dit met ons goed gaan en ons geseënd wees, nie oor ons nie, maar oor GOD en wie HY is.
  • Chris van Wyk on Psalm 106:43-48Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vestiging in die Beloofde Land.