Skip to main content

Tag: Markus

Prontuit die Waarheid

Die storielyn en boodskap van Jesus

As iemand vir jou vra: “Wat glo jy van Jesus?” kan jy gemaklik sy storielyn en boodskap oordra? Sy kinderjare. Sy reise. Sy gesprekke. Sy wonders, woorde en werke. Sy boodskap en betekenis. Dit is nie só eenvoudig nie, nê?

Dit is nie maklik om ’n geheelbeeld van die verhaal en verkondiging van Jesus te vorm uit die individuele bydraes van Lukas, Markus, Matteus en Johannes nie. ‘n Mens het ‘n sinopsis of harmonie van die onderskeie evangelies nodig.

Om daarmee te help, het ek só ‘n opeenvolgende sinopsis geskep waarin die 535 perikope (volgens my indeling) van die vier evangelies so ver moontlik kronologies gerangskik is.

Ek fokus in die inleiding op ‘n oorhoofse begrip van die vier evangelies en gee meer inligting oor die vier skrywers. Die res van die sinopsis bestaan uit my beskrywende opskrifte en die opeenvolgende perikope van al vier evangelies. Die gedrukte weergawe is net beskikbaar by die kerkkantoor van NGK Somerstrand.

Die Bybelskool byeenkomste Woensdae 18:00-19:00 in die konsistorie gaan die volgende twee jaar hierop fokus. Ons bespreek saam die betekenis en boodskap van Jesus volgens die vier evangelies. Ons gaan vyf perikope ‘n week lees sodat daar genoeg tyd is dat die Here ons geestelike lewens daardeur kan vorm.

Ek stuur elke week my bydraes oor die vyf perikope per e-pos wat sal fokus op die teks en konteks van die perikope, sowel as op die betekenis en boodskap daarvan. Dit is net ‘n leeshulp. Jou eie lees van die Bybelteks is fundamenteel noodsaaklik.

Skryf hier in om die bydraes te ontvang.

Hier is ook ‘n argief van vorige bydraes.

My hoop en wens en gebed vir jou is dat Jesus – die Een van die vier evangelies – in ons saam lees, saam luister, en saam leef, jou lewende Reisgenoot sal word.

Tien lesings uit Markus vir Heilige Week met kommentaar

Inleiding

Lees gerus dié week Markus se weergawe van die laaste week in Jesus se lewe en bediening op aarde sowel as sy weergawe van die opstanding.  Ek gee hier die verskillende lesings uit die evangelie van Markus (uit die NAV) sowel as skakels na my kommentaar daarop by Bybelskool.com.  Ek maak daar telkens ook ‘n paar opmerkings oor die ander evangelies se bydraes:

1. Markus 10:46-11:25 – ‘n Huis van gebed vir die nasies
2. Markus 11:27-12:37 – Jesus se intellek en wysheid is te veel vir die Joodse Raad
3. Markus 12:38-44 – Die arm weduwee se gawe
4. Markus 13:1-23 – Rampe en Vervolginge en die groot verdrukking
5. Markus 13:24-37 – Die koms van die Seun van die mens
6. Markus 14:1-11 – Gesalf in Betanië, verraai in Jerusalem
7. Markus 14:12-42 – Jesus word die paaslam
8. Markus 14:43-15:5 – Die tyd van die duister magte
9. Markus 15:6-47 – Jesus word gekruisig en begrawe
10. Markus 16:1-20 – Jesus het liggaamlik opgestaan

Continue reading

Lees die vier evangelies en Handelinge

Soek jy ‘n planmatige deurlees van die evangelies van Jesus Christus?

Die vier evangeliste verteenwoordig met vier simbole: Matteus, 'n gevleuelde mens, Markus, 'n gevleuelde leeu, Lukas, 'n gevleuelde bul, en Johannes, 'n arend
Die vier evangeliste verteenwoordig met vier simbole: Matteus, ‘n gevleuelde mens, Markus, ‘n gevleuelde leeu, Lukas, ‘n gevleuelde bul, en Johannes, ‘n arend – https://ancientwordtour.wordpress.com/2013/06/

Begin by Markus wat ‘n vergelykende lees van Markus, Matteus, en Lukas is, met twee gedeeltes uit Johannes wat met Markus verband hou.  E-pos my vir ‘n lêer wat al die gedeeltes langs mekaar vir jou gee wat ‘n mens kan gebruik om die evangelies saam te lees (100 bladsye dik!).

Lees dan Matteus, Lukas-Handelinge, en uiteindelik Johannes.

Dit behoort julle ‘n tydjie besig te hou!

Markus 16:1-20 – Jesus het liggaamlik opgestaan

Markus

Ek wil nie graag by die onverkwiklike debat oor die opstanding wat deur sommige organisasies en teoloë gevoer word, betrokke raak nie.  Ek wil ook nie met allerhande hermeneutiese nuanses met woorde speel rondom die opstanding nie.  Markus 16:1-8 sê soos die ander evangelies dat Jesus opgestaan het. Dit was liggaamlik (as jy Paulus se taal wil gebruik, ‘n verheerlikte liggaam soos ons in 1 Kor 15 leer).  En ek glo dit.

Verder bly dit darem net ongelooflik hoe die vroue aan die einde van die evangelie na vore tree as ondersteuners en getuies, terwyl al die mans, behalwe moontlik Johannes, gevlug het.  Dit is uiters betekenisvol in die lig van die patriargale omgewing waarbinne hulle gelewe het.

Die teks van Markus wat aan ons oorgelewer is, het eintlik 3 eindes.  Die beste manuskripte eindig die teks by vers 8.  Sommige ander voeg ‘n vers 9 by, en nog ander voeg ‘n paar verse, 9-20 by, soos ons dit tans in die NAV het.  Die langer tekstradisies dateer heel moontlik eers uit die tweede eeu nC, heel moontlik om ‘n meer afgeronde afsluiting vir die evangelie te verskaf.  Die konsensus onder geleerdes is dat die langer eindes heel moontlik latere byvoegings is, maar dat die korter teks ook te kortaf is, en dat daar van die oorspronklike teks moontlik ‘n deel verlore geraak het.

Korter einde: 3 vroue gaan die Sondagmôre na die graf, Maria Magdalena, Maria, die moeder van Jakobus, en Salome.  Let op hoe die jongman, ‘n engel, Jesus in sy mensheid as van Nasaret identifiseer.  ‘n Boodskap aan Petrus is ook sy missie vir hulle, dat die dissipels Jesus in Galilea moet ontmoet.

Die korter teks eindig met die vroue wat weghardloop en Markus se evangelie wat dus eindig met die woorde: “Want hulle was bang.”

Effens langer teks: Die effens langer teks het ‘n soort opsomming van die gesprek tussen die vroue en Petrus en die ander dissipels, en die mededeling dat Jesus self aan hulle verskyn het en deur hulle die evangelie oral laat verkondig het.

Langer einde: Die langste teks voeg dan by dat Jesus aan Maria Magdalena verskyn het, sowel as aan 2 mense op pad na die platteland, wat ons uit Lukas se weergawe weet die Emmaüsgangers was.

Die onderlinge verskille tussen hierdie Markus weergawe en Lukas s’n wys egter dat dié teks, soos die effens langer teks, heel moontlik nie oorspronklik is nie:

Daar word in vers 13bv. gesê dat ander dissipels die twee Emmausgangers nie geglo het nie. Dit verskil van Lukas 24:34 waar die dissipels vir die Emmausgangers sê dat hulle inligting ooreenkom met dít wat hulleself by Simon gehoor het.

Die teks stel die Emmausgangers ook as dissipels voor wat nie die geval was volgens die ander evangeliste nie.

Hoe dit ook al sy, die teks vertel ons dat Jesus se verwyt oor hulle ongeloof en hardheid van hart gou oorslaan in ‘n opdrag om die evangelie te gaan verkondig.  Jesus gee hulle voorsmakie van die tipe wondertekens wat by hulle sal voorkom, genesing van duiwelbesetenheid en siekte, tale, en beskerming teen slange en gif (onthou Paulus se ervaring op die eiland Malta – Hand 28).

Markus se langer einde eindig met Jesus se hemelvaart en ‘n kort beskrywing van die evangelieverkondiging wat deur wondertekens bekragtig is.

Matteus, Lukas en Johannes

Korter einde: Matteus noem die ma van Jakobus slegs die “ander Maria” wat ons laat vermoed dat dit dieselfde persoon kan wees.  Hy beskryf die toneel by die graf ook meer volledig met ‘n aardbewing waarna ‘n engel die klip voor die graf wegrol en daarop gaan sit, met die wagte wat bewe en soos dooies word.  Sy boodskap is dat Jesus opgewek is en dat dié nuus aan die dissipels vertel moet word.  Hulle gaan doen dit dan tegelykertyd bang en bly.

Lukas se detail verskil van Markus en Matteus se weergawe; daar is 2 engele en hulle gaan in gesprek met die vroue.  Matteus noem ook vir Maria Magdalena en Maria die ma van Jakobus, maar met hulle saam was daar ook Johanna (Salome?).  En hy vertel van Petrus se besoek aan die graf.

Johannes vertel weer in meer detail van Petrus en sy eie ervarings by die graf.  Interessant is dat hulle wel begin glo dat Jesus opgestaan het, maar nog nie sover kan kom om die Skrif hieroor te verstaan nie.

Langer einde: Matteus sluit sy evangelie af met die Groot Opdrag net voor Jesus se Hemelvaart.  Lukas brei weer uit oor die pragtige verhaal van die Emmaüsgangers, sowel as die toneel by Galilea waar Jesus vis eet om hulle van die werklikheid van sy opstanding te oortuig.  Hy sluit met ‘n korter weergawe van die Hemelvaart.  In Handelinge is ‘n langer weergawe.  Johannes brei weer uit oor die engele se gesprek met Maria Magdalena, waarna Jesus self aan haar verskyn.  Hy vertel van nog twee verskynings van Jesus, een waar Tomas nie by was nie, en een waar ook die ongelowiges Tomas ‘n getuie van die opstanding word.

Markus 15:6-47 – Jesus word gekruisig en begrawe

Markus

Pilatus lewer Jesus oor vir die kruisiging: Dit bly vir my interessant hoe Pilatus die waarheid skerp kan insien, maar nie daarvolgens kan handel nie.  Hy is die eerste wat die rede vir Jesus se verwerping deur die Joodse Raad insien en verwoord: afguns.  Jesus kan dinge doen wat hulle nie kan nie, en eerder as om Hom daarvoor te erken, verwerp hulle Hom.

Maar om die mense hulle sin te gee, laat los hy eerder Barabbas (Jesus Barabbas [seun van Abbas] – volgens Matteus se weergawe) as Jesus van Nasaret.  Hy is bang vir nog ‘n opstand, aangesien Rome hom vir vorige opstande al voor stok gekry het, soos ons uit die Romeinse geskiedenis kan agterkom.  Jesus word met ’n kats geslaan wat uit ’n aantal smal riempies bestaan waaraan stukkies yster en been vasgebind is. So gaan Jesaja 53:5 in vervulling.

Die soldate bespot Jesus: Voor sy kruisiging loop Jesus deur onder die soldate waar Hy met ‘n pers (koninklike) mantel en doringkroon bespotlik gemaak word.  Markus (en Matteus en Johannes) vertel nie die gebeure by Herodes nie, soos Lukas wel doen.

Jesus word gekruisig: Die breë trekke van die kruisverhaal is vir ons bekend: Simon van Sirene in Noord-Afrika (pa van Aleksander en Rufus – ons tref ‘n Rufus in die gemeente van Rome aan – Rom 16:13) dra die dwarsbalk van Jesus se kruis; Jesus word op Golgota (die heuwel het soos ‘n skedel gelyk) gekruisig, waar die regoppaal geplant is; sy klere word onder die soldate met die lot verdeel; die bordjie aan die kruis kondig sy misdaad aan, dat Hy die koning van die Jode is (waarmee die Jode ook eintlik beledig word), ironies genoeg presies wat Hy is; die mense laster Hom met aanhalings wat Hy vroeër gemaak het oor die tempel.  Interessant is egter dat Markus wel noem dat daar twee ander rowers saam met Hom gekruisig is, wat Hom ook beledig, maar nie dat Hy met hulle in gesprek tree nie.

Jesus sterwe: Na die 3 ure lange duister, roep Jesus na God met daardie beroemde Aramese woorde uit Psalm 22:2: “Eloï, Eloï, lemá sabagtani?” (My God, My God, waarom het U my verlaat?) en blaas die laaste asem uit.  Twee goed gebeur dan:

  1. Die voorhangsel van die tempel (waarskynlik die een tussen die Allerheiligste en die Heilige) skeur van bo na onder oop – wat die boodskap dra a) dat die tempel se einde begin het en b) dat die toegang tot God nou vir alle mense oop is (Hebr 9);
  2. Die offisier by die kruis bely dat Jesus werklik die Seun van God was – wat die boodskap dra dat Jesus se dood reeds vir almal betekenis het.

Dit ontroer my dat dit Jesus se dood is, wat dié offisier oortuig dat dit God is.

En daarmee is die klimaks van Markus se verhaal bereik.  Hy het begin skryf dat Jesus die Seun van God is (1:1), en hier bely ‘n heidense Romeinse offisier dit (15:39).

Markus brei dan uit oor al die vroue wat Jesus ondersteun het by die kruis, trouens deur sy hele lewe: Maria Magdalena (van Magdala waaruit Jesus 7 duiwels gedryf het – Luk 8:2), Maria die moeder van Klein-Jakobus en Joses (ons weet niks meer van haar af nie) en nog Salome ook (vrou van Sebedeus – Matt 27:56 en die ma van die 2 dissipel-broers, Jakobus en Johannes), moontlik ook nog die suster van Maria (Joh 19:25).  Indien laasgenoemde waar is, was Jesus en Johannes en Jakobus neefs.  Hierdie 3 vroue is dan ook op die opstandingsmôre by.

Jesus word begrawe: Josef van Arimatea (30 km noordwes van Jerusalem) wat ‘n geheime (Johannes) volgeling van Jesus was sorg dat die voorbereidings vir Jesus se begrafnis getref word en voorsien ook die graf.

Matteus, Lukas en Johannes

Pilatus lewer Jesus oor vir die kruisiging:  Matteus brei op Markus se weergawe uit met die naam van Barabbas, Jesus, sowel as die verhale van Pilatus se vrou wat hom probeer waarsku om nie verkeerd te handel met hierdie onskuldige man nie, en Pilatus wat sy hande in onskuld was.  Hy sluit af met die ontstellende woorde van die volk: “Laat die skuld vir sy bloed op ons en ons kinders rus.”  Lukas noem ook dat Jesus by Herodes was, terwyl Johannes meer uitbrei oor die interaksie tussen Pilatus en Jesus, en Pilatus en die Joodse Raad.

Die soldate bespot Jesus:  Matteus volg Markus se weergawe met die een byvoeging dat Jesus ook ‘n stok in die hand gestop is, waarskynlik as ‘n soort septer.  Lukas vertel nie dié verhaal nie, en Johannes verwys net kortliks daarna.

Jesus word gekruisig: Matteus volg Markus se weergawe met twee byvoegings, die een is dat die mengsel wat hulle Hom gegee het om te drink, wyn en gal bevat het, terwyl Markus sê dat dit wyn met mirre was.  Volgens Matteus was daar ook ‘n ekstra lyntjie op die aanklag teen Hom geskrywe: “Dit is Jesus, die koning van die Jode.”  Lukas vertel van die interaksie van Jesus met die vroue waar Hy onder andere uit Hos 10:8 aanhaal en noem ‘n ekstra kruiswoord: “Vader, vergeef hulle, want hulle weet nie wat hulle doen nie!”  Hy is ook die enigste wat die pragtige verhaal vertel van die een moordenaar wat saam met Hom opgehang is, se erkenning van Jesus waarna hy deur Jesus in die paradys ingenooi word.  Johannes brei nog verder uit oor die taal waarin die opskryf bo die kruis geskryf is, in Hebreeus, Latyn en Grieks, en ook oor die verdeling van Jesus se klere met ‘n aanhaling uit Ps 22:19.  Hy vertel ook van die vroue wat by die kruis was, waarvan die suster van Maria, Jesus se moeder, ‘n interessante toevoeging is, en gee ook ekstra inligting oor die ander Maria, dat sy die vrou van Klopas (vir ons onbekend) was.  Dit wil voorkom asof Johannes – die dissipel vir wie Hy baie lief was – die enigste dissipel was wat by die kruis was, wat ook daartoe lei dat Jesus sy ma aan hom toevertrou.  Hy plaas die kruisiging ook ‘n drie uur later (19:14) moontlik om Jesus se sterwe met die slag van die paaslam te laat saamval (Geulich).

Jesus sterwe:  Matteus verkort Markus se weergawe. Lukas het ‘n ekstra kruiswoord uit Ps 31:6: “Vader, in u hande gee Ek my gees oor.” en het sy eie weergawe van wat die offisier gesê het: “Hierdie man wat werklik onskuldig” terwyl hy vir God prys.  Johannes het twee ekstra kruiswoorde: “Ek is dors” (Ps 69:22) en “Dit is volbring!”

Hier is die sewe kruiswoorde in hulle waarskynlike volgorde:

  • “Vader, vergeef hulle, want hulle weet nie wat hulle doen nie!”: Lukas 23:34.
  • “Ek verseker jou: Vandag sal jy saam met My in die paradys wees”: Lukas 23:43.
  • “Daar is u seun” … “Daar is jou moeder”: Johannes 19:25-27.
  • “`Eli, Eli, lemá sabagtani?’ Dit is: My God, my God, waarom het U My verlaat?”: Matteus 27:46.
  • “Ek is dors”: Johannes 19:28.
  • “Dit is volbring!”: Johannes 19:30.
  • “Vader, in u hande gee Ek my gees oor”: Lukas 23:46.

Jesus word begrawe: Matteus noem dat Josef ‘n ryk man was, benewens sy invloedrykheid op die Joodse Raad, en dat Jesus in sy eie nuwe graf begrawe is.  Die “ander Maria” was waarskynlik Maria, die moeder van Klein-Jakobus, en die vrou van Klopas.  Lukas voeg ook elemente van die voorbereidings by, reukolie en salf, en dat hulle almal op die sabbatdag gerus het.  Johannes het die ekstra detail dat Nikodemus ook betrokke geraak het en 50 liter mirre en aalwyn vir die salwing gebring het, en dat die graf in ‘n tuin was.

Onlangse kommentaar