Hierdie hoofstuk is oorgeneem uit 2 Konings 24:18–25:30 (vgl. ook 2 Kronieke 36:11-21) en vertel die verhaal van Jer. 39 met ’n bietjie meer detail. Interessant genoeg kom die profeet Jeremia as sodanig nie in dié hoofstuk voor nie, hoewel die ander detail wel ooreenstem.
Die presiese rede daarvoor is onbekend, hoewel só ’n oorname nie vreemd in die OT is nie. ’n Mens vind immers dieselfde tipe oorname van verhale in Konings en Jesaja – vgl. 2 Kon. 18-20 en Jesaja 36-39.
Moontlik het die plundering van die tempel – wat in die boodskap aan Babel in hoofstuk 50-51 as die hoofrede vir die Here se gramskap teen hulle uitgespel word – sowel as die hoopvolle karakter van Jer. 52:31-34 oor die begenadiging van Jojagin in die ballingskap die redakteur geïnspireer om die detail uit Konings hier in te sluit. Die boek van Jeremia word dus só op ’n verklarende en hoopvolle noot afgesluit.
Die langste van die oordeelsboodskappe aan die nasies word gelewer aan die adres van die wêreldmag van Babel en die Galdeërs. Dit is waarskynlik in die vierde jaar van Sedekia, 594 v.C., voorgelees in die grondgebied van Babel deur Seraja in opdrag van Jeremia, toe Sedekia-hulle daar besoek afgelê het. Hierdie profesie word dus in dieselfde jaar as die hoopvolle brief aan die ballinge in Babel – hoofstuk 29 – daarheen geneem.
Die boekrol met die profesie op is boonop met ’n simboliese gebaar in die Eufraat gegooi as bewys van die finaliteit van God se besluit. In hierdie uitgebreide profesie word die val van Babel verbind aan die terugkoms van die Israeliete en Judeërs in verbondstaal wat sterk herinner aan die Boek van Vertroosting in Jeremia 30-33 wat waarskynlik in die tiende regeringsjaar van Sedekia, 587 v.C., gefinaliseer is.
Aan die eenkant beloof die Here dat die pyn en leed wat die Galdeërs aan al die volke van die wêreld aangedoen het, aan homself en sy mense uitgedeel sal word: “Daar wag groot ontnugtering vir julle stad, vir Babel, daar wag vernedering vir die volk waaruit julle kom: hy gaan die minste word van die nasies … In my toorn maak Ek hom onbewoonbaar.” (50:12)
Aan die ander kant beloof die Here dat Hy Hom oor die ballinge van sy volk sal ontferm en sal terugbring na hulle land waar hulle hul weer aan Hom sal verbind: “Kom ons bind ons aan die Here in ’n blywende verbond wat nie vergeet sal word nie.” Dit is die hoop vir die volk, al sal dit “huil-huil” gebeur. (50:5)
Geleerdes se indeling van die onderskeie afdelings in dié boodskap aan Babel verskil redelik baie. Sommige vind soveel as vyftig losstaande profesieë (Robinson), maar die indeling wat vir my die meeste sin maak is dié van Keown (Word kommentaar) wat gebaseer is op werk van Carrol en veral Aitken. Hulle deel die profesieë in ses bewegings in, hoewel elke geleerde natuurlik sy eie nuanses en afbakenings het. Ek skoei my indeling daarop. Dit gee ook ’n handige opsomming van die boodskap van die twee hoofstukke se profesieë:
50:1-3 – Babel se verwoesting word aangekondig aan die nasies
50:4-20 – Eerste beweging:Daar wag groot ontnugtering op Babel
50:21-32 – Tweede beweging:Babel was hooghartig teenoor die Here
50:33-46 – Derde beweging:Niemand sal weer in Babel wil woon nie
51:1-33 – Vierde beweging:Ek laat ’n ramp losbreek oor Babel
51:34-44 – Vyfde beweging:God sal vir Sion se reg opkom
51:45-53 – Sesde beweging:Moenie moed verloor nie, Ek sal met Babel afreken
51:54-58 – Die Here is ’n God wat vergeld, en Hy sal voluit straf
51:59-64 – Seraja lees die boodskap in Babel en gooi dit simbolies in die Eufraat
Die profesie oor Moab pas waarskynlik die beste in net na Jeremia se simboliese handeling in Jeremia 27 waar ’n boodskap – kort nadat Sedekia koning geword het (597 v.C.) – na die konings van Edom, Moab, Ammon, Tirus en Sidon gestuur is om aan Nebukadnesar onderdanigheid te betoon. Boodskappers en onderhandelaars van dié nasies was waarskynlik op dié stadium in Juda om die naderende oorlog van Nebukadnesar teen Juda en die omgewing aan Sedekia aan te kondig, en te beraadslaag oor die beste manier van optrede.
Die boodskappers is waarskynlik ingespan om die boodskap van Jeremia terug te stuur na hulle eie nasies. Dit is, dat die Here belowe dat dié nasies wat besluit om Nebukadnesar te dien, en aan hom onderdanigheid te betoon, die voorreg van ’n voortgaande verblyf in hulle eie land sal ontvang.
Dat die Moabiete vermoedelik nie daarop geregeer het nie, het waarskynlik hierdie profesie in hoofstuk 48 tot gevolg. Dit is, om die Moabiete oor hulle oorgerustheid, selfvoldaanheid, hoogmoed en grootpratery teenoor die bedreiging van die leërs van die Galdeërs aan te spreek. Die skraal hoop van ’n lotsverandering êrens in die toekoms word darem ook aan die einde van die profesie aan hulle voorgehou, hoewel dit ná die oordeel sal wees (vgl. Jer. 9:26 – waar hulle as onbesnede van hart aangekla word – sowel as Jer. 25:21 waar die felheid van die oordeel van die Here wat gaan kom, uitgespel word).
Let ook op hoe baie detail van Moab gegee word. Daar is altesame 27 name wat ek in die loop van my bydrae sal probeer verduidelik, hoewel daar oor sommige min of geen inligting beskikbaar is nie. Terloops, ’n hele aantal ander profete verkondig deur die eeue die oordeel van die Here oor Moab: Jesaja 15-16 (daar is heelwat woordelike ooreenstemmings); Amos 2:1-3; Sefanja (tydgenoot van Jeremia) 2:8-11; Esegiël 25:8-11.
Daar is min ooreenstemming onder geleerdes se indeling van die profesieë in hierdie hoofstuk. My tentatiewe keuse is soos volg:
Die datum van die boodskap aan die Filistyne word nie gespesifiseer nie, maar dit was waarskynlik êrens tussen 604-600 v.C. Uit die inhoud van die profesie is dit duidelik dat dit gelewer is in ’n tyd toe ook Askelon onder skoot was. Uit die geskiedenis weet ons dat Nebukadnesar Askelon verower het in 604 v.C. na die geveg by Karkemis. Die Galdeërs is dus die “vloedwater uit die noorde”. Jeremia sê verder dat die profesie gelewer is: “voordat die farao vir Gasa verower het” wat volgens Herodotus in 601/600 v.C. plaasgevind het.
Die Filistyne het ongeveer dieselfde tyd as die Israeliete in Kanaän aangekom vanaf die Griekse eiland Kaftor (vgl. ook Amos 9:7) wat waarskynlik met Kreta verbind kan word. Hulle was dus ook immigrante soos die Israeliete en het aan die kusstrook gaan bly wat vandag as die Gasa strook bekend staan. Regdeur die OT was daar ’n verbete stryd tussen die Filistyne en die Israeliete met Dawid wat hulle mag op beslissende wyse gebreek het.
Die Here belowe hier dat Hy die land gaan skoonmaak van hulle, sodat dit sal wees asof hulle nooit daar was nie. Hulle onafhanklike bestaan as volk kom in die gedrang. Die oordeel word só erg en totaal beskrywe dat Jeremia eintlik in meegevoel met die volk uitroep: “Ag, swaard van die Here, hoe lank nog voor jy tot rus kom?” Maar dan besef hy dat dit onmoontlik sal wees, omdat die Here die swaard die bevel gegee het en hy nie tot rus kan kom voor hulle uitgewis is nie.
Die doel van die profesie was om God se beheer in die wel en weë van die nasies te bevestig, hoewel dit waarskynlik ook ingepas het met Jeremia se algemene boodskap dat die Jode, die nasies ingesluit, aan die Galdeërs en aan Nebukadnesar onderdanig moet wees. Dit is hoe Jeremia die wil van die Here vir hulle tyd verstaan het.
Chris van WykonWat is afgodery? – Romeine 1:21-25Ja Gerhard, ek sal eerder sê dat 'n mens jouself kan verafgod, as jou geloof as sodanig. Die Bybel praat nie so nie so ver ek kan agterkom. Die Bybel wys uiteraard afgode af, en dinge soos gierigheid wat 'n afgod kan raak. Daaruit kan 'n mens aflei dat enigiets wat in die plek van God gestel word, o…
GerhardonWat is afgodery? – Romeine 1:21-25Ds ek is besig om afgodery na te slaan. Ek het 'n ds gehoor met die opmerking dat jy jou geloof kan verafgod? Afgodery is tog weg van God af soos wat ek verstaan. Groete Gerhard
Chris van WykonDaniëlHi Elma, ek het so 15 verwysings na Daniël in die komende bydraes van Openbaring by die kronologiese lees van die Bybel. Ek het ook 'n paar verwysings na Openbaring in die vorige bydraes van Daniël. Maar, ek het dit nie pertinent êrens hanteer nie.
Elma BoschonDaniëlDs Chris, daar is sekere ooreenkomste in Daniel en Openbaring - Het jy dit al in die verlede behandel en indien wel, waar kan ek dit vind? Of gaan ons dit behandel wanneer ons Openbaring later doen met die kronologiese leesplan? Baie dankie Elma
Chris van WykonJESAJA 6:1-8God praat hier met almal in sy teenwoordigheid in die hemel, ook met Jesaja wat die voorreg van hierdie openbaring kry. Hy wil iemand stuur om sy boodskap aan die volk te gaan lewer. Jesaja reageer positief en word dan gestuur om God se boodskapper te wees.
Miche AfricaonJESAJA 6:1-8Wat is die betekenis van Jesiah 6 vers 8
Chris van WykonMatteus 11 – Kom na My toe en Ek sal julle rus geeWanneer Jesus in Matteus 11:6 sê: “Geseënd is hy wat nie aan My aanstoot neem nie,” bedoel Hy dat ons gelukkig is as ons nie ophou glo omdat God dinge anders doen as wat ons verwag het nie. Johannes die Doper het gedink die Messias sou oordeel bring, maar Jesus bring eers genesing en redding. Dit wa…
optimistica231f5e58aonMatteus 11 – Kom na My toe en Ek sal julle rus gee"Vers 6 is dan ’n baie spesifieke oproep aan Johannes om nie aan Jesus aanstoot te neem, omdat hy in die tronk is en nie wonders ervaar nie. Dit is mense wat leer om met die paradoks van onvervulde beloftes te lewe en nie aan Jesus aanstoot neem in die proses nie, wat geseënd is. Mense wat hulle lew…
cupcakevaliantlye36950698bonEfesiërs 6:10-24Uitstekende uitleg van die teks, baie dankie Chris! Ons stryd is wel teen die bose, maar ons fokus is nie op hulle nie, ons fokus op ons Here, op ons herstelde verhouding met Hom en op mense wat die goeie nuus nodig het. Kosbaar! Groetnis en seën Carel Smith
Emmarentia VermeulenonBoek oor OpenbaringOns dames Bybelstudie groep is besig om die boek te behandel, ons trek na 8 maande by hoofstuk 7. Ons doen dit baie stadig en deeglik en ons leer baie. Baie dankie. Vanuit Perth, Wes Australië.
Chris van WykonPsalm 121 – God, jou Beskermer, slaap nieDie Here, die Beskermer, is soos die skaduwee aan jou regterhand, d.w.s. as jy jou skild in jou linkerhand hou, soos soldate dit gewoonlik gedoen het, sal Hy aan jou onbeskermde kant die wag hou. Hy is daar waar jy nie kan bykom nie. GOD SORG VIR JOU TEEN ONVOORSIENE AANVALLE.
Onlangse kommentaar