Skip to main content

Tag: Jeremia

Jeremia 52 – Die lot van Sedekia en Jojagin met die wegvoering in ballingskap

Jeremiah lamenting - Rembrand van RijnHierdie hoofstuk is oorgeneem uit 2 Konings 24:18–25:30 (vgl. ook 2 Kronieke 36:11-21) en vertel die verhaal van Jer. 39 met ’n bietjie meer detail.  Interessant genoeg kom die profeet Jeremia as sodanig nie in dié hoofstuk voor nie, hoewel die ander detail wel ooreenstem.

Die presiese rede daarvoor is onbekend, hoewel só ’n oorname nie vreemd in die OT is nie.  ’n Mens vind immers dieselfde tipe oorname van verhale in Konings en Jesaja – vgl. 2 Kon. 18-20 en Jesaja 36-39.

Moontlik het die plundering van die tempel – wat in die boodskap aan Babel in hoofstuk 50-51 as die hoofrede vir die Here se gramskap teen hulle uitgespel word – sowel as die hoopvolle karakter van Jer. 52:31-34 oor die begenadiging van Jojagin in die ballingskap die redakteur geïnspireer om die detail uit Konings hier in te sluit.  Die boek van Jeremia word dus só op ’n verklarende en hoopvolle noot afgesluit.

Continue reading

Jeremia 50-51 – ’n Boodskap aan Babel

Jeremiah lamenting - Rembrand van RijnDie langste van die oordeelsboodskappe aan die nasies word gelewer aan die adres van die wêreldmag van Babel en die Galdeërs.  Dit is waarskynlik in die vierde jaar van Sedekia, 594 v.C., voorgelees in die grondgebied van Babel deur Seraja in opdrag van Jeremia, toe Sedekia-hulle daar besoek afgelê het.  Hierdie profesie word dus in dieselfde jaar as die hoopvolle brief aan die ballinge in Babel – hoofstuk 29 – daarheen geneem.

Die boekrol met die profesie op is boonop met ’n simboliese gebaar in die Eufraat gegooi as bewys van die finaliteit van God se besluit. In hierdie uitgebreide profesie word die val van Babel verbind aan die terugkoms van die Israeliete en Judeërs in verbondstaal wat sterk herinner aan die Boek van Vertroosting in Jeremia 30-33 wat waarskynlik in die tiende regeringsjaar van Sedekia, 587 v.C., gefinaliseer is.

  • Aan die eenkant beloof die Here dat die pyn en leed wat die Galdeërs aan al die volke van die wêreld aangedoen het, aan homself en sy mense uitgedeel sal word: “Daar wag groot ontnugtering vir julle stad, vir Babel, daar wag vernedering vir die volk waaruit julle kom: hy gaan die minste word van die nasies … In my toorn maak Ek hom onbewoonbaar.” (50:12)
  • Aan die ander kant beloof die Here dat Hy Hom oor die ballinge van sy volk sal ontferm en sal terugbring na hulle land waar hulle hul weer aan Hom sal verbind: “Kom ons bind ons aan die Here in ’n blywende verbond wat nie vergeet sal word nie.” Dit is die hoop vir die volk, al sal dit “huil-huil” gebeur. (50:5)

Geleerdes se indeling van die onderskeie afdelings in dié boodskap aan Babel verskil redelik baie.  Sommige vind soveel as vyftig losstaande profesieë (Robinson), maar die indeling wat vir my die meeste sin maak is dié van Keown (Word kommentaar) wat gebaseer is op werk van Carrol en veral Aitken.  Hulle deel die profesieë in ses bewegings in, hoewel elke geleerde natuurlik sy eie nuanses en afbakenings het.  Ek skoei my indeling daarop.  Dit gee ook ’n handige opsomming van die boodskap van die twee hoofstukke se profesieë:

  • 50:1-3 – Babel se verwoesting word aangekondig aan die nasies
  • 50:4-20 – Eerste beweging: Daar wag groot ontnugtering op Babel
  • 50:21-32 – Tweede beweging: Babel was hooghartig teenoor die Here
  • 50:33-46 – Derde beweging: Niemand sal weer in Babel wil woon nie
  • 51:1-33 – Vierde beweging: Ek laat ’n ramp losbreek oor Babel
  • 51:34-44 – Vyfde beweging: God sal vir Sion se reg opkom
  • 51:45-53 – Sesde beweging: Moenie moed verloor nie, Ek sal met Babel afreken
  • 51:54-58 – Die Here is ’n God wat vergeld, en Hy sal voluit straf
  • 51:59-64 – Seraja lees die boodskap in Babel en gooi dit simbolies in die Eufraat

Continue reading

Jeremia 49 – ’n Boodskap aan Ammon, Edom, Damaskus, Kedar-Gasor, en Elam

Jeremiah lamenting - Rembrand van RijnHoofstuk 49 bevat 5 boodskappe aan die omringende nasies.  Die kaart (met verlof van http://www.dailykos.com/story/2006/07/23/229927/-History-for-Kossacks-Ancient-Lebanon) hieronder sal jou help om hulle ligging beter te verstaan.  Die enigste een wat nie hier op die kaart wys nie, is Elam wat langs die Eufraat in Mesopotamië geleë was.

Continue reading

Jeremia 48 – ’n Boodskap aan Moab

Jeremiah lamenting - Rembrand van RijnDie profesie oor Moab pas waarskynlik die beste in net na Jeremia se simboliese handeling in Jeremia 27 waar ’n boodskap – kort nadat Sedekia koning geword het (597 v.C.) – na die konings van Edom, Moab, Ammon, Tirus en Sidon gestuur is om aan Nebukadnesar onderdanigheid te betoon.  Boodskappers en onderhandelaars van dié nasies was waarskynlik op dié stadium in Juda om die naderende oorlog van Nebukadnesar teen Juda en die omgewing aan Sedekia aan te kondig, en te beraadslaag oor die beste manier van optrede.

Die boodskappers is waarskynlik ingespan om die boodskap van Jeremia terug te stuur na hulle eie nasies.  Dit is, dat die Here belowe dat dié nasies wat besluit om Nebukadnesar te dien, en aan hom onderdanigheid te betoon, die voorreg van ’n voortgaande verblyf in hulle eie land sal ontvang.

Dat die Moabiete vermoedelik nie daarop geregeer het nie, het waarskynlik hierdie profesie in hoofstuk 48 tot gevolg.  Dit is, om die Moabiete oor hulle oorgerustheid, selfvoldaanheid, hoogmoed en grootpratery teenoor die bedreiging van die leërs van die Galdeërs aan te spreek.  Die skraal hoop van ’n lotsverandering êrens in die toekoms word darem ook aan die einde van die profesie aan hulle voorgehou, hoewel dit ná die oordeel sal wees (vgl. Jer. 9:26 – waar hulle as onbesnede van hart aangekla word – sowel as Jer. 25:21 waar die felheid van die oordeel van die Here wat gaan kom, uitgespel word).

Let ook op hoe baie detail van Moab gegee word.  Daar is altesame 27 name wat ek in die loop van my bydrae sal probeer verduidelik, hoewel daar oor sommige min of geen inligting beskikbaar is nie.  Terloops, ’n hele aantal ander profete verkondig deur die eeue die oordeel van die Here oor Moab: Jesaja 15-16 (daar is heelwat woordelike ooreenstemmings); Amos 2:1-3; Sefanja (tydgenoot van Jeremia) 2:8-11; Esegiël 25:8-11.

Daar is min ooreenstemming onder geleerdes se indeling van die profesieë in hierdie hoofstuk.  My tentatiewe keuse is soos volg:

  1. 48:1-10 – Moab word uitmekaargeskeur
  2. 48:11-28 – Moab het hom groot gehou teen die Here
  3. 48:29-39 – Ek huil oor Moab
  4. 48:40-47 – Moab sal uitgeroei word

Continue reading

Jeremia 47 – ’n Boodskap aan die Filistyne

Jeremiah lamenting - Rembrand van RijnDie datum van die boodskap aan die Filistyne word nie gespesifiseer nie, maar dit was waarskynlik êrens tussen 604-600 v.C.  Uit die inhoud van die profesie is dit duidelik dat dit gelewer is in ’n tyd toe ook Askelon onder skoot was.  Uit die geskiedenis weet ons dat Nebukadnesar Askelon verower het in 604 v.C.  na die geveg by Karkemis.  Die Galdeërs is dus die “vloedwater uit die noorde”.  Jeremia sê verder dat die profesie gelewer is: “voordat die farao vir Gasa verower het” wat volgens Herodotus in 601/600 v.C. plaasgevind het.

Die Filistyne het ongeveer dieselfde tyd as die Israeliete in Kanaän aangekom vanaf die Griekse eiland Kaftor (vgl. ook Amos 9:7) wat waarskynlik met Kreta verbind kan word.  Hulle was dus ook immigrante soos die Israeliete en het aan die kusstrook gaan bly wat vandag as die Gasa strook bekend staan.  Regdeur die OT was daar ’n verbete stryd tussen die Filistyne en die Israeliete met Dawid wat hulle mag op beslissende wyse gebreek het.

Die Here belowe hier dat Hy die land gaan skoonmaak van hulle, sodat dit sal wees asof hulle nooit daar was nie.  Hulle onafhanklike bestaan as volk kom in die gedrang.  Die oordeel word só erg en totaal beskrywe dat Jeremia eintlik in meegevoel met die volk uitroep: “Ag, swaard van die Here, hoe lank nog voor jy tot rus kom?”  Maar dan besef hy dat dit onmoontlik sal wees, omdat die Here die swaard die bevel gegee het en hy nie tot rus kan kom voor hulle uitgewis is nie.

Die doel van die profesie was om God se beheer in die wel en weë van die nasies te bevestig, hoewel dit waarskynlik ook ingepas het met Jeremia se algemene boodskap dat die Jode, die nasies ingesluit, aan die Galdeërs en aan Nebukadnesar onderdanig moet wees.  Dit is hoe Jeremia die wil van die Here vir hulle tyd verstaan het.

Onlangse kommentaar