Psalm 139:14-16 – God bepaal al die dae van ons lewe
Psalm 139:14-16 – God bepaal al die dae van ons lewe
14Ek prys U omdat ek op ‘n ontsagwekkende, wonderbaarlike wyse gemaak is. Wonderbaarlik is u werke en ek besef dit maar te goed. 15My skelet was nie vir U verborge toe ek in die geheim gemaak is nie, toe ek kunstig geweef is in die dieptes van die aarde. 16U oë het my vormloosheid gesien. En in u boekrol is hulle almal opgeteken – dae wat beplan is, toe nie een daar was nie.
God se beloftes omvat ons hele bestaan. Sy betrokkenheid by ons kom van voor ons geboorte af en strek tot aan die einde van ons lewe, “dae wat beplan is, toe nie een daar was nie.” God se beplanning van ons ontstaan en ontwikkeling is dus omvattend. Uit die NT weet ons nog helderder dat hierdie betrokkenheid die dae insluit selfs ná ons aardse dood. God se belofte is dat ons lewe sal voortgaan tot in die ewige lewe.
Hierdie betrokkenheid begin by God wat ons gevorm het in die moederskoot. Dit sluit ons skelet in, die deel van ons liggaam wat struktuur aan die tapisserie van menswees gee. Dit sluit uiteindelik ook al ons lewensdae in wat in God se boek opgeskryf is – nie soseer alles wat sal gebeur nie, maar die tydsduur daarvan.
‘n Mens kan hier iets raaksien van die feit dat elkeen van ons ons oorsprong in God se gedagtes het. God het ‘n prentjie van ons gehad, vóór ons nog daar was, en ons toe geskep daarvolgens. Dit is eintlik net ‘n ontsagwekkende oorweldigende bewussyn. Of ons slaap en of ons wakker is, ons is altyd in God se gedagtes. Daarom moet ons God toelaat om ook altyd in ons gedagtes te wees.
Lees meer: https://bybelskool.com/psalm-139-die-wonder-van-god-en-van-menswees/
Discover more from Bybelskool
Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Onlangse kommentaar