Skip to main content

Spreuke 18:1-24 – Kommunikasie maak saak

Hierdie hoofstuk van Spreuke lê baie klem op die waarde van woorde, maar dan meer spesifiek in terme van die kommunikasie patrone wat dit vestig.  Kommunikasie maak saak!  Dit kan soos diep waters wees, ‘n bron van wysheid (vers 4) óf dit kan rusie veroorsaak (vers 6,) en jou eie (vers 7,13) en ander (vers 3,5,8) se ondergang beteken.

Hier is my opsomming van die inhoud van die verse in my eie woorde – ‘n bietjie meer prosaïes as wat dit in die NAV vertaling is – om my begrip van die teks neer te pen.

  • Wysheid lê in oorlegpleging opgesluit – vers 1.
  • Insig versus eie opinie – vers 2.
  • Krenkende optrede en belediging gaan saam met goddeloosheid – vers 3.
  • Daarteenoor kan die woorde van ‘n mens diep waters wees, ‘n bruisende stroom, ‘n bron van wysheid – vers 4.
  • Dit is nie goed om partydig te wees vir die skuldige en so die onskuldige sy reg te ontsê nie – vers 5.
  • Dit is net ‘n dwaas wat homself in ‘n rusie inpraat.  Hy soek as’t ware slae met wat hy sê – vers 6.
  • ‘n Dwaas word tot se eie ondergang verstrik in sy eie woorde – vers 7.
  • Skinderstories word só maklik geglo – vers 8.
  • Nalatigheid en verval is tweelingbroers – vers 9.
  • God beskerm die regverdige wat hy Hom skuil – vers 10.
  • Besittings word as beveiliging gesien deur ryk mense – vers 11.
  • Selfverheffing lei tot ineenstorting, en nederigheid tot eer – vers 12.
  • Dit is dwaas om te antwoord voor jy weet wat die vraag is.  Dit lei tot skande – vers 13.
  • Lyding kan net met moed getroef word. As jy moed verloor, kry jy dit moeilik terug – vers 14.
  • Die soeke na wysheid vermeerder jou kennis – vers 15.
  • Geskenke gee jou toegang tot magtiges – vers 16.
  • Onskuld blyk eers ná ondersoek –  vers 17.
  • Vra die Here om uitsluitsel te gee wanneer rusies besleg moet word, en sterk mense uitmekaar gemaak moet word – vers 18.
  • Verontregting en rusie laat selfs jou familie teen jou draai – vers 19.
  • Die regte woorde kan jou maag vol maak – vers 20.
  • Woorde maak saak.  Dit beteken dood of lewe – vers 21.
  • ‘n Maat is ‘n geskenk van God – vers 22.
  • Jou welvaart bepaal jou vriendelikheid – armes pleit, rykes antwoord skerp – vers 22.
  • Maats kan jou maak of breek – vers 23.

Kommunikasie maak saak

Let op dat die verse kommentaar lewer op ‘n wye reeks van kommunikasie gebeure.  Ek het dit in vier kategorieë opgedeel, met ‘n bietjie interpretasie daarby:

Persoonlike kommunikasie

  • Moenie jouself afsluit van ander nie: Selfsug weerhou jou van oorlegpleging en sluit jou af van die gemeenskap (vers 1,2).  Dit kan een van die groot oorsake wees van eensaamheid, dat ‘n mens doelbewus jou afsluit van ander en hulle raad, en in die proses jou die broodnodige kontak met ander ontneem.  Stel jou bloot aan ander se idees.  Jou lewe kan daarvan afhang.
  • Moenie moed verloor nie: Dit is ‘n ongelooflike belangrike woord.  ‘n Mens se selfgesprek kan jou vorentoe vat, of tot stilstand ruk.  Dit is waarom God self klem daarop lê in sy gesprek met Josua net voor hy die volk in die beloofde land moes inlei: “Wees sterk, wees vasberade” (Jos 1:9).  Sy interne gesprek, sy gesprek met homself, moet positief wees.  En die Here koppel dit nogal aan die lees van die Woord, dié deel wat Josua toe al beskikbaar gehad het (Jos 1:8).  Vir Gideon sê die Here selfs: “Die Here is by jou, dapper man!” (Rigt 6:12).  Dapper was hy nie op daardie stadium nie.  Hy het weggekruip vir die vyand.  Maar hierna, met die woord wat die Here oor hom uitspreek, is hy dit wel, beïnvloed dit sy interne selfgesprek, en het hy die moed om die pyn van die veldtog te vat.
  • Moenie nalatig wees in jou werk nie: Ek rek die verstaan van die vers só ‘n bietjie!  Maar, dit is wat ek lees in vers 9, dat ‘n mens versigtig moet wees vir nalatigheid, want dit breek alles af.  Dit is dus deel van die selfgesprek wat jy met jouself van tyd tot tyd moet hê.

Interpersoonlike kommunikasie

  • Bring God in berekening: Deur God nie in berekening te bring nie, loop ‘n mens maklik die pad van krenkende optrede, en belediging (vers 3).  Dit bly vir my interessant hoe Spreuke raakvat dat wanneer jy respek verloor vir God, jy gewoonlik nie ver daarvandaan is om jou respek vir ander ook te verloor nie.  Uiteraard is dit ‘n oorbeklemtoning van die saak, maar iets wat ‘n mens in die praktyk van die lewe kan waarneem.  Die omgekeerde is natuurlik ook waar, dat as jy respek verloor vir jou naaste, is dit moeilik om jou respek vir God vol te hou.
  • Behou jou leerbaarheid: Wanneer jy nie ingestel is op die soeke na wysheid nie, dws as jy nie ‘n leerbare gees het nie, kom jy baie maklik in destruktiewe rusies (vers 6).  Jou woorde word dan ‘n vangstrik waarin jy baie keer ondergaan.  Dit is wanneer jy leerbaar en leergierig bly, dat jy weet wat om te doen (vers 15).
  • Oefen jou luistervaardighede: ‘n Mens moet eers deeglik luister, voordat jy praat (vers 13,21).  Anders kan dit jou suur bekom.  Soos Stephen Covey ook gesê het: Seek first to understand; then to be understood.”
  • Moenie skinderstories versprei of glo nie: Skinderstories is van die beste stories wat daar is … om ander mense van jou te vervreem (vers 8).  Mens sluk dit so maklik, maar dit kom nie so maklik uit jou sisteem uit nie.  Dit kleur jou persepsie oor ander, en beteken dat hulle onverdiend aan die pen ry.  Die een wat natuurlik daarmee saam verloor, is jy self …
  • Moenie jouself verhef oor ander nie: Selfverheffing is die dood in die pot.  Nederigheid bring eer (vers 12).
  • Wees versigtig vir familie-rusies: Dit is van die ergste soort konflikte wat daar kan bestaan (vers 19).
  • Wysheid met woorde kan selfs vir jou kos beteken (vers 20).  Dit kan ek persoonlik ook van getuig met bedelaars by my deur!
  • Kies jou maats met oorleg uit – maats kan jou breek, maar daar is ook vriende wat nader aan jou kan kom as wat ‘n broer is (vers 24).  Weereens waarvan ‘n mens praktiese voorbeelde kan opnoem.
  • Kies jou lewensmaat met oorleg uit – natuurlik  moet dié vers ook daar wees!  ‘n Lewensmaat is ‘n guns van God (vers 22).  Dit is ‘n bron van geluk, en laat jou op ‘n besondere manier die goedheid van die Here ervaar.

Sistemiese kommunikasie

  • Magtiges: ‘n Geskenk kan vir jou toegang verleen tot magtiges se invloedsfeer (vers 16). ‘n Mens wonder of Spreuke dit goedpraat of maar net die stand van sake in die wêreld van die ekonomie en die politiek skets.
  • Regspraak: Die wonder van kruisondervraging om by die waarheid uit te kom, word hier geprys (vers 17).
  • Welvaart beïnvloed jou kommunikasie (vers 23): Moenie onbewus leef van die relatiewe effek wat armoede of rykdom het op die wyse waarop mense praat nie.  Wanneer arm mense skerp begin praat, moet ‘n mens weet daar is ‘n groot skroef los – by wyse van spreke.

Godsdienstige kommunikasie

  • Kry beslissings van die Here: Wanneer mense regtig vasval in ‘n konflik van idees, raai Spreuke hulle aan om op ‘n godsdienstige manier uitsluitsel te kry.  Een van die maniere waarop dit in die OT gedoen is, is deur die urim en tummim te gebruik.  Dit was die instrumente waardeur die aanwysing deur die lot gemaak is (vgl Num 27:21). Dit is in die borssak van die priester se skouerkleed gedra (Eks 28:30) en was waarskynlik steentjies wat ’n “ja” of ’n “nee” antwoord gegee het op bepaalde vrae, afhangende van watter een eerste uit die sak sou val (vgl Lev 8:8; Deut 33:8, Esra 2:63; Neh 7:65).  In die NT is die lot ook nog gebruik (Hand 1), maar algaande is dit deur geloofsonderskeiding vervang (Hand 15; Fil 1:9-10).

The Name of the Lord

Ek het nogal baie gewonder oor vers 10.  Dit is ‘n vers wat oor die hele wêreld heen gesing word.  Die lied Blessed be the Name of the Lord van Clinton Utterbach gebruik onder andere dié vers: “The Name of the Lord is a strong tower, the righteous run into it, and they are saved.”

Ek het vir ‘n oomblik of twee gewonder of die vers nie iets wil sê oor die feit dat die Here beskerming verleen aan mense wat aan skinderstories (vers 8) en belediging blootgestel is nie (vers 3).  Maar toe besef dat dit eintlik met vers 11 verbind moet word, waar van ryk mense gesê word dat hulle dink hulle rykdom is ‘n vestingstad, ‘n hoë muur wat hulle sal beskerm.

Dit is dus die kontras.  God is ‘n toevlug vir regverdiges en beskerm hulle, soos ryk mense dink dat hulle besittings vir hulle ‘n vestingstad is.  En natuurlik is dit uit dié hoek wat Jesus ook oor rykdom in die NT gesels, in die verhaal van die ryk jongman (Mark 10:17-31), en nog meer direk in die gelykenis van die ryk dwaas (Luk 12:31-21).  En God se kommentaar in die gelykenis op die ryk man se lewe is: “Jou dwaas. Vannag nog sal jou lewe van jou opgeëis word, en wie kry dan alles wat jy bymekaargemaak het?’So gaan dit met hom wat vir homself skatte vergader en nie ryk is by God nie.”

Die volgende keer wat jy die pragtige lied sing, dink daaraan dat dít die agtergrond daarvan is.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Spreuke


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Comments

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Chris van Wyk on Inleiding op JakobusJesus en Jakobus is halfbroers deur Maria. Hulle het dieselfde ma, maar nie dieselfde pa nie. Josef was Jakobus se pa. God was Jesus se Vader.
  • Betsy Bester on Inleiding op JakobusHoekom word daar verwys Na Jakobus as Jesus Se halfbroer in die 83 vertaling
  • Chris van Wyk on Hosea 4:1-5:7Juda is op hierdie punt gewaarsku (ongeveer 740 vC), en hulle het veral onder koning Hiskia 'n paar dekades later die Here weer gedien. Maar, uiteindelik het hulleself onder die oordeel gekom weens die wydverspreide sondes van die konings, priesters, en gewone mense, en is in ballingskap weggevoer i…
  • Renier on Hosea 4:1-5:7Goeie more. Verstaan ek reg? Die Juda-lyn was gewaarsku, nie ook veroordeel nie? En wat beteken dit vir ons wat daarna verwek was?
  • Chris van Wyk on Lukas 23Ek stuur.
  • Elma Bosch on Lukas 23Baie dankie, ek doen die bybelstudies saam met u en lees ook die bybel kronologies saam, ek waardeer dit werklik.. Ek stel baie belang in die elektroniese lêer van die 4 Evangelies langs mekaar. Kan u dit asb vir my email na elmab0708@gmail.com
  • Trudie Vorster on Nuusbrief Mei 2025Prys die Here🙏🙏🙏
  • Chris van Wyk on Matteus 27Ek waardeer die terugvoer. Ek stuur vir jou die lêers per e-pos.
  • briefly31ea27a91f on Matteus 27Baie dankie, ek doen die bybelstudies saam met u en lees ook die bybel kronologies saam, ek waardeer dit werklik.. Ek stel baie belang in die elektroniese lêer van die 4 Evangelies langs mekaar. Is dit moontlik om dit ook vir my te stuur. E-pos : heydenrychwilma1961@gmail.com Ek is van die NG Gemeen…
  • Chris van Wyk on Matteus 27Hi Neels, ons lees nie in die NT dat Petrus eksplisiet sy sonde voor die Here bely en om vergifnis vra nie. Ons sien wel dat dit indirek gebeur met sy hartseer in die voorhof ná hy die Here Jesus verloën het (Luk. 22:62). Ons sien dit ook in sy keuse om na Jesus te gaan op die strand en in die gespr…
  • Neels Fourie on Matteus 27Goeie more prof, kan jy vir my die skrif stuur waar Petrus vergifnis gevra het asb
  • Chris van Wyk on Lees Handelinge en die NT briewe kronologies saam met my deur van 7 Junie afEk sien self uit na die reis!
  • Dianne on Lees Handelinge en die NT briewe kronologies saam met my deur van 7 Junie afBaie dankie vir die geleentheid om saam met julle deur die woord te reis.Amen
  • andrebrophy812 on Johannes 17Good day sir. Thank you for the meaningful insight. May the Good Lord bless and keep your own spirit always in connection with the Holy spirit
  • Chris van Wyk on SubscribeWelkom. Ek stuur na jou Inbox.