Spreuke 2:1-22 – Soek wysheid met gespitse ore
- Die eerste gevolg van die soektog na wysheid is dat jy Hom só sal ken dat jy met vreugde en oordeel sal kan lewe (2:9-11).
- Die tweede gevolg is dat dit jou sal beskerm van die dwaasheid van slegte mense (2:12-15).
- Die derde gevolg is dat jy ook die versoeking van die slegte vrou sal kan afweer (2:16-19). Die omgekeerde geld natuurlik ook, dat die versoeking van die slegte man afgeweer kan word, hoewel Spreuke dit hier eensydig sê.
Maar – en dit is baie belangrik om dit te begryp – dit is jou eie verantwoordelikheid om dié pad, die pad van die goeie mense, te kies (2:20-22). Die Here gee die wysheid vir dié wat daarvoor soek, dié wat daarvoor vra en Hom daarvoor vertrou.
2:1-4 – Soek wysheid met gespitste ore
Daar is twee maniere waarop die Bybel oor die verkryging van wysheid praat.
- God gee wysheid vir dié wat Hom vertrou. God werk vir hulle selfs wanneer hulle slaap (Ps 127:2 – ’n Psalm van Salomo!).
- God gee wysheid in die doelgerigte soeke na wysheid, ‘n verantwoordelikheid wat ons nie kan ontwyk nie. Om die waarheid te sê, dit is meermale hoe dit werk.
Dit is van hierdie doelgerigte soektog wat Spreuke praat. Daarom sê die pa vir sy seun: hou jou ore oop vir die wysheid, span jou in, roep en vra, soek … en jy sal dit opspoor.
2:5-8 – God gee wysheid vir dié wat daarna soek
Dit is dan wat hy sal agterkom, wysheid is ’n gawe van God, saam met sukses, beskerming, en regverdigheid. Dan sal hy op die regte pad kan bly.
Dit is iets wat Jesus ook later sterk sou beklemtoon in sy bediening en onderrig, soos pragtig geïllustreer in die bekende uitspraak in die Bergrede: “Vra, en vir julle sal gegee word; soek, en julle sal kry; klop, en vir julle sal oopgemaak word, want elkeen wat vra, ontvang; en elkeen wat soek, kry; en vir elkeen wat klop, sal oopgemaak word.” (Matt 7:7-8).
Interessant is dat Jesus hierdie gawe van wysheid ook met die gawe van die Heilige Gees verbind, die goeie gawe van God (Luk 11:13), net soos wat dit hier in Spreuke 2 gedoen word. En Jakobus sê dat ’n mens wysheid van God kan afbid (Jak 1:5). Watter belofte!
2:9-22 – Jy sal met vreugde en oordeel kan lewe en die pad van slegte mense kan vermy
Dit is ook hoe God se beskerming werk. Dit is nie net iets wat God gee sonder jou medewerking nie, maar ook iets wat gebeur deur die manier waarop jy lewe. Wanneer wysheid en kennis begin om jou lewe te vorm en te verryk, wanneer oordeelkundigheid en verstandigheid begin om jou lewe te beskerm en begelei, dan neem dit jou weg van die verkeerde dinge en mense (gee beskerming) en lei jou na die goeie, regverdige, opregte en onberispelike paaie wat volhoubare en vreugdevolle lewe moontlik maak (gee begeleiding). En dit is iets wat jou eie verantwoordelikheid is. Dit is nie iets wat iemand anders vir jou kan doen nie. Dit is selfs nie iets wat God sommer sonder jou medewerking kan doen nie, hoewel daar natuurlik ook ’n genade-kant van Sy betrokkenheid by ons is.
Wysheid is dus aan die een kant ‘n gawe van God wat jy uit Sy hand ontvang en ontgin in al sy fasette, maar ook iets aan die ander kant wat jy persoonlik moet toepas en ontplooi in jou praktiese lewe. Dit is in die ontvangs en in die ontplooiing, die vertroue op God en die persoonlike verantwoordelikheid neem – in jou soeke na oordeelkundigheid en verstandigheid – wat die beskerming en begeleiding gebeur.
Dit het aan die een kant te make met die tipe mense na wie jy moet luister, veral na gesagsfigure en rolmodelle in jou lewe wat goeie mense is, regverdig, opreg en onberispelik (2:1,9,20,21). Sulke mense moet jy uitkies, na hulle luister, en hulle navolg. Natuurlik sluit dit ook mense in na wie jy nie moet luister nie: mense wat verkeerde dinge verkondig (2:12), mense wat die regte paaie verlaat (2:13), mense wat slegte dinge doen, en wie se paaie krom is (2:14-15), sowel as die “slegte vrou” wat ’n simbool van enige buite-egtelike verhouding is, en natuurlik ook op ’n “slegte man” van toepassing is (2:16-20). Let op die enkelvoud waarin hier gepraat word.
Aan die ander kant sluit dit ook dinge in waarna jy moet luister, die inhoud wat Spreuke aanbeveel. Let op hoe Spreuke nie net ’n eenmalige luister na die wysheid aanbeveel nie, maar ’n onderskeidende proses, om jou in te span om te verstaan (2:2), om insig en gesonde begrip (common sense) te soek (2:2). Maar Spreuke wil ook hê dat die lewenstyl van mense wat hierdie inhoud uitleef, nagevolg moet word (eerlikheid – 2:7; onberispelikheid – 2:7,21, getrouheid – 2:8; regverdigheid en billikheid – 2:9,20; oordeelkundigheid en verstandigheid – 2:11; goedheid – 2:20; opregtheid – 2:21). Dit is die inhoud van die tipe wysheid wat nagevolg moet word. Só word jyself natuurlik ’n voorbeeld wat ander kan navolg.
View all posts in this series
- Bybelskool oor Spreuke - May 16, 2012
- Spreuke – slagspreuke vir die lewe - Jul 17, 2012
- Spreuke – Inleiding - Jul 25, 2012
- Spreuke 1:1-33 – Begin met God - Jul 26, 2012
- Spreuke 2:1-22 – Soek wysheid met gespitse ore - Jul 27, 2012
- Spreuke 3:1-35 – Vertrou God en ken Hom in alles - Jul 30, 2012
- Spreuke 4:1-27 – Baken jou koers af - Jul 31, 2012
- Spreuke 5:1-23 – Bly weg van hartelose verhoudings - Aug 1, 2012
- Spreuke 6:1-19 – Leef met oorleg - Aug 2, 2012
- Spreuke 6:20-7:27 – Pasop vir owerspel - Aug 3, 2012
- Spreuke 8:1-36 – Die Wysheid laat jou regtig leef - Aug 6, 2012
- Spreuke 9:1-18 – Kies die pad van insig as lewenshouding - Aug 7, 2012
- Die spreuke van Salomo – Bundel I - Aug 8, 2012
- Spreuke 10:1-32 – God sorg vir die opregtes
- Spreuke 11:1-31 – Die gemeenskap floreer met die regte waardes en lewenstyl - Aug 9, 2012
- Spreuke 12:1-28 – Leerbaarheid getuig van wysheid - Aug 10, 2012
- Spreuke 13:1-25 – Welvaart is verbind aan die waardering van wyse woorde - Aug 13, 2012
- Spreuke 14:1-35 – Soos God vir ons ‘n toevlug is, so skep ons integriteit veilige ruimtes vir ander - Aug 14, 2012
- Spreuke 15:1-33 – Woorde maak saak; God maak saak - Aug 15, 2012
- Spreuke 16:1-33 – Die mens wik, maar God beskik - Aug 16, 2012
- Spreuke 17:1-28 – Verhoudings maak saak - Aug 17, 2012
- Spreuke 18:1-24 – Kommunikasie maak saak - Aug 20, 2012
- Spreuke 19:1-29 – Integriteit in alles - Aug 21, 2012
- Spreuke 20:1-30 – Erken God in alles - Aug 22, 2012
- Spreuke 21:1-31 – God se geregtigheid motiveer ons tot goeie verhoudinge - Aug 23, 2012
- Spreuke 22:1-16 – Die invloed van rykdom en armoede op verhoudings - Aug 24, 2012
- Die woorde van die wyses – I - Aug 27, 2012
- Spreuke 22:17-29 – Wysheid leer jou om God te vertrou
- Spreuke 23:1-35 – Werk aan jou netwerk van verhoudings - Aug 28, 2012
- Spreuke 24:1-22 – Oorwin die kwaad met die goeie - Aug 29, 2012
- Nog woorde van die wyses – II - Aug 30, 2012
- Spreuke 24:23-34 – Prioriteite bepaal alles
- Die spreuke van Salomo – II - Aug 31, 2012
- Spreuke 25:1-28 – Dink voordat jy doen
- Spreuke 26:1-28 – Dwaasheid ken geen perke nie - Sep 3, 2012
- Spreuke 27:1-27 – Wees verstandig in beplanning en die uitvoering daarvan - Sep 4, 2012
- Spreuke 28:1-28 – Vra na die wil van die Here en jy sal tussen reg en verkeerd kan onderskei - Sep 5, 2012
- Spreuke 29:1-27 – Regverdigheid skep ‘n veilige ruimte vir almal - Sep 6, 2012
- Die uitsprake van Agur - Sep 7, 2012
- Spreuke 30:1-33 – God is daar vir dié wat by Hom skuil!
- Die woorde van Lemuel - Sep 10, 2012
- Spreuke 31:1-31 – Wyse woorde van en oor ‘n knap vrou
- Spreuke – Lees, luister, leef – ePub - Oct 20, 2012
- Tien lewenslesse uit Spreuke - Jun 12, 2018
- ‘n Bybelse perspektief op lyfstraf - Apr 21, 2020
- Spreuke – eenjaarleesplan op YouVersion se Bybeltoep - Dec 13, 2022
martha jill petersen
Stuur vir my Matt.3:7-12 boodskap asb.
Wees geseen
Chris van Wyk
Dit is op die webtuiste by http://bybelskool.com/matteus-3-jesus-doop-met-die-heilige-gees-en-met-vuur/